“Sy het my gebel. Was glo op pad Kaap toe. Ek het nie eens geweet sy is al terug uit die buiteland nie. Maar sy wou my darem net verwittig dat my ‘blou-oog-onskuld’ nie méér die man uit een stuk is waarvoor ek hom aangesien het nie; dat hy al veertien dae gelede getroud is met ’n kind wat vir haar beslis nog jonger as sestien lyk. Nadat ek van die ergste skok herstel het, wou ek weet hoe lyk die meisiekind wat jou bene so onder jou lyf uitgeslaan het. Sy moes teen wil en dank erken dat sy pragtig is.
“Ek het natuurlik ook nie vrygespring nie. Sy het my beskuldig dat ek die ding bewerk het omdat sy weet hoe ek háár verpes. Daaraan het ek my natuurlik nie gesteur nie; sy kan dink wat sy wil. Maar nou kan ek sterf van nuuskierigheid. Hou haar daar totdat ek kom. Ek moet sien hoe lyk ’n meisie wat selfs Catherine beskryf as ’n soort nimf!”
Rudolf leun terug in die stoel en sluit sy oë. Sal dit dan nooit weer end kry nie?
“Sy is nie meer hier nie, tante.”
“Wat bedoel jy … nie meer daar nie?”
“Sy het weggeloop. In my slaappak se baadjie,” voeg hy as nagedagte by.
“Wat! Rudolf, het jy tog nie toegelaat dat sy wegloop nie? Watse soort Van der Merwe is jy?”
“Ek, tant Kitty, is op hierdie oomblik ’n Van der Merwe wat tot barstens toe sat is. As tante wil sien hoe lyk ’n nimf, moet tante maar self na haar kom soek. Ek hoop dat ek haar nooit weer sien nie, want sy het my genoeg sonde veroorsaak. Tot siens.”
Hy plak die telefoon met mening neer en aan die ander kant sit tant Kitty ook neer. Dis nie Rudolf se geaardheid om ongeskik te wees nie. Die nimfding het hom werklik omgekrap. Sy sal seker maar moet gaan kyk wat daar aangaan. Dit klink al of haar “blou-oog-onskuld” in groot moeilikheid is. Sy nooi is weg, sy vrou is weg en op die koop toe sy slaapklere ook.
“Kaaatjieeee! Bring my koffer!” Sy kyk die verbaasde huishulp laggend aan. “Ek gaan ’n rukkie by Rudolf kuier. Dit lyk my hy gaan nou eindelik vrou vat.”
“Die vrou? Daardie Kêtrien?”
“Nee, watwou! Katrien is iets van die verlede … dankie tog! Ek kan Rudolf net dáárvoor baie vergewe. Toe, wikkel. Ek is haastig. Ek wil voor sononder daar wees, anders slaap dokter vanaand nog kaal.”
Die ou huishulp skud haar kop en skuifel vinnig na die pakkamer. Dis goeie nuus dat hul dokter nou vrou wil vat, en nog beter nuus dat dit nie daardie Kêtrien is nie. Daardie vrou met die rooi hare! Aikôna!
Rudolf weet dit is net bluf: hy hoop nie regtig dat hy nooit weer die klein swerweling sien nie. Hoe nader die nag kom, hoe groter word sy kommer. Sal hy nie maar die polisie se hulp inroep nie? wonder hy met sy blik op die ondergaande son toe hy by die hospitaal uitstap ná sy aandrondes.
Moenie laf wees nie, betig hy homself. Hoe gaan jy aan hulle verduidelik na wie jy soek en hoekom? “Sersant, ek soek na ’n meisie. Sy is amper twintig, maar sy lyk soos sestien. Sy het lang swart hare en blou oë en sy laat jou aan ’n soort nimf dink. Ek ken nie haar naam nie, hoewel sy verlede nag in my bed geslaap het. Maar julle sal haar herken. Sy loop nog in my slaapklere rond.”
“Goed, dokter. Ons sal ons bes doen. Maar hoekom soek u haar?”
“Wel … ek wil graag my slaapklere terughê!”
Nee, ou maat, vergeet van haar. Hoe gouer hoe beter. Tog, op pad terug woonstel toe, ry hy onnodige draaie en steeds soek hy. Eindelik is hy verplig om na die woonstel terug te keer. Hy kan nie die hele nag op en af deur die strate ry nie.
Hy swaai by die woonstelgebou in en swets amper hardop toe hy weer ’n motor in sy motorhuis sien staan. Toe herken hy die rooi motor – tant Kitty!
Sy verwelkoming is nie baie gul toe hy die woonstel binnestap nie. Hy het eintlik beplan om ná aandete nog ’n paar draaie deur die stad te maak, net ingeval … En nou is tant Kitty hier.
“Hoe het tante in die woonstel gekom?”
“Die deur het oopgestaan. Baie nalatig van jou, moet ek sê. Jy moet beslis omgekrap wees as jy vergeet om jou woonsteldeur te sluit.”
Hy kyk weg. Tant Kitty se ogies is soms baie skerp. Hy het nie vergeet om sy woonstel te sluit nie. Hy het die deur doelbewus oopgelos, ingeval sý miskien terugkom …
Die telefoon lui meteens skril en hy gryp daarna. Hy wens hy word nou uitgeroep. Hy is nie lus om oor haar te praat nie … nie nou al nie.
“Dokter Van der Merwe? Wessels hier by ongevalle. Ek wonder of u nie miskien net gou hospitaal toe kan kom nie …”
“Ongevalle? Ek is tog nie …”
“Ek weet, Rudolf,” val die jong dokter hom dringend in die rede. “Noem dit ’n persoonlike guns. Hier is iets eienaardigs aan die gang – ’n klein hippie-meisie is pas hier by ons opgeneem … en sy’t ’n slaappak se baadjie aan …”
3
Tant Kitty verskyn langs hom. “Ek gaan saam.”
“Tante, asseblief!”
“Ek gaan saam, Rudolf. Kom, moenie redekawel nie. Wat sê hulle? Wat het haar oorgekom?”
Hy antwoord eers toe hulle in die motor is en hy versigtig maar vinnig in die straat indraai. “Ek het nie gevra nie. Sy is skynbaar by ongevalle opgeneem. Iemand in ’n slaappakbaadjie …”
Sy kyk vlugtig na haar broerskind se gesig. Hy lyk bekommerd, maar terselfdertyd verlig. Dit lyk asof ’n groot las van sy skouers gerol het. Sy onthou die vreugde in sy oë toe hy die gehoorbuis teruggeplaas en uitgeroep het: “Ek het haar gekry! Sy is by die hospitaal.”
Hoe Rudolf ook al wil voorgee hy het niks aan die swerweling wat hy verlede nag uit die goedheid van sy hart herberg gegee het nie, sê sy optrede anders. Hy het die trap afgestorm en kon kwalik sy ongeduld bedwing toe hy vir haar moes wag om in die motor te klim.
Nou jaag hy soos ’n besetene deur die strate en tant Kitty hoop maar dat hulle heel anderkant sal aankom. Sy hoop ook maar dat die oop woonsteldeur nie ongewenste besoekers sal lok nie. Rudolf het ’n tweede keer vandag vergeet om sy woonsteldeur toe te trek. Ook baie eienaardig van hom. Hy is eintlik ’n baie presiese mens.
Toe dit darem om ’n draai vir haar te erg gaan, kan sy nie langer stilbly nie.
“Nee a, Rudolf! Wil jy ons nekke breek? Sy sal nie weer wegloop nie, man.”
“Tante ken haar nie. Sy kan soos ’n groot speld verdwyn, daardie meisiekind.” Hy frons hewig toe hy haar glimlaggie sien. “Ek ry g’n agter haar aan nie. Dis nie hoekom ek so haastig is nie.”
Tant Kitty trek haar gesig op ’n sedige plooi. “Natuurlik, seun. Jy is net gretig om jou slaapklere terug te kry. Ek weet.”
“Tante!” Toe moet hy ook glimlag, maar dadelik versober sy gesig weer. “Tante, ek sit in ’n lelike pekel. Besef tante dan nie? Hier kom ’n geval by ongevalle aan, net geklee in ’n slaappakbaadjie, ’n jong meisie of vrou met niks anders by haar nie. En in die kraag van daardie baadjie staan my voorletters – Dr. RZvdM. Catherine het die Z ingesit om my te terg, maar dis nogal bekend by die hospitaal dat Zacharias my tweede naam is.”
Tant Kitty besef nou daar is rede tot kommer. Sy naam as geneesheer kan op die spel wees. “Ja, daar kan maklik praatjies ontstaan.”
“Dis nie al nie,” sê hy grimmig. “Haar hele lyf dra tekens van brutale aanranding. As Thys Wessels sy sout werd is, sal hy onmiddellik sien dis twee tot drie dae oue letsels. En daar’s wurgmerke aan haar keel.”
Sy tante is beslis bekommerd. “Wat sou tog met haar gebeur het?”
“Tante, sy was so ontsteld, ek kon haar nie uitvra nie. Ek het haar enkel verbind en haar kos gegee. Toe moes ek hospitaal toe, en toe ek terugkom, is Catherine daar … en sý was weg … slaapklere en al.”
“Dink jy sy is heeltemal