Stories van Rivierplaas. Alba Bouwer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Alba Bouwer
Издательство: Ingram
Серия: Rivierplaas-boeke
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078111
Скачать книгу

      Ai, nou moet Alie darem mooi soebat dat ou-Melitie nie vir tant Lenie van die ding moet gaan sê nie, en dat sy nie vir klein-Melitie en Sanna ’n pak moet gee nie.

      “Jôna whê!” sê ou-Melitie kort-kort en sy skud haar kop en skud haar twee kinders uit Alie en Lulu se rokkies en broekies uit.

      ’n Rukkie later gaan die wit koppie en die swart koppie weer langs mekaar tussen die doringbome deur op huis toe. By die kampdraad gaan Lulu staan en sy sit haar hand op haar bors, net soos haar groot broers altyd maak, en sy sê net soos hulle: “Kros-jor-hart-en-doun-sy.”

      Alie moet nou haar hand ook so op haar bors sit en sê: “Kros-jor-hart-en-doun-sy.”

      Dit beteken jy mag nooit gaan sê nie. Nou kan hulle gerus huis toe gaan, want hulle weet ou-Melitie sal nooit gaan verklik nie.

      Die volgende oggend toe Alie by die agterdeur uitstap skool toe, sit klein-Melitie om die huis se hoek en wag. “Jy moet gee die twee rooi kraal,” sê sy en haar wit tande blink soos sy glimlag. En daar gaan Alie se laaste twee rooi krale.

      Eiers uithaal

      OP RIVIERPLAAS het man en muis en elke klein mannetjie en klein muisie sy werk, sê tant Lenie altyd. Alie se spesiale werk is eiers uithaal. In die laatmiddag as die plaashuis se dak ’n lang streep oor die koppie begin maak, moet Alie die biesieroei-mandjie met die stywe handvatsel uit die rondawel gaan haal en haar werkie gaan doen. Daar is sommer baie hoenderneste op baie plekke op Rivierplaas, en Alie het sommer baie aande geneem om uit te dink waarlangs sy moet loop om die lekkerste paadjie te loop van die een nes na die ander, en om te weet watter nes moet sy heel eerste uithaal en watter nes heel laaste. Op die ou end het sy so geloop: Heel eerste gaan sy die eiers uithaal in die netjiese op-’n-ry-neste in die groot kamp waar die spoggerige wit Leghorn-hoenders gehou word. Aan daardie sifdraadkamp se hek is ’n sterk slotjie, en dis al wat lekker is van daardie neste se uithaal. Alie sluit dan altyd die hekkie so knarts-knarts oop met die plat sleuteltjie, buig laag vooroor en sê vir die biesieroei-mandjie wat sy agter haar staangemaak het: “Kom, skone prinses, stap in in my goue paleis en rus ’n wyle hier.” Die stukkie van die “rus ’n wyle” het oom Jan altyd vir die dominee gesê as hy by die plaas aankom voordat hy in die plaasskool gaan kerk hou, en dit het vir Alie tog te mooi geklink.

      As Alie en die biesieroei-prinses dan eers in die hoenderhok by die neste is, verjaag sy die ou wit hoenders wild en wakker met ’n swaai van die einste prinses en haal die eiers vinnig uit. Niks lekker daardie kampie nie, want daardie hoenders laat Alie altyd aan die kinders van die dorpskool dink: so styf en deftig en almal eenders. As die hekkie dan weer knarts-knarts toegesluit is, en die plat sleuteltjie veilig onder die plat klip langs die hekpaal waar Alie dit later kom haal voordat sy die eiers rondawel toe bring, dan stap sy verder.

      Tweede gaan Alie die eiers uithaal in die klein afdakkampie waar al die deurmekaar hoenders saans kom slaap. Hier slaap nou sommer die ou lekker rooibont hoendertjies wat tant Lenie so af en toe van die Basoeto’s present kry, die koekoekhoendertjies wat Alie gekry het van eiers wat die groot kalkoen vir haar uitgebroei het, Hennie se drie kapokhoendertjies en die ou vet swart henne wat lyk soos die tantes in die dorpsbiduur. Dis die kamp van Jan Rap en sy maat, sê oom Jan altyd. Die Jan-Rap-hoenders wei sommer die hele plaas vol en kom eers huis toe as ou-Melitie saans hulle mielies kom gee. As Alie die eiers kom uithaal, is die kampie leeg, net op een van die neste sit gewoonlik ’n broeis swart hen. Dan sit sy die mandjie versigtig neer, buig laag voor die ou blinkogie-hen en sê: “Edele koningin, ek bid u, staan op en stap na die vrye ruimtes onder die pendorings by die rivier. Veroorloof my …” Die stukkie van die “veroorloof my” het Alie eendag die dominee hoor sê toe hy by die deur gewys het dat tant Lenie eerste moet uitstap, en dit het vir haar tog te mooi geklink. Na al hierdie dinge luister die ou swart hen net met ’n paar oogknippies en sy brom nie eens ’n broeis brom nie. Dan stoot Alie haar moue vinnig op, spoeg op elke hand soos Hoppies maak as hy rieme brei, sê hardop: “Rerrie, sterrie, ghou!”, steek haar hand vinnig in en lig die ou swarte met een haal van die nes af soos ou-Melitie haar geleer het, voordat die ou hen een broeis pik kan pik. As die ou hen dan daar eenkant haar broeis kekkel staan en kekkel, haal Alie die eiers uit die nes wat so lekker veerwarm voel en dan maak sy ’n tweede buiging voor die ou swarte: “Edele koningin, u bed van roosblare en roosmaryn is gereed. U kan nou maar kom rus op ’n zagte bedstee.” Die stukkie van die “rus op ’n zagte bedstee” het Alie oom Krisjan eendag by die plaasbiduur hoor bid en sy het dit spesiaal onthou.

Alba-04-009.tif

      Ná die neste in die kampie van die Jan-Rap-hoenders kom al die lekker weglê-plekke. Daar is die nes tussen die wortels van die rankroos by die tuinhoek, waar een van die kapokhoendertjies altyd lê; daar is die uitskropnes van die ou swart hen in die bloublommetjies-heining voor die voordeur; daar is die nes onder die groot graspol langs die sinkdam, waar een van die koekoeke lê, en daar is die baie weglê-neste van die rooibont hoendertjies tussen die eerste klompie pendorings by die rivier. Agter die rondaweldeur het tant Lenie ’n ou houtbotterspaan opgehang met ’n potlood langsaan. Daarop is vyf hokkies en boaan elke hokkie is ’n letter: A, dis vir Alie. L, dis vir Lulu. K, dis vir klein-Melitie. S, dis vir Sanna en H, dis vir Hennie. Nou ja, die een van daardie vyf wat êrens op die plaas ’n weglê-nes kry, kry ’n strepie in sy hokkie, en as oom Jan en tant Lenie met die Nagmaal dorp toe gaan, tel tant Lenie elkeen se strepies en dan bring sy van die dorp af vir elkeen net soveel lakkiepekkers soos hy strepies het. In so ’n lakkiepekker is klein ronde rooi lekkertjies, maar dis nie die ding nie. Saam met die lekkertjies is daar ook ’n blink dingetjie so groot soos ’n trippens – ’n ringetjie of ’n perdeskoentjie of ’n steweltjie of ’n poppie, vreeslik mooi.

      Klein-Melitie het al een Nagmaal vyf strepies gehad en Sanna vier. Alie en Lulu het nog nooit meer as twee op ’n slag gehad nie. Hennie het altyd net een, en dan is dit altyd ’n weglê-nes wat ou-Melitie of Hoppies kry en vir hom gaan wys, want hy is maar vier jaar en nog nie groot genoeg om nes te soek nie. Tant Lenie sê niemand sal ooit meer weglê-neste as Sanna of klein-Melitie kry nie, want hulle ken die rooibont hoendertjies so goed soos hulle eie mêma en hulle weet net waar om te soek.

      As Alie die eiers in die weglê-neste gaan uithaal, soek sy altyd tussen die graspolle of sy nie ’n kiewietnes kan kry nie. Die een wat darem op Rivierplaas ’n kiewietnes kan kry, daardie een sal van enigeen enige ding kan vra en hy sal dit moet kry. Op die hele Rivierplaas het nog net Hoppies ooit ’n kiewietnes gekry, tussen ’n paar lae doringbossies in die oop veld.

      Juffrou Barnard het eendag in die skool vertel van die man wat jare gelede langs ’n rivier naby Kimberley ’n diamant opgetel het. Die man het baie geld gekry, en almal in die hele wêreld het van hom geweet. Toe het Lulu aan Alie gestamp en gefluister: “Wat is dít nou? Ek wed hy het nog nie ’n kiewietnes gekry nie.” Juffrou Barnard het Lulu dadelik gevra wat sy weer gepraat het, en toe was sy baie kwaad dat hulle van kiewietneste kon praat as sy vir hulle geskiedenisstories vertel. En van daardie dag af sit Alie langs Anna Poen, en Lulu sit heel voor langs Petrus Prins.

      Ná die weglê-neste kom die tweede laaste nes waar Alie eiers moet uithaal, en dit is die koekoekhen se nes in die een hoek van die stalkrip. Daar kom sy aan net soos Jantjies die drie perde wil inbring. Daar is Doppie en Sopie, die twee karperde, wat tant Lenie so gedoop het omdat dit haar laat dink het aan die wynplaas in die Boland waar sy grootgeword het, en daar is Prens, oom Jan se vosbruin ryperd. Jantjies wag voor die deur totdat Alie die eiers uitgehaal het. Sy sit die biesieroei-mandjie met eiers om die hoek van die stalmuur neer, dan tel Jantjies haar op Prens en lei hom ’n slag in die rondte, en dan moet sy mooi plat lê op Prens se rug sodat hy by die staldeur kan ingaan. Elke aand as Jantjies haar aftel, sê hy dieselfde ding: “Nonwe Alie, sos jy sê vor meneer Jaan, ek sal hom die hoenertjie se nes by hierie krep weggooi.”

      Dan sit Alie haar hand op haar bors en sê: “Kros-jor-hart-en-doun-sy.” Kyk, as oom Jan van die instappery by die staldeur op Prens se rug weet, sal die kerk uit wees, soos tant Lenie altyd sê. Maar daardie tyd van die dag as Alie eiers uithaal, is oom Jan altyd met Kappie, sy ander ryperd, oor na Ouma toe op Brakfontein, en tant Lenie is besig om Hennie