“Jy mag nie die woord ‘kaffer’ gebruik nie. Omdat julle laer as die vuilste kaffer is, word ons verbied om julle dit te noem. Die woord ‘kaffer’ is vir Bantoes, en omdat julle almal wit is, kan ons julle nie kaffers noem nie. Die volgende manskap wat die woord ‘kaffer’ gebruik, sal om hierdie eskadron-HK moet hardloop en skree ‘Ek is nie goed genoeg om ’n kaffer te wees nie’.”
Teen die einde van basies het dit alledaags geword om in jou browns oor ’n stuk veld te kruip met jou geweer in die wieg van jou arms. (“As jou geweer jou girlfriend is, is die aarde jou ma.”) Of om in pas te marsjeer. (“Sodat die piele in hierdie peloton nader aan die poepholle kan kom.”)
“Fokken kyk voor jou, moerskont …” Die onderoffisiere was Sad Sacks, hulle het gedreig om oë uit te suig, of in ore te ejakuleer, of testikels vir strikdasse te gebruik …
Maar ek was verward, Ben. Want was dit nie ook die ware lewe nie?
Ek het nie die ware lewe geken nie. Dit het jy my destyds al laat verstaan, met jou verwerping van ons, jou afsydigheid, jou hoogmoed. ’n Rykmanskind was ek, oorbeskerm, soos ’n onderwyser my eendag uitgeskel het. Genoeg breinselle, die beste leerling in die provinsie, maar het ek geweet hoe om daardie breinselle te gebruik? Daardie vorige lewe was pure dryfsand, die weermag het minstens vaste grond gebied.
Die vaste grond van jou liggaam waartoe alle behoeftes gereduseer is.
Wil jy slaap? Daar’s ’n tent vir ses van julle.
Wil jy eet? Daar’s jou varkpanne en jou kidney pouches en maak jul mae vol en maak gat skoon vir die volgende klomp varke.
Wil jy ’n kak vang? Hier’s ’n graaf om ’n gat te spit.
Wil jy draadtrek? Doen dit in die stort, nie in die weermag se onderbroeke nie.
Wil jy doodmaak? Doen dit hier, in die middel van die liggaam, of tussen die oë, onder die deksel van die helm.
En vrouens? Wil jy naai? Gryp dan ’n vrou en doen dit, soos ’n hond. Moet net nie jou stewels uittrek nie, anders sal die vyand jou kry. En as jy nie ’n vrou kan kry nie, takel ’n bok, vir wie se kloue jy sysakkies in jou tuniek het.
Was dit nie wat ek wou doen nie? Kru was dit alles, kru was Swart Vest se storie op die trein. Maar ek wou deel wees daarvan. Maria … ek wou haar … naai. In die weermag kon ek my verbeelding vrye teuels gee, vir die eerste keer.
Maria se kont, het ek myself vertel, dis wat ek wou gehad het: Maria se kont. Ek wil met haar maak soos Swart Vest met sy meisie gemaak het. Ek was in ’n beswyming die eerste keer dat ek daardie woorde geuiter het. Ek het op lug geloop.
Maar dit was ook nie die volle waarheid nie. My lus vir haar, vir enige meisie, het ook ander beelde opgeroep, baie meer. Ek het haar sagtheid onthou, die glinsterblou van haar perfekte oë, die manier waarop sy frons en haar bolip stadig met die gekrulde puntjie van haar tong lek wanneer ek liefde maak met haar.
Ja, dit was ook waar. Sy was buite perke, en wou so bly; liewe, beeldskone Maria. Dit was so verkeerd, maar dit was wat ons gedoen het elke keer wat ek haar vasgehou het en haar borste en haar dye geknie het, haar hand om my pols: Ons was besig om liefde te maak. En toe sy dit stopgesit het, was dit ook uit liefde, dit weet ek nou.
Ek wou in die straat af loop met haar. Net in die straat af loop met haar. Enige straat, solank dit buite die basis was. Ek wou ook die nag in loop met haar; ek wou wiskunde doen met haar; die trigonometrie en die ellipsoïdes en trapesoïdes van haar liggaam ontdek. Of dié van enige ander vrou.
Die weermag kon dit nie bied nie. Die weermag wou dit vernietig. Die ergste wat die weermag gedoen het, was om die buitewêreld so moeilik, so uiters vreemd te laat lyk; ’n wêreld waar mense in elk geval doodgaan van honger en gebrek aan liefde. Die buitewêreld was g’n plek vir ’n eerlike soldaat nie.
En toe was daar Pretty Belinda, en die wêreld was ook geen plek vir haar nie.
“Cowboys don’t cry …” Ons het die frase so dikwels gehoor dat ons onsself in Stetsons pleks van barette begin sien het.
Dit was ’n vreemde gevoel; ons was veronderstel om soldate te wees, seuns wat besig was om manne te word, maar vir lang tydperke het ons in ’n saal op skoolstoele gesit met gordyne die kleur van gekoude biltong, kompleet soos die skool s’n laas jaar.
Buite het die reënwater deur die geute geratel, die grasperke het vol geloop en die bome het gelyk of hulle op heterdaad betrap is en nou maar daar staan met hul nat kalksokkies. Maar pleks van leer hoe om daarin te leef met net jou tent en jou poncho, is ons in die saal gestop vir lesings. Tupperware-troepe, inderdaad.
Popmusiek! Die kaptein het daardie dag oor popmusiek gepraat, oor dieselfde ou gunstelinge as dié van die onderwysers in matriek. Die Rolling Stones met “Sympathy for the Devil”, die Beatles met “Back in the USSR” was voor in die koor. John Lennon, het die kaptein voortgeseur, was mos die man wat gesê het hulle is gewilder as Jesus Christus. Wel, het ons Christene nie sy gat geskop nie!
Hy het verwag ons moet lag, en senuweeagtig gelyk toe sy gegrinnik deur ’n dom gestaar begroet word. Noem Mick Jagger se naam op ’n verhoog, en almal het al geleer om af te skakel.
Dit het my ontmoedig laat voel. Voor die reën het die weermag inderdaad soos ’n tuiste begin lyk. Ons het met skietkuns en nagoefeninge begin. Ek kon dit nie ontken nie: ’n opgewondenheid het my beetgepak toe ek die eerste keer “die vyand” in my visier gehad het en ek die plesier beleef het van daardie breukdeel van ’n sekonde voor jy jou geweer se sneller trek. Al was daar net blanks in die magasyn.
Die skietbaan. Die kuns van die regte postuur, die regte asemhalingstegniek. Die spanning toe ons by die langer afstande kom. En toe ek genoeg punte opstapel vir ’n skerpskuttersbalkie, kon ek die gevoel van trots ook nie ontken nie.
Toe ons op die koppie sit wat op die basis afkyk en die louwarm tee drink wat daar aangekarwei is deur ’n nors sjef, wie se gevloek ons selfs bo die kermende Land Rover kon hoor, kon ek myself daar onder sien. Aan die hoof van ’n peloton, besig om mens en masjien te fokus op die een of ander massiewe projek ver anderkant die horison. Honderde en duisende aan’t marsjeer.
Maar daar was onmiddellik die repliek in my kop: Waarheen? Waarvoor? Sal die vyand ons ooit bekruip soos hulle ons bekruip het tydens nagoefeninge? Dit het ook so absurd gevoel: speletjies wat nooit werklik sou gebeur nie, nie hier te lande nie. Tupperware-troepe.
“Hulle is lafaards. Cowboys don’t cry,” het die kaptein voortgegaan op die verhoog. “Dis hoekom hulle sekere organisasies gebruik om hul vuilwerk vir hulle te doen. In Mosambiek, Angola, Rhodesië … en nou ook in Suid-Afrika.”
Die woorde het in die lug gehang: “sekere organisasies”. Obskuur genoeg om onheilspellend te klink. Spesifiek genoeg om jou te laat voel hulle is iewers anderkant die eerste berg aan’t knoei; anders as gewone wetsgehoorsame, pligsgetroue organisasies soos die weermag. Na wie het hy verwys? ’n Sadistiese slawemeester wat in Russies vloek en honderd kruipende Mosambiekers aandryf na ’n vreedsame dorpie, en dan soos blits verdwyn wanneer ’n ander wit mens op die toneel verskyn?
Maar ons, het die kaptein met trots gesê en sy bors jou waarlikwaar uitgestoot, ons in die gewapende magte van die Republiek van Suid-Afrika, ons is van heldestoffasie gemaak, ons is nie lafaards nie – toe het die korporaals ons opgestook om te skree “Ja, kaptein!” – en ons is eerlike mense en veg self in die oorlog, in die oorlog vir ons land, ons gebruik nie ander mense nie. Ons steek nie weg dat ons dinge moeilik maak vir die vyande van die staat nie. Ons veg vir die voortbestaan van die Westerse beskawing en cowboys don’t cry.
Terwyl hy gepraat het, is ’n notaboekie rondgestuur. Die laaste inskrywing was ’n versoek vir Pretty Belinda for my friend pretty Belinda and all my folks at home, gevolg deur omtrent ’n dosyn name.
Toe ek opstaan, het die uitdrukking op die kaptein se gesig na een van skok verander. “Wat ek nie verstaan nie, kaptein,” het ek myself hoor sê, “is dat die weermag ons waarsku teen popmusiek, maar terselfdertyd