Twee: Matt Delmayer is nie halfpad die held wat sy haar al die jare verbeel het hy is nie. Newsflash! Matt Delmayer is ’n wimp.
Nee wat. Sy’t klaar besluit. Dié man is nie een verdere oomblik van haar gedagtes of een kyk van ’n oog werd nie. Hy mag dalk blou bloed in Hollywood wees, maar dit is nie Hollywood dié nie. En as haar pa net sy navorsing oor haar voorouers eendag kan klaarkry, is sy per slot van rekening heel moontlik werklik van adellike afkoms. Haar voorouers het immers destyds direk uit Frankryk saam met die Hugenote Franschhoek toe gekom. So!
Fransi sluk ergerlik haar koue koffie klaar, vis haar lipstiffie uit haar sak, kleur haar lippe weer foutloos in, en stap kop omhoog met soveel ekstra houding die studio binne dat sy nie eens die slag voel nie. Sy raak eers daarvan bewus dat sy teen iemand vasgeloop het toe sy wild agtertoe steier. Dit kos ’n woeste en uiters onelegante geroei met albei arms om nie hard met die sementvloer kennis te maak nie, maar tog is sy vaagweg daarvan bewus dat almal om haar stil raak. Soos net mense wat sukkel om hul lag te onderdruk kan stil raak. Want die oorsaak van haar struikeling is Meneer Hollywood Delmayer self.
Franscheska Fouché herwin blitsvinnig haar balans en tree agtertoe voordat hy dalk kan dink sy het sy hulp nodig. En net daar is sy nou éérs onbedaarlik die duiwel in vir die man. Eers maak hy haar hele naweek ’n verdomde ellende van wag en wonder en wens; nou kom staan hy reg in haar pad waar hy nie hoort nie en sorg dat sy haar laaste greintjie gesag hier voor die proesende manne ook nog kwyt is. Dit baat ook niks dat hy lyk soos hy lyk nie. Spiere en ’n T-hemp wat daaroor span en hondbruin oë wat askies vra, help net tot op ’n sekere punt in Fransi se boekie. En Matt Delmayer het verlede Saterdagaand na middernag al daardie punt verbygesteek toe hy niks van hom laat hoor het nie.
“Kan ek help?” vra sy yskoud met een geligte wenkbrou terwyl daar nog ’n hele paar duiwe in haar bors plek soek om te land. Dis nie maklik nie, want beweging van haar wenkbroue is ook verdomp steeds nog nie heeltemal pynloos nie. Veral aangesien Felicity sowaar gister besluit het om die skynbaar uiters noodsaaklike optouch-opvolgjoppie te kom doen. Asof haar lyding nog nie erg genoeg was nie.
Waarom sy haar deesdae so laat misbruik deur almal weet sy nie. Maar, om jou wenkbroue vir ’n vriendin op te offer as proefkonyn maak tog op ’n manier sin. Sy is immers nie bang vir pyn nie. Veral as mens ’n verskoning nodig het om ’n traan te stort voor ’n nuuskierige vriendin op ’n lang leë Sondagmiddag ná ’n lang leë naweek. Om haar egter bloot te stel aan so ’n pynlike staat van onvervulde afwagting waarin sy die ganse uitgerekte naweek vasgevang was oor dié mislike man wat nou hier voor haar staan en mooi lyk? Nee dankie. Dis plein dom en onverantwoordelik. En verby. Sy het haar share gehad met Chris. Nie weer nie.
“Nee, dankie,” sê Matt Delmayer fronsend, “ek bedoel jammer. Ek is eintlik hier om met Vernon te praat.”
Fransi dog sy bars ’n aar. “Vernon?”
Maar wat te erg is, is mos darem te erg? Hier staan hy asof hy van niks weet nie. Asof hy haar nie nog Vrydag hier in hierdie einste studio met passievolle oë staan en opvreet het nie. Daarby allerhande seine uitgestuur het! En hy soek na Vérnon?
“Ja,” sê hy.
“Vernon?” Fransi gaap soos ’n budgie in pure ongeloof.
“Hoor hier, is jy oukei?” Uiteindelik is daar iets meer as suiwer verbasing in die amper swart oë wat haar vraend aankyk.
Fransi ruk haar op. “Nou hoekom sal ek nie oukei wees nie? Natuurlik is ek oukei. Om die waarheid te sê, ek was lanklaas presies só oukei, dankie!”
Hy sit ’n hand op haar skouer. Dieselfde een met die fyn tatoes op die vingers wat sy Saterdagnag gegoogle het, haar probeer indink het hoe dit sou voel as . . .
“Is jy seker?” vra hy. “Jy lyk nogal gerattle. Ek is genuine jammer ek het . . . wel . . . jý het netnou teen my vasgeloop. My kop is ook maar partymaal op ’n ander plek.”
Sy sal dit nie onder die pynlikste kruisverhoor ooit erken nie, maar Matt Delmayer, mega-ikoonsuperster van Hollywood, se wêreldberoemde vingers op haar kaal vel is ’n sensasie wat geen vrou sommerso sal afmaak as niks nie. Fransi staan egter haar staan en knip geen oog nie. Inteendeel. Sy kyk hom ’n barshou. En hy kyk nie uit ’n movie poster na haar nie. Ook nie uit die afbeelding van hom wat sy teen twee-uur Saterdagoggend uit hordes ander op die internet gekies en as screensaver op haar rekenaar gebruik het nie. Niks van daai nie. Dieselfde paar oë wat ook al uit soveel foto’s, teaterskerms en plakkate uitlokkend na haar en almal in die wye heelal gestaar het, is nou hiér. Vlak voor haar. Onwerklik in hul werklikheid, vraend op haar gerig. Maar sy kry dit reg om te praat.
“Nou wat soek jy dan hier, meneer Delmayer?”
Iets flikker oor die oorbekende gelaatstrekke. En as sy nie geweet het oor watter enorme ego die vent beskik nie, sou Fransi sweer daar speel ’n sweem van onsekerheid om die ster se perfek besnede mond.
Sy draai effens weg onder sy hand uit. Mens kan ook net só lank jou pose hou as die vingers op jou skouer al Oscars vasgehou het. Sy veg met al haar wilskrag teen die drang om haar hand oor die plek te vou waar syne vlugtig gerus het en troos haar daaraan dat daar sekerlik diegene is wat nie sommer weer so ’n skouer sal was nie.
“Ek … e …” Hy vryf eers byna besluiteloos met dieselfde beringde linkerhand wat pas op haar gerus het oor sy ikoniese baardstoppels. “Wel, e … soos ek reeds gesê het, ek … e … ek soek na Vernon?”
“Vernon is vanmôre af,” sê Fransi.
“O, nou ja,” sê hy, “jammer ek het gepla. Dan loop ek maar.”
Toe draai hy in sy spore om en loop. Sowaar.
Eers nadat hy lankal by die deur uit is, kry Fransi weer haar gesag terug.
“Break over, manne. Daar’s baie werk!” roep sy oor haar skouer. Die een wat sy graag sou wou raam of dalk in ’n glaskas bêre vir haar nageslag? Maar sy klap haar gereedskapkis hardhandig oop asof daar geen verposing was nie. Terwyl sy kamtig naarstiglik grawe vir die regte spykers, hoor sy hoe almal een vir een weer terugkeer na hul gewone lawaaierige gewerskaf. As iemand dalk net haar onstuimige gemoed ook wil inlig dat dinge spoedig so normaal moontlik moet voortgaan, veral as sy weer respek in dié plek wil afdwing.
Eers toe sy met haar Land Rover in die Kaapse verkeer sit op pad huis toe, kry Fransi kans om die ding weer kalm te herdink. Die man praat darem baie suiwer Afrikaans. Al sê Vernon en Google hy is hier gebore. En daar is maar skrapse private inligting oor hom op die internet, het sy die naweek weer besef. Afgesien daarvan dat die Amerikaanse filmster Matthew J. Durant-Delmayer op 11 Junie 1981 in Suid-Afrika gebore is, verklap dit nie veel nie. Dit verklaar byvoorbeeld nie heeltemal sy feitlik algehele gebrek aan Amerikaanse aksent nie.
En hoekom soek hy vir Vernon?
3
Partymaal kan mens dit sowaar net nie meer hou nie. Teen Dinsdagmiddag vieruur gee Fransi in en grawe die boksie met die enkele ciggie uit wat sy vir presies so ’n dag onder die verslete voorste sitplek van haar rivierboot ingewig het. Sy is nog naarstiglik aan ’t sukkel om dit met ’n vuurhoutjie uit dieselfde klammerige boksie aan die brand te probeer kry, toe iemand skielik agter haar praat.
“Baby! What took you so long?” singvra die stem vanuit die agterste deel van die boot se boeg.
“Bliksem!” skel Fransi toe die vuurhoutjie stomp afbreek en boksie en als op haar voete val.
“Darem nie heeltemal nie. Ek het ook my goeie eienskappe,” kom die antwoord.
Fransi vlie vervaard regop om te sien wie dit is. En alles om haar wieg en dein gevaarlik, want dis flippen Matt Delmayer wie se lang lyf op die agterste bankie van háár boot gedrapeer luier. Ongestoord. Kompleet met geskeurde verbleikte T-hemp met heelwat uitsig op heuningkleurige gespierde lyf, die ewige