SCHALKIE VAN WYK
Lokstem van die liefde
Melodie
1
Louise Barnard hou Eben Griesel dop terwyl sy een lang, smal hand die rathefboom van sy motor na die parkeerposisie verskuif, die handrem tussen die motorsitplekke optrek en die enjin met sy regterhand afskakel.
“Dis die gebou daar skuins links voor ons, my skat. Ons woonstel is op die elfde verdieping,” beduie hy en kyk glimlaggend na haar.
Louise knik met haar kop, haar oë vasgenael op Eben se volmaakte glimlag wat sy perfekte tande vertoon sonder dat lagplooie die gladde oppervlak van sy aantreklike gelaat ontsier.
Haar eie glimlag is byna idioties, dink sy, as sy dit met Eben s’n vergelyk, want om haar oë waaier talle lagplooitjies en soms frommel haar kort, fyn neusie nog kleiner op ook. Sy voel skuldig, selfs effens minderwaardig in die teenwoordigheid van soveel perfektheid.
“Dis nie ’n nuwe gebou nie, maar dis al wat ek op so ’n kort kennisgewing kon kry. Dit lyk darem nie te sleg nie – jou ma behoort dit goed te keur.” Eben se blik rus op die woonstelgebou skuins voor hulle.
Louise kyk na die plek en plooi haar neusie misnoeg, besef wat sy doen, en laat ’n masker van uitdrukkingloosheid oor haar gesig sak. Eben vertel haar al die afgelope vier maande dat dit ’n teken van gebalanseerde volwassenheid is om nie aan impulsiewe gevoelens uitdrukking te gee nie, maar sy slaag nog selde daarin om haar gelaat emosieloos te hou, mymer sy, en voel ’n hinderlike gekriewel in haar binneste. Sal sy ooit daarin slaag om aan Eben se hoë eise en verwagtinge te voldoen? Sy twyfel, loer tersluiks na hom en sug verwese.
“Jy lyk nie baie entoesiasties nie,” merk hy op en laat dit soos ’n aantyging klink.
“O, ek is jammer, maar … ek kyk nog,” antwoord sy skuldig en dwing entoesiastiese belangstelling in haar blik. Dis ’n groot gebou met talle verdiepings en ’n ontstellende aantal vensters, maar haar aanvanklike gevoel van teleurstelling bly, want die plek is vuil. Vuil en stowwerig en vol roet, so asof niemand daarvoor omgee nie.
“Dis maar net nog ’n gebou,” sê Eben ongeduldig langs haar, sy hand reeds op die deurknip.
“Dis jammer ’n mens kan die gebou nie in ’n swembad met seepskuimwater druk nie – jy weet, soos op die televisie,” sê sy ernstig, sien die afkeur op Eben se gesig en probeer glimlag, maar dis ’n volslae mislukking.
Eben neem sy hand weg van die deurknip en kyk na haar met ’n uitdrukking van gedwonge geduld en lydsaamheid.
“Dís wat my so oneindig irriteer van jou, Louise,” sê hy betigtend en lê ’n hand met strengheid eerder as teerheid op haar arm. “Jou sin vir humor herinner aan dié van ’n kind in ’n gradeklassie, daarom is ek dankbaar dat jy eindelik jou pos as onderwyseres bedank het. Wanneer jy eers saam met die meisies in ons kantoor gewerk het, sal jy besef hoe groot jou agterstand is. Soos ek jou male sonder tal al gesê het, onskuld hoef nie noodwendig kinderagtigheid te wees nie.”
Ek is lief vir Eben … ek is lief vir Eben … herhaal sy die woorde soos ’n refrein in haar binneste om haar opstuwende humeur in bedwang te hou. Hulle gaan binnekort trou, want hy het reeds vir hulle ’n woonstel gehuur. Daarby is hy die man wat eendag die besturende direkteur van sy pa se groot in- en uitvoermaatskappy gaan wees, en vanselfsprekend moet sy toekomstige vrou weet hoe om ten alle tye onberispelik op te tree, vermaan sy haarself.
Maar is dit kinderagtig om ’n vuil woonstelgebou in ’n swembad vol seepskuim te wil was? wonder sy opstandig en sug oorwonne. Moontlik wel, want dis die soort voorstel wat haar graadtwee-klassie dikwels aan die hand doen.
“Ek sal graag die woonstel wil sien, Eben,” sê sy met net genoeg belangstelling in haar stem. Sy slaag selfs met ’n klein glimlaggie om te wys dat sy die teregwysing ter harte geneem het sonder om haar te vererg.
Hy druk haar arm liggies, klim uit die motor en stap om sodat hy haar deur kan oopmaak. Sy bly ongeduldig sit en weet dat hy haar net ’n lesing oor etiket sal gee as sy sommer self die deur oopmaak. Maar ’n onverklaarbare gevoel om in trane uit te bars, oormeester haar skielik en sy sluk drie, vier keer swaar.
“Kom, my skat,” praat Eben se stem buite die woelinge van haar emosies en sy doen dit, konsentreer soos ’n drenkeling op sy groot gestalte om die hartseer in haar binneste te smoor.
Eben is ’n besonder aantreklike man met sy silwerblonde hare, donkerbruin wenkbroue en byna swartbruin oë, dink sy. Sy gelaatstrekke is simmetries, sy lippe ’n reguit lyn van vasbeslotenheid, sy ken sterk om by die krag van sy lang, breedgeskouerde gestalte te pas.
Sy is ’n gelukkige meisie om die liefde van ’n man soos Eben te hê, vertel sy haarself terwyl hy haar na die hysbak vergesel.
Haar ma werk al bykans twintig jaar lank as rekenmeesteres by die maatskappy wat aan Eben se pa, oom Ben Griesel, behoort. As kind het haar ma soms vir haar vertel van die jong Eben, maar omdat hy agt jaar ouer as sy was en omdat haar ma en die Griesels nooit sosiaal met mekaar verkeer het nie, het Eben vir haar net altyd ’n naam gebly.
Tot vier maande gelede. Eben het die aand onverwags by hulle huis opgedaag om ’n belangrike dokument by haar ma te kom haal, en sy het voordeur toe gegaan toe hy die klokkie lui. Eben kon nie lank bly nie, want oom Ben het die kontrak dringend nodig gehad, maar die volgende aand het hy weer gekom … en weer en weer.
Hy het nie lank gewag om haar te verseker dat sy die enigste meisie in sy lewe is nie en aan haar eie gevoel het sy van die eerste dag af nie getwyfel nie. Eben is ’n dinamiese mens wat geen teenkanting duld nie, daarom het sy haar pos as onderwyseres bedank en ingestem om van die begin van Januarie af as sy persoonlike sekretaresse by Griesel en Seun op te tree.
Natuurlik as mevrou Louise Griesel, mymer sy, drome wasig in haar oë terwyl sy opkyk na Eben wat langs haar in die hysbak staan. Sy glimlag vir hom. Hy het reeds hul woonstel gekies, hoewel hulle nog nie op ’n troudatum besluit het nie. Maar so het sy Eben die afgelope maande leer ken. Hy dink aan die praktiese dinge en ’n woonplek sal beslis van groter belang vir hom wees as al die beplanning en gepraat en bespiegelinge oor ’n geskikte troudatum en hoe groot die huweliksonthaal sal wees.
“Die gebou is binne baie skoon,” merk sy op terwyl hulle in die lang gang afstap na woonstel 117.
“Vanselfsprekend. Ons is die beste gewoond,” antwoord hy, haal ’n sleutel uit sy sak en sluit die deur oop. Dan kyk hy afwagtend na haar, wag dat sy die woonstel eerste betree.
Sy kyk hoopvol na hom en glimlag halfhartig om haar teleurstelling te verberg. Sy ís kinderagtig, verwyt sy haarself, want net ’n kinderagtige grade-onderwyseres sal hoop dat die man wat binnekort met haar gaan trou, haar in sy arms sal opraap en haar hulle eerste tuiste binnedra.
“Die plek is klaar gemeubileer,” merk sy verras op wanneer sy haar weerkaatsing in ’n vergulde spieël aan die oorkantste muur van die voorportaal sien. Sy bly staan, sien die vreemde turkooisblou van haar oë, die sagte karteling in haar kort, digte, kastaiingbruin hare en die fyn egaligheid van haar gelaatstrekke. Sy lyk vir haarself niks ouer as die agtienjarige matriekdogter wat ses jaar gelede haar skoolopleiding voltooi het nie. Sy is van gemiddelde lengte, maar haar tenger, skraal liggaamsbou gee ’n porseleinagtige fynheid aan haar figuur.
“Ek het gemeen dis beter so … om sommer ’n gemeubileerde woonstel te huur. Om meubels te koop, beteken net ’n onnodige kapitaaluitgawe,” sê Eben steeds agter haar, sy regterhand liggies rustend op haar regterskouer.
Sy kyk op na hom en haar oë ontmoet syne in die spieël. Hulle is ’n aantreklike paartjie, hoewel Eben vanselfsprekend baie meer aandag in ’n geselskap trek as sy, dink sy, liefde en trots in haar glimlag. Sy mondhoeke lig en hy gee haar skouer ’n vinnige drukkie. Dan draai hy van die spieël af weg, asof hy ongemaklik voel onder die oë van sy eie spieëlbeeld.
“Kom ek wys jou die sitkamer. Dis die eerste deur links,” bied hy aan en vergesel haar na die ruim vertrek.
Die meubels is van ’n minderwaardige houtsoort en die materiaal van die kussings het ’n verbeeldinglose sandkleur. Louise byt onwillekeurig op haar onderlip om nie uiting aan haar