Van al die honde dra die klein swart-en-wit foksterriër teleurstelling en verlange die brandendste in sy hart. Omdat hy die kleinste van hul almal is, is hy in staat om sy neus en oë in die spleet onder sy deur te woel. Hierdie pynlike posisie vergun hom ’n mate van geleentheid tot sien en ruik.
Van daar sien hy die soom van een van Madame se klede soms in ’n vreemde en lieflike ruik verbybeweeg, en eenmaal het hy ook vier pote soos syne rond en bont gesien warrel. Maar die aanblik daarvan het hom ’n hele dag lank siek en verwilderd laat voel, want selfs al weet die foksterriër uit hul ruik en geblaf van die ander honde, kan hy nie begryp waarom Madame vir ’n ander hond as hyself sal kom nie.
Die foksterriër is geen filosoof; elke emosie wat van Madame na hom kom, is onmiddellik en geheim. En elke keer as Madame sy deur verbygaan, laat hy sy gefolterde kop op sy pote sak, en begryp dit nie.
Maar as Madame eendag, onverklaarbaar en tog so vanselfsprekend soos sy wag op haar, eindelik voor sy deur kom staan en dit open en glimlag teen hom en daar staan in ’n kleed met wit en swart stroke – voel die foksterriër se klein hartjie of dit kan breek van vreugde. Dan tuimel hy uit, hygend en bewend, vurig met trots op homself, op die leerriem wat sy meesteres om sy nek bevestig, en op die mooi kleed wat so baie op hom lyk. Die hele verlede is vergeet; hy is geheel en al vertroue en vreugde, geheel en al foksterriër, ontploffende oomblik.
6/’50
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.