Best Books Studiewerkgids: Pad na jou hart Gr 10-11 HT en EAT. Alta Engelbrecht. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Alta Engelbrecht
Издательство: Ingram
Серия: Best Books Study Work Guides
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9781776070725
Скачать книгу

      Best Books Studiewerkgids:

      Pad na jou hart

       vir Graad 10–11

       Huistaal en Eerste Addisionele Taal

      Saamgestel deur Alta Engelbrecht

BB_logo

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van die Best Books Studiewerkgids: Pad na jou hart vir Graad 10-11 Huistaal en Eerste Addisionele Taal kan verskil van dié van die gedrukte weergawe, afhangende van die instellings op jou leser. Die uitleg vertoon optimaal as jy die standaard instellings op jou leser gebruik. Lesers kan eksperimenteer met die instellings om die vertoning te verbeter.

      Die bladsyverwysings in hierdie uitgawe verwys na die bladsye in die gedrukte roman.

      Hoofstuk 1: Hoe om dié studiewerkgids te gebruik

      Inleiding

      Die doel van hierdie studiewerkgids is om jou te help om dié roman en film te verstaan en te geniet sodat jy goed kan vaar in jou toetse en eksamens.

      •Hierdie studiewerkgids is eerstens geskryf vir Graad 10 Huistaal- (HT-) leerders.

      •Daar is egter ook oefeninge spesifiek vir Eerste Addisionele Taal (EAT) en dit word so aangedui. Ons stel voor dat HT-leerders eers die EAT-oefeninge doen en daarna die moeiliker HT-vrae.

      Die studiewerkgids word aanvullend tot die leesgids in die roman gebruik. Die leesgids bied inleidende besprekings oor die verhaalelemente, die verloop van die verhaal, woordverklarings en verrykingsaktiwiteite. Die inligting in die leesgids dien dus as die basiese feite en inligting wat nodig is om die roman te ontleed, terwyl die studiewerkgids jou help en stap vir stap lei om dieper in die roman en film te delf.

      Benadering tot die bestudering van letterkunde

      Letterkunde is soveel meer as net woorde op ’n bladsy. Dis ’n spreekwoordelike reis, nie net omdat daar ’n storie is om te vertel nie, maar ook ’n reis waarin emosies ontdek word, die verbeelding wakker gemaak word en die leser aan nuwe dinge en plekke blootgestel word. Letterkunde gaan dus nie net oor die inhoud van die roman nie, maar ook oor die bydrae wat dit tot ons menswees lewer. As ’n mens dan ook nog die motiewe en simboliek in die roman verstaan, word dit ’n onvergeetlike leeservaring.

      Pad na jou hart is ’n lekkerlees, toeganklike roman, interessant en geskryf in ’n eietydse Afrikaans waarmee jong mense hulle kan vereenselwig. Daar is ook baie verskuilde simboliek en lewenslesse in die roman. Hierdie studiereis kan sommer ook die pad na jóú hart wees! Kom ons pak hierdie reis tree vir tree aan. As jy bybly by die tempo en oefeninge in hierdie studiewerkgids, gaan jy die vermoë ontwikkel om fyner te kyk na taal, betekenis en simboliek. Jy sal ervaar hoe jou interpretasievermoë verbeter en dat jy standpunte kan motiveer. Jy sal jou taal beter, meer verbeeldingryk en meer intelligent leer gebruik omdat jy aan die verskuilde betekenisse en funksies van woordkeuses, deurlopende motiewe, simboliek, klank en kleur blootgestel gaan word. Dit alles sal bydra om jou insig, interpretasie en kreatiwiteit te ontwikkel. Die reis deur hierdie roman gaan ’n persoonlike belewenis word!

      Die struktuur van dié studiewerkgids

      Die gids bestaan uit ses verskillende hoofstukke. Hoofstuk 1 verduidelik vir jou hoe ons te werk gaan om Pad na jou hart te ontleed. Dit bied ook agtergrondinligting oor die skrywers, die akteurs en die benadering tot letterkunde. Laastens word die verskil tussen die roman en die film bespreek.

      Moet ek die roman lees as ek die film gesien het?

      JA! Want die vrae kom uit die roman! Die film is aanvullend en verrykend tot die roman.

      In hoofstuk 2 gaan ons net kyk na die intrige (plot). Die doel van hierdie hoofstuk is om die inhoud vas te lê. Ons wil seker maak dat jy wel die roman gelees en die film gekyk het. In die leesgids is daar ’n algemene opsomming van die storie, maar in hierdie hoofstuk gaan ons die inhoud bespreek volgens die verskillende fases van die intrige.

      Intrige

      Die storie is die “wat gebeur?” en die intrige is die “hoe gebeur dit?” in ’n verhaal.

      In Pad na jou hart ervaar Basson baie dinge wat hom uiteindelik as mens laat verander. Hoe vind al hierdie dinge wat gebeur, plaas?

      Spesifieke hoofstukke en bladsye gaan vir jou gegee word om te lees. Ná elke fase word getoets of jy inhoudelik genoegsame kennis en begrip toon. As jy swak vaar in die toets, moet jy teruggaan en weer die gedeelte lees tot jy die verlangde kennisvlak bereik. Die vrae is nie bedoel om jou uit te vang nie. Dit is maklik en wil net nagaan of jy wel die storie gelees het en seker is van hoe die verskillende gebeure in mekaar steek. Hoewel jy nie in die eksamen blote inhoudsvrae gaan kry nie, is dit belangrik dat jy jou feite reg het omdat jy hierdie feitekennis in die kontekstuele vrae en langvrae gaan benodig om jou argumente te staaf. Daarom is hierdie hoofstuk die grondslag waarop al die ander hoofstukke bou.

      Hoofstuk 3 bestaan uit kontekstuele vrae uit die belangrikste hoofstukke. ’n Uittreksel uit die roman word gegee, waarna daar vrae oor die gedeelte gevra word. Hierdie vrae tel in die eksamen 25 punte en is opgestel na aanleiding van die vereistes van die KABV.

      Die benadering tot die Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring:

      Dit beteken dat daar ’n beleid en ’n toepassing van die beleid is vir Graad 10 wat presies aandui wat ’n Graad 11-leerder behoort te weet en te kan doen.

      Daarom sal die vrae lyk net soos die vrae wat jy in die eksamen te wagte kan wees. Die verskillende kognitiewe vlakke (byvoorbeeld memoriseer, toepassing, analise of evaluering) word by die vrae aangedui. Woordeskatuitbreidingsoefeninge wissel die kontekstuele vrae af. Daar is vrae vir HT- én EAT-leerders by elke uittreksel.

      Hoofstuk 4 gee aandag aan die ander elemente van prosa soos karakters, dialoog, konflik, ruimte, temas, simboliek en die vertellersrol. Al die nodige teorie hieroor word bespreek. By elke prosaelement sal daar ook kortvrae wees wat jou help om op koers te bly.

      In hoofstuk 5 beweeg ons na die langvraag of sogenaamde letterkundige opstel, wat ook deur die kurrikulum vereis word. Hier gaan jy nou toepas wat jy in al die vorige hoofstukke geleer het. Die struktuur, skryfproses, moontlike temas vir HT én EAT asook moontlike antwoorde sal jou begelei om te voldoen aan die vereistes om so ’n langvraag te kan beantwoord en skryf.

      In hoofstuk 6 word die filmweergawe bespreek. Die verskil tussen die roman en die film, asook kamerategnieke en ander aspekte van visuele geletterdheid word ondersoek.

      Aan die einde van die studiewerkgids is daar ’n glossarium van literêre begrippe, amper soos ’n woorderoman wat al die noodsaaklike terminologieë en definisies verskaf as jy dalk wil seker maak oor iets. Dit sluit definisies aangaande die roman en die film in. Al die antwoorde van die kontekstuele vrae wat in die studiewerkgids gevra word, is op die uitgewers se webtuiste beskikbaar.

      Agtergrondinligting oor die skrywers

      Donnalee Roberts en Ivan Botha het saam die teks vir die film geskryf. Daarna het hulle vir François Bloemhof gevra om die film te verwerk na ’n roman.

      Donnalee Roberts

      Donnalee glo: “Jy kan nie altyd jou omstandighede kies nie, maar jy kan kies hoe jy op jou omstandig­hede reageer.”

      Donnalee Roberts het in Witbank, Mpumalanga, grootgeword en nadat sy matriek behaal het, het sy na Pretoria verhuis. In 2006 verwerf sy haar BA Drama-graad aan die Universiteit van Pretoria, waar sy ook as Joolkoningin gekroon is. Sy verwerf bekendheid vir haar rol as “Annelie” in die bekende sepie 7de Laan in 2007. Donnalee werk hard en voltooi ’n tweejaar-diploma aan PALI, reis na Amerika waar sy ook ’n kursus in filmwerk voltooi en lewer menige studenteproduksies. Sy en Ivan skryf saam aan