Marlene en die macho man
Anita du Preez
Satyn
1
“Sy soek Afrikaans,” beduie konstabel Zondwa en hou die landlyn se gehoorbuis op ’n afstand uit asof dit aansteeklik is.
Luitenant-kolonel Marlene Burger kan haar ongelukkig hoor, want iemand het die binnedeure oopgelos en die irritererende gaping bied ’n onbelemmerde uitsig op alles wat in die aanklagkantoor plaasvind.
“So? Jy praat mos Afrikaans?” roep Marlene ergerlik in die gang af.
“No! No-no-no! I am very sorry … not before five in the morning. Haibo!” antwoord konstabel Zondwa en sy plak die foon net daar op die toonbank neer waar dit suisend lê en wag.
“Kan een van julle blikskottels tog asseblief net daardie oproep neem!” roep Marlene weer in die rigting van die wagtende foon. Niemand reageer nie. Sersant Lloyd fokus skielik verwoed op die verklaring van die vaak vrou oorkant hom by die toonbank. Die nag was lank en die stapel papierwerk wil nie krimp nie. Net die twee nat bergies en die beseerde gangster wagtend op die bankies vlak by die ingang kyk hoopvol op. Maar Zondwa is nêrens te siene nie.
“Julle weet die publiek dink alreeds ons doen nie ons deel nie,” knor Marlene al harder. “Zondwa! Antwoord daai foon!”
Maar konstabel Siphokasi Zondwa het skynbaar besluit haar baas sal maar self moet kom Afrikaans praat. Of dalk weet Zondwa bloot goed dat die een wat teen vyfuur in die oggend ’n vars oproep vat, nie vanmôre voor watter tyd in die bed kom nie. So die foon wag en Marlene se irritasievlakke neig gevaarlik na die rooi.
“As ek my sonde nie ontsien nie … Zondwa!”
Die persoon aan die ander kant van die lyn se ontevredenheid word voelbaar. Hoe ignoreer jy dit? Flippen hel! Papiere fladder en Marlene se stoel se pote skraap protesterend oor die vloer met die opstaan agter die lessenaar. Ergerlike voetstappe weerklink in die gang af.
“Luitenant-kolonel Burger wat praat. Hoe kan ons help?”
Al wat hoorbaar is, is die suising van die oop lyn.
“Hallo?” Genade tog. Sou die mens dan moed opgegee het?
“Hoe nou?” vra die vrou uiteindelik. Jy kan haar hoor frons.
Die gewone reaksie. Die verduideliking kom outomaties.
“Dit is luitenant-kolonel Marlene Burger van die Rondebosch-aanklagkantoor wat praat. Waarmee kan ons help?”
“E … ê … ê … ooo!”
Marlene kan behoorlik hoor hoe draai die ratjies in die vrou se kop. Na veertien jaar weet sy al. Sy gee kans dat die dame haar gedagtes orden. Kolonelle en luitenante moet mos mans wees, dan nie? Kliek … maar wat dan nou van feminisme en gelyke regte en al daai … kliek. En soos baie ander voor haar kom die tannie geleidelik tot die slotsom dat sy polities korrek en byderwets is en dus Marlene se posisie as luitenant-kolonel goedgunstiglik sal aanvaar.
“Dis oor my buurman,” sê sy, “eintlik oor sy honde. Dis sedert September … ê … nee, nee dit was voor dit al. Dit was Augustus …”
“Ek luister.” Marlene hervat haar greep op die gehoorbuis. Ag liewe genade! Honde? Kampusse brand en daar was dae lank geen rus of selfs tyd om te eet vir haar hele span nie en sy moet staan en luister na ’n klagte oor hónde? Sy verskuif die plastiekfoon na haar ander oor. Dis glibberig en koud. Dit reën al dae lank in die Kaap. Sy vryf hoopvol met die ander hand waar sy die kloppende honger-hoofpyn teen haar regterslaap voel ritme kry, want die huiwering lê nog vlak in die vervlakste vrou se stem, en alhoewel sy tog stoom optel en breedvoerig begin verduidelik van die buurman se blaffende honde, kan enige aap hoor sy sou baie beter gevoel het as sy haar probleem aan ’n man kon toevertrou. Verkieslik ’n regte macho man. Wat sommer lýk asof hy dinge kan doen. Soos die een wat Marlene op daardie presiese oomblik skuins deur die aanklagkantoor se oop voordeur van sy motorfiets kan sien afklim.
Vlootoffisier Thomas Jacobus Lourens. Onlangs bevorder tot luitenant-kommandoor Lourens. Háár Tom. Haar … lover? Hmm, nog nie, dink sy fronsend terwyl haar oë hom opsom soos hy naderkom. Daardie een onbesonne keer jare gelede by die matriekafskeid tel nie. Nie noudat hulle weer van voor af begin date en so halfbekend maar halfvreemd vir mekaar is nie. Vriend? Ja, dit was Tom nog altyd vir haar. Hulle het immers saam grootgeword. Maar hy is tog seker nou meer as dit?
“Uh-huh, uh-huh, ek luister,” sê Marlene outomaties vir die persoon in haar oor, maar haar kop bly dwaal op ver plekke en haar oë oor die lenige, sexy mansmens wat na haar toe aangestap kom.
Van laerskool af was dit sy en Tom en Renée en Celeste. Toe almal dié ongebalanseerde viermanskap “die drie rose en hulle doring” genoem het. Die agteraf gefluister was dat hulle al drie beenaf was op Tom, maar die algemene konsensus was dat sy die een was aan wie se vinger hy eendag die ring sou sit. En hy wou. O ja, hy wou. En as sy hom nou so staan en kyk, kan sy nie glo dat sý nie wou nie. Die man is manjifiek. Het sy skille op haar flippen oë gehad of wat? Nee. Sy het toe al geweet dat Tom Lourens vir haar gevaarlik mooi was. Veral van binne. Maar sy het mos ander, meer avontuurlike planne vir háár lewe gehad as om saam met haar skoolmaat iewers agter ’n white picket fence te gaan intrek! Daarom het sy haar blind gehou. Nee, dit was Celeste wat daardie voorstedelike droom waar gemaak het. En Renée? Dié het alles haarfyn van die kantlyn af dopgehou. En sy wat Marlene is? Ja, wel … sy het haarself mos oortuig sy bewys ’n punt toe sy vir Steven ingekatrol het. Dié befaamde enigmatiese entrepreneur Steven Hall nogal. Sy sug diep. Gmf. En al wat sy daarvan oorgehou het is Naas, Steven se uiters gefrustreerde budjie, wat sy sedertdien teen haar sin in ’n hokkie moet aanhou.
“Die allerverskriklikste lawaai …” dring die vrou se skril stem tot haar deur.
“Uh-huh. Uh-huh,” sê Marlene, maar haar denke bly agtertoe rol en rol.
Ja-nee, intussen het die meule hulle almal al bietjie rondgemaal en sedert Tom omtrent twee maande gelede weer met haar kontak gemaak het, is dinge anders. Toe hy daardie oggend, net soos vanmôre, onverwags uit die bloue verlede met sy nommerelfstewels by die aanklagkantoor en in haar lewe ingestap het, het sy dadelik geweet hier kom moeilikheid. Dat die wiel gedraai het en niks tussen hulle verander het nie, maar ook nooit weer dieselfde kon wees nie. En sedertdien is dinge … wel … ingewikkeld. Sy sou dit “friends with benefits” kon noem, behalwe dat daar tot op hede nog geen flippen benefits was nie. Dis moeilik om te glo as sy hom so kyk waar hy met lang, gespierde bene oor die plein gestap kom.
Met dié dat hy in Simonstad bly en sy hier in Rondebosch, en aangesien hulle sulke ongereelde ure werk, het hulle al sleutels uitgeruil sodat hulle in mekaar se huise kan wag terwyl die ander een nog by die werk klaarmaak. Hoekom dan nou nie? Hulle kuier immers van kindsbeen af in mekaar se huise – niks snaaks daaraan nie. En deesdae slaap hulle ook soms gerieflikheidshalwe oor, as dit te laat word of hulle te moeg is om terug te ry. Maar alles bly so kuis en kosjer soos koekiesbak. Asof hulle weet hoe om vriende te wees, maar niks verder nie. Asof hulle albei te bang is. Om weer ’n fout te maak? Soos daardie een keer na die matriekafskeid? Toe hulle mekaar agterna weke lank nie in die oë kon kyk nie? Toe sy draaie geloop het om hom te vermy totdat sy hom uit sy ooglopende ellende kon gaan verlos. Hom kon verseker dat daar nie verdere gevolge gaan wees van hul eenmalige, onbesonne, halfbesope vergryp aan mekaar nie. Haar keel trek na sewentien jaar nog steeds toe as sy aan daardie drie weke van onsekerheid dink. Dit was suiwer hel. Maar hulle is mos darem nou grootmense, dan nie?
Moenie ’n fout maak nie, dis nié asof sy weer wil trou nie. Nie na Steven nie. Nee. Gelukkig voel Tom, na Celeste, blykbaar dieselfde. Dit pas haar so. Sy blaai tog rêrig nie bruidstydskrifte deur in CNA soos Renée en veral Celeste destyds nie. Sy kry lag. Nee wat, die Sterns-binneblaaie se mooi kleurvolle glansfoto’s van verloof- en trouringe kom deesdae handig te pas om Naas, die budjie, se hokkie se vloer netjies uit te voer.
Maar dit beteken nie dat sy ’n non geword het nie.
“Ek weet nie wát hulle daar doen nie. Julle sal moet kom ondersoek instel …” gaan die vrou op die lyn ongestoord voort.
“Ja. Uh-huh. Uhm, dis reg so, mevrou,”