Die klop aan die kamerdeur laat haar spoed aansit.
“Estie?” vra haar pa.
“Wag net ’n bietjie!” Sy rits die jeans toe, pluk die T-hemp oor haar kop. “Oukei, kom in.”
Die deur swaai oop. “Koebaai, my hartjie. Sien jou later.” Haar pa het vanoggend nuwe skoene aan en sy hare is netjieser as gewoonlik gekam.
“Pa lyk snazzy.”
“Ek en tannie Charlene gaan op ’n ontbyt-date.” Hy knipoog vir haar.
“’n Date? Oumense date nie.”
“Sê wie?” vra haar pa en lag. “Dis hoekom dinge die vorige kere nie gewerk het nie. Ek en tannie Charlene het te min van mekaar gesien.”
“Pa bedoel julle het te min van mekaar alléén gesien. Ek was in die pad.”
“Nee, dis nie wat ek gesê het nie.”
“Toemaar, dis oukei. Ek wil in any case nie saamgaan nie.” Sy het nie lus om na die twee duifies se gekoer te luister nie. Dit maak haar naar om te sien hoe tannie Charlene haar pa se hand vashou, hoe sy haar lippe tuit en hom “Bokkie” noem. “Sluit net die voordeur.”
“Oukei, bel as jy iets nodig het.”
“Ja, Pa-a-a. Loop nou. Pa se da-a-ate wag.”
Sy dwaal nog ’n oomblik doelloos in die kamer rond, dan stap sy na die rekenaar in haar pa se studeerkamer. Dit pla haar steeds dat Arian haar ontvriend het op Facebook. Sy gaan na sy profiel en maak sy foto groot oop op die skerm. “Hallo, my donker prins,” sê sy sag. Sy glimlag toe sy dink wat hy sal sê as sy hom regtig so noem. Dis eintlik ’n bietjie verspot.
Met haar ken in haar hand bekyk sy die foto, dan klik sy regs en kies Print. Die foto val oomblikke later in die kleurdrukker se bakkie. Terwyl sy nou die kans het, druk sy sommer nog een. Sy sal een in haar huiswerkboek sit. Die ander een …
Sy glimlag weer, want sy weet wat sy met die ander een gaan maak.
Arian se persoonlike inligting is nou toe vir haar. Dis jammer, maar sy onthou nog ’n paar van die goed waarvan hy hou. Die strokiesboeke Sin City, Ghost World en V for Vendetta. Sy soek die voorblaaie op die internet en druk dit uit.
Daar was ook ’n TV-program op Arian se profiel. Iets van New York Fire Brigade of iets. Sy ken dit nie, maar ’n Google-soektog bring haar na Chicago Fire. Dis reg. Sy druk ’n paar foto’s van die akteurs in die reeks uit.
Arian se gunstelingmusiek: alt-J, Hozier en Dropkick Murphys. Jis, en hy hou mos ook van Twenty One Pilots. Sy druk die omslae van ’n paar albums uit.
Terug in haar kamer gaan sit Estie kruisbeen op die mat met ’n skêr in haar hande. Sy knip al die foto’s sorgvuldig uit.
Sy wil eers Arian s’n op ’n stuk karton plak, maar dan onthou sy daar is ’n ou fotoraam in die laai onder die TV-kas. Sy draf sitkamer toe en gaan haal dit. Die raam is leeg. Sy wil haar verbeel daar was eens op ’n tyd ’n foto van haar ma in, maar iemand moes dit uitgehaal het. Seker tannie Charlene, die feeks.
Sy gly die knippies agter die raam los en sit Arian se foto binne-in. Dit pas nie heeltemal nie, maar dit lyk nogtans goed: daardie uitdagende kyk en die misterieuse trek om sy mond agter die glas.
Vir ’n oomblik betrap ’n gedagte haar: Wat doen jy, Estie? Sy onderdruk die gedagte so gou soos dit opkom.
Vinnig gooi sy ’n paar goed wat op haar bedkassie lê in die laai om plek te maak vir Arian. Sy soen die foto liggies en sit die raam versigtig langs haar bedlampie neer. Teen die muur bo die bedkassie plak sy die foto’s van V for Vendetta en die ander strokiesboeke. Chicago Fire en die bands se foto’s kom ook by die versameling.
Uiteindelik staan sy terug en bekyk haar handewerk met ’n glimlag.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.