Sy sluk en klim maar gedweë in die swembad. Ten minste is haar lyf in die bikini dan nie so sigbaar nie.
Binne minute is hy terug, ’n drankie in elke hand. Sy sien die drankies skaars raak, want sy lyf toor met haar gedagtes. Sy moet haarself keer om nie aan sy borskas te vat nie toe hy, doodluiters en op sy gemak, in die water in gly. Liewe genade, wat gaan met haar aan? Dit is dieselfde ongeskikte vent wat vanoggend oor haar misverstand gelag het. Dieselfde man wat met haar geflirt het en daarna saam met sy blonde meisie gaan eet het asof niks gebeur het nie. Waarskynlik ’n ontroue rokjagter.
Maar sy kan nie ontken dat hy, met nat hare wat krulletjies op sy voorkop maak, beslis een van die aantreklikste mans is wat sy al gesien het nie.
“Ek is Dian Bergh,” stel hy hom in ’n doodernstige stem voor, asof hulle mekaar die heel eerste keer sien.
Maar liggies dans in die groen oë.
“Lelanie Ferris.” Sy voel skielik skaam. Nie net omdat hy haar elke keer halfkaal betrap nie, maar omdat Dian haar sintuie benewel. Gelukkig is hulle in die swembad, anders het sy sweerlik kennis gemaak met die aarde, so lam voel haar bene onder haar.
“Ek weet. Ek het by tannie Rosa vasgestel wat jou naam is.”
“So, nou stalk jy my boonop? Lyk my ek sal die polisie teen jou moet waarsku.” Sy het ergerlik probeer wees, maar skielik klink dit vir haar asof sy by die man aanlê.
Hoekom is haar stem so heserig?
“Nee wat, ek is skadeloos, maar dit kan gevaarlik raak as ek jou elke keer in so min klere te siene kry.” Sy oë verdonker na ’n dieper groen.
“Ek … wat maak jy in die Kaap? Besigheid of plesier?” vra Lelanie gou. Agge nee, nou klink die woord “plesier” ook dubbelsinnig.
“Tot vanoggend toe was dit werk, maar ek dink van nou af sal dit net plesierig raak.” Sy stout glimlag steek weer die liggies in sy oë aan.
Lelanie besef hy flirt openlik met haar, maar sy kan nie anders as om aan die vrou in die restaurant te dink nie. Sou “plesier” na sy rondspelery tussen ’n klomp vroue verwys? Dalk is dit sy gewoonte tydens sakebesoeke. En sy arme vroutjie sit seker alleen by die huis.
Sy kyk na sy hand, maar hy dra nie ’n ring nie. Beteken niks. Hy kan dit mos afhaal.
“Ek is hier om ’n kontrak af te handel,” gaan Dian voort, “maar dit sloer so ’n bietjie, nou moet ek aanbly totdat dit gefinaliseer is.”
Toe hy naderleun om nog iets te sê, sit sy haar drankie op die swembadrand neer en swem onder water tot by die ander kant en weer terug. Toe sy opkom, vee sy haar hare agteroor.
“En dit?” vra hy geamuseerd.
“Dit is mos waarvoor ’n swembad is – om in te swem.” Eintlik wou ek onder jou hipnose uitkom, dink sy.
Hy lig sy hand versigtig om ’n blaartjie uit te haal wat in haar hare verstrengel geraak het. Sy hand raak ’n breukdeel van ’n sekonde aan Lelanie se wang sodat sy vingers haar gesig skroei.
“Jy, ek … dit is warm, ek gaan uitklim voordat ek sonsteek kry,” sê sy onsamehangend en voeg die daad by die woord toe sy met die trappies van die swembad tot op die rand klim. “Dankie vir die cocktail,” voeg sy gou by voor sy selfbewus wegstap. Sy kan voel hoe Dian se oë oor haar rug streel.
Met die handdoek om haar lyf gevou, verkas sy na haar kamer toe.
Dit is asof hierdie vrou my hipnotiseer, dink Dian.
Maar sy kon nie vinnig genoeg van hom af wegkom nie. Haar lang bruin hare het nat aan haar blink lyf geklou en haar oë het helderblou geskitter.
Hy kon sy oë nie van haar af hou nie. In haar blou eina-bikini het sy hom bedwelm. Hy weet nie hoe om haar te benader sonder dat sy weer weghardloop nie.
In sy dertig jaar het hy ál sy ideale bereik. ’n Finansieel goed gevestigde onderneming, ’n groot huis langs die Vaalrivier, ’n stewige bankbalans en ’n huisie by die see. Alles buiten ’n vrou wat hom onvoorwaardelik sal liefhê. Daar was al ’n paar vroue wat hy gedink het die posisie sal kan vul, maar tot sy teleurstelling het sy verhoudings altyd op ’n fiasko uitgeloop. Geen meisie het nog die onmiddellike uitwerking op hom gehad wat die misterieuse brunet vanoggend gehad het nie.
Om te dink hy was besig om te droom van sy droomvrou, ’n vrou wat hom perfek sou aanvul. In die droom kon hy haar gesig nie gesien het nie, maar het hy sy arm om haar geslaan en haar styf vasgehou.
En toe hy sy oë oopmaak, staan Lelanie met haar pragtige lang bene voor hom.
Die meeste van vorige meisies in sy lewe het hy tydens ’n dinee of fondsinsamelingsprojek ontmoet. ’n Paar van hulle is wel deur sy vriende aan hom voorgestel, maar die belangstelling het nooit langer as ’n maand gehou nie. Nou sit hy met ietwat van ’n dilemma, want hy besef die blouoogvrou wat in sy bed beland het, gaan nog lank by hom spook.
Toe sy vanoggend so aangestap kom terwyl hy besig was met sy sakeontbyt, het hy skoon die draad van die gesprek verloor. Heather Moss van Sentra-Kommunikasie moes twee keer aan hom tik voordat hy gereageer het. Lelanie laat hom die kluts heeltemal kwytraak.
Dian klim traag uit die swembad, droog hom af en gaan na sy kamer. Hy haal sy skootrekenaar uit om te probeer werk, maar verniet. Die oulike brunet wil sy gedagtes nie in vrede laat nie.
“Kom nou, man, Dian,” kla hy teenoor homself. Hy stoot die lêer saam met die gedagtes aan Lelanie oor die tafel en begin in alle erns werk.
Toe hy weer van die omgewing bewus raak, is dit na ses en grom sy maag van die honger. Hy spring gou onder ’n verfrissende stort in en haas hom daarna na die restaurant om die sjef se beroemde steak te gaan verorber.
“Naand, Dian, hoe het dit vanoggend met jou vergadering gegaan? Kon jy die kontrak vir Bergh en Rossouw Beperk sluit?” groet tannie Rosa hom in die ontvangsportaal.
“Die kontrak is nie vir Bergh en Rossouw nie, Tannie. Dit is vir Vaal Ingenieurshuis BK. Bergh en Rossouw het nie vendorskap by Sentra-Kommunikasie nie, daarom gebruik ons my eenmansaak om die kontrak te sluit. Hulle wil ’n verandering aanbring, dus sal ek nog ’n paar dae hier moet bly.”
“Dit is reg so, jong. Ek hoop net die meisietjie waaroor jy vanoggend uitgevra het, gee nie om nie. Foeitog, sy was baie skaam nadat sy per ongeluk in jou bed geslaap het. Ek het haar verseker dat jy vandag huis toe gaan. Maar nou … Sy sit alleen hier in die restaurant. Dalk moet ek vir haar gaan verduidelik en om verskoning vra.”
“Toemaar, tannie, ek sal dit sommer self doen,” stel hy gretig voor.
“Ag, dit is dierbaar van jou, Dian. Ek het vanoggend ’n bietjie met haar gesels, en sy is nou voorwaar vir jou ’n oulike nooi.”
“Dankie, lekker aand,” groet Dian voordat hy die restaurant binnestap.
2
Lelanie teug aan haar glasie sap terwyl sy aan die dag se gebeure dink. Dit is rustig hier in die Kaap, so anders as haar gejaagde lewe tussen die stowwerige Parys en besige Johannesburg. Son, see, uiteet en wyn is dáár nie vir haar beskore nie. Mans ook nie.
Geoffrey se kleinding is seker al ’n jaar oud. Sy weet nou dat die verhouding tussen hulle nooit sou uitgewerk het nie. Vir hom het alles altyd om ’n gejaag na roem en geld gegaan. Sy weet nie hoe hy dit sou oorleef het om op ’n klein dorpie soos Parys te woon nie. Soos sy verstaan, bly hy nou in Sandton in ’n groot dubbelverdieping-glaspaleis.
Sy sug hardop.
“En waaroor lyk ’n mooi meisie so bedruk?”
Sy het Dian nie eens sien naderkom nie. Hy lyk verskriklik aantreklik in sy roomkleurige driekwartbroek, gholfhemp en strandplakkies.
“Niks wat jy beter kan soen nie,” antwoord sy ingedagte, “… e … iets aan kan doen nie, bedoel