“U kan professor Keuler self bel en by hom hoor, maar ons toetse bewys ernstige skade. Dit moet nog vasgestel word of daar iets aan gedoen kan word en of dit blywend gaan wees, maar op die oomblik is juffrou Oosthuizen verlam in albei bene en kan sy niks sien nie.”
De Waal lek eers oor sy droë lippe en toe hy praat, herken hy sy eie stem nie. “Het sy al bygekom?”
“Ja, maar sy is voortdurend onder sterk verdowing. Haar gestel het ’n geweldige skok weg.”
“Sy … sy weet dus nog nie …”
“Nee. Sy weet nog skaars dat sy lewe. Op die oomblik is dit natuurlik beter so.”
“Ja. Ja, natuurlik.”
Toe hy die gehoorstuk neersit nadat hy sy telefoonnommer gegee het, vee hy oor sy oë. Ja, dis beter dat sy op die oomblik nie eens weet dat sy lewe nie, maar daar sal ’n tyd kom dat sy wel sal weet, sal moet aanvaar …
Hy dwaal rusteloos deur sy woonstel en dan is dit asof hy tot ’n besluit kom. Hy stap weer na die telefoon toe.
“Rhona …”
“De Waal! Ek het jou vanaand verwag …”
“Ek weet, maar … ek bel net om te sê dat ek môre vroeg stad toe gaan.”
“Stad toe? Dis skielik.”
“Ja … e … dringende besigheid.”
“O … As ek nie so besig was nie, sou ek saamgery het. Maar sorg dat jy môreaand betyds terug is, skat. Onthou, ons het ’n ete.”
“Ja. Dis … juis … Ek sal miskien laat wees.”
“Ag nee, De Waal! Om sesuur is alle besighede tog toe. Dan kan jy tog niks verder uitgerig kry nie. En as jy sesuur daar wegry, sal jy maklik agtuur hier kan wees.”
“As ek die spoedbeperking oortree, ja. Moet liewer nie môreaand op my staatmaak nie.”
Daar is ’n takserende stilte voordat sy antwoord. Haar stem klink nou duidelik ontevrede: “Kan die vreeslike besigheid nie maar wag nie? Jy weet al lankal van môreaand se ete, De Waal.”
“Dit spyt my, Rhona, maar dit kan nie. Ek móét môre stad toe. Jammer.”
“Jy klink nie baie jammer nie.”
Hy sluit sy oë. Rhona is soms werklik veeleisend. Sy is gewoond om haar sin te kry. Maar môreaand sal sy maar sonder hom moet klaarkom.
“Nag, Rhona.”
“De Waal!”
“Ja?”
“Is daar iets verkeerd? Jy klink … vreemd.”
“Nee. Niks is verkeerd nie.”
“O … Nou ja, slaap gerus en ry voorspoedig. Ek het die gevoel dat ek jou liewer glad nie môreaand moet verwag nie.”
“Ja, liewer nie. Tot siens.”
Rhona de Villiers frons skerp toe sy die telefoon neersit.
Haar pa kyk vraend van sy koerant af op. “Iets verkeerd?”
Sy trek haar skouers ongeërg op. “Nie juis nie. De Waal het skielik ’n nuk gekry dat hy nou juis môre móét stad toe vir besigheid. Hy sal dus nie môreaand hier wees vir die ete nie.”
Isak de Villiers glimlag effens. Dis die een man met wie Rhona nie altyd kan maak wat sy wil nie. Daarom is hy as haar pa heimlik dankbaar dat dit juis aan De Waal is wat sy verloof geraak het. Sy kort ’n sterk hand, en dié het De Waal beslis. Hy sal haar dinge verdra tot op ’n punt, en dan sy voet neersit. Nee, hy voel baie meer gerus oor sy dogter se toekoms noudat sy en De Waal verloof is. Hy weet De Waal sal die leisels reg hou en ook styf hou, indien nodig … en dit sal beslis nodig wees met hierdie bedorwe dogter van hom.
Hy probeer maar paai. “De Waal is ’n puik sakeman, en as hy sê hy moet môre in die stad wees, dan moet jy dit aanvaar, my kind. De Waal is baie pligsgetrou. As hy dit nie was nie, sou hy nie geklim het tot waar hy vandag is nie. Jy moenie in sy pad staan nie, Rhona. Sy onderneming het geweldig uitgebrei die afgelope tyd, en dis tog julle twee se toekoms waarvoor hy werk.”
Sy glimlag skeef na hom. “Ja, ek het geweet Paps sal weer aan sy kant wees. De Waal kan niks verkeerd doen in Pa se oë nie, nè?”
“Dis nie dit nie, my kind. Ek het net groot respek vir hom. Hy was ’n brandarm seun en nou is hy die grootste sakeman op die dorp, en hy het dit deur harde werk en eie inisiatief reggekry. Dit het nie in sy skoot geval nie. Jy het ’n diamant in De Waal, Rhona. Ek hoop jy besef dit en waardeer hom.”
Sy kyk hom skerp aan. “Wat bedoel Pa? Ons is verloof. Ons gaan trou en …”
“Ja, my kind, maar jy sal moet leer om De Waal ook in aanmerking te neem. De Waal is nie ’n man wat bogtery sal verdra nie. Jy moet een ding goed besef: De Waal het nie nodig om met jou te trou nie. Hy hét geld en status, en hy het dit bekom deur harde werk en ’n gesonde lewenswandel. Moenie dink omdat jy Isak de Villiers se dogter is, kan De Waal jou nie die trekpas gee nie, hoor?”
Sy is nou werklik verontwaardig. “Pa verbaas my! Dit klink amper asof ek baie dankbaar moet wees dat De Waal mý gekies het, asof dit ék is wat in die onderdorp grootgeword het.”
Isak de Villiers sug. Dit help nie om op hierdie laat leeftyd die regte waardes vir sy dogter te probeer leer nie. Hy moes dit twintig jaar gelede begin doen het, en toe het hy nie. Sy enigste hoop is De Waal. Hy sal haar miskien kan leer wat waarde in die lewe het en wat nie.
“Nee, my kind. Dis De Waal wat in die onderdorp grootgeword het, en juis daarom stel hy vandag hoë eise omdat hy albei kante van die prentjie ken. Jy het nog baie te leer, Rhona. Ek is soms baie bekommerd oor jou, my kind.”
Sy sug en beduie met haar hand. “Ag, Paps is weer vandag in een van Pa se morbiede buie. Pa lees te veel koerant. ’n Mens móét morbied raak as jy elke dag die koerant lees, want dis net ellendes en oorloë en moord en hoër pryse en al wat tragedie is. Ek lees nooit koerant nie. Dit doen my nie goed nie.”
Haar pa sug. Nee, sy lees nooit koerant nie, want sy het besluit om net te sien wat sy wil. Die res ignoreer sy net eenvoudig. Hy kyk terug na die koerant en knik. “Ja, tragedies is daar genoeg. Ek sien Karina Oosthuizen was in ’n nare ongeluk betrokke. Sy lê ernstig in die hospitaal.”
“O?” Rhona tel die koerant op. “Dit is nogal jammer. Dit sal vreeslik wees as sy littekens moet oorhou.” Dan gee sy die koerant terug, en toe sy by die deur uitstap, het sy alles al weer vergeet – haar pa se vermanings asook die berig wat sy so pas gelees het. Sy dink oor die spyskaart vir môreaand se ete en watter tafeldoeke sy gaan gebruik.
De Waal is die volgende oggend baie vroeg op pad Kaap toe. Hy het genoeg tyd om aan die verlede te dink …
Toe hy sy verstand gekry het, het hulle in die een deel van die skakelhuisie gebly – hy en sy pa en sy ma. In die ander deel het die Oosthuizens gewoon – oom Daan, tant Miemie en hul babadogtertjie, Karina. Sy pa en oom Daan het albei vir die munisipaliteit gewerk. Soggens het hulle saam werk toe gestap.
Toe is sy ma dood. Hy was maar nog ’n jong seun, maar hy onthou goed. Dit was tant Miemie wat hom saam met haar huis toe geneem en hom die nag daar laat slaap het. Dit was tant Miemie wat twee dae later sy hand styf, styf vasgehou het toe hulle voor die oop graf gestaan het. Dit was sy wat hom, nadat alles verby was, na haar slaapkamer geneem, haar arms om hom gesit en sag gesê het: “Nou kan jy maar huil, boet. Huil so hard en so lank jy wil.”
Hy hét gehuil, hoe lank en hoe hard weet hy nie, maar toe die trane eindelik opgedroog het, was tant Miemie se arms nog om hom, sussend, teer, moederlik.
Die tyd het aangestap en die lewe het weer ’n normale patroon aangeneem. Sy pa het soggens weer sy trommeltjie gevat en saam met oom Daan werk toe geloop. Hy het weer skool toe gegaan. Alles was weer min of meer soos altyd. Net … dit was tant Miemie wat nou toegesien het dat die huishulp