Die De Zalze-moorde. Julian Jansen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Julian Jansen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624080992
Скачать книгу

      OPERATEUR: “Dit sal nie lank wees nie. Ons sal ’n ambulans uitstuur, so gou as moontlik. Oukei dan.”

      PHILANDER: “Oukei.”

      OPERATEUR: “Dankie, meneer. Totsiens.”

      PHILANDER: “Baai-baai.”

      ***

      Kort voor halfagt kom ’n polisievoertuig die smal Goskestraat haastig ingery. ’n Buurman het kort tevore die noodnommer 10111 gebel toe hy sien dinge is nie pluis nie. Die voertuig hou voor die wit dubbelverdieping met die twee jong boompies stil. Sers. Adrian Kleynhans en konst. Marius Jonkers spring uit en haal in die loop hul dienspistole uit die skede. Die sersant bespied die omgewing, snuif die lug, asof hy gevaar kan ruik. By die wit deur van die motorhuis vroetel hy aan die handvatsel om te voel of dit gesluit is. Toe soek hy ’n skrefie in die gordyn van die venster regs van die voordeur. Die vertrek binne is donker.

      Die volgende oomblik staan Henri daar. Hy het ’n selfoon in sy een hand. Sers. Kleynhans is nog meer op sy hoede toe hy die bloed aan die jong man se lyf en slaapbroek sien. Hy wil by hom weet wie hy is, wat gebeur het, wat skort. Henri mompel iets en wys half ongeërg met sy vinger na bo, na die boonste verdieping.

      “Die probleem is daar bo,” sê hy sag en vroetel verder op sy selfoon.

      Die polisieman beveel Henri om buite op die stoep te wag. Daarna gaan hy die huis binne. Steeds op sy hoede.

      Dis grafstil binne. Regs in die geteelde portaal is die trap, met sierlike swart traliewerk. Daar is ’n donkerrooi nat kol op die beige teëls. Die beampte sien dit kom van die bokant van die trap af.

      Hy stap met die trap op. Versigtig. ’n Suur, metaalagtige reuk hang in die lug. Die geregsdienaar verwag die ergste. Die toneel aan die bokant van die trap ruk hom tot stilstand: Twee skamel geklede vroue lê in die gang naby die slaapkamerdeur, vlak langs ’n boekrak. Die ouer vrou het ’n beige broekie en donkerblou frokkie aan. Sy het gapende kopwonde. Haar gesig is wasbleek.

      Die meisie se bos blonde hare is bebloed. Dit lyk of sy slaap.

      Sers. Kleynhans hou sy vuurwapen gereed; dalk skuil iemand nog in die huis.

      Hy het al makabere misdaadtonele en video’s op sosiale media gedeel en dan gewag vir die reaksie van sy vriende. Nou staan hy voor so ’n gru-toneel. Al sy sintuie neem dit in.

      Versigtig gaan hy die naaste slaapkamer binne, sy ore gespits vir die geringste gevaar. Oor die koppenent van ’n enkelbed lê ’n gryskopman, knielend met sy bene op die grond. Sy lyf en veelkleurig gestreepte bokserbroek is bebloed. Op die vloer lê ’n verminkte jong donkerkopman op sy maag, in ’n blou gestreepte bokserbroek.

      Net toe hy terug verby die vroue loop, beweeg die meisie se een been effens, ’n makabere gesig, amper soos ’n zombie wat skielik lewe kry. Sy leef! Die sersant bel dadelik sy skofleier.

      ***

      By die Stellenbosse speurtak in Adam Taslaan lei kol. Deon Beneke die daaglikse parade. Die speurafdeling is in ’n ou rooidak-dubbelverdiepinggebou, ’n klipgooi van Papegaaiberg. Jare lank was daar ’n plantasie dennebome teen die hange. Nou is dit kaal, al die bome afgekap.

      Sy dagboek is oop by Dinsdag 27 Januarie 2015. Hy en die speurders bespreek vandag se werkprogram en hoe die dossiere vorder. Later moet hulle saam besluit watter sake prioriteit behoort te geniet.

      Die kolonel se polisieselfoon onderbreek die vergadering. Hy tel dit vinnig op. Dit is konst. Zuko Matho, die nagskof se diensleier. Die konstabel sou teen agtuur alle dossiere bymekaargemaak, ’n verslag van die nag se gebeure ingedien en dan sy skof afgesluit het. Daarna sou hy die kort ent na sy huis in Kayamandi gery, ’n ligte ontbyt geëet en gaan slaap het.

      Maar toe word hy ontbied na die De Zalze-gholflandgoed, net buite Stellenbosch. Met sy aankoms by die hoofingang is dinge reeds in rep en roer; ’n veiligheidspatrollie het al daar kom rapporteer daar is groot moeilikheid in Goskestraat.

      “Bly stil!” roep kol. Beneke half geïrriteerd na die kletsende speurders voordat hy verder op die selfoon kan praat. Sy gesig is stroef. Hy buig effens vooroor in sy stoel terwyl hy aandagtig na konst. Matho se verslag luister. Sy regterwenkbrou lig effens terwyl hy besonderhede in sy notaboek voor hom begin skryf. Die speurders kan die verbasing op sy gesig sien. Hulle is baie nuuskierig om te weet wat nou vertel word.

      Hy lui af. “Daar was drie moorde,” kondig hy aan en gee hulle kortliks die besonderhede. Hulle kyk geskok na hul kolonel. Sy pampoenkleurige hemp span effens styf om sy maag. Van sy kollegas vrees alewig die knope sal nog eendag losskiet.

      “Gebeur sulke goed ook op Stellenbosch?” wonder kol. Beneke later hardop met verwysing na die polsende studentedorp. Sedert hy hier as speurhoof werk, het hy nog nie veel geweldsmisdade hanteer nie.

      ’n Kaptein langs hom merk droogweg op: “Ja, in die onlangse tyd is dit amper net die klapmusbende wat die gebied teister.” Dié bende teiken die laaste paar weke die Kuilsrivier-Stellenbosch-omgewing met inbrake.

      “Ja, maar selfs hulle moor nie; bind net hul slagoffers vas,” merk ’n kollega op.

      Van die ander speurders knik instemmend.

      Die speurhoof lig sy een wenkbrou ingedagte. Hy wys konst. Matho aan om die bylmoorde-ondersoek te lei. Dié is dus in beheer van die moordtoneel. Dit beteken niemand sal voortaan sonder sy toestemming en sonder dat hy hulle vergesel die toneel mag betree nie.

      Die kolonel verdaag die vergadering en hou sommige van die lede van die eenheid vir ernstige geweldsmisdade agter. Onder hulle is serss. Stephen Adams, Marlon Appollis en Denver Alexander.

      Die dagskoflede moet ook sommer saam, voeg kol. Beneke by. Hyself sal ook gaan nadat hy die forensiese laboratorium se span in Plattekloof in Parow buite Kaapstad en die plaaslike rekordsentrum van die Paarl en Worcester ontbied het.

      Hy wys die take toe en stap dan uit die hoofgebou tot by die ry geparkeerde motors. Gedagtes maal in sy gemoed: ’n moord op die landgoed wat sulke goeie sekuriteit het, is opspraakwekkend. Maar drie moorde – en dit met ’n byl – is ongekend.

      Dis gewoonlik so vyf minute se ry na De Zalze. Met die besige oggendverkeer en die studente wat weer begin terugkeer universiteit toe, het hy ekstra geduld nodig.

      Namate die polisielede en die onderskeie eenhede by Goskestraat 12 aankom, begelei speurkonst. Matho hulle individueel met die vasgestelde roete na die grusame misdaadtoneel op die boonste verdieping.

      ***

      In die Naspers-sentrum in Heerengracht, Kaapstad, is die verslaggewers in Rapport en Die Burger se gesamentlike nuuskantoor op die sesde vloer soos gewoonlik vroegoggend al besig. Die Dinsdag-nuuslyste vir die nuusvergadering om nege-uur moet gefinaliseer word. Januarie is “komkommertyd”, wat beteken die lys van stories is aan die dun kant. Ek dra koffie na my lessenaar, reg om die dag te begin. Iemand klits kitspap in ’n bakkie. Hier en daar krabbel vingers reeds op sleutelborde.

      Buite die gebou van 26 verdiepings val die oggendson teen Tafelberg. Die kabelspoor is ’n slap potloodstreep teen die donker kranse en ylblou lug. Druk verkeer kruie die stad binne. Die rimpels op die seeoppervlak in die hawe, waar skepe op anker lê, weerkaats die son lustig. Die werkdag in die Moederstad begin.

      Die volgende oomblik biep my selfoon. Ek kyk na die boodskap: “Gesin op De Zalze met byl doodgekap. Kind oorleef.” Soos ’n koerant-opskrif. “O, fok!” ontsnap die woorde uit my mond. Ek sit my koffiebeker neer en bel die een wat die boodskap gestuur het. Die besonderhede is nog skraps, hoor ek. Van die ander verslaggewers in die kantoor kry een ná die ander ook die skoknuus. Per SMS, e-pos, oproep of op WhatsApp.

      Ongeloof en skok vermeng met vrae. ’n Gesin? ’n Byl? Drie dood? Party kollegas begin spekuleer dis dalk die berugte klapmusbende wat die omgewing met inbrake teister. “Vuilgoed!” roep een verslaggewer hardop. “Dit moet meer as een mens wees – wat ’n hele gesin amper kon uitwis, hulle in hul slaap kon oorrompel. Daar moes ’n verskriklike bakleiery, teenstand, gewees het …’n Byl?”

      “Kry