“My pa het so bakkie gery,” sê George.
“1970-model?” vra Boorman. “Perkins 247-enjin? Mazda het hulle gemaak. Hulle het net ’n duisend gemaak en 993 verkoop. R2 700 kontant destyds. Besonderse bakkie. Niemand weet wat met die ander sewe gebeur het nie.”
“So jy’s eintlik ’n werktuigkundige?”
“Nee, ek werk maar net aan my eie voertuie, en my seun s’n, ek is ’n boorman.”
“Wat weet jy van minerale?”
“Nie veel nie,” sê Boorman en tel ’n boorpunt op, krap die ghries met sy naels af, skiet sy vingerpunte, vee sy hand aan sy broekspyp af.
“Ek probeer uitvind of daar op Knoxfort geboor is,” sê George. “Daar is destyds vlugopnames gedoen, en hulle het anomalieë getoon …”
“Nee, ek boor deesdae nie meer hier rond nie, niemand wil betaal as daar niks gekry word nie. Ek boor op noord.”
“Kalahari?”
“Namib,” sê Boorman en hou die boorpunt na George toe uit. “Carbon tungsten alloy,” sê hy.
George kyk na die boorpunt. Van die tande is afgevreet, uitgeslaan, stompgekou. “Knoxfort het aan die Jeppes behoort,” gaan George voort. “Daar’s ’n myntjie net voor jy deur die poort gaan waar Jeppe genoeg goud uitgehaal het om ’n ring te maak. Ek dink dit was vir sy vrou. So daar moet iets wees.”
Boorman vat die boorpunt by George. “Ek sal nie weet nie,” sê hy.
“Ek dink my familie befok my,” sê George.
“Ek sal nie weet nie,” sê Boorman.
“Sê my,” sê George, “hoor jy ooit die aardbewings uit Kreetpoort se rigting? Dis ons buurplaas.”
“Ja, ek hoor hulle.”
“Nou maar dit wys mos daar’s anomalieë.”
“Dit kan wees.”
“Klink soos geweerskote?”
“Nee, dis meer ’n brul, jy weet, daai wat soos geweerskote klink ís geweerskote.”
“Skiet hulle op Kreetpoort?”
“Nee, hier! Hulle skiet hier.” Boorman sit die boorpunt neer, wys vir George om buitentoe te gaan. By die hekkie wat George oopgelos het, gaan staan hulle. “Ek hoor hulle amper elke dag.” Hy wys vir George die verwelkomingsbord oorkant die pad. Welkom in Blyverby, sê die bord. Ons streef na ’n misdaadvrye dorp. Die bord is vol koeëlgate, die bord word gereeld met klippe bestook.
“Hulle skiet daai bord,” sê Boorman. “Hulle skiet mekaar.”
“Mekaar?” giggel George.
“Ja. Die misdaad hier is woes. Ek het seker al ’n miljoen rand se toerusting verloor. En die polisie doen fokkol. Sien jy daar?” Boorman wys na ’n stukkende ruit van sy werkswinkel. “Hulle is daar in. Computer gevat. Paraffien gevat. Corolla-enjinblok. Paar ander dinge. Man het sy hand lelik gesny op daai ruit. Daar was bloed orals. Ek en my seun soek toe rond vir ’n man met ’n stukkende hand. Ons kry toe daai man en ons moer hom. Ek het begin moer en my seun het klaargemoer. Vat hom polisie toe. Hulle wil toe weet waar is die bewyse. Ons sê hulle moet kom DNA vat uit die bloed in die werkswinkel, kyk of dit match. Hulle dog dis ’n moerse grap, wou hulleself doodlag. Twee dae later arresteer hulle my seun vir poging tot moord. Hofsaak hang nog.”
“Gmf.”
“Ja-nee. Hulle kry dit reg.”
“Kry wat reg?”
“’n Misdaadvrye dorp. Hulle ignoreer dit. Dan bestaan dit nie.”
“Dis seker omdat hier so min werk is.”
“Dit sal die donnerse dag wees! Hier’s baie werk. Ek moet tot so ver as Upington adverteer wanneer ek ’n handlanger soek. Hierdie mense wil nie werk nie. Hulle is te verdomd sleg. Hulle wag net vir die einde van die maand wanneer die goewerment se geldlorries kom, dan suip hulle. Dit hou so week, dan begin die stelery, totdat die geldlorries weer kom.”
“Ja-nee,” sê George, krap met sy skoensool in die stof.
“Sê my,” sê Boorman, “jou broer se vrou het nie weer getrou nie, het sy?”
George lig sy wenkbrou, glimlag. “Jy wil nie met haar trou nie.”
Dan stap hulle deur die skrêpjaart, praat oor vroue.
“Ek het met ’n geskeide vrou getrou, toe skei sy my,” sê Jan Boorman.
“My vrou het my mal gemaak,” sê George, “toe skei sy my.”
“’n Man moenie met met ’n geskeide vrou trou nie. Dit gaan na hulle kop toe, daai skei-ding, dink hulle kan doen net wat hulle wil.”
“’n Mens moenie trou nie,” sê George.
“Ek soek vrou,” sê Boorman.
Die skrêpjaart is ’n versameling gedeeltelik verminkte wrakke. Bruikbare laslappies word losgeskroef en afgesaag en losgetorring en afgebreek en binnetoe gesleep en opgehys en afgespuit en blinkgevryf en afgesak, en afgevyl, en vasgesweis en vasgedraai en ingeprop en inforseer en vasgebind en aan die werk gebid. Onder die seil in die werkswinkel word Frankenstein se monster aanmekaargesit. Wat oorbly hier buite vang stof. ’n Trok sonder wiele, ’n onderstel sonder ’n kajuit, ’n kajuit sonder sitplekke, sitplekke sonder stoffering, enjinblokke, ’n los deur, vere, ’n ou petrolpomp sonder die pomp, ’n rol draad wat roes, roesvrye draad wat kraaines, ’n windskerm met twee krake in die vorm van voorkoppe, ’n dooie blouaap, ’n handvol beeste.
“En die beeste?”
“Dis die burgemeester s’n.”
Die burgemeester is meneer Victor IP Senoamadi, ’n oudonderwyser wat self nooit skool klaargemaak het nie. Hy het ’n versamelinkie van die oulikste sêgoedjies wat hy graag uitdeel tydens vergaderings, en hy dra fênsie mansjetknope wat hy graag per abuis afwys wanneer hy oorleun en twee suikers in sy tee roer tydens vergaderings. Hierdie dinge beteken baie onder die comrades, oulike sêgoedjies en fênsie mansjetknope dra amper net soveel gewig soos slaphandverwysings na die struggle. Meneer Senoamadi was ’n wiskundeonderwyser tydens die struggle. Maar daar was nie tyd vir skoolhou nie, hy moes tel hoeveel leerlinge daar by die optogte was. “You have to have the capacity to count very, very far” is een van sy oulike sêgoedjies. “Capacity to count very far” staan in sy curriculum vitae geskryf. Dit is een van sy struggle credentials. Hy kan ook vir jou sê hoeveel mense daar by Saartjie Baartman se begrafnis was. Daar staan CV voorop sy curriculum vitae. Moenie vir ’n wiskundeonnie vra hoe om curriculum vitae te spel nie, wiskundiges werk met getalle en simbole, nie met woorde nie. Nie dat meneer Senoamadi gereeld woorde hoef neer te skryf nie, in sy dagboek is daar nie plek vir woorde nie, dis net tye en name vir afsprake en vergaderings. Gister was wel ’n uitsondering, daar was net een vergadering, om te bepaal waarom die slagpale toegemaak het, en daarom genoeg spasie vir ’n nota. Daar is tydens die vergadering wat drie uur geduur het, verversings ingesluit, bepaal dat die slagpale te veel geslag het, daarom het hulle toegemaak. Sin Wrongful act: Overproduction. Punishment: Closure, sê sy notas. Vroeër het meneer Senoamadi sy beeste ook daar laat slag, maar meer onlangs het hy ’n beter prys by die Jode op Pyphekstad gekry. Sy beeste wei op die dorp se gemene grond wat George se ouma destyds aan die kerk geskenk het, maar laas maand het hulle in Jan Boorman se tuin ingevaar, sy blomme opgevreet. Jan Boorman het hulle opgelaai en in sy skrêpjaart gaan toesluit. Nou wil Boorman vir die laaste maand se voer betaal word en vir die laaibrug wat hy vir hulle gebou het. Vyf beeste. Meneer Senoamadi, aan die hoof van die tafel, sy konsentrasie vir ’n oomblik op ’n ander plek, vind ’n oop spasie in sy dagboek. Get cattle back! skryf