Dit was vir my ironies dat ons op daardie tydstip in dié aweregse musiekblyspel The Rocky Horror Show was toe Xander my die waarheid oor sy seksualiteit vertel het. Die stuk het juis oor twee onskuldige mense, Brad en Janet, se seksuele gewaarwordings gehandel.
In dié bekende kultusmusiekblyspel gaan die twee pasgetroudes op ’n avontuur en word dan met baie donker dinge gekonfronteer. Hoewel my ouma Jane gesê het sy gaan nie dié konsert kom kyk nie omdat dit “effens riskant lyk”, was dit ’n prettige blyspel. Baie mense het die liedjies geken en elke vertoning was ’n baie lekker en gesellige ervaring. In my kostuum en met dik grimering op my gesig gepleister, kon ek vlietend in die persona van my rol as ’n phantom, ’n singende en dansende gees, van my realiteit ontsnap. Vir ’n oomblik elke aand kon ek van my bekommernisse vergeet, want daar is genoeg op die verhoog wat jou aandag hou.
Soos die lewe maar is, sluip die waarheid altyd tog maar stil-stil by die teater se agterdeur in. As die vertoning klaar is, gaan die ligte af en die eerste ding wat jy moet doen, is om jou kostuum vir gewone klere te verruil. Die grimering word afgewas en jy moet jouself weer in die oë kyk. Met die gordyn wat na elke vertoning gesak het, het ek niks meer gehad om agter weg te kruip nie.
Op die verhoog sit jy ’n masker op, word jy ’n ander mens. Dit is lekker, want jy weet presies wat om te sê, waar om te staan en wat om te doen. Jy weet wanneer om hartseer te wees en wanneer om gelukkig te wees – te danke aan ’n teks en ’n regisseur wat jou leiding gee.
Ek het dadelik besluit wat om te doen. “Ons sal hierdie huwelik maak werk. Ons het ’n keuse gemaak en nou moet ons doodeenvoudig daardie keuse eer …”
Ek is in so ’n huis grootgemaak. Jy maak jou keuses en jy bly daarby. Wanneer jy jouself tot ’n belofte verbind, veral ’n belofte voor God, dan sien jy dit na die beste van jou vermoë deur tot die einde toe. Jy laat nie toe dat jou omstandighede die koers van jou lewe bepaal nie.
My ouers was definitief in hierdie opsig vir my ’n voorbeeld. Hul huwelik het ook sy uitdagings gehad. Dit sou sekerlik makliker vir my ouers gewees het om te sê kom ons los dit eerder en gaan elkeen ons eie rigting, maar my ouers het mekaar en daardie lewe gekies en hulle het hul belofte gestand gedoen. Ek was van plan om dieselfde te doen.
Daar was ongelukkig niemand wat vir my en Xander kon leiding gee as ons saans ná werk weer by ons klein, eenslaapkamerwoonstel in Weltevredenpark, Johannesburg, aankom nie, grootliks omdat ons ons probleme vir onsself gehou het. Ek het gevoel ons moet probeer om ons huwelik te red al het Xander dit duidelik gemaak dit is sy seksualiteit waarmee hy ’n stryd voer en dat sy besluit oor daardie stryd nou vir eens en vir altyd gemaak was.
Ons het ná Xander se aankondiging saam ’n pastorale sielkundige gaan sien en ons leefstyl aangepas. Ons het meer kerk toe gegaan.
Xander het reguit vir die berader gesê hy is gay, hy kan nie met die huwelik voortgaan nie. Ek weer het nog hoop gehad dat ons die huwelik kan red en dat hy dalk van besluit sal verander. Dit was nie die berader se plek om vir ons te sê wat om te doen nie, maar hy het aan ons benadruk: “’n Mens het net hierdie een kans om te leef en dit help nie ’n mens leef in ontkenning nie. Xander het nou sy waarheid aan jou, Nadia, gekommunikeer en jou waarheid is dat jy meen dit is die moeite werd om vir jul huwelik te baklei. Hy skuld jou dit ook.”
Xander het saamgestem. Hoewel Xander sy besluit geneem en gekommunikeer het, was hy ook bereid om my die ruimte en tyd te gee om te kyk of ons dit kan maak werk. Hy sou alles in sy vermoë doen om vir my, en ons, deur die proses te help.
Ons wou nie die dag as ons besluit om halt te roep onsself met vrae teister nie: as ons maar net dit of dat gedoen het … Die berader het ons egter aangeraai om ’n spertyd op ons probeerslag te sit. Hy kon nie vir ons sê wat om te doen nie, maar het ook gemeen ons kon nie onbepaald so aangaan nie. Ons moes vir ons eie beswil ’n besluit maak. Nie een van ons wou ’n onvervulde lewe lei nie. Ons het ooreengekom om dit tot die einde van daardie jaar kans te gee.
Ons het alles wat in ons huwelik aan die gebeur was, stilgehou. Kort ná The Rocky Horror Show het ek aan ’n nuwe musiekblyspel oor die Anglo-Boereoorlog, Ons vir jou, begin werk. Dit was so snaaks, want ek en my hartsvriendin Edrien Erasmus het toe mans gespeel en saans op die verhoog verskyn met ’n snor en ’n baard wat op ons gesigte geplak was.
Ons het grappies gemaak en so hard gelag dat ons snorre afgeval het. Dit was vir my ’n voorreg om in hierdie pragstuk van Deon Opperman saam met my pa, wat die rol van generaal Koos de la Rey vertolk het, te kon werk. Daardie verhoog was my hawe en elke aand wanneer my pa die lirieke van “Hoe sê ’n pa vir sy seun” gesing het, het ek stilweg gewonder: Hoe sê ’n dogter vir haar pa? Ek was nie gereed om hom en my ma by die gebeure en gesprekke tussen my en Xander te betrek nie, want ons het in daardie stadium alles gedoen om die huwelik te maak werk.
Ek het probeer om die beste van die omstandighede te maak. Elke aand wanneer my pa van sy seun moet afskeid neem in die teaterstuk, het ek gevoel hoe iets ook binne-in my sterf, iets wat ek aan die lewe probeer hou het.
My en Xander se huwelik was soos ’n vuurtjie wat ’n mens aan die brand probeer hou het, maar as dit eers dood is, is dit onmoontlik om dit sonder ’n vuurhoutjie aan die brand te steek.
As twee mense ooreenstem en “ja” sê, is dit ’n onverskrokke ja, maar as een dan “nee” sê, beteken die ander een se “ja” nie meer veel nie en dan moet die onderhandelinge begin.
Dit was ’n moeilike tyd, want ons was albei in die openbare oog. Ons moes die heeltyd ’n front voorhou. Ek het gewens dinge kon anders wees, maar ek het geweet dit kan nie. Die realiteit het my elke dag vierkantig in die oë gestaar en ek het bloot die spreekwoordelike sonbril opgesit om die sonstrale van die waarheid af te weer.
Ek was hartseer en verslae. Niks van wat aan die gebeur was, het deel van my toekomsplanne uitgemaak nie.
Ek het nie gedink dit was nodig dat Xander eers met my moes trou om homself uit te figure nie. Ek het gevoel hy moes genoeg guts gehad het om voor die troue met my eerlik te wees. In terugskoue dink ek nie hy kon toe al eerlik met homself gewees het nie en ook nie met my nie.
Xander se besluit het my planne opgemors. By die huis was ons soos twee huismaats. Ons het steeds hard gewerk en die konflik was meestal intern, met onsself. Wat moes ek met hierdie inligting doen? Hoe moes ek dit verwerk? Hoe moes ek sin uit alles maak?
My ontkenning het omgeswaai na teleurstelling. Teleurstelling in myself, in hom, in ons verhouding, in God, in die kerk, in instansies, in sisteme en ek het nie geweet waar om die woorde te vind om te beskryf hoe ek voel nie. Xander se homoseksualiteit het vir my ’n geestelike kwessie geword, iets wat ek gedink het ek net sou kon wegbid. Ek het gevoel hoe moeilik kan dit wees: Kies net! Wees net heteroseksueel, kies dit net! Ek weet vandag dit is nie so eenvoudig nie.
Dit is ’n ingewikkelde individuele soektog wanneer jy jou seksualiteit bevraagteken. Xander se soektog het my met ’n magdom vrae gelaat. Dit was wel vir my baie insiggewend om met my gay vriende en vriendinne oor die situasie te praat. In my gesprekke met hulle het ek empatie vir Xander se situasie gekry. Hulle het my laat besef dat dit nie so eenvoudig is nie. Een van my vriende het vertel oor die tyd toe hy “uit die kas” geklim het. Hoe bang hy was om sy ouers te vertel en oor sy vrees dat hulle hom sou verwerp. Hy het ook vertel dat hy van kleintyd af gevoel het dat hy dalk gay is, maar hy kon dit nie wees nie.
Ek het besef hoe moeilik dit vir Xander moes wees. Ek moes myself in sy skoene plaas. Sy pa is ’n NG predikant en sy ma is, soos my ma, ook ’n onderwyseres. Hoewel sy ouers nie meer saam is nie, is hulle lieflike en ordentlike mense en is hy baie geheg aan sy gesin. Ek kan my indink dat hy hulle ook nie wou verloor nie. Om nie eens te praat van die samelewing waarin ek en Xander onsself bevind het nie, ’n samelewing waarin selfs Christene mekaar so maklik oordeel.
Uit die perspektief van ’n konserwatiewe Afrikaanse opvoeding