Die Kougomstrik
Die geheim van die vlieënde koei
Die pienk skoolspook
Jürgen Banscherus
Vertaal deur Kobus Geldenhuys
Met illustrasies deur Ralf Butschkow
Human & Rousseau
Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Speurder Kwaaikofski: Omnibus 1 kan verskil van dié van die gedrukte weergawe, afhangende van die instellings op jou leser. Die uitleg vertoon optimaal as jy die standaardinstellings op jou leser gebruik. Lesers kan eksperimenteer met die instellings om die beeld te verbeter.
My naam is Kwaaikofski en ek is ’n privaatspeurder. Ek het sopas besluit om op te staan. Ek gaan ’n glas melk uit die yskas kry, my gunsteling-kep opsit (die een met ’n “K” op, vir “Kwaaikofski”; die enigste hoed wat my kop nie te warm óf te koud laat kry nie en sorg dat my brein altyd op sy beste kan werk) en my eerste kougom van die dag in my mond steek. Dis natuurlik nie sommer enige kougom nie. Ek hou net van een soort: Carpenters. Al die ander smaak soos voos skoensole.
Ek is al van ek kan onthou ’n privaatspeurder. Selfs as baba het ek elke boublokkie weer gekry, en ook elke lekker wat iewers in my sandput verdwyn het. Ek weet nie hoekom nie, maar ek het nog altyd ’n slag gehad daarmee.
Ek is seker hierdie somervakansie gaan my speurvernuf weer ernstig beproef word. Ek sit maar hier in my kamer by my lessenaar en wag dat iets moet gebeur. Hier voor my staan ’n glas melk en langsaan is daar ’n nota:
Ek druk nog ’n stuk kougom in my kies en kyk om my rond. My kamer is nie juis netjies nie, maar ek kan nog maklik by my persoonlike yskas met die melkvoorraad uitkom, en ook by die ou platespeler. So dit is nie eintlik nodig om op te ruim nie.
Nadat ek die melk opgedrink het, maak ek my kamervenster oop. Ons straat is doodstil. Ook g’n wonder nie, want almal is op vakansie by die see.
Somervakansies is die slegste tye vir ’n speurder. Niemand se marmotjie loop weg nie en niemand se pak weggooidoeke word gesteel nie.
My kougom smaak sommer skielik na niks. Ek spoeg dit in die snippermandjie uit en kry ’n nuwe een. Maar die pakkie is leeg. Lui of nie, ek moet vir my nog kougom by Olga gaan kry. Sy is die enigste een wat my gunsteling-kougom aanhou. Ek is een van haar beste klante.
“Hallo, Kwaaikofski!” roep Olga toe ek by haar kiosk aankom.
“Hallo, Olga,” groet ek. “Gee asseblief vir my ’n pakkie Carpenters. En ’n bottel koeldrank.”
Olga snuif. “Jy kan koeldrank kry, maar …”
Ek skrik my half simpel. “Het jy nie meer Carpenters oor nie?” vra ek.
“Dit verdwyn die laaste tyd,” antwoord sy. “Sommer net so.”
“Hoesê?” Ek sluk swaar. “Hulle verdwyn? Van wanneer af?”
“So die laaste twee, drie dae. En net die Carpenters. Is dit nie vreemd nie? Dit het nou al vyf keer gebeur. Ek bestel elke keer nuwes, maar wanneer iemand dit wil koop, is die goed skoonveld.”
“Miskien het jy net vergeet waar jy dit gesit het,” sê ek.
“Ek is nie so verstrooid nie,” antwoord Olga. “En in elk geval, ek het oral gesoek.”
Ek drink my koeldrank op. “Het jy ten minste nog bestel?”
Olga knik.
“Wonderlik!” sê ek. “Wanneer word dit hier afgelewer?”
“Môre vroeg,” antwoord sy.
Toe sy sien hoe diep ek frons, stel sy voor: “Hoekom probeer jy nie tot dan ’n ander soort kougom nie?”
Ek skud vasberade my kop. Nee, dis óf Carpenters óf niks nie.
Olga lag, buig vorentoe en leun oor die toonbank.
“Jy’s oulik, Kwaaikofski,” spin sy soos ’n kat en probeer my wang knyp. Ek spring dadelik twee treë terug. Ek hou van Olga, rêrig, maar ek laat nie aan my vat nie. Deur niemand nie! Boonop het ek skielik aan iets gedink … ’n Plan het sommer so vanself in my kop in gespring.
“Ek gaan môre ’n bietjie waghou,” sê ek vir Olga.
“Jy gaan wat doen?” vra sy.
“Ek wil uitvind wie laat die kougom verdwyn,” sê ek. “Die goed word gesteel. Dis die enigste verduideliking. Dis professionele diewe. Hulle sal jou onderklere van jou lyf af steel sonder dat jy dit agterkom.”
Olga wys speels vir my vinger. “Wat weet jy van vrouens se onderklere?” Dan word sy ernstig. “As jy reg is oor die stelery moet ek polisie toe gaan,” sê sy.
Ek het dit verwag.
Daarom sê ek vinnig: “Dink jy rêrig die polisie sal hulle aan ’n paar pakkies gesteelde kougom steur? Nee, los dit vir my. As ek niks regkry nie kan jy na hulle toe gaan.”
“Reg so,” antwoord Olga.
Dit lyk of sy my ’n drukkie wil gee en ek gee vir veiligheid vinnig nog ’n tree terug.
“Maar ek werk natuurlik nie verniet nie,” sê ek.
“Hoe nou?”
“As ek die diewe vang, wil ek vyf pakkies Carpenters hê,” sê ek ewe koel. “Afgespreek?”
Olga knik verlig. “Afgespreek, Kwaaikofski.”
Die hele nag slaap ek onrustig. Ek droom van reusagtige kougomme wat polisiehelms dra. Wanneer een van die ongediertes dreigend met ’n knuppel op my afstorm, word ek natgesweet wakker.
Ek kyk op die wekker. Dis nou eers vyfuur. Ek hoor die eerste voëls buite en die ou wat koerante aflewer se motorfiets brom deur ons buurt.
Nou sal ’n Carpenters darem baie lekker wees. Maar een of ander skurk het my vars voorraad gesteel.
Ai, die lewe is allesbehalwe ’n lied sonder my kougom!
Ek trek saggies aan, kry ’n glas melk uit die yskas en sluip by die huis uit. My ma slaap nog, ek wil haar nie wakker maak nie. Sy gaan nie daarvan hou dat sy alleen ontbyt moet eet nie, maar sy weet ’n privaatspeurder se lewe is moeilik.
Dis nie ver na Olga se kiosk nie. Toe ek daar kom, is die ystertralies nog op en die dag se koerante is buite die deur neergesit.
Ek gaan