Hy kyk haar ’n oomblik verbaas aan en draai dan na Liana. “En wat doen jý vir ’n lewe?”
“Ek is ’n landdros.”
Hy fluit. “La-di-da! Tussen julle twee behoort julle my suster se moord te kan oplos.”
Kira moet haarself dwing om kalm te praat. “Ons is regsgeleerdes, nie speurders of polisie nie.”
“En wat doen jý vir ’n lewe?” vra Liana.
Kira onderdruk ’n glimlag, want Liana klink asof sy iemand in die hof ondervra.
“O, ek het ’n swembadmaatskappy, in Bloemfontein.”
Hy kyk na die swembad. “Dis eintlik ’n fout om ’n swembad te hê wat so groot en reguit is. Dit neem te veel ruimte in beslag. Ek bou vir mense nier- of hartvormige swembaddens, met rotse en watervalle.”
Nou lyk Geert ook geïrriteerd. “Ek swem vir oefening. Ek kan dit nie doen in ’n swembad wat soos een van die menslike organe lyk nie.”
Kira sluk haar lag en sien dat Liana hare ook inhou.
Op dié oomblik kom Reinhard uit die huis, ten volle geklee. “Ons kan gaan, Dewald. O, ek sien jy drink ’n bier. Maak maar eers klaar, dan gaan ons.”
Hy gaan sit op ’n stoel, maar lyk ongeduldig en haastig.
Kira is nou dubbeld selfbewus, want hy kyk na haar en die afstootlike Dewald kyk ook na haar asof hy wil bepaal wat sy swaer destyds in haar gesien het. Sy wil haar rok aantrek, maar haar baaibroek is te nat en die rokkie sal net kleef.
Al raad is om die handdoek oor haar bene te drapeer, want die blikke van Dewald se snaakse groen oë gaan heeltyd soontoe.
“Oukei, ek sien jy is haastig,” sê hy vir Reinhard, sluk die laaste van die bier vinnig af en staan op. “Totsiens, dames en heer. Dankie vir die bier. Sien julle weer, want ek gaan ’n bietjie by my ou swaer bly.”
Reinhard groet en sê: “Moenie saamstap nie, Geert.”
Met ’n stroewe gesig lei hy Dewald uit.
Toe hulle weg is, sê Geert: “Verdomme, maar dis ’n man wat my hare laat rys. Ongepoets! Lyk ook nie juis of hy rou nie. Alles is so … aangeplak.”
“En hy gaan by arme Reinhard bly,” sê Liana.
Kira knik. “Ja, arme Reinhard. Ek wonder vir hoe lank? Seker tot ná Monique se begrafnis.”
Geert kom sit en leun vorentoe. “Ek moet julle tweetjies voor stok kry.”
“O, waaroor nogal?” vra Liana.
“Julle het vir daardie kapteintjie gesê ék het vertel dat Jaco Peens se motor alewig hier geparkeer gestaan het.”
“Sy sou dit wel uitgevind het.” Liana klink vies. “Dis iets wat die ondersoekbeampte moet weet.”
“Ag, wat maak dit saak?” vra Kira, want sy sien die twee gluur mekaar aan en hulle baklei eintlik nooit. “Sy is baie skerp, hoor. ’n Mens moet haar beslis nie onderskat nie.”
Geert gee ’n snork. “Ja, sy is soos ’n bulhond. As sy byt, los sy nie. Sy sal jou skud totdat sy al die inligting wat sy soek uit jou uit geskud het.”
“Ek hou nogal van haar, maar jy is reg,” stem Kira saam. “Sy gaan nie een van die spreekwoordelike stene onaangeroer laat nie.”
Geert staan op. “Ek gaan haal die snoek, want die kole is amper reg, dan braai ek. Sal julle slaai maak, asseblief? Alles is in die kombuis.”
“Ek sal die slaai maak,” bied Kira aan.
In die kombuis wys hy vir haar die messe in ’n houer. “Gebruik een van daardie vir die kerfwerk. Dis lekker skerp.”
Kira se asem stok in haar keel toe sy sien dat die grootste mes weg is, want die breë gleuf is leeg. Onmiddellik dink sy aan die mes wat Monique deurboor het.
Toe sien sy dat Geert dit in sy een hand vashou terwyl hy met die ander hand die bak met die snoek uit die yskas haal. Sy slaak ’n sug van verligting.
Hemel, sy is besig om spoke te sien. Almal gaan almal naderhand verdink, maar hy het tog geen rede gehad om Monique te vermoor nie.
7
Reinhard haas hom na die voordeur toe hy die harde en dringende gelui van die klokkie hoor. Hy is nou al so bedag op slegte nuus, die pestelike pers en die snaakse speurdertjie dat hy nie meer rus vir sy siel het nie, dink hy en maak oop.
Dis nie een van hulle nie, en beslis nie iemand wat hy verwag het nie.
“Lettie! Wat kan ek vir jou op ’n Sondagoggend doen?”
Sy bloos, soos gewoonlik. Hy sien dat sy moeite met haar voorkoms gedoen het, asof sy kerk toe wou gaan. Haar vol lippe is bloedrooi van die lipstiffie.
“Ek moes net met jou kom praat, Reinhard. Is ek baie ongeleë?”
“Nee, ek sou nie kerk toe gegaan het nie. Die mense gaap my deesdae so aan dat ek nie op die preek kan konsentreer nie.”
Hy spot ’n bietjie, want eintlik gaan hy maar selde. Hy weet egter dat sy en Jaco gereelde kerkgangers is.
“Jaco is kerk toe, want hy is mos diaken, maar ons het vanoggend so ’n onderonsie gehad dat ek geweier het om met my woede in die tempel van die Here te gaan sit.”
Reinhard voel ’n stekie van minagting oor dié hipergodsdienstige uitlating. Wat hom betref, sit die Peense soos fariseërs in die kerk. Witgekalk, die krake toegesmeer.
“Kom in.”
Hy beduie dat sy vooruit moet stap na die sitkamer en die honde kom haar tegemoet gehardloop.
“Hi, guys,” skerts sy.
Sy speel eers oordrewe met hulle voordat sy ingaan en op die driesitplekbank gaan sit. Hy gaan sit oorkant haar in ’n leunstoel, ver genoeg weg.
“Jy het iets op die hart.”
Sy haal ’n snesie uit haar krokodilvelhandsak en druk dit teen haar neus. “Weet jy, sedert Monique so gruwelik vermoor is, leef ek in ’n nimmereindigende nagmerrie. Voel jy nie ook so nie?”
“Ja, nogal … soms.”
Sy kruis haar bene, haar beste bate, wat sy graag vertoon. Ongelukkig is sy verder nie iets vir die oog nie en hopeloos te opgesmuk, dink hy. Daardie bloedrooi lipstiffie en naels laat hom gril. Die kleur van vars bloed. Sy het Monique altyd probeer naboots, en hopeloos gefaal in haar pogings om ook so verleidelik te lyk.
“Reinhard, ek weet nie hoe om dit vir jou te sê nie …” begin sy en bly dan stil, haar oë koeëlrond.
“Probeer.”
Sy skraap haar keel. “Monique en Jaco … Ag, dis so moeilik, dit gaan jou so seermaak … Hulle het ’n verhouding gehad.”
Hy sien sy wag vir die skok, maar hy gaan nie vir haar jok nie. “Ek weet,” sê hy bedaard.
Sý is geskok, skoon asvaal in die gesig, sien hy.
“Jy weet? Van wanneer af?”
“Van sowat twee maande voor haar dood. Ek het vroeër as verwag teruggekom van ’n kongres in Duitsland en hulle saam hier betrap.”
“Genade op aarde,” prewel sy.
En in die mens ’n welbehae, dink hy sinies. Welbehaaglik was sy verhouding met Monique lankal nie meer nie.
“Ek het dit van die begin af geweet,” vertel sy. “Dit het al verlede jaar begin. Ek het Jaco gekonfronteer, maar hy het dit ontken. Toe ek hom eendag hierheen volg en hom agterna daarvan vertel, het hy gesê hy was hier om by Monique geld te kom leen. Jy wou dit glo nie vir hom leen nie.”
“Dis waar. Hy