Periandros van Korinthe. D.J. Opperman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: D.J. Opperman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Зарубежная драматургия
Год издания: 0
isbn: 9780624078128
Скачать книгу
ouma Labda hom leer slaap en een keer weggesteek.

      Later as man kon hy hom op die groot wynpense wreek

      en met die volk se hulp het hy die adel uitgemoor

      en self geheers. Wag, ek wil nie hê die werkers moet ons hoor.

      Vier werkers kom binne met kis.

      Gaan sê jou moeder en jou suster moet dadelik kom kyk

      hoe Oupa se lank verwaarloosde ou koringkis nou lyk!

      Lukophroon af.

      Pas op, moenie die sederkis laat stamp of dit laat val!

      Lig dit op die tafel. Ek wil dit eers ’n rukkie hier uitstal.

      Hoe vlammig loop die geel grein van die sederhout,

      en ewig sal tonele uit Korinthe leef in die ivoor en goud.

      Mooi! Ek moet die kunstenaars tog op ’n fees bedank.

      En julle wag nou seker op die ding wat stink se klank?

      Dè, vat, verdeel die klompie goue munt en koop

      aandenkings dat jul later sê: “Ons bene het die kis laat loop.”

      Werkers af. Melissa, Hermionee en Lukophroon binne.

      MELISSA

      Tog pragtig! Eurúdikee wat teruggelok word van die anderkant.

      PERIANDROS

      Hier vlieg die wraakvoëls bo die ghwano van die wraakeiland.

      LUKOPHROON

      Vader se beeld in hout gekerf! Hier Oupa! Dis gebede

      en verhale van ons mense en Korinthe se verlede.

      HERMIONEE

      Dis Gode, die magte oor die aarde, en hierso links

      borrel die fontein onder die hoef van die gevlerkte hings.

      LUKOPHROON

      ’n Mens sal baie lank die stoete beelde moet bekyk

      voordat die hart die volle sin en skoonheid kan begryp.

      MELISSA

      Verborge hou die deksel geheime van die moederskoot.

      PERIANDROS

      Ja, maar die Bakchiadai se kinders is nou groot.

      Periandros kyk weer na buite.

      Kyk hoe sit die rykes van Korinthe belangrik maar verveel

      in die kalktuin die heeldag deur en kamma dambord speel! –

      Die kis kan hier ’n rukkie staan dat julle dit kan sien,

      maar dan moet dit na ons slaapkamer – dis eintlik te intiem.

      Kuupselos binne met kou en kwartel.

      KUUPSELOS

      Ha! Pik, pik, kwarteltjie, dat jy môre op die fees

      die kwaaiste kwartel van die kwarteltjies kan wees!

      PERIANDROS

      Was jy vanoggend weer die groot grapmaker van die straat?

      LUKOPHROON

      Ag, Vader, hou tog op! Hy doen geen sterfling kwaad.

      KUUPSELOS

      Dag, ou koringkis! Met al dié tierlantyntjies aan

      is jy die ware jakob vir ’n kwartelkou om op te staan.

      PERIANDROS

      Voordat ek daardie kou nog van die kis afklap,

      vat die afskuwelike ding gou weg, en trap!

      Kuupselos vat die kou van die kis af weg.

      KUUPSELOS

      Pik, pik deur die tralietjies dat jy my vinger byt

      sodat hy bloei en bloei, dan wen jy môre die wedstryd.

      HERMIONEE

      Stil tog, Kuupselos! Hoe ver kan jy die diskus gooi?

      KUUPSELOS

      Hoe ver kan ek die dinges …? Haai, ek weet nie mooi!

      Jy bedoel, Ousus, hoe ver die dinges my kan smyt!

      PERIANDROS

      Man, hou ten ene male op nou met die lawwigheid!

      KUUPSELOS

      Ek staan en mik, en staan en mik, en as ek hol,

      die dinges los, draai hy my óm en óm: ’n groot vet tol!

      PERIANDROS

      Man, trap!

      HERMIONEE

      Kom, Kuupselos!

      Hermionee vergesel hom uit.

      KUUPSELOS

      Pik, pik, kwarteltjie in jou ysterkou;

      al die kinders van Korinthe hou soveel van jou.

      MELISSA

      Waarom die ongeduld en altyd daardie kind beledig?

      PERIANDROS

      En waarom alles wat hy sê en doen altyd verdedig?

      Melissa af. ’n Rukkie stil.

      Sal ons, my seun, nou saam na Ganguloon toe gaan?

      LUKOPHROON

      Nie nou nie! Ek kan Vader ook nie mooi verstaan.

      Hy bly my broer, hy bly u seun, u oudste kind.

      PERIANDROS

      Ja! ek word soms soos die wildevark van woede blind.

      Maar dink net: hy moes ná my oor hierdie ryk regeer

      en nou deur hom tas God en mens my in my eer.

      Met ’n oumagrootjie kreupel en jou kind ’n sot,

      heers daar oor so ’n skewe wêreld ooit ’n God?

      LUKOPHROON

      Gaan Vader nie te ver, word ydel met die hoë naam?

      PERIANDROS

      Volgens die ervaring en die insig in jou doem

      wissel die manier en name wat jy God sal noem. –

      My seun, fyn op ’n spinnerak hang alle dinge saam,

      en deur die eeue sal daar altyd na die sterre klink

      as eerste vraag waaraan die mens weer telkens dink:

      as daar oor hierdie aarde ’n oppermag gebied,

      waarom laat hy die skending toe en die verdriet?

      Dan kan die mens mos ook na eie wil en mag

      sy webbe span en heeltemal sy medemens verag?

      LUKOPHROON

      Die siel word tog deur skade en verdriet gesuiwer,

      en dit laat jou eindelik voor eie hartstog huiwer.

      PERIANDROS

      Ag! dis ’n skuimerige golf ná golf, en sonder rus

      slaat die gedagtes eiesinnig teen ’n klipperige kus.

      LUKOPHROON

      Vader, voor my vertrek wil ek iets vra … of iets vertel …

      wat by die skoonheid van Korinthe telkens my ontstel;

      soos die glasuur op ’n gebakte kruik met fyn

      geluid verspring, voel ek dit altyd in my skryn …

      PERIANDROS

      Ja?

      LUKOPHROON