Dan onderbreek Pippa die stilte: “Wag ’n bietjie. Mamma het netnou gesê ons sal uitvind of dit Annette is. As Annette twee jaar jonger as Pappa was, moet sy nou agt-en-veertig wees. Dan sal daar mos net bene oor wees. Hoe sal Pappa weet of dit sy is?” Pippa wip regop en voor haar ma nog kan antwoord, voeg sy by: “Ag, natuurlik. Pappa sal haar seker aan haar klere kan uitken.”
“Nee,” sê haar ma. “Haar klere is weg. Sy’s kaal.”
Pippa se nek begin steek-steek soos ’n slapende voet wat weer begin lewe kry. “Nou maar hoe sal Pappa dan ’n geraamte uitken?” mompel sy geskok.
“Die meisie wat in die bergskeur hang,” begin haar ma en druk Pippa se hand stywer, “is nie ’n geraamte nie. Sy’s … ’n mummie.”
2
Mummie!” roep Pippa uit.
“Saggies, Pips,” keer haar ma. “Moet asseblief nie nou begin skree nie. Jou pa sal nie nog meer drama kan hanteer nie.”
Pippa skuif nader aan haar ma en sit regop op haar knieë. “Bedoel Mamma Annette is ’n mummie … soos in …’n Egiptiese mummie in lappe toegedraai?”
Haar ma hou haar hande in die lug op. “Nee, my liewe kind. Rustig nou. Ons weet in elk geval nog nie of dit Annette is nie …”
Pippa knik. “Oukei.”
Haar ma glimlag floutjies en haar oë kry ’n veraf kyk. “En ek weet self nog nie hoe die mum … hoe dit lyk nie. Genade, ek’s nie eens seker ek wíl gaan kyk nie. Maar wat ek van jou pa verstaan, is dat Jakob en Jan sê sy lyk soos … ’n biltongmens.”
Pippa se pa verskyn in die deur. Haar ma kyk om en staan op.
“Kom gou saam met my, asseblief,” sê haar pa.
“Ek kom,” sê haar ma sag. Sy draai na Pippa. “Pips, daar’s ontbyt op die stoof. Help jouself, asseblief. Ons praat later weer.”
Pippa knik en staan op. In die gang sien sy hoe haar ouers by hulle kamerdeur ingaan. Dan draai haar ma om en sê: “Pippa, bly in die huis, asseblief. Belowe jy sal nie buitentoe gaan nie?”
“Goed, Mamma,” knik Pippa en draai om kombuis toe.
Daar is nie ’n manier dat sy in die huis kan bly nie. As daar ’n mummie op die plaas is, wíl sy dit sien.
Sy kou aan ’n sny roosterbrood terwyl sy deur die kombuisvenster staar na die skuur. Haar ouers se stemme klink dof deur hulle kamerdeur. Hulle sal nie weet sy is weg nie. Sy moet so gou moontlik by die skuur kom, deur die venster kyk en dan weer maak dat sy terug is in die kombuis.
Dis maklik genoeg. Sy kan binne twee minute by die skuur wees, die mummie sien en haar ontbyt verder kom eet. Sy kyk afgetrokke na haar eie weerkaatsing in die kombuisvenster en dink aan hoe die plaaswerkers die mummie as ’n biltongmens beskryf het … Dis nou as sy nog ’n aptyt sal hê daarna.
Haar ouers se stemme vanuit hulle slaapkamer onderbreek haar gedagtes. Hulle is nog diep in gesprek.
Dis nou of nooit.
Pippa maak die agterdeur oop en stap flink tot by die wasgoeddraad. As haar ma haar nou sou sien, kan sy maak of sy ’n paar sokkies of iets op die draad soek. Sy kyk om. Dit lyk nie of iemand al agtergekom het sy is weg nie. Dis nóú haar kans. Gebukkend hardloop sy die entjie verby die motorhuis tot by die skuur.
Sy vee die stof van die skuur se ruit af met haar hemp se mou, maar al wat sy kan sien is trekkers en ander implemente. Sy sal ’n ander ruit moet probeer.
Pippa sluip op haar tone om die hoek en loop haar vas in ’n groot, wollerige swart gedaante. Dis Frankenstein, hulle hond. Frankenstein begin opgewonde blaf en spring op om aan Pippa se hande te lek.
“Sjuut, Frankie!” Sy vryf sy sagte ore om hom te paai. “Moenie raas nie. Jy sal my in die moeilikheid bring.”
Frankenstein steur hom nie aan Pippa nie. Hy blaf net harder en draai sy kop na die die skuur se naaste ruit. Hy spring teen die muur op en druk met sy pote op die vensterraam om in te kyk. Dan verander sy geblaf skielik in ’n getjank en hy storm stert tussen die bene huis toe.
Dis vreemd, dink Pippa. Haar hart klop in haar keel. Frankenstein moes beslis iets ongewoons gesien het om hom so te laat reageer.
Sy beweeg gebukkend tot onder die venster. Versigtig lig sy haar kop.
En dan sien sy dit!
Op ’n tafel, nie meer as vyf meter van haar af nie, lê die mummie. ’n Elektriese stroom loop teen haar rug af. Sy het nog nooit so iets gesien nie; iets wat gelyktydig so onskuldig, maar ook so boos lyk.
’n Biltongmens is ’n baie goeie beskrywing. Die ding het ’n enkele paar lang, dun haartjies op haar kop. Haar liggaam is kurkdroog en geelbruin. Lang donkerbruin naels groei uit die vingers en tone.
As ek net haar gesig kan sien, dink Pippa.
En dan sak sy inmekaar …
’n Paar sekondes later maak Pippa haar oë oop. Haar bene is pynlik onder haar ingevou en sy lê skuins met gras en klippies wat teen haar wang steek. Sy druk haarself stadig op.
Het sy gedroom? Het die mummie se kop regtig beweeg?
Sy skraap moed bymekaar en staan versigtig op om weer deur die ruit te kyk. Sy het nié gedroom nie! Die mummie se kop is nou na die venster toe gedraai. Pippa gryp haar mond met albei hande vas. Dis al wat sy kan doen om te keer dat sy gil.
En dan gaan staan haar hart vir ’n sekonde. Sy tree geskok agteruit. Die mummie staar na haar … met oop oë soos twee swart poele water.
3
Pippa se ma trek die tas se ritssluiter toe. “Ek is seker alles is nou in,” sê sy.
Pippa lig die tas van die bed af en sit dit langs die ander een voor haar kas neer. “Um … ek dink so,” lag sy. “Ons het genoeg gepak vir drie maande.”
Haar ma gaan sit op die bed en glimlag hartseer. “Wel,” sê sy en sluk swaar, “omdat die Paarl so ver is, sal jy natuurlik net langnaweke en vakansies kan huis toe kom.”
“Ek weet,” sê Pippa en gaan sit langs haar ma en gooi haar arm om haar skouers. Dis duidelik haar ma hanteer die koshuis-toe-ganery moeiliker as sy self.
“So dis maar beter dat jy eerder te veel as te min vat,” sê haar ma en leun met haar kop teen Pippa.
“Mamma?” vra Pippa. Sy voel hoe haar ma regop kom om na haar te kyk. “Waarom wou Pappa nog altyd hê ek moet na die Paarl Hoërskool vir Dogters toe gaan?”
Haar ma staan haastig op en trek weer aan die tas se ritssluiter asof sy wil kyk of dit behoorlik toe is. “Ag, Pappa wil maar net hê jy moet in een van die beste skole in die land wees. Deesdae is ’n goeie akademiese agtergrond belangriker as ooit.”
“O, oukei. Ek het gewonder of hy my nie maar net van die plaas wil wegkry nie.”
“Jy’s lekker laf, Pips,” lag haar ma. “Waarom sal jy dít dink?”
Pippa lig haar skouers. “Ek weet nie.”
“Wel,” sê haar ma terwyl sy die gordyne toetrek, “as jou ma én as ’n vrou wat lief is vir inkopies en mooi goed, dink ek dis glad nie ’n slegte idee vir ’n tienermeisie om eerder in die Boland as in die Karoo skool te gaan nie.” Haar ma knipoog en Pippa glimlag tevrede.
“Nag, my liefie.” Haar ma soen