Skarlakenkinders. Anzil Kulsen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anzil Kulsen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321671
Скачать книгу
van iets uit ’n vorige eeu.

      Binne die gebou is alles keurig met goeie gehalte leer- en houtmeubels ingerig. Die mure is behang met natuurfoto’s van die area. Hier en daar staan ornamente en ou familie-erfstukke. ’n Perfekte kombinasie van oud en nuut.

      “Ná hierdie ellelange grondpad het ek darem iets beters as dít verwag.”

      Die grondpad van die N7 af is sleg, dit weet Kirabo goed. Daarom is die meeste mense wat hierheen of na die omliggende vakansieplase kom, viertrek-fanaties.

      Dis wat Kirabo nie kan verstaan nie. Waaroor kla die vrou nou eintlik? Haar Prado staan dan netjies voor die hoofgebou geparkeer.

      “Ek is seker die bestuursraad van Berg van Hoop sal u graag vergoed vir enige ongerief, Mevrou. Dit gaan ongelukkig ’n bietjie tyd neem. En dan kort ons ’n volledige verslag waarom u nie verder van ons dienste gebruik wil maak nie.”

      “My naam is Abby. En vergoeding gaan my niks baat nie. Ek is nou hier en ek verwag om waarde vir my geld te kry. Ek kan jou verseker ek gaan nie settle vir tweederangse diens nie –”

      “Kom stel gerus van ons behandelings op die proef. Ek kan jou nou inboek as jy wil, Abby. Jy sal nie spyt wees nie,” kry Nina haar tong terug. “En wanneer jy eers deur die hele program is, sal jy soos ’n splinternuwe mens voel.”

      “Dis nes Ninatjie daar praat. Mevrou sal sien,” kry Amos ook ’n paar woorde in. Maar Abby frons skerp, en met ’n moedelose gebaar van sy hande, draai Amos na sy trekker waarmee hy die oord se paar lappies wingerd bewerk.

      “Nina, ek dink jy moet Ferdi dalk tog van die kliënt se ontevredenheid laat weet. Vra dalk vir ’n terugbetaling,” stel Kirabo voor, en dis of Nina nie gou genoeg daar kan wegkom nie.

      “Dit gaan nie vir my oor die geld nie, dis net –” Sy maak ’n niksseggende gebaar met haar goed versorgde hande. Dit moet baie tyd geneem het om haar naels so te kry, dink Kirabo. Die ringvingers se naels is goudkleurig met silwer strepies, en die res bloedrooi. Haar kort geknipte hare is ook ’n opvallende rooi kleur. So perfek, niemand kan dit mis nie.

      Kirabo vat onwillekeurig aan die vlegsel op haar kop. Sal sy nou wraggies haarself staan en vergelyk met hierdie vrou? Party mense het dit maklik in die lewe, dink Kirabo en draai in die rigting van die oord se ingang. Haar hartklop versnel. Sy het ander dinge as ’n perfekte voorkoms om haar oor te bekommer.

      Dit moet Frankie wees, Ferdi het genoem sy kom met ’n bakkie. Sy hoor die Hilux se dreuning nog voor sy dit tussen die rye wingerde sien aankom.

      “Van my ander deelnemers het pas aangekom. Verskoon my, ek moet hulle gaan ontvang,” sê sy vir Abby. “En laat weet my gerus wat jy besluit het.” Daarmee stap sy na die hoofgeboue waar sy die bakkie inwag.

      ’n Vreemde opwinding pak haar beet. Hier is haar kans om ’n verskil te maak in die lewe van hierdie vroue. Nes iemand destyds in háár lewe ’n verskil gemaak het.

      Sy merk effe geïrriteerd op hoe Abby langs haar kom staan. Sy eien die reuk van duur parfuum, en alhoewel sy nie die handelsnaam ken nie, weet sy sommer dis duur. Alles aan hierdie mooi vrou is duur.

      “Waaraan neem die mense deel?” Kirabo kan die nuuskierigheid op haar gesig sien. En frons dan self onseker. Weet sy dan nie? Hoe het Abby ingeskryf vir ’n week van herlaai en berading op Berg van Hoop as sy nie weet wat die program behels nie? Het sy regtig gedink dis net ’n spa?

      “Almal wat Berg van Hoop besoek, het iewers seergekry in die lewe,” verduidelik sy. “Dalk het jy ook,” waag sy dit. Sy smoor die stem in haar binneste wat haar wil herinner aan haar eie seer.

      “Jy weet niks van my af nie.” Daar is skielik iets dreigends in die vrou se houding. Op Abby se inligtingskaart staan net sy is moeg vir haar gesin en op die punt van uitbranding. Miskien steek daar meer in hierdie vrou as wat sy dink, besef Kirabo.

      Die Hilux trek langs hulle in. Terselfdertyd hoor sy nog ’n voertuig oor die grondpad tussen die wingerde aankom, maar besluit om vir eers op die voertuig voor haar te fokus.

      Drie deure gaan gelyk oop en Kirabo stuur ’n skietgebed op. Sy merk eerste die ma op wat stadig en gekontroleerd haar verskyning maak en langs die Hilux gaan staan. Sy is stemmig geklee en die strak lyne op haar gesig spreek boekdele. Haar houding is gespanne. Sy is amper so styf gespan soos die blonde bolla agter haar kop.

      “Watse soort plek is dit hierdie?” Die harde stem van haar dogter drup van ontevredenheid. “As Ouma dink ek gaan myself die hele week hier begrawe en haar bedank vir die ou vakansietjie, kan sy maar vergeet daarvan!”

      “Welkom, julle. Jy sal vir seker jou ouma aan die einde van hierdie week wil bedank. Glo my, dit gaan beter wees as enige soort ou vakansietjie wat jy al ooit gehad het,” begin Kirabo, maar word in die rede geval deur ma en dogter wat gelyk praat. Die een kerm en kla, die ander berispe.

      “Gee kans, Bianca.” Die ma wend haar na Kirabo. “Ek is Ragel en hierdie is my dogter, Bianca. Jy moet Kirabo wees,” groet sy.

      “En ek is Frankie.” Maar Frankie kyk nie na Kirabo nie. Haar oë is vraend gerig op die vrou langs Kirabo.

      “Aangename kennis, ek is bly julle is veilig hier. Hierdie is Abby. Ons kan miskien nou deurbeweeg na die ontvangsarea. Ons moet net nog ’n bietjie wag tot die laaste deelnemer by ons aangesluit –”

      Dis asof ’n warrelwind haar woorde wegwaai soos almal gelyktydig begin praat.

      “Wat is die Wi-Fi password hier?” ’n Effense histerie slaan deur in die tiener se stem toe sy haar selfoon in die lug ophou en verbysterd daarna staar. “Ek kry nie ’n sein nie. Ag nee, come on!”

      “Bianca, kan jy asseblief –” begin haar ma geïrriteerd.

      “Hey! Ek het nog nie besluit of ek my hier gaan inboek en of ek my geld gaan terugvra nie,” kom Abby se stem ook by. “En wie op aarde is dié girl?” vra sy skielik en wys in die rigting van ’n vrou wat pas uit ’n sportmotor geklim het.

      Dit kan net Anlea wees, dink Kirabo. Sy’s ’n mooi vrou. Nogal treffend met haar blas vel en lang, donker hare wat soos ’n gordyn oor haar gesig val. Mooi, maar verniel, sien Kirabo toe sy nader kom. Hoeveel stukkend steek sy agter daardie bos hare weg?

      Vir ’n kennersoog soos dié van Kirabo s’n is die tekens duidelik sigbaar. Sy sluk en haal diep asem. Alles gebeur net te vinnig.

      “Wie van julle is Kirabo?” vra Anlea en gooi haar hare agtertoe, terwyl sy die groep vroue ondersoekend deurkyk.

      Kirabo staal haarself en tree vorentoe. Sy moet hierdie vrou ontvang, haar welkom laat voel. Maar dis of sy iets van haarself hier voor haar sien. Daar is soveel valse bravade. Sy was dalk selfs meer gehawend toe sy by haar kruispad gestaan het. Toe die tronk se deure haar met oop arms verwelkom het …

      “Ek is Kirabo en jy moet Anlea wees. Welkom.” Sy kry dit tog reg om nader aan die rooi Audi TT te stap. “Jy kan sommer daar onder die afdak parkeer.”

      Anlea klim terug in haar motor en ry tot waar Kirabo beduie het.

      “Jy ook, Frankie. As jy wil, kan jy eers julle sakke aflaai.” Vir Abby hoef sy niks te vertel nie. Haar motor is netjies geparkeer.

      Kirabo tree terug sodat Frankie die bagasie op die plaveisel kan neersit. Bianca gryp eerste na haar kleresak en swaai dit oor haar skouer. Dan sluit Anlea haar ook by die groep onder die prieel aan.

      “As almal hulle bagasie het, kan ons inbeweeg.”

      “Wat gaan julle groepie vroue doen? Is julle ook by die spa ingeboek?”

      “Nee Abby, niemand is by die spa ingeboek nie,” hoor Kirabo haar eie stem ferm opklink. “Ons gaan vir ’n rukkie saamwerk, berading en so meer, ’n ander soort terapie as die spa. Maar ons bespreek die volledige program sodra ons binne is.”

      “O, dit wil ek sien. Maar ek laat my nie ‘beraad’ nie.” Sy hou haar vingers op as denkbeeldige aanhalingstekens.

      “As