Die Jeep ry stadig verby die Stormtroopers en dan sien Clayton iets wat elke haar op sy lyf laat regop staan. Een van hulle kyk in sy rigting en toe hulle oogkontak maak, sien hy ’n reptielagtige geel oog deur die opening in die soldaat se masker staar.
Sy lyf voel lam van vrees. Is hy besig om te droom? Sy pa moes dit nooit aan hom gedoen het nie! Nie net is die kamtige kamp in ’n woud geleë nie, maar hier is ook vreemde goed aan die gebeur. Sy gedagtes is al klaar besig om met hom op loop te gaan.
Clayton vryf sy oë en skud sy kop asof dit sal help om hom uit hierdie nagmerrie te laat wakker skrik. Hy verbeel hom net. Ja, dis alles in sy kop!
Maar al hierdie sekuriteit is vir seker nie normaal nie. Wat as hy iets oorkom hier? Gaan sy pa met die verwyt kan saamleef?
Hulle ry verder. Honderde bome gly aan weerskante van hulle verby. Skielik trap die bestuurder haastig rem en Clayton skiet vorentoe in sy sitplek. ’n Blitsvinnige dierasie hardloop uit die woud voor hulle oor die pad. Die bestuurder gryp na ’n pistool in die paneelkissie en druk ’n knoppie wat die Jeep se deurslotte onmiddellik laat sluit.
Clayton hoor sy eie asem jaag. Hy weet hy het hom nie verbeel nie. Iets gevaarliks het oor die pad gehardloop. Die bestuurder se vinnige reaksie bevestig dit. Dit was nie sommer net ’n gewone dier nie. Hierdie ding het soos ’n kruising tussen ’n beer en ’n krokodil gelyk!
4
Toe die Jeep uiteindelik stop, druk die bestuurder op die paneelbord en die deurslotte spring oop. Clayton sien vyf ander Jeeps, presies soos die een waarin hy is, langs hulle in ’n halfmaan geparkeer staan.
Die bestuurder se selfoon lui. Hy antwoord en ná ’n paar sekondes druk hy dit dood. Dan sê hy kortaf: “Uit.”
Clayton klim versigtig uit die Jeep. Al die bome om hom maak hom kortasem van angs. Dan sien hy hoe vyf ander seuns ook uit die ander Jeeps klim.
“Haal diep asem, Clayton. Bly kalm,” fluister hy vir homself.
Hy kyk versigtig rond. Die plek waar hulle staan lyk soos die tipiese somerkampterrein wat ’n mens gewoonlik in Amerikaanse flieks sien. Daar is ses houthutte, drie links en drie regs, en tussen hulle ’n groot houtgebou wat waarskynlik ’n eetsaal is. Aan die onderkant van die bult waarop die kampterrein gebou is, is ’n groot meer. Alles word deur helder spreiligte verlig.
Clayton frons terwyl hy sy nek draai om alles om hom te bekyk. Hy sien hoe die ander seuns dieselfde doen. Dit lyk allesbehawe soos die supermoderne, deftige kamp wat hy op die pamflet gesien het!
Net toe kom ’n man met ’n digte rooi baard en ’n blonde vrou uit die groot houtgebou voor hulle gestap. Hulle is soos soldate aangetrek, in gekamoefleerde uniforms met berets wat skuins op hulle koppe sit.
Clayton se maag draai. Wat wag werklik op hulle by hierdie kamp?
“Welkom. By. Kamp. Mentors! Die. Beste. Kamp. Ooit!” probeer die middeljarige blondekopvrou in die uniform kletsrym. Sy probeer ook ’n paar hip-hop-danspassies en skree dan: “Laat die pret begin!”
Die lang, gespierde seun met die sonverbleikte hare wat naaste aan Clayton staan, snork deur sy neus en die res van die seuns bars ook uit van die lag.
Clayton bekyk die ander seuns. Daar is ’n ou met ’n kopbeen-tatoe op sy wang en ’n kaalkop-tweeling wat lyk of hulle groot boelies kan wees. Dan is daar ’n tingerige ou met ’n wit Superdry-kappietop aan.
“Stilte!” bulder die man langs die blondekopvrou. Almal is onmiddellik tjoepstil. Clayton se vingerpunte begin weer te prik. Hy sal versigtig moet wees vir hierdie man met die rooi hare en baard.
“Dis nie ’n vakansiekamp hierdie nie,” sis Rooibaard vir Blondie, wat bleekgeskrik langs hom staan.
Sy knik en loer oor haar skouer in die rigting van die groot houtgebou agter hulle. Nou, vir die eerste keer, gewaar Clayton die donker man in die deftige pak wat op die stoep staan en stil na hulle kyk. Wie sou dit wees? Hy weet vir ’n feit dis nie die beroemde Jean-Luc Naudé nie. Hy het gaan google hoe die multibiljoenêr lyk nadat sy pa vir hom die pamflet in die hand gestop het.
“Julle is nou by Kamp Mentors,” gaan Rooibaard voort, “en soos julle so pas gehoor het, is hierdie nie ’n vakansieplaas nie. Julle is hier om gerehabiliteer te word.”
Die seuns loer almal vlugtig na mekaar.
“Julle kan my Meneer noem en my kollega hier langs my is Mevrou vir julle.”
Blondie glimlag breed en waai gretig. Clayton moet hard keer om nie weer te lag nie.
“Die belangrikste ding wat julle van die eerste oomblik af moet onthou, is dat ons wedersydse respek hier toepas.” Rooibaard gluur na hulle. Clayton hou op asemhaal toe hulle oë ontmoet, maar gelukkig kyk Rooibaard vinnig weer weg. “Jy, Spiertier!” sê hy vir die fris ou langs hom. “Kan jy vir ons vertel wat wedersydse respek is?”
Clayton se hart klop vinniger. Iets in die seun se gesig laat hom dink hy gaan nou ’n sarkastiese antwoord gee.
Maar die ou skuifel sy voete en maak keel skoon. “Um … wedersydse respek is wanneer iemand jou goed behandel omdat jy hulle goed behandel. Of andersom.”
“Dis reg,” sê Rooibaard en kyk vir ’n paar ongemaklike sekondes weer stip na Clayton. “Kom ons hoop maar julle almal onthou Spiertier se antwoord vir solank as wat julle nog met ons is.”
Wat bedoel die man? Volgens Clayton se pa was daar geen manier om vroeër uit die kamp te kom nie. Hulle kan jou nie uitskop vir wangedrag nie. Hulle sal dinge net vir jou moeiliker maak. Vir solank as wat julle nog met ons is … Wat beteken dit dan? Hulle sal hulle tog seker nie na ’n regte tronk vir jeugmisdadigers stuur nie?
“Laat ons oor reëls gesels!” onderbreek Rooibaard Clayton se gedagtes. “Julle mag geen selfone, tablette, skootrekenaars of enige ander elektroniese toestelle soos iPods of Apple-horlosies by julle hê nie. Alles moet by my kantoor, hier regs van die eetsaal, ingehandig word. Vang ons jou met enige van hierdie goed, word jy summier gestraf. So wees gewaarsku.”
Die seuns brom onderlangs en Rooibaard verskree hulle om stil te bly. “Julle mag die kampterrein onder geen omstandighede sonder toestemming verlaat nie,” gaan hy voort. Rooibaard en Blondie loer vinnig na mekaar en dan sê Rooibaard: “En ons sal julle ook nie aanraai om alleen in die woud te gaan stap nie.”
Clayton kyk om na die bome wat krakerig in die wind wieg en rillings hardloop teen sy lyf af.
“Hoekom nie? Is daar wilde diere in die woud?” vra Kopbeen-tatoe.
Rooibaard se gesig word rooier, asof hy gaan ontplof. “Hou jou smoel!” skree hy. “Wie’t vir jou gesê jy mag praat?”
Die seun hou albei hande in die lug op en sê: “Jammer, jammer.”
“Jy sál jammer wees!” gaan Rooibaard soos ’n besetene voort. “Hier gaan julle maniere leer!”
Rooibaard knik vir Blondie, wat soos ’n standbeeld na hom staar. Dit lyk of sy uit ’n dagdroom wakker skrik en sy gee ’n haastige tree vorentoe. “Goed, kêrels. Daar is ses van julle. Julle gaan twee-twee saam in ’n hut bly.” Sy glimlag breed en wys na hulle: “Julle twee, julle twee en julle twee is saam in ’n hut.”
Clayton en die lang, gespierde ou is saam ingedeel. Die kaalkop-tweeling is saam en Kopbeen-tatoe is saam met die seun in die wit Superdry-kappietop.
“Die drie hutte regs van die eetsaal – dis nou die groot gebou hier voor ons met die stoep – is vir júlle. Maar … moet asseblief onder geen omstandighede na die drie hutte aan