Ivan Botha
Ivan Botha is op 13 Desember 1985 gebore en wou altyd in die filmbedryf werk. Van sy eerste films was die Bakgat-reeks, Superhelde en Getroud met Rugby, waarin hy homself gespeel het. Hy en Donnalee werk heerlik saam en hul tweede spanpoging, Vir Altyd, bewys dat hulle nie net as skrywerspaar nie, maar ook as akteurs, goed by mekaar pas.
François Bloemhof
François Bloemhof het in 1991 op die Suid-Afrikaanse literêre toneel verskyn as De Kat-pryswenner met sy debuutroman, Die nag het net een oog. Sy volgende drie publikasies was almal op ’n manier spanningsverhale, voor moeilik klassifiseerbare tekste soos Storieroman, Hostis en Klipgooi.
Omdat jonger lesers van sy publikasies gehou het, het hy ook spesifiek vir hulle begin skryf, met soveel sukses dat hy ’n ruk lank net daarop gefokus het. Hy het gou ’n klomp ATKV-veertjies (’n kompetisie waarin jong lesers self hul wenromane aanwys) op sy rak gehad, asook pryse vir die tienermark, waaronder vir Slinger-slinger en Nie vir kinders nie (in Tafelberg en Sanlam se Jeuglektuurwedstryd) en Stad aan die einde van die wêreld (in die Maskew Miller Longman Literêre Kompetisie).
Nadat hy vyf jaar lank nie vir die volwasse mark iets gelewer het nie, het Bloemhof teruggekeer na die genre waarmee hy begin het met Spinnerak, met Alma van der Pool as die heel eerste vrouespeurder in Afrikaanse fiksie. Sy maak weer so in Jagseisoen (2007). In 2016 het hy 62 publikasies agter sy naam! Hy het na die fliek Pad na jou hart gekyk en besluit dat dit in ’n roman verander moet word.
Met verwysing na wat Alfred Hitchcock eenmaal gesê het, het Bloemhof al opgemerk: “Party mense skryf slices of life. Ek het nog altyd slices of cake verkies.”
Ten slotte
Hoewel dit lekker is om na ’n film te kyk, is dit nodig om ook die teks van ’n roman te verstaan. In ’n roman kan jy jou verbeelding vrye teuels gegee en dikwels word goeie woordspel, woordkeuses en humor, wat maklik in ’n film gemis word, duidelik gemaak. ’n Mens kan ’n roman ook enige tyd, enige plek geniet, terwyl ’n mens elektrisiteit, ’n skerm en ’n film nodig het om die film te kan kyk. Eers wanneer ’n mens albei gelees en gesien het, kom kruip die verhaal natuurlik lekker in jou hart in. Lekker lees en kyk!
Die uitgewer en samesteller
Hoofstuk 2: Intrige − vaslegging van die verhaal se verloop
Inleiding
Iets gebeur iewers met iemand ... en iemand vertel dit.
Is hierdie stelling nie waar van enige storie of fliek wat jy nog ooit gelees, gehoor of gekyk het nie? In dié studiewerkgids gaan ons inderdaad met hierdie frase werk om die roman en die film te verstaan en te geniet.
•Iets gebeur: Wat gebeur? Hoe verloop die storie? Wat is met ander woorde die intrige of die plot van die verhaal?
•Iewers: Waar gebeur dit? Wanneer? Hoekom juis daar? Ons praat van die ruimte en tyd waarteen die verhaal afspeel.
•Iemand: Met wie gebeur dit? Wie is die karakters in die verhaal?
•Iemand vertel: Watter soort verteller het ons in die verhaal? Hoe wil die verteller hê ons moet dit interpreteer?
Die gebeure is die wat en die hoe in ’n verhaal. Alle gebeure vind plaas in tyd: in ’n bepaalde historiese tyd (byvoorbeeld die Middeleeue of in hierdie geval hedendaagse Suid-Afrika). Die leser rekonstrueer die gebeurtenisse logies in sy verbeelding en rangskik die gebeure chronologies al word die gebeure nie chronologies vertel nie. In Pad na jou is die vertelling heeltemal chronologies.
Wat is die verskil tussen die storie en die intrige?
Storie | Intrige |
Dit is die gebeure in die volgorde waarin dit gebeur. | Dit is die volgorde van gebeure volgens die fases van ’n tipiese intrige.Die skrywer kies doelbewus ’n spesifieke volgorde van gebeure om byvoorbeeld spanning te skep of kan sekere dinge verswyg.Die skrywer kies en kombineer gebeurtenisse. |
Kom toer saam!
Hierdie roman vertel ’n fiktiewe verhaal. Die verhaal is ’n ontdekkingsreis, nie net fisiek nie, maar veral ook geestelik. Hierdie roman is ook ’n reisverhaal, want die leser toer eintlik saam met die twee karakters deur Suid-Afrika.
Die roman én die film ontwikkel chronologies (van die begin tot die einde) en verloop presies soos wat die tradisionele intrige verloop: eksposisie, motoriese moment, verwikkeling, ontwikkeling, krisis, klimaks (motoriese moment), afloop en ontknoping.
Die eksposisie of die uiteensetting van ’n roman (of ’n film) stel ons voor aan die noodsaaklikste besonderhede van die karakters, omstandighede en plek waar die verhaal afspeel. Dan gebeur daar iets wat die gebeure aan die gang sit en ons noem dit die motoriese moment in die roman of film. Die verwikkeling is die gedeelte ná die motoriese moment waar ons kennis maak met meer besonderhede oor die karakters, omstandighede en ruimte as in die eksposisiefase. Hierna volg die verskillende ontwikkelingsfases. Botsing tussen karakters begin onafwendbaar lyk. Uitendelik is daar ’n krisis wat gewoonlik die voorganger van die klimaks of hoogtepunt van die verhaal is. Die krisis is dikwels ’n innerlike of uiterlike botsing tussen twee partye en die spanning en emosie bereik dan ’n hoogtepunt in die klimaks. Die klimaks is dikwels ’n oorwinning of ’n belangrike keuse wat gemaak word. Dit is in elk geval ’n oomblik van hoë intensiteit en opwinding. As gevolg van die sameloop van al die gebeurtenisse is dit onafwendbaar, daarom is dit ook geloofwaardig – selfs al is dit tragies of skokkend vir die leser.
Hierna neem die storielyn ’n wending na die een of ander kant toe (die afloop) en die spanning neem af namate die oplossing duideliker word in die ontknoping.
Kyk na die volgende voorstelling van die fases in die intrige:
In die volgende tabel kan jy presies sien waar word watter gedeelte van die bogenoemde intrige in die roman beskryf.
Intrige | Hoofstuk | Bl. | Hoofgebeure |
Eksposisie | 1−6 | 29−46 | Voorstelling aan Basson junior en senior en die omstandighede |
Motoriese moment | 7−8 | 47−53 | Basson senior se uitdaging aan Basson junior |
Verwikkeling | 9−22 | 56−98 | Clarens; Amory kom in die prentjie; Vanderkloofdam |
Ontwikkeling 1 | 23−29 | 99−123 | Basie se plasie |
Ontwikkeling 2 | 30−38 | 127−154 | Amory se ma in Murraysburg; Fraaiuitzicht-tehuis vir bejaardes |
Ontwikkeling 3 | 39−43 | 157−174 | Knysna; Meksikaanse piekniek; Maanligfees |
Krisis | 44−46 | 177−185 | Hein vind hulle |
Klimaks | 47−49 | 186−191 | Betyds by hospitaal en begrafnis? |
Ontknoping en afloop | 50−56 | 195−210 | Vind mekaar; saam in woonstel in Sandton |
Hier volg nou ’n kort opsomming van die verskillende fases van die intrige. Kommentaar sal ook, waar toepaslik, gelewer word op die verskille en ooreenkomste tussen die roman en die film.
Eksposisie
In die begin van die verhaal (in die roman word hierdie gedeelte Voor die tyd genoem) leer ons Basson van Rensburg junior en senior ken en kom agter dat hulle nie ’n goeie pa-seun-verhouding het nie. Ons leer ook baie vlugtig vir Hein en sy motorfiets ken.
In hoofstuk 1 maak ons kennis met die 27-jarige Basson van Rensburg junior. Hy is aantreklik, ryk, suksesvol – en hy weet dit!
In