Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste. André le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биология
Год издания: 0
isbn: 9780624082477
Скачать книгу
het. (Een babaseuntjie was erg verontwaardig en het nie net die stout pop se lekkers weggeneem nie, maar hom ook oor die kop geslaan.)

      Wanneer die poppe beloon moet word met lekkers gee die Yale-babas dit eweneens vir die “goeie” pop. Ook wanneer die twee blokkies bloot voor die babas neergesit word, op ses en tien maande, strek hulle ’n handjie uit na die “goeie” blokkie. Bloom het ook gevind die babas verkies ’n goeie ou bo ’n neutrale ou, met ander woorde, ’n blokkie wat nie gehelp óf gekeer het nie. Selfs op drie maande, wanneer babas nog nie goeie beheer het oor waarna hulle uitreik nie, het hulle telkens langer na die goeie blokkie gekyk.

      Babas kan dus vroeg reeds (korrekte) afleidings maak oor die sosiale motiewe van ander. Hulle het ’n ingebore sin van goed en boos, van reg en verkeerd, dus van moraliteit. Reeds in hul eerste jaar, sê Bloom. (Honde en mantelape verkies eweneens mense wat help en hulle herken onregverdigheid, het Japanse navorsers gevind.)

      Later is misdadigers se boosheid ook herkenbaar.

      Narsiste is dalk die moeilikste om te peil omdat hulle soos “een van ons” lyk en optree. Psigopate lyk ook soos “ons”, maar hulle is gevaarliker omdat hulle nie soos “ons” optree nie.

      Dis “ons” vs. “hulle”.

      Kathryn Schulz sê in Being Wrong: Van al die dinge waaroor ons wil reg wees, is niks vir ons so belangrik soos om reg te wees oor ander mense nie. Ons wil nie verkeerd wees in ons eie oordeel nie.

      5. ‘Ons’ vs. ‘hulle’

      Father and Mother, and Me,

      Sister and Auntie say

      All the people like us are We,

      And every one else is They.

      And They live over the sea,

      While We live over the way,

      But – would you believe it? – They look upon We

      As only a sort of They!

      – Rudyard Kipling

      When I was coming up, it was a dangerous world,

      and you knew exactly who they were.

      It was us versus them, and it was clear who them was.

      Today, we are not so sure who they are,

      but we know they’re there.

      – George W. Bush

      “Ons” is die goeie ouens. “Hulle” is die vyand.

      Dis veiliger so.

      Maar vir die narsis en die psigopaat is óns “hulle”. “Hulle” het selfs name vir dié soos ons. Psigopate, byvoorbeeld, bekend vir hul gebrek aan empatie, slaan terug. Hulle noem ons “empate” (empaths), of “normopate” (normopaths) en selfs “neurotipieses” (neurotypicals). Laasgenoemde het oorspronklik in die outistiese gemeenskap verwys na mense wat nie op die outisme-spektrum lê nie, maar word sedertdien algemeen gebruik vir mense sonder “atipiese neurologie”, met ander woorde, “normale” mense.

      Vir wie “hulle” óók ’n naam het. Doodgewoon normals.

      “Ons” teenoor “hulle”.

      Dis die sentrale vraag van hierdie boek: Hoe om húlle te herken?

      Tussen ons.

      “Ons beste verdediging is om te aanvaar dat hulle tussen ons is,” sê die niefiksie-misdaadskrywer en forensiese sielkundige Katherine Ramsland op haar Psychology Today-blog, “om ons kulturele naïwiteit af te skud, om versigtig te kies wie ons vertrou en om die meganismes van hul misleiding en ons ontkenning te verstaan.”

      Die fout wat ons begaan, meen Ramsland, is om te verwag mense wat soos ons optree, is soos ons. Dan sien ons net die dinge raak wat dit bevestig. Ondertussen is ons blind vir “hulle” – tot ons eie nadeel.

      En “hulle” is baie.

      6. Hoeveel van hulle is daar?

      In jou gewone handel en wandel – van huis na werk na supermark, kafee of fliek – het jy vandag verby ’n psigopaat geloop. Of ’n narsis. Op die trein of bus het hy dalk langs jou gesit. Hy was saam met jou in die hysbak.

      Hy of sy.

      Volgens die 5de uitgawe van die American Psychiatric Association se sielkunde-bybel, Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, kortom DSM-5, is tussen 0,2 en 3,3% van mense psigopate. Party kenners meen dis 2 tot 3% en M.E. Thomas meen dis selfs hoër – tot 4%. Martha Stout, jare lank sielkundige aan Harvard Medical School, sê in The Sociopath Next Door dis inderdaad 4%.

      Daar’s minder vrouepsigopate – 1%. Maar die sielkundige Donald Black meen in Bad Boys, Bad Men hulle kan net soveel soos mans wees omdat hulle nie so openlik aggressief soos mans is nie. ’n Mens verwag ook nie vroue kan so gewetenloos soos manlike psigopate wees nie. Vroue is immers lieftalliger, oënskynlik.

      Psigopate word aangetref oor alle rasse en bevolkings heen, hoewel lande met ’n sterk groepkultuur, soos Japan en China, minder psigopate het teenoor Amerika met sy ek-kultuur waar psigopatie sedert die 1970’s toeneem.

      Barbara Oakley wys in Evil Genes daarop psigopate se getalle fluktueer van generasie tot generasie. Wanneer daar minder van hulle is, is dit makliker om weg te kruip en te doen wat nodig is om hul kanse op voortbestaan te verbeter. Sodra hul getalle té sterk toeneem, word hulle makliker uitgeken en is hulle minder suksesvol.

      Dit sou veral sigbaar gewees het in klein jagter-versamelaargroepe waar die psigopaat gou uitgesnuffel en reggesien sou word. Só het ’n hedendaagse Inuïet die psigopaat aan ’n antropoloog verduidelik: “’n Man wat herhaaldelik lieg en bedrieg en steel en seksueel misbruik maak van baie vroue, iemand wat hom nie steur aan berisping nie en wat gedurig voor die oudstes gebring word om gestraf te word.”

      Op die vraag hoe sulke mense gehanteer word (die betrokke Inuïet-term is kunlangeta, wat beteken “sy kop weet wat om te doen, maar hy doen dit nie”), was die antwoord eenvoudig: “Iemand sou hom van die ys afgestamp het as niemand kyk nie.”

      Ietwat meer dramatiese statistieke kom van die sielkundige en neuro-wetenskaplike Kent Kiehl van die Universiteit van Nieu-Mexiko. In “Suffering Souls – The search for the roots of psychopathy” in The New Yorker en in The Psychopath Whisperer sê Kiehl ’n psigopaat word elke 47 sekondes (!) gebore. Vir elke tien manlike psigopate is daar een vrouepsigopaat, wat veel minder as mans bestudeer word.

      Indien psigopatie toeneem, skryf Hare dit toe aan psigopate se promiskue leefstyl, wat beteken hulle het meer kinders – wat óók psigopate kan wees.

      Kiehl se belangstelling, soos dié van baie van sy tydgenote die afgelope meer as twintig jaar, is in neurokriminologie. Dis die idee dat misdadigers (en psigopate) beter verstaan kan word deur te kyk na wat in hul brein aangaan en dat misdaad net gedeeltelik deur sosiale en maatskaplike omstandighede verklaar kan word.

      As ’n psigopatie-syfer van 1% oor die algemeen aanvaar word, klink dit nie juis na iets om voor te skrik nie. Maar dis 1 uit elke 100 mense. Dan klink dit skielik meer. Op ’n doodgewone Saterdagoggend in ’n winkelsentrum loop jy maklik verby meer as 100 mense. En as M.E. en Stout se 4%-syfer reg is, is dit 1 uit elke 25 mense. Dis meer as mense met anoreksie of outisme en, sê Stout, 4 keer meer as skisofrenie en 100 keer meer as mense met kolonkanker, wat in Amerika kommerwekkend hoog is.

      En onthou, daar werk gewoonlik heelwat meer as 25 mense in jou kantoorgebou. Maar onthou ook: Dis ’n persentasie van die totale bevolking, nie van die aantal mense wat ’n winkelsentrum besoek of saam met jou in dieselfde gebou werk nie.

      Hou ook in gedagte dat Suid-Afrika se bevolking middel 2016 amper 56 miljoen was, volgens skatting deur Statistieke Suid-Afrika. Dan is 1% ’n duisternis mense – 560 000, wat psigopate in wording insluit (psigopatie word