Ronelle is opvallend stil toe sy en doma Maria later na die Quinta terugkeer. Die ou dame is intens bewus van die meisie se stille afgetrokkenheid en dit laat haar heimlik wonder of sy en Diago dan weer ’n woordewisseling gehad het. Ook die hartseer trekkie in Ronelle se oë en om haar mooi, sagte mond ontgaan die ou dame se opmerksame blik nie. Dat Ronelle diep hartseer voel, is vir die wyse ou dame geen geheim nie. Daarom bewaar sy ook maar die swye.
Hulle is pas terug, toe ontvang Ronelle ’n hooflynoproep van haar vader om haar mee te deel dat hy vieruur die volgende middag op Braca arriveer.
Hierdie goeie nuus laat Ronelle dadelik weer moed skep vir die lewe, want nou sal sy ten minste nie hier wees wanneer Diago met sy aanstaande bruid by die kasteel arriveer nie. Ja, sy en doma Maria sal na hulle afsonderlike tuistes teruggaan en hierdie week se verblyf in die kasteel sal iets van die verlede wees – slegs ’n aangename herinnering wat sy diep en veilig in haar hart sal bewaar. Sy weet dat haar liefde vir Diago haar nog bittere trane gaan laat stort, maar sy verkies om nie hier te wees en sy liefde vir ’n ander vrou te aanskou nie.
Diago toon geen tekens van verligting óf opgewondenheid toe Ronelle hom tydens die noenmaal van haar vader se oproep vertel nie.
Al wat hy sê, is: “Dit is nogal jammer dat die goeie señor professor eers môremiddag arriveer. Ek sou hom graag voor my vertrek na Beira wou spreek. In elk geval, my sekretaris sal sorg dat jy en tia Maria môre veilig by julle tuistes besorg word, want ek sal nie voor Woensdagmiddag terug wees nie.”
“Jy kan jou sekretaris gerus maar die moeite bespaar, Diago,” voeg Ronelle hom bedaard toe. “Ek sal doma Maria self by haar tuiste besorg.”
Daardie middag hou Ronelle haar besig met voorbereidings vir die aand se dans, en om drie-uur gaan sy swem. Sy weet dat dit ook die laaste maal is wat sy ooit in dié luukse swembad sal swem.
Na die middagkoffie gaan sy nie soos gewoonlik strand toe nie, maar verwyl die middag saam met die ou dame en Diago op die voorstoep. Sy besef dat hulle kort samesyn sy einde nou snel nader en sy wil graag die laaste paar uur nog saam met Diago verwyl. Sy voel momenteel soos Aspoestertjie, en weet dat die klok ook vir haar om middernag sal slaan.
“Jy is besonder stil vandag, Ronella,” merk die ou dame sag op en betrag die aangesprokene met ’n waarnemende blik.
“Ek bepeins maar net my sondes,” antwoord Ronelle gevat en glimlag die ouer vrou tergerig toe. “Diago het my eendag baie ernstig verseker dat ek ook van my klein sondetjies sal moet afsien, en nou het ek net gewonder hoe dit sal voel om sonder sonde te wees.”
“Sonder al jou oorbodige sondetjies sal jy nog steeds dieselfde voel, pequena,” verseker Diago haar goedig. “Maar sê vir my: Watter onmoontlike dinge gaan jy alles in my afwesigheid aanvang, of is jy darem al genees van jou knaende voorliefde vir onmoontlike en ongehoorde dinge?”
“Of ek daarvan genees is, sal ek nie kan sê nie,” terg sy laggend, “maar jy sal met jou tuiskoms wel gou genoeg hoor as ek iets ongehoords aangevang het. Op die oomblik kan ek natuurlik aan niks dink wat die moeite werd sal wees om aan te vang nie. Trouens, Marisa se klavierlesse en jou familie se uitnodigings hou my deesdae so besig dat daar geen tyd is om iets onmoontliks aan te vang nie.”
Haar laaste sin laat sowel die ou dame as Diago breed glimlag. Toe stel laasgenoemde voor dat sy haar voor ete vir die dans moet aantrek en gereed maak sodat hulle dadelik na ete kan vertrek. Derhalwe maak Ronelle ’n oomblik later verskoning en begeef haar na haar kamer.
’n Paar minute voor ete is sy smaakvol in ’n lang, stemmige, wit aandrokkie – van ’n besonderse soort kant – en swierige silwerkleurige aandskoentjies geklee. Op haar bed lê ’n silwerkleurige aandsakkie en ’n kantstola van dieselfde kleur. Die enigste juwele wat sy vanaand dra, is haar pêreloorkrabbetjies en ’n string pêrels om haar hals. Oor haar kastaiingbruin hare is ’n pragtige wit mantilla gedrapeer, wat haar byna soos ’n bruid laat lyk, en teen haar skouer nestel ’n fraai skouerruikertjie van liggeel orgideë – ’n geskenkie van Diago.
Na ’n vlugtige blik in die spieël begeef Ronella haar na die klein sala waar hulle drie elke aand vergader voordat die ghong aandete aankondig.
Doma Maria is alreeds bekend met Ronelle se nuwe tabberd, en op Diago se gelaat is openlike tevredenheid te lees toe sy die vertrek binnetree.
“Jy lyk wonderskoon soos altyd, pequena,” begroet hy haar met ’n warm stem en oë wat vol verering op haar rus. “Jou skoonheid oortref al die Madonnas van ons wêreld. En as ek sê jy is die bekoorlikste vrou aan albei kante van die ewenaar, bedoel ek dit, Ronella.”
“Dankie, ek voel gevlei,” sê sy sag, lag saggies en voeg ietwat tergerig daaraan toe: “Jy lyk self nie onaardig in daardie deftige aandpak nie, señor Duque.”
Diago glimlag stilweg, neem haar arm en wil haar net na ’n stoel toe lei, maar dan lui die ghong en hulle moet na die eetkamer verdaag.
Soos afgespreek, vertrek die jong paar pas na ete, nadat Ronelle die mantilla verwyder het en haar stola en aandsakkie gaan haal het. Haar hart klop snel van opgewondenheid, want vanaand gaan sy Diago uitsluitlik vir haarself hê. Daarna … Nee, sy wil liewer nie aan die toekoms dink nie, want dan sal hy onherroeplik aan iemand anders behoort en vir ewig vir haar verlore wees. Slegs vanaand kan sy haar nog in sy geliefde nabyheid koester, haar verlangende hart vul vir die leë, doellose jare wat voorlê.
Hulle hou voor die hotel stil. Hoflik en sjarmant help Diago haar om uit die motor te klim.
Hy bied haar sy arm aan en sê ernstig: “Ek bespreek jou vir elke dans, Ronella.”
Die aangesprokene kyk hom tersluiks aan, frons liggies en verklaar ietwat droogweg: “Ek glo nie hier is iemand wat graag met my sal wil dans nie, Diago. Jy hoef dus nie te vrees dat ek straks die een of ander onmoontlike ding mag aanvang terwyl ek met iemand anders dans nie.”
“Jy interpreteer my woorde hopeloos verkeerd, pequena,” help hy haar sag met ’n tere glimlaggie reg. “Ek bespreek jou uitsluitlik vir elke dans omdat ek graag elke dans met jou wíl dans, en om geen ander rede nie!”
Hulle bereik die danssaal en Ronelle bly hom ’n antwoord skuldig. Op die oomblik weet sy ook nie juis wat om te sê nie. Hy hemel haar voorkoms op en erken openlik dat hy graag met haar wil dans, en tog koester hy planne om met sy niggie te trou …! Voorwaar ’n volmaakte flirt.
Hulle aankoms wek ’n aardige opskudding, want dit is beslis die eerste maal dat die Duque so ’n publieke dans slegs in die geselskap van ’n enkele beeldskone dame bywoon. Die gemeenskap van Braca is al gewoond daaraan dat hy alle openbare geleenthede gewoonlik in die geselskap van ’n paar familielede bywoon. Gevolglik is sommige van mening dat Ronelle die aanstaande Duquesa de Velira Cervantes moet wees, terwyl ander, wat alreeds die gerug gehoor het dat die Duque trouplanne met sy niggie, Julietta Montes, koester, heimlik wonder waarom hy die jong señorita dan vanaand alleen na die dans vergesel. Indien hy regtig trouplanne met sy niggie koester, sou dit tog pasliker gewees het as hy en die jong señorita hierdie dans in die geselskap van ’n paar familielede bygewoon het … Nee, vanaand begryp hulle die altyd voorbeeldige Duque se optrede glad nie. Trouens, dit wil vir hulle nou meer lyk asof hy ’n ogie op die jong señorita Dekker het.
Ronelle en Diago se onverwagte verskyning hier in die danssaal het sommige mense inderdaad aan die gis, terwyl ander weer in ’n knaende onsekerheid verkeer.
Gelukkig is die twee onbewus van die gissings en onsekerheid en hulle geniet die aand ten volle. Diago is, soos gewoonlik, uiters hoflik en sjarmant en probeer alles in sy vermoë om die aand vir Ronelle aangenaam te maak.
Hulle dans byna elke nommer wat die orkes speel. En wanneer Ronelle so intiem in sy arms oor die dansvloer beweeg, wens sy dat daar nooit ’n einde aan hierdie aand moet kom nie. Nog nooit in haar lewe het sy so gelukkig gevoel soos vanaand nie. Sy kyk op na sy dierbare, aantreklike gelaat, na sy mooi, sterk mond en die lippe wat haar nou die middag so hartstogtelik gekus het, en wonder heimlik of daardie