* * *
Shaheena streel liggies met haar vingers oor haar wang. Dit klop steeds; die twee Disprins het nie gehelp nie. Sy het ’n nare vermoede die been is gekraak.
Met haar elmboë op die lessenaar stut sy haar kop in haar hande. Hoe lank kan sy nog só voortgaan? Gaan sy ooit haar trots sluk en iets aan haar shit situasie doen? Of gaan sy ook maar net een van die statistieke bly van vroue wat hul mishandeling doodswyg en dit nooit aanmeld nie?
Dinge tussen haar en Elton is besig om handuit te ruk. Sy word lankal finansieel uitgebuit, maar dis ’n las wat sy nog bereid was om te dra. Maar nou het die afgelope twee jaar se emosionele teistering oorgeslaan na fisieke mishandeling.
En uit haar polisieondervinding weet sy dié patroon gaan homself herhaal. “Die konflik gaan eskaleer tot meer ekstreme vorms van mishandeling, veral as alkohol gereeld in die prentjie kom,” hoor sy haar eie stem van toe sy onlangs ’n groep vroue oor die onderwerp toegespreek het.
Waar het alles skeefgeloop? wonder sy suf. Wat het geword van die galante heer wat haar met sy goeie maniere aan haar pa herinner het? Toe sy as luitenant by die Valke aansluit, was Elton ’n kaptein. Hy was platgeslaan ná sy verloofde vroeër die jaar in ’n motorongeluk gesterf het. Sy het dadelik aanklank gevind by die lang, aantreklike en breedgeskouerde kêrel.
Hulle het saam begin kuier, ses maande later getrou. Hy het haar op die hande gedra, haar toegegooi met geskenke. En hy was saam met haar trots toe sy genomineer is vir ’n jaar lange leierskapkursus in Johannesburg. Hulle het mekaar net naweke gesien, die afskeid Sondagaande op die lughawe elke keer vir haar ’n klein trauma.
Tóé die oproep, twee weke voordat sy permanent terug Kaap toe sou kom. “Ek het bedank,” het Elton haar ingelig. “Met my computer skills is daar baie meer geld in my eie besigheid te maak as om ’n poeliesman te bly.”
Sy was naïef. Niks gelees in die ongemaklike stiltes in die Valke se Kaapse kantoor as iemand sy naam noem nie. Eers baie later het sy gehoor van die klag van seksuele teistering. Toe het sy hom nog geglo dat hy vals beskuldig is. Nou twyfel sy.
Haar gedagtes word onderbreek toe die foon op haar lessenaar lui. “Die polisiehoof is op die lyn, brigadier,” sê die sekretaresse.
Shaheena se maag trek saam. Hy verwag vinnige resultate in die twee moordsake, want sy reputasie is op die spel om sy proefneming met die SGU reg te bewys.
En in hierdie stadium het sy nog géén nuus om hom opgewonde te maak nie.
5
Van: Jack MacArthur
Aan: Mo Dobson
Mo, ek verneem jy het groen besware oor ons Arktiese planne. Maar synde ’n man wat in Irak een van ons land se mees gedekoreerde militariste was, weet ek die Russe se hernude militêre opbou onder Poetin is ook vir jou ’n bekommernis. In die Council on Foreign Relations-verslag wat pas op my lessenaar geland het (ek heg ’n afskrif aan), word voorspel dat die Noordpool teen 2050 heeltemal ysvry gaan wees. Tans stel die dele wat reeds gesmelt het, ongekende uitdagings aan ons kuswag in Alaska. Volgens hulle maak die nuwe, oop water die VSA uiters kwesbaar vir vyandelike aanvalle.
Die Russe het onlangs grootskaalse militêre maneuvers in die Arktiese sirkel uitgevoer met 38 000 troepe, meer as 50 skepe en 110 vliegtuie – relatief naby aan die Alaska-kus. Volgens die CFR-verslag is militêre teenwoordigheid in die Noordpool ’n besliste strategiese prioriteit vir die Russe. Van hulle “bear bombers” is al verskeie kere in Alaska se lugruim gewaar. Indien my komitee se voorgestelde energiewetswysigings aanvaar word, sal dit die weg baan vir ons weermag om hierdie dreigende gevaar die hoof te bied. Dit sal ook groter vryheid van beweging aan ons kuspatrolliebote waarborg.
* * *
Elton Fortuin is amper so lank soos Viking en net so breedgeskouer. In sy vroeë veertigs, skat Willie die man. Hoewel hy aantreklik is, het hy die onnatuurlike rooi gelaat van ’n harde drinker.
Nie die ideale kandidaat vir die taak voorhande nie, dink Willie, maar daaraan kan hy nie veel doen nie. Hy is uitgelewer aan Viking se oordeel. En hy is bly hulle kan vanaand al die beplanning doen, want tyd is beperk.
Volgens Viking het Fortuin dadelik die aanbod aanvaar. “’n Kwartmiljoen praat hard genoeg,” het hy vroeër vanaand oor die foon gesê van die casino af waar hy Fortuin opgespoor het.
Nou sit die twee regoor Willie op die rusbank in sy hotelkamer.
“Het jy Elton volledig ingelig oor wat julle moet doen?” vra hy.
“Jip,” sê Viking.
Willie kyk na Fortuin. “En jy’s honderd persent in op die deal?”
Fortuin grynslag. “Bring it on.”
“Right, eerstens julle vergoeding. Ek sal môreoggend vyftigduisend in elkeen se bankrekening inbetaal. Die res kry julle wanneer die taak suksesvol afgehandel is. Is dit reg so?”
Albei knik.
“Julle het nou twee take wat binne die volgende twee dae afgehandel móét word. Daarna kan ons verder beplan.”
Willie trek die kaart van die Waterfront nader en vou dit op die koffietafel oop. “Ons man gaan in hierdie hotel bly,” beduie hy, “op die randgebied van die Waterfront. Dis nie een van die fancy vyfsterre nie, maar ’n driester. Ek het vanoggend soontoe gebel en vasgestel hy’s bespreek in kamer 103 – een van die agt rookkamers in die hotel, wat almal op die eerste verdieping is. Dit kan die job net vergemaklik. Een van julle moet môreaand by die hotel inboek en op ’n rookkamer aandring – ek sal die koste daarvan later vergoed. Kyk of daar toegang van ’n balkon na die kamers is, want dit sal die maklikste en veiligste manier wees om die teiken se kamer te bereik. Indien nie, sal ons ’n toegangskaart moet kloon om in die kamer te kom – wat net bykomende uitdagings gaan stel.”
“Ek ken die hotel so ’n bietjie,” sê Viking. “Die eerste verdieping se balkonne kyk uit oor die besoekers se parking bay. En daar’s heelwat struike, wat die job maklik behoort te maak.” Hy kyk na Fortuin. “Is dit reg as ek volunteer om die recce te doen? Ek het nie ’n vrou wat lastige vrae kan vra as ek ’n nag uitslaap nie.”
Fortuin knik.
“Right, dan gaan jy, Viking,” sê Willie. “Die tweede taak is die belangrikste. Julle moet iemand opspoor om die teiken uit te haal. Uiteraard moet dit iemand wees wat nie gewetensbesware het om dood te maak nie. Julle kan hom soveel geld belowe as wat julle wil, want ons gaan hom nie betaal nie. Sodra hy die job afgehandel het, moet julle van hom ontslae raak. Daarom moet hy verkieslik geen afhanklikes hê nie.”
“Shit, Willie, daai een gaan ’n taai toffie wees,” sê Viking. “So ’n ou moet darem al ’n skietding in sy lewe hanteer het, anders kan dit ’n helse disaster afgee. Ons kan nie net die eerste die beste bergie gryp nie.”
“Hoekom kan een van ons twee dit nie doen nie?” vra Fortuin. “Dis nie asof ons nog nooit iemand moer toe geskiet het nie.”
Willie skud sy kop beslis. “My eerste prioriteit lê by my kliënt. Ek en Viking het destyds saam gewerk en jy en Viking het daarna saam gewerk. Loop iets skeef en een van julle word gevang, kan dit na my en uiteindelik na my kliënt teruggetrace word. Ek soek iemand wat nie een van julle op die naam ken nie. Word hy red-handed betrap, weet hy dalk hoe julle lyk, maar dis ook al. Dit sal julle tyd gee om ’n ruk lank laag te lê.”
Waaroor Willie swyg, is dat hy hulle – en dit sluit Viking in – nie kan vertrou om sy eie betrokkenheid stil te hou as hulle dalk gevang word nie. Dis een van die goue reëls wat hy neergelê het sedert hy vir MacArthur werk: Skep genoeg afstand tussen jou en die moordenaar om nie dadelik in die spervuur te kom as dinge skeefloop nie.
“Ek dink nou skielik aan iets,” sê Fortuin. “Ek kan op my vrou se laptop inkom op Correctional