Papierblomme. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321435
Скачать книгу
want hulle ry omtrent elke dag see toe.

      Ouma en Oupa se huis het ’n stoep. Daar hang stringe skulpe aan die balke, dit maak musiek wanneer die wind waai. Oupa het ’n stokou hond wat nie tande het nie en heeldag slaap. Mamma en Pappa slaap vakansies in die vrykamer. Janine slaap op die eetkamerbank.

      Teen die muur bokant die bank hang die huishorlosie wat heelnag deur tik-tak en ding-dong-dang. Die horlosie het nie ’n lyf nie, net ’n gesig met bene wat heen en weer swaai. Oupa sê dis nie bene nie, dis arms. Daar is twaalf syfers en drie wysters op die gesig. Een skuif stadig aan, een bietjie vinniger, die dunste een die vinnigste. Oupa sê dis die uurwyster, die minuutwyster en die sekondewyster. Janine onthou die woord wyster, want Pappa en Oupa stry of dit wyser of wyster is. Dis lekker om die “t” uit te spoeg, daarom kies sy wyster. Die wysters skuif aan en aan. “Tik-tak, tik-tak, ding-dong-dang.”

      “Werk Oupa se horlosie nog?” vra sy toe hulle al ver van Johannesburg af ry.

      Oupa kyk op sy arm. “Perfek,” sê hy.

      “Die múúr se horlosie.”

      “Ek het hom opgewen voor ek weg is,” sê Oupa.

      Toe weet sy niks kan vanself aanhou werk nie.

      Langs die pad kuier hulle by Oupa se broer. Hy is oom Jaap wat in die Karoo met skape boer. Die tannie is ook al in die hemel en oom Jaap bly in ’n kamer in sy eie huis, want sy seun en sy seun se vrou het die huis oorgeneem. Dit is amper aand en Oupa sê sy mag op die werf gaan loop. Janine verwonder haar aan die hoenders en volstruiskuikens wat oral rondkrap. Die groot volstruise het lang nekke. Hulle staan agter ’n draad en loer vir haar met groot oë.

      Sy verwonder haar tot haar ouma haar kom haal om hande te was en te eet: skaaptjops en boontjies en beet. Die tjop is so groot, sy kan dit nie inkry nie. Oupa vat dit, sny vir hom al die vleisies van die beentjie af, suig die murg uit en maak vir Ouma skaam. Oom Jaap gee hom die laaste tjop in die skottel.

      “Die poeding is gebakte vla,” sê die tannie, haar naam is Sanet, “my ma se resep.”

      Oupa eet nie poeding nie, hy hou hom besig met sy tjoppie. Sy hele bord is vol beentjies.

      Toe hulle klaar geëet het en al die borde en koppies en bakkies van die tafel afgedra is, gee tannie Sanet vir oom Jaap die Bybel aan. Hy lees van Jesus wat by ’n begrafnis aangekom het en die dooie man beveel het: “Ek sê vir jou, staan op!” Toe sit hy regop en word weer lewend en almal vertel vir mekaar wat Jesus gedoen het.

      “Pa, hoekom …?” vra tannie Sanet.

      “Dit was ons volgende gedeelte,” sê hy en klap die Bybel toe.

      Die oom se seun bid: Hy vra vir reën, hy sê niks oor dooies wat weer lewend word nie.

      Janine wens Jesus het Mamma en Pappa weer lewend gemaak. Hy kon, maar Hy het nie. Toe vat Hy hulle hemel toe. Hoekom?

      Die grootmense praat oor die beste pad wat Oupa moet ry en kinders mag nie intjip nie, toe vra sy maar niks.

      Die huis se vloere kraak. Hulle slaap in ’n groot kamer, so groot die wind waai dwarsdeur. Oupa snork heelnag. Die oggend hoor sy hane kraai en skape blêr. Dis bitterlik koud! Hulle trek gou aan. Ouma maak die beddens op. Oupa lig met sy flits in die kamer rond om te sien of hulle iets vergeet het. Hulle gaan kombuis toe, eet pap en wors en drink koffie. Sy kry warm melk, want Ouma sê koffie gee vir kindertjies vlooie in die maag.

      Die ooms kom van buite af in. Die son skyn nog nie, en hulle het klaar hoede op wat hulle dadelik afhaal. Hulle help vir Oupa om die tasse op die bakkie te laai, ook ’n boks met ’n skaap wat in nat koerante toegedraai is. Oom Jaap en tannie Sanet-hulle staan op die stoep en waai.

      “Ten minste het hy nog sy seun,” sug Oupa.

      Ouma sê niks. Sy kyk net voor haar uit. Janine rus met haar kop teen Ouma se skouer. Die bakkie dreun, die son kom op en sy raak aan die slaap. Hulle ry ’n hele dag voor hulle by die berge uitkom. Sy kyk by die venster uit en verwonder haar aan die blomme en bome.

      “Is die Kaap in die paradys?” vra sy.

      “Die paradys was in Israel,” antwoord Oupa. “Dit bestaan nie meer nie, oor die sonde van die mensdom.”

      Ouma druk haar vas. “Ek sal jou leer, my liefkind, ek sal jou alles leer, alles wat ’n meisiekindjie van die lewe moet weet.”

      Eindelik draai hulle van die teerpad af en ry op die grondpad na Ouma en Oupa se dorp. Dis ’n klein dorpie met twee kerke, een winkel, een garage en tien huise, sy dink dis tien. Ouma klim uit om die hek oop te maak. Die hond wat altyd by die hek gewag het, is nêrens.

      “Oupa, waar is Wagter?”

      Oupa kyk vorentoe. “Dood.”

      “Arme Wagter. Verlang Oupa na hom?”

      “Ek mis hom, maar ’n mens raak gewoond aan verlies.”

      Verlies, dink Janine, dit is ’n hartseerwoord.

      Hulle ry deur die oop hek en hou stil.

      Oupa spring uit en kom help haar veilig tot op die grond.

      “Bring eerste die skaap,” roep Ouma van die voordeur se kant.

      Die tuin is deurmekaar. Party blomme lyk of hulle wil omval en doodgaan. Die druiwe het nie groen blare nie, net droës en rosyntjies. Die suurlemoenboom hang vol suurlemoene.

      Oupa dra die kosmandjie en die boks met die vleis in. “Ek sien Sagrys het woord gehou en natgegooi.”

      “Die goed moet gesnoei word,” kla Ouma.

      Sy stoot die voordeur oop. Die huis is koud en donker en ruik na stof. “Tik-tak-tik-tak,” verwelkom die muurhorlosie hulle. Ouma skakel ligte aan sover sy loop.

      Janine gaan staan voor die horlosie. “Hallo, jou ou Ding-dong-dang.”

      Die lappieskombers op die bank is opgevou. Bokant die kaggel hang ’n spieël met ’n skulpieraam en baie portrette: van Mamma en Pappa toe hulle getroud is, van tannie Jessie met haar verpleegsterskappie op haar kop, en die meeste van Janine die baba en Janine die dogtertjie.

      In die middel van die tafel staan ouma Leen se beste blompot.

      Ouma trek met haar vinger oor die tafelblad. “Stof,” sê sy. “Kom ons gaan kombuis toe, sit die ketel aan vir tee en dan reguit bed toe. Jy sal vanaand nog op die bank moet slaap. Môre hang ons jou gordyne en maak jou bedjie op, dan het jy jou eie kamertjie.”

      Janine is moeg. Sy sit by die kombuistafel, haar kop op haar gevoude arms.

      Ouma bly besig. Sy haal die teeketel uit, dek die koppies en borde en pak die kosmandjie uit. Daar is nog toebroodjies en frikkadelle. “Ons eet oorskiet, môre kook ek weer.”

      Oupa loop verby met ’n tas in elke hand. “Waar wil jy dié hê?”

      “Jy gaan nie vanaand alles afpak nie,” keer Ouma.

      “Net wat ons nodig het. Jimmie kan my môre kom help.”

      Môre, dink Janine, alles gebeur môre. Skielik word sy vreeslik bang vir al die môres wat nog op haar aangestorm sal kom.

      3

      Ouma maak twee warmwatersakke, pak haar toe met drie komberse en soen haar goeienag. Die muurhorlosie tik-tak haar aan die slaap. Die volgende oggend val sy amper van die bank af van sy harde geding-dong-dang. Sy steek haar voete in haar nuwe pantoffels, pienkes met strikkies omdat tannie Jessie die haasore in die wasmasjien gegooi het en hulle uitmekaar gerafel het. Goed so, sy wil hulle nie meer hê nie.

      Maar sy verlang na Sokkies en haar pophuis wat hulle nie kon saambring nie, én heeltyd na Mamma en Pappa. Sê nou iemand het ’n fout gemaak en die verkeerde mense begrawe?

      Janine wil net begin huil, toe stoot Ouma die gangdeur