Hasukkah shel David. Marzanne. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319975
Скачать книгу
laat.”

      Toe dit stil word in die seuns se kamer, skink Marc vir hom ’n stewige glas rooiwyn en hulle gaan in die woonkamer sit. Dis Shabbat en die televisie word nie aangeskakel nie.

      Rivkah, wat die oggend gewerk het, lig vermoeid haar hare van haar skouers op en vat dit agter haar nek saam. “Dit was ’n verskriklike week,” sê sy, “en dit gaan nie beter raak in die week wat voorlê nie.”

      “Ek dink ook nie so nie.”

      Sy soek in haar werktas se sysak en trek ’n sakboekie uit, slaan dit oop en lees: “Saterdag die 10de – vier mesaanvalle in Jerusalem. Gewelddadige protes. Sondag die 11de – vier mesaanvalle in Hadera. Vroueterroris laat brandbom ontplof, twee polisielede beseer. Maandag die 12de – drie mesaanvalle in Jerusalem. Dinsdag die 13de – motor jaag tussen mense by bushalte in, drie dodelike mesaanvalle, 20 gewondes. Woensdag die 14de – 70-jarige vrou met mes oorkant sentrale busstasie aangeval en ernstig gewond. Donderdag die 15de – 13-jarige Palestynse seun wond twee mense ernstig in Pisgat Ze’ev.” Sy kyk na Marc. “Dit is die een van wie Abbas aan die pers gesê het dat Israel hom koelbloedig vermoor het, maar intussen word hy in die Hadassah Mediese Sentrum verpleeg.”

      “Ek het daardie toespraak van Abbas vanoggend hier op die Palestynse televisie gesien. Hy het letterlik gesê Israel het die kind Ahmed Manasra koelbloedig tereggestel ‘net soos hulle doen met ander kinders in Jerusalem en in ander Palestynse gebiede’. ”

      “Die waarheid is dat hy deur ’n motor raak gery is toe hy deur die strate in Pisgat Ze’ev gehardloop het. Hy is beseer, maar beslis nie dood nie. Hy en sy neef Hassan Manasra se amok met yslike slagtersmesse deur die strate is deur kringtelevisiekameras vasgelê,” sê Rivkah.

      “Abbas se aanhitsery is net ongelooflik vir iemand wat sogenaamd ons vredesvennoot is. In dieselfde toespraak beweer hy Israel probeer ’n godsdienstige oorlog begin. Dat ons die status quo op die Tempelberg wil verander sodat die Jode ook daar kan aanbid. Dít sê hy ten spyte daarvan dat Bibi herhaaldelik gesê het Israel sal nooit so iets doen nie.”

      “Ek hoor by Re’uven dat Ze’ev Elkin gesê het Abbas, die hoofaanstigter van terreur, behoort self soos ’n terroris behandel te word.”

      “Ek sou so dink,” sê Marc. “Ek sien hy het darem vandag gesê die brandstigting by Josef se graf het te ver gegaan. Dit was eers nadat John Kerry hom daaroor aangespreek het.”

      “Kerry!” sy blaas deur haar neus. “Wie steur hulle aan hom? Dit gaan eenvoudig net voort. Daar was vandag weer ’n mesaanval op ’n soldaat in Jerusalem. ’n Polisiehond het genadiglik ’n pypbom ontdek wat in Oos-Jerusalem gestel is om die veiligheidspolisie daar naby die lug in te blaas.”

      Marc lê sy hand oor hare. “Chamudah, ek is bekommerd oor jou. Nie net oor die omstandighede waaronder jy werk nie, maar die geweldige stres.”

      Sy sug weer, neem sy hand en druk dit vir ’n oomblik teen haar mond. Toe vra sy sag: “Is dit die tyd en die plek om nog ’n kind die wêreld in te bring, Marc?”

      Hy trek haar in sy arms. “Rivvie, as HaShem, baruch Hu, so vir ons besluit het, kan dit dan die verkeerde tyd wees?”

      Sy antwoord hom nie.

      Hy soen haar sag teen die kant van haar gesig. “Hmm?”

      “Seker nie.”

      Hoofstuk 3

      Jerusalem

      19 Oktober 2015

      Hadassah gaan haal die seuns nou smiddae by die skool, aangesien Rivkah se skof weens die verlengde werksure eers ná drieuur eindig. Soms maak sy nog later klaar. Toe Marc dus ’n uur ná hulle tuis kom, het Yhoshi en Natan klaar geëet en is Rivkah nog nie by die huis nie.

      Yhoshi kom by Marc staan waar hy sit en koffie drink. “Abba, ek moet ’n essay doen.”

      “Waaroor?”

      “Nu,” die kind sug, “oor hoe ek op die oomblik oor my land voel.”

      “Nou toe nou. En hoe voel jy?”

      “Ek weet nie …”

      Ek ook nie, dink Marc, maar hy sê dit nie. Hy dink ’n rukkie na terwyl hy sy koffie klaar drink.

      “Weet jy,” sê hy ná ’n rukkie, “daar is oor ’n paar minute ’n heruitsending van Bibi se personderhoud verlede Donderdag. Kom ons luister wat hy sê. Dalk kry jy dan ’n idee wat om te skryf.”

      Yhoshi knik, maar nie baie entoesiasties nie. Hy gaan haal darem ’n potlood en notaboek.

      “Natani,” Marc kyk na sy jongste kind wat op die mat met Shmu’eli, die wolhaarhondjie, sit, “gaan jy teken?”

      “Kan ek ’n bietjie teken wat ek hoor Bibi sê, Abba?”

      “Dink jy ’n mens kan dit doen?” vra Marc, verras deur die kind se inisiatief.

      “Ek sal kyk, Abba.”

      Yhoshi het die televisie aangeskakel en kort voor lank verskyn die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, voor ’n groep internasionale joernaliste. Hy lyk verrassend ontspanne en selfs in ’n ligte luim.

      “Bibi is nie bang vir hulle nie,” sê Natan gewigtig waar hy met sy sketsboek op die mat voor die televisie plaasgeneem het.

      “Hy maak net of hy nie is nie,” laat sy boetie beterweterig hoor.

      “Bly julle twee nou stil sodat ons kan hoor wat hy te sê het,” sê Marc.

      “Ek gaan eers ’n paar feite duidelik konstateer,” sê die premier vir die joernaliste wat voor hom versamel het. “Laat my dit onomwonde stel: Die huidige terreurveldtog in Israel is die gevolg van voortdurende Palestynse aanhitsing.

      “Eerstens, omtrent die Al-Aksa-moskee en die skandelike bewering dat ons besig is om die status quo te verander of van voorneme is om die moskee af te breek – daar is geen gronde voor nie. Maar nou het ons nog ’n nuwe groot leuen. Hierdie nuwe groot leuen is dat Israel Palestyne teregstel. President Mahmoed Abbas het Israel daarvan beskuldig dat ons ’n onskuldige Palestynse seun doodgemaak het – tereggestel het, soos hy dit noem. Wel, hy is nie dood nie – hy leef. Tweedens, hy is nie onskuldig nie, hy het ’n onskuldige 13-jarige Israeliese seun wat op sy fiets gery het met ’n mes probeer doodsteek. Dié seun is in ’n kritieke toestand. Die Palestynse seun word nou in die Hadassah-hospitaal in Israel behandel.

      “Die enigste manier wat ons hierdie groot leuen en ál die ander leuens kan beveg wat na Israel geslinger word en op Palestynse sosiale netwerke versprei word en daarvandaan oor die hele wêreld, is om te vertel wat die waarheid is. Dit is wat ons vandag gaan doen.

      “Ons vra al ons vriende en alle andere wat bereid is om die waarheid te hoor, om na hierdie feite te kyk en om nie valse ooreenkomste te tref tussen Israeliese burgers en diegene wat hulle met messe aanval en wil doodsteek nie.

      “Baie dankie.”

      ’n Joernalis steek dadelik sy hand op en toe die premier na hom knik, stel hy sy vraag: “Ek het gewonder of Israel oop sal wees vir enige diplomatiese ingryping, insluitend ’n moontlike ontmoeting tussen die eerste minister en president Abbas. En ook of enige buitelandse moondheid soos Amerika al ten behoewe van hierdie kwessie tussenbeide getree het.”

      Hierop antwoord die premier: “Ek vra voortdurend vir so ’n ontmoeting, insluitend in my onlangse toespraak in die VN. Ek is ook nou volkome oop daarvoor. Ek het met John Kerry en ander leiers daaroor gepraat. Ek glo dis potensieel nuttig, want dit kan ’n einde bring aan die vlaag aanhitsing en die valse aantygings teen Israel. Dus, ek sal oop wees vir ontmoetings met Arabiese leiers en die Palestynse leierskap in ’n poging om hierdie aanhitsing stop te sit en die ware feite op die tafel te kry.”

      Nog ’n hand gaan omhoog. “Ek wil u graag vra … Daar word berig sommige mense is ontsteld oor wat in Duma gebeur het, die brandstigting in Duma … En ek wonder of dit nie vir die