Speurder Kwaaikofski: Omnibus 1. Jürgen Banscherus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jürgen Banscherus
Издательство: Ingram
Серия: Speurder Kwaaikofski
Жанр произведения: Детские приключения
Год издания: 0
isbn: 9780798179188
Скачать книгу
voor ses daag Olga op, skuif die tralies voor die venster en deur weg en sleep die stapel koerante by die kiosk in. Ek bly doodstil waar ek is. Olga moenie weet sy word dopgehou nie. Dan gedra sy haar nes altyd en niemand sal agterdogtig word nie. Ek wag verder …

      Teen agtuur hou daar ’n blou afleweringswa stil. Die bestuurder laai al die koeldranke, lekkergoed en skyfies af – en ja, daar dra hy ook die Carpenters kougom na die kiosk toe! Ek sal my kougom in die donkerste nag en digste mis en van enige afstand af herken!

      Ek wil dadelik agter die struik uitspring en ’n ordentlike voorraad van my geliefkoosde kougom gaan koop. Maar ek het ’n saak om op te los, so ek bly wegkruip, al kan ek die smaak van Carpenters in my mond proe!

      Ek het ook net mooi die laaste bietjie melk gedrink toe daar drie kinders na die kiosk aangedrentel kom. Dis twee ouens en ’n meisie. Die drie gedra hulle só onverdag dat hulle dadelik vir my baie verdag lyk. Ek leun vorentoe, want ek gaan niks mis nie.

      Die twee ouens kom staan by die toonbank en praat met Olga. Dit lyk of hulle iets vreemds wil hê, want Olga frons en vra aanhoudend vrae. Uiteindelik verdwyn sy by die kiosk in.

      Die oomblik toe Olga verdwyn, leun die meisie by die toonbank in en gooi vinnig al die Carpenters in haar skouersak.

      Toe hardloop sy weg, die straat af. Die seuns verdwyn in ’n ander rigting, terwyl Olga nog steeds in die kiosk rondsoek.

      Sulke vermetelheid! Om my kougom te steel!

      Ek spring uit my wegkruipplek en sit die meisie agterna.

      Ek haal haar vinnig in en stap op my hoede agter haar aan.

      Sy hardloop nie meer nie en loop en kyk na die winkelvensters. Haar poniestert wip heen en weer.

      Ek wag tot sy by ’n verkeerslig moet stop en kom staan langs haar.

      “Het jy vir my ’n kougom?” vra ek.

      Die meisie kyk my verskrik aan. Toe spring sy skielik weg, en hardloop sommer tussen die karre in!

      Ek kry haar net betyds aan die arm beet en ruk haar terug tot op die sypaadjie waar dit veilig is.

      “Is jy mal?” brul ek.

      Pleks van dankie sê dat ek haar gered het, sis sy: “Los my uit!”

      Daarvan kan sy maar vergeet.

      Ek pluk haar sak van haar skouer af. En daar val ten minste vyftig pakkies Carpenters op die sypaadjie. Vyftig pakkies – dis maklik genoeg vir twee maande!

      “Hoekom het jy dit gesteel?” vra ek.

      Die meisie antwoord nie. Sy buk en tel die pakkies kougom haastig op.

      “Hoekom het jy dit gesteel?” herhaal ek.

      Sy kom regop en blaas ’n haartjie uit haar gesig. Dit lyk of sy haar nou weer reggeruk het.

      “Waar kom jy daaraan dat ek die kougom gesteel het?” vra sy skerp.

      “Ek het jou by die kiosk dopgehou,” sê ek. “Vir jou en jou pêls. Die ouens het Olga se aandag afgelei en toe het jy die goed in jou sak gesteek.”

      Die meisie trek haar skouers op. “So? Gaan jy nou die polisie roep?”

      Ek skud my kop. “Dis glad nie waaroor dit gaan nie. Carpenters is mý gunsteling-kougom. Julle het my heel, heel beste kougom gesteel! Ek gaan julle nie daarmee laat wegkom nie, dit moet jy weet.”

      Die meisie sê vir ’n rukkie niks nie, sy kou net aan haar vingernaels. Dan vra sy skielik: “Sal ons dit deel?”

      Haar oë flits.

      Die vraag vang my onkant. “D … deel?” stotter ek.

      “Ja, deel,” antwoord sy. “Jy kry die helfte en vergeet van alles.”

      Vergeet! Vergeet dat sy my Carpenters gesteel het? Nooit nie!

      “Die kougom behoort aan Olga,” sê ek kwaai. “Jy gaan dit vir haar terugvat. Kom.”

      Maar die meisie bly staan. Haar gesig verander skielik, en haar mondhoeke trek skeef. “Jy kan dit nie van my vra nie,” sê sy sag.

      Weer staan ons stil en kyk na mekaar. Ek kan duidelik sien hoe skaam sy is.

      Uiteindelik sê ek: “Oukei dan, ek sal die goed vir Olga terugvat.”

      Sy straal. “Sjoe, as jy dit vir my doen, sal ek … ”

      Ek laat haar nie klaar praat nie. “Ek doen dit net op een voorwaarde: Jy sê nou dadelik vir my hoekom jy die Carpenters gesteel het. Olga het tog baie ander soorte kougom.”

      Sy huiwer eers, dan mompel sy: “Carpenters is ook my gunsteling.”

      Dink sy nou ek is onnosel? Ek gryp haar weer aan die arm.

      “Reg, dan gaan ons saam na Olga toe,” beveel ek.

      Sy laat my toe om haar ’n entjie saam met my te sleep.

      Dan sê sy skielik: “As jy rêrig moet weet – daar is iemand vir wie ons die kougom moet steel. Net die Carpenters, niks anders nie. Ek weet nie hoekom hy dit wil hê nie.”

      “Wie is hierdie Iemand?” vra ek vies.

      Die meisie bly stil.

      “Praat!” sê ek dreigend.

      “Ek weet nie wat is sy regte naam nie,” mompel sy. “Maar almal noem hom Slang.”

      Slaan my dood!

      Dieter Schlang, ook bekend as “die Slang”, sit agter hierdie storie!

      Ek moet dadelik huis toe gaan. Ek moet in my bed gaan klim en diep dink.

      As die Slang betrokke is, gaan dit ’n ingewikkelde saak wees …

      “Gee my jou sak,” sê ek vir die meisie. “Ek sal die kougom vir Olga terugvat.”

      “Wie is jy?” vra die meisie. “Ek wil my sak weer terughê.”

      “Kwaaikofski. Speurder Kwaaikofski. Ek bly in Ahornweg 15, nie ver van die kiosk af nie. En wat is jou naam?”

      “Colette,” antwoord sy en blaas haar hare weer uit haar oë.

      Olga sluk amper haar tong in toe ek haar gesteelde Carpenters op die toonbank neersit. Sy het hierdie keer nog nie eens agtergekom dit het weer verdwyn nie.

      “Jy is ’n genie, Kwaaikofski,” sê sy uiteindelik. En dan dadelik: “Waar het jy die goed gekry? Wie is die dief?”

      “Ek vertel jou later,” sê ek. “Ek het nie nou tyd nie. Gee asseblief vir my twee pakkies.”

      Olga gee vir my die Carpenters.