“… régtig onaanvaarbaar …” Die vrou op die foon werk haarself nou behoorlik op.
“Ek verstaan,” sê Marlene desperaat.
Die forse militêre tred kom vir Tom so natuurlik soos asemhaal. Hy weet dit nie eens nie. En die ergste is, al sou sy dit selfs onder intense interrogasie bly ontken, het sy stilletjies besluit om haarself daarvoor te vergewe dat dit haar nog altyd effens kortasem maak. En as hy in uniform is, word sy heeltemal lam. Sy sug. Omdat dit elke keer allerhande stoute verwagtinge by haar skep. Ongelukkig onvervulde verwagtinge. Dis darem nou al weke sonder enige … wel … noem dit dan nou maar vuurwerke. Iets wat haar dronkslaan, maar waarvan die liewe konserwatiewe Tom skynbaar salig onbewus is. Of is hy?
“Maak tog net jou baadjie toe, man!” sê Marlene toe hy voor haar staan. Sy stut haarself met een hand op die toonbank tussen hulle. “Dis ysig daar buite!”
“Ekskuus?” vra die arme vrou, steeds aan’t uitwei op die lyn terwyl Tom so half terloops, saggies met sy wysvinger oor Marlene se duimnael vryf. Sy voel die effek daarvan tot anderkant haar naeltjie en skielik kan sy glad nie onthou wáár in die oneindige gesprek met die klaagster sy was nie. Sy vervies haar sommer vir haarself. Gelukkig sien sy uit die hoek van haar oog dat Zondwa weer ’n verskyning gemaak het agter haar.
“So sorry, Ma’am. Please hold on for the duty officer in charge,” sê sy op die ingewing van die oomblik heel in die verkeerde taal en prop die foon in Zondwa se verbaasde hande.
“Eish!” sê Zondwa. Met rollende oë en ’n kopskud in Tom se rigting lig sy die gehoorbuis om in perfekte Afrikaans te antwoord: “Goeiemôre, mevrou, konstabel Zondwa hier. Waarmee kan ek help?”
Marlene kan hoor die vrou is óf omgekrap óf opgewonde oor die feit dat sy kans kry om haar ellelange lewensverhaal weer oor te vertel. In Afrikaans.
“Moeilikheid?” vra Tom. Hy skud ’n paar druppels uit sy hare en sit sy blinknat motorfietshelm op die toonbank neer. Marlene moet effens opkyk na hom. Sy sien hoe sy lang swart ooghare in klam klossies aanmekaarklou rondom sy vraende, besorgde blou oë. Sy is al van kleins af jaloers op daardie wimpers.
Sy haal haar skouers op. “Nee wat, die gewone. Sonde met die bure. Padblokkades heelnag, ’n nuwe vlaag huisbrake en drie gevalle van motordiefstal. Ons vermoed ’n sindikaat is betrokke. Een kaping, en dieselfde voortslepende geval van huishoudelike geweld wat oor en oor opduik.”
Sy vryf oor haar oë. “Maar niks vergeleke met die oproer waarmee ons van gister af moes cope nie. Hier was hordes studente. Hulle wou die hekke afbreek. Ons moes die manne van Publieke Orde inkry. Met donderbuise, rookgranate en later rubberkoeëls. Maar die ergste was beslis die vier studente wat ons opgesluit moes hou vir die nag. Gelukkig is almal nou uit op borg. Dinge lyk effens rustiger. Ek wil dit nie oorhê nie. Dit was rof.”
“Hmm … The full catastrophe. Ek het so verstaan,” sê Tom. “Ek was bitter besorgd oor jou – en die slegste is, ek kon ook nie gister of vannag wegkom nie. Nie eens om jou te bel nie. Dinge daar by die vlootbasis was ook nie juis rustig nie. Is jy oukei?”
“Ja wat. Skynbaar is almal vir eers uitgewoed. Selfs die mees geharde protesteerder moet een of ander tyd gaan slaap en die reën blus nie net vure nie, maar entoesiasme vir die saak ook.”
“Jy lyk maar poegaai, Babe,” sê Tom.
Sien? dink Marlene, hoe moet sy nou weet wat is wat. Hy noem haar dan deesdae “Babe”.
“Ek bedoel, is dit dan nie tyd vir jou om van diens af te gaan nie?”
Marlene kyk op haar horlosie. “Amper. Die skofpersoneel sal nou hier wees vir ruilingsparade. Buitendien moet die lede so gou moontlik buite kom om patrollies te ry.”
“Jy gaan seker nie wag vir die kantoorpersoneel se parade halfsewe nie? Jy’s al van gisteroggend af hier.”
“Nee. Kaptein Mulder sal dit waarneem. Ek gaan so gou as moontlik probeer afteken. So sesuur se kant?”
“Raait,” sê Tom en stop die helm weer onder sy arm in, “dan vat ek jou eers vir brekfis as jy klaar is. Dis ’n verdomde wonderwerk dat ek en jy saam ’n paar uur af het. En dis ook maar net oor hierdie week lange seminaar in die stad vandag eers elfuur begin. So. Die reën het opgeklaar en daar’s genoeg tyd. Ek wag vir jou by die Harley, oukei?”
“Jong, ek weet darem nie! Dit kan dalk vandag weer erg raak na die arrestasies. Dis –”
“Babe, kom net. Ek kan sien jy’s dood van die honger. Ons kom haal netnou jou Nissan, dan kan jy seker maak alles is in die haak hier,” sê Tom beslis oor sy skouer op pad deur toe.
Marlene is te lam om te protesteer. Sy staan en kyk hom stom agterna, heeltemal te bewus van die feit dat Tom se indrukwekkende wegstap vir haar nog altyd net so aanskoulik is soos sy aankoms. Selfs die vrou voor die toonbank draai heeltemal om en haar oë volg sy netjiese denimgeklede sitvlak waarderend deur die aanklagkantoor se oop deur met die trappies af tot daar doer waar hy een gespierde been oor die Harley se sitplek gooi en die fiets brommend nader aan die ingang bring.
“Oeeee!” sê Zondwa en sit die foon neer. “Forceful! En mooi was nog nooit lelik nie, nè? I would get a ring on my finger as soon as possible if I were you, kolonel! Oeeee!”
“Gedra jou, konstabel. Asseblief. Hou jou in. Spaar jou krag. En maak seker jou papierwerk is een honderd en tien persent as jy netnou afgeteken wil wees. Sit asseblief ’n aantekening van die klaagster oor die honde se details op my lessenaar. Aangesien jy môre af is, sal ek dit dalk aan die Metropolisie moet oorgee. Ons het oorgenoeg om te doen. Oukei?”
“Jawohl, kolonel!” Uit Zondwa se spitsvondige mond klink die titel eerder soos dié van die kolonel van braaihoender-faam. As toegif salueer sy oordrewe en trippel tot by haar lessenaar.
Marlene weet sy behoort haar ondergeskikte daarop te wys dat sy stasiebevelvoerder is en dus dalk net effens meer respek verdien, maar sy is skielik eenvoudig te moeg. Eintlik is sy baie erg oor die klein konstabel van haar wie se bekkige aanmerkings al menige situasie ontlont het. Die afgelope nag weer was sy goud werd. Siphokasi Zondwa het haar vinger op die pols en laat haar deur niemand intimideer nie, en dis nie noodwendig ’n slegte eienskap in hierdie beroep nie. Marlene loop na haar kantoor en gaan pak gou haar laaste papierwerk reg.
Toe die dagpersoneel minute later begin opdaag en haastig, bibberend hul nat jasse gaan ophang voordat hulle vir oggendparade kom aantree, voel dit vir Marlene asof almal deur dik stroop beweeg. Maar toe sy die spul voor haar gadeslaan en omtrent die helfte van hulle uniforms onvolledig verklaar en haar bloed voel kook toe die een konstabeltjie onnodig lank vat om sy wapenlisensie te presenteer, weet Marlene dis tyd vir haar om rus te kry. Luitenant-kolonel Burger is bekend daarvoor dat daar nie met haar geneuk moet word nie en haar reputasie dat sy harde manne kan laat huil, is wyd bekend, maar openlik onregverdig en onnodig mislik is sy darem nooit. Uiteindelik kan sy haar skof afsluit, haar nagpersoneel groet en die leisels oorgee. Sy gaan maak vinnig ’n draai by die selle, maar al wat sigbaar is van die paar aangehoudenes is slapende bondels onder die grys komberse.
“Bye-bye, Big Boss!” roep Zondwa met wydgerekte ogies oor haar skouer nadat sy ’n blou lêer met kamtig oordrewe versigtigheid voor Marlene op die lessenaar kom neersit het. Toe bons sy die trappe af na haar goudgeel Mini Cooper wat haar pa vir haar gekoop het in ’n poging om haar te oortuig dat sy eintlik sy prinses is, nie ’n polisievrou nie.
“Dankie,