'n Blonde bom. Dihanna Taute. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Dihanna Taute
Издательство: Ingram
Серия: Lehandi-reeks
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174077
Скачать книгу
rel="nofollow" href="#fb3_img_img_459e9b8a-590c-5175-a3e1-57bba7880783.jpg" alt=""/>

      Vroegaand is ek al in die bed, of in hierdie geval op die grond in die tent. Die Vis lê met haar arms oor haar bors gevou en staar na die dak. Sy doen dit al vir die afgelope vier ure.

      “My ma het vir jou kos gebêre indien jy dalk honger is,” sê ek later en word amper naar van hoe nice ek is. “Ek kan dit vir jou gaan haal as jy wil?”

      Natuurlik sal ek so ’n bietjie Tabasco oorgooi. Of meer, soos in die hele bottel. Tog lyk dit steeds of sy nie eens haar oë knip nie.

      Eintlik moet ek bly wees, want vanaand is die eerste keer dat sy nie kla oor die harde grond of die muskiete, die spinnekoppe, die kos, die weer of enigiets net sodat sy haar eie stem kan hoor nie. Sy het selfs gekla omdat die tent se seil haar hare staties maak. En oor die slegte selfoonsein. Asof iemand na haar sou soek. En natuurlik elke liewe aand gekla omdat sy langs my aan die slaap moet raak.

      Rêrig? Wil ék graag elke aand in háár baberbek en pieringoë vaskyk? Dit alleen is genoeg om van nagmerries te kry.

      “Waaraan is jou ma oorlede?” waag ek beleefd, aangesien ek al vir maande daaroor wonder, maar verwag geensins ’n antwoord nie.

      Haar kop draai effens na my toe. “Brain aneurysm,” antwoord sy kortaf en kyk terug na die tent se dak.

      “Ek’s jammer,” fluister ek en vou my arms agter my kop en staar ook na die dak.

      Omdat ek niks beters het om te doen nie, tel ek die skape wat in my kop oor die maan spring terwyl ek met my groottoon tydhou.

      “Ek’s jammer Garth het jou gelos,” sê sy, drie-en-negentig skape later. “Julle was nogal ’n oulike couple. As jy Beavis and Butt-head kan oulik vind.”

      Vir die eerste keer sien ek haar met ’n opregte glimlag in my rigting kyk. Definitief iets wat my uit die bloute vang en my stom na haar laat staar.

      “Kom jy saam?” Haar oë glinster.

      “Waarheen?”

      “Strand toe. Dis mos ons laaste aand vir sout ruik en simpel wees. Aangesien ons binnekort die (met haar vingers maak sy hakies) grootmenswêreld gaan betree.”

      Ek proes-lag en skud my kop. Sy kan sekerlik nie ernstig wees nie?

      Priscilla spring op, rits die tent oop en gee my ’n laaste “kom nou” kyk voor sy die donker in verdwyn.

      “Wag vir my,” fluister ek terwyl ek hande-viervoet by die tent uitkruip.

      Die karavaan se lig is nog aan. Verlangs hoor ek ’n radio speel en Ma se stem terwyl sy met Barry raas. “Ons het nie verniet sonbrandmiddel gekoop nie, jy moes jou gesig gesmeer het!”

      In my gedagtes sien ek Barry sug en sy kop skud, soortvan hoe ek onthou my pa die situasie sou hanteer het. Maar die gedagte is van korte duur.

      “Toe, kom jy?” vra Priscilla fluisterend, reeds tien treë verder.

      Die res van die kamp is stil, aangesien meeste vakansiegangers al huis toe is.

      Tussen ’n paar tente deur, struikelend oor bosse en los klippe en te danke aan die effense lig wat ’n karavaan oor die paadjie gooi, bereik ons die strand.

      Ek speel met my tone tussen die sand terwyl ek ’n diep teug vars, souterige seelug inasem. Priscilla giggel langs my, draai soos ’n kleuter wat probeer dronk raak en val op haar rug teen ’n sandduin.

      “Jy’s eintlik cool,” sê sy later en ek kan sweer dis die soutreuk wat haar brein aantas.

      “Thanks,” fluister ek en sak langs haar op die sand neer. “Jy’s eintlik ook nie te bad nie,” voeg ek by, maar net uit goeie maniere.

      “Het jy weer iets van hóm gehoor?” En met “hom” weet ek sy praat van my Engelsman.

      “Gister en eergister en die dag voor dit, maar nog nie vandag nie,” antwoord ek met my arms agter my kop ingevou. “Kyk!” gil ek opgewonde. “’n Verskietende ster!”

      Ek maak my oë toe en wens. Ja, oukei, ek weet dis kinderagtig, maar ’n mens sonder drome is dood, het my ouma Hanna altyd gesê.

      Ek glimlag by die gedagte aan Leithanie Johanna Diedericks, ’n ouma wat na aan my hart was. As dit nie vir al haar sêgoed was nie, het ek al inmekaargesak die dag toe ek uitgevind het my pa het my ma verneuk. Ek sou ook nie die trek vanaf Theunissen na Pretoria toe oorleef het nie en nog minder die een toe ek en Ma alleen Welkom toe getrek het. My ouma was ’n besondere stukkie mens, enig in haar soort.

      “Waarvan droom jy so?” ruk Priscilla my terug hede toe.

      “Sommer niks,” antwoord ek verleë.

      Om op die strand te lê onder ’n hemel vol sterre en van jou ouma te droom is dalk, na die Vis se smaak, ’n bietjie weird.

      “Niks! En jy smile so?” Priscilla stamp my liggies met haar elmboog en frons. “Wat wou hy toe hê?”

      Ek kan haar nie kwalik neem dat sy nuuskierig is nie, dit loop in ons familie, al is dit nou haar nuwe soon-to-be familie.

      “Ag, sommer net dat hy my mis.”

      “Wat? Maar hy het jou dan gelos.” Sy draai op haar sy en stut haar kop met haar hand. Haar geelgroen oë blink in die maanlig.

      Sy kan nogal mooi wees as sy die dag nice is, dink ek, maar skud gou weer die gedagte af.

      “I know, weird, nè?”

      “Gaan jy hom terugvat?” Haar wenkbroue lig belangstellend.

      Ek frons. “Terugvat?”

      “Ja, terugvat. Hoekom anders stuur hy nog vir jou boodskappe? Hy het duidelik sy flippen fout agtergekom. Deesdae skop ’n mens nie ’n ordentlike meisie agter elke klip uit nie.”

      Ek haal my skouers op, sug en staar terug na die sterre. Garth terugvat? Dis iets waaraan ek nog nie gedink het nie. Dat ek hom graag wil terug hê, miljoene kere al, maar terugvat? My kop sê ek weet nie, maar my hart sê vir freaken seker!

      “Matriek, huh? Kan jy dit glo?” vra Priscilla en draai terug op haar rug. “Moet net nie dink ek gaan nou jou handjie by die skool vashou nie. Ek het ’n lewe. En ’n reputasie om te handhaaf,” skerts sy en glimlag skeef.

      ’n Vaak, glibberige, vlak, visserige reputasie! Rêrig?

      “Kom jy saam?” roep sy skielik hier langs my.

      “Waarheen?” kry ek ook net betyds uit voor my mond oopval en ek die seesand op my onderlip proe.

      Die Vis is besig om net daar, op die strand, haar klere uit te trek. Poedelnakend draf sy die golwe in.

      “Is jy ’n sissie?”

      “Nee, is jy mal!” skree ek nadat ek met al my krag my kakebeen van die sand opgetel het.

      Dat die Vis beter gebou is as ’n supermodel sou ek nooit kon raai nie. Nie dat ek al ooit tyd spandeer het aan die gedagte aan ’n kaal Vis nie, maar ’n FHM-model is dalk ’n beroep wat sy maar mag oorweeg.

      “Ag, kom nou. ’n Mens is net eenmaal jonk!”

      Net toe tref dit my: Die Vis het guts, terwyl ek so droog is soos ’n bokkom. Ek gee my ma die skuld. Haar slegte gene.

      Omdat die gedagte vir ewig by my sal spook, spring ek op en gil iets in die lyn van “Dis malligheid!”

      My hande bewe, maar tog kry ek my slaaphemp oor my kop gepluk. Dank wie-ook-al wat besluit het ’n bra is ’n ongesonde ding om in te slaap. My hande sou nooit die hakies met hierdie bevrore vingers kon losmaak nie. So asof die winter ons skielik in Januarie kom oorval het.

      Sonder enige gewaad hardloop ek, arms uitgestrek en swaaiend bo my kop, die water tegemoet. “Dis te koud!” gil ek bo die gedruis van die golwe.

      Die Vis lag