2
Iets rym nie, dink Louise nog kortasem van skrik en sy betrag die twee kinders op die rusbank agterdogtig maar ook simpatiek. Wat het ’n nuwe tuiste vir hulle oom Lafras met hulle toekoms te doen, wonder sy verward. En nog belangriker, waarom glo die kinders dat sy, ’n ongetroude grade-onderwyseres, verblyfplek aan hulle oom Lafras sal gee? Is dít wat Eben Griesel haar aangedoen het? Lyk sy nou al soos ’n meisie wat huisvesting aan wildvreemde mans bied?
“Dis rêrig nie Oom Lafras se skuld dat hy vlooie het nie, tannie,” sê die seuntjie, ’n knapie van ongeveer agt, met dieselfde donker hare en oë as sy sussie. “As ons stiefma nie so lui was om haar hande in koue water te steek nie, kon sy lankal Oom Lafras in ’n warm bad geprop het.”
“Werklik?” vra Louise verbyster, besef dat haar stem soos die yl geblêr van ’n boklam klink, en sy kug voordat sy herhaal: “Werklik?”
Nie een van die twee reageer op haar vraag nie, en sy kyk byna verlig na die steekhaarbrakkie wat met hernude ywer ’n vlooi van agter sy een oor probeer afkrap.
“Daar doen hy dit al weer! Hy krap sy vlooie in my huis af. Vat asseblief julle hond hier uit,” beveel sy met haar onderwyseres-stem en sy voel al klaar dat sy begin jeuk.
“Dan is tannie ook ’n stiefma?” vra die dogter, haar stem vol bittere verwyt. “Wil tannie nie vir Oom Lafras hê nie?”
“Maar wat het julle oom Lafras … ?” begin Louise onthuts, maar word deur die seuntjie in die rede geval:
“As tannie net vir Oom Lafras bad, sal al sy vlooie versuip, en dan is hy ’n skoon hond. Ons wou hom bad, maar toe jaag ons stiefma ons uit die badkamer uit en sê honde mag nie in ons bad bad nie, en ons stiefpa sê dis waar, want hy sê alles wat ons stiefma sê. Nou gaan ons stiefpa ons seker weeshuis toe stuur, want tannie wil mos nie vir arme Oom Lafras bad nie.”
Louise luister met ’n gevoel van toenemende ongemak en verwarring na die seuntjie se uitlatinge oor sy gesinslewe, en wonder wat sy sal doen as die gevreesde stiefouers onverwags hulle opwagting maak.
“Dan is julle hond se naam Oom Lafras?” vra sy en slaag daarin om ’n afgewaterde glimlaggie op te roep terwyl sy eers haar nek en dan haar arm krap.
“Ja, tannie,” beaam die dogter. “Ons het hom drie dae gelede langs die pad gekry, maar ons het hom eers in ’n buitekamer toegesluit totdat ons ’n kans kon kry om hom te bad. Gister het die skool gesluit en ons stiefma het gesê sy gaan stad toe, want sy werk in die stad. Maar sy het gejok, want net toe ons Oom Lafras in die bad wou sit, toe kom sy binne en skree en raas asof Oom Lafras ’n padda in plaas van ’n hond is.”
“O,” sê Louise flou, nog nie seker wat om van die situasie of haar ongenooide besoekers te dink nie. Sy neem op die gestoffeerde stoel naaste aan haar plaas en blik belangstellend na die kinders.
Hulle is albei goed geklee hoewel nie een van hulle baie skoon is nie, en dit lyk byna asof hulle met mekaar meeding om die maerste te wees. Maar maer kinders is nie altyd verwaarloosde of ondervoede kinders nie – sy is self haar lewe lank ’n graat hoewel daar altyd oorgenoeg voedsame kos in haar ouerhuis was.
Elke kind hou van die dramatiese – dit het die drie jaar van onderwys haar geleer – en as ’n ouer weier om ’n optelhondjie te huisves, verg dit nie veel verbeelding van ’n kind om ’n doodnormale ouer in ’n stiefpa of stiefma te verander nie. In watter mate het die kinders die waarheid gepraat? wonder sy.
“Gaan tannie die ou huis koop?” wil die seuntjie weet. “Annemarié sê tant Ragie spook hier, maar ek het al gekyk en gekyk, en ek het haar nog nie een maal sien spook nie.”
“Aag, jy kyk altyd te vroeg, man. Spoke loop mos eers na twaalfuur, want dan is dit middernag,” sê Annemarié met ’n meerderwaardige glimlaggie en wend haar tot Louise. “Dawie is sommer nog ’n baba, al was hy Saterdag agt. Ons stiefma wou nie eens vir hom ’n partytjie gee nie, want sy is mos alewig in die stad besig, en ons word verwaarloos,” vertel sy selfbejammerend, swyg nadenkend en vra onverwags: “Is dit lekker in die weeshuis, tannie? Ek het vir my stiefma gesê ek wed dis lekkerder in die weeshuis as hier by haar, maar toe sê sy ek is ’n ondankbare snip. Was tannie al in ’n weeshuis?”
“Nee, ek was gelukkig om my eie ouers te hê. Dan is julle ouers albei dood?”
Annemarié knik bevestigend met haar kop en ’n halfvergete hartseer dryf soos ’n skadu deur haar oë en versomber die uitdrukking op haar hartvormige gesiggie.
“Op slag gedood – dit het in die koerant gestaan en ek het dit self gelees, al het ek toe nog al die woorde gespel. Ek kan nou al goed lees, want ek is in standerd een as die skool weer begin. Ek kan tog beter somme doen as ou Annemarié,” spog Dawie, en Louise besef die dood van sy ouers is vir hom net bysaak in die klein wêreldjie waarin somme ’n belangriker rol as oorlede ouers speel.
“Dawie is nog klein, daarom is hy nie meer hartseer oor Pappa en Mamma nie. En almal bederf hom, omdat hy die jongste is. Eintlik is dit lekker om die jongste te wees, want selfs Lizelle is nooit so naar met hom soos sy met my is nie,” vertel Annemarié, lees die onuitgesproke vraag op Louise se gesig, en verduidelik: “Lizelle is my groot sussie, want sy is volgende jaar in matriek.”
“Ons het ’n groot broer ook, maar hy is al stokoud, want hy is op universiteit en hy gaan ’n veearts word. Gerhard hou van honde, maar hy sê altyd ons moet na ons stiefma luister, daarom moet ons ’n nuwe huis vir Oom Lafras kry,” lig Dawie haar in en swyg betekenisvol, sy blik afwagtend op Louise.
Louise antwoord nie. Sy kyk oorwegend na die steekhaarbrak wat klaarblyklik besef dat hy die fokuspunt van hulle aandag is en skielik ophou krap. Hy draai sy kop effens skuins, spits sy ore en loer hoopvol na haar deur die weelderige boskasie wat oor sy oë groei.
Dis byna asof Oom Lafras weet dat sy toekoms in die spel is, en sy kop draai skewer en sy oë pleit harder, dink Louise. Kan honde met hulle oë bid? wonder sy en die pyn van haar eie verwerping en vernedering loop ’n hartseer paadjie deur haar binneste.
Sy en die steekhaarbrakkie het iets gemeen. Hulle ken verwerping, die pyn daarvan.
Gisteroggend was sy nog ’n jong, selfversekerde onderwyseres, seker van haar eie bekwaamhede, van haar aantreklikheid vir mans. ’n Meisie vasgevang in die silwer web wat liefdesdrome tussen die helder lig van die sterre en maanligstrale weef. Sy het geglo in ’n sonskynmôre, in die onfeilbare liefde van ’n man, in ’n immergeluk wat ’n huwelik bring. Sy het in haarself geglo.
Maar toe kom gister en die naakte realiteit van ’n vuil woonstelgebou wat modderspore in haar siel getrap en haar selfvertroue laat flikker het soos ’n kersvlam in die wind. Dis wat sy geword het, rank die skrynende besef in haar op, soos kerslig in die wind van realiteit, ’n onseker, minderwaardige mens wat vlug van ’n seer wat te groot vir haar is om nou al te verwerk.
Het sy Eben nog lief? vra sy haarself die soveelste maal af, maar krimp ineen voor sy beeld wat voor haar geestesoog opdoem. Sy kan nie aan hom dink nie, wil nie aan hom dink nie, want elke herinnering bring hernude vernedering en pyn, en sy kreun onwillekeurig terwyl sy haar gesig met haar hande bedek.
“Foei tog, is tannie siek?” vra Annemarié bedagsaam.
“Gerhard kan perde en koeie en mense dokter. Moet ek hom gaan roep, tannie?” bied Dawie gretig aan.
“Nee … nee, dis sommer niks,” antwoord Louise verskonend en voel ’n blos van verleentheid oor haar gesig stoot. “Ek het in oorlede tant Ragie se huis kom woon en … aangesien ek heeltemal alleen hier gaan wees, sal ek bly wees as Oom Lafras saam met my hier kan woon. Bly julle hier naby? Sal julle hom darem gereeld kan sien?”
“Sjie, tannie is darem goed vir ons en Oom Lafras!” bedank Annemarié haar met stralende opregtheid. “Ons sal sommer elke dag kom, want ons bly net hier langs tannie.” Sy beduie met haar hand na regs. “Dié kant, want agter die hoë muur is my stiefpa se werkwinkel en die werf waar