“Dit is interessant om te sien hoe kinders die grense toets,” sê ons vir mekaar terwyl ons kyk hoe die kleingoed probeer om met iets onnutsigs weg te kom. Dit is goed om reëls te hê, maar dan moet ons weet wat om te doen wanneer die kinders dit oortree. Sonder duidelike perke het ’n kind geen sekuriteit nie.
Moses en Aäron moet gedurig vure doodslaan. Die leiers kom een na die ander in opstand teen hulle. Nou wil die Here uit genade eens en vir altyd duidelik maak wie Hy as priester uitgekies het. Die leiers van die stamme moet elkeen sy kierie bring. Aäron ook. Dit word oornag in die tent van ontmoeting gelaat. Toe hulle die volgende oggend kyk, het daar ’n wonder gebeur. Aäron se kierie het nie alleen botsels nie, maar ook bloeisels en selfs ryp amandels aan! Dit is duidelik dat hier ’n wonder gebeur het. Moses het nie in die nag die kierie gaan omruil nie. Nou was die leiers oortuig. Hulle vrees selfs vir hul lewe!
Elkeen van ons het ’n eie roeping. Ons hoef nie iemand anders se roeping uit te lewe nie! Tog moet ons nie ons roeping verwaarloos of iemand anders afkraak nie. Ons is mos een span, God se span. Geniet hierdie dag!
GEBED: Here, ek wil vandag deel van u span wees, oral waar ons vandag gaan werk of studeer.
Lees vanaand in Numeri 18:1-7 hoe die Here die verantwoordelikheid van priesterskap op Aäron en sy seuns lê.
DONDERDAG 4 FEBRUARIE 2016
Lees eers Numeri 18:8-11
God se versorging
Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters (18:11).
GESELSVRAAG: Hoe goed word ons leraar en sendelinge versorg?
“My pa skryf ’n paar woorde en noem dit ’n gedig,” spog ’n seuntjie, “en dan betaal hulle hom R1 000 daarvoor.” “My pa skryf ’n boek en dan betaal hulle hom R40 000.” Die dominee se seuntjie wil nie agterbly nie: “My pa skryf ’n paar woorde en noem dit ’n preek en dan vat dit agt mense om al die geld op te neem!” Ja, baie mense dink dat die leraar die kollekte in sy sak steek. Was dit maar so! In die regte lewe kry ons leraars en veral ons sendelinge dit glad nie maklik om hul rekenings te betaal nie.
Die Here het dit anders bedoel. Hy sorg vir die Leviete en die priesters deur die offergawes, omdat hulle nie self kan boer nie. Hulle kry nie plase soos die ander stamme nie. Hul versorging is dus die verantwoordelikheid van die gelowiges wat hul dankoffers bring. Sommige van die offers is baie heilig, en daarom mag net die priesters en soms hul seuns daarin deel. Ander is bedoel vir die hele gesin – en natuurlik ook vir die werkers wat deel van die huishouding is.
Die Here het nie bedoel dat die Leviete en priesters in weelde moet lewe terwyl die res van die volk honger ly nie. Dit is belangrik dat ons almal die verantwoordelikheid dra om vir die kerkleiers te sorg. Ook vir dié wat nog nie ’n sterk gemeente het om hulle te onderhou nie.
GEBED: Here, wys my waar ek u kinders kan ondersteun.
Lees vanaand in Numeri 18:12-19 hoe die gewyde gawes van die gelowiges vir die Leviete en hul gesinne moes sorg.
VRYDAG 5 FEBRUARIE 2016
Lees eers Numeri 18:20-24
Die doel van die tiendes
Ek gee aan die Leviete as hulle besitting die tiendes wat die Israeliete as offergawe aan die Here bring (18:24).
GESELSVRAAG: Hoe bereken ’n mens jou tiende?
“As ons gemeente ’n sendeling in ’n ander land ondersteun, moet hy minstens op dieselfde salarisskaal as ons ander leraars wees,” het ’n Bolandse gemeente se kerkraad besluit. Dit was uitsonderlik. Dit lyk asof mense dink dat sendelinge minder geld nodig het, al moet hulle baie duur petrol op ellendige paaie uitry en hul kinders op kosskool sit. Lewenskoste in ander lande is dikwels heelwat hoër as hier.
Die Here wil nie hê dat mense wat heeltyds in sy diens is, sonder ander inkomste, moet swaarkry nie. Daarom verduidelik Hy hier dat die Leviete deur die dankoffers van die ander onderhou moet word. As elkeen sy deel doen, sal daar niemand wees wat geldelik hoef swaar te kry nie.
Paulus pas hierdie gedeelte toe op die mense wat die evangelie verkondig in die tyd ná Jesus se koms: “Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie? So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang” (1 Kor 9:13-14). Kom ons maak ’n slag seker dat ons leraars en sendelinge – en al die ander wat in die gemeente dien – voldoende ondersteuning kry.
GEBED: Here, help ons om ons deel te doen om ander te help dra.
Lees vanaand in Numeri 18:25-32 hoe die Leviete ’n tiende van hierdie tiendes as hul dankoffer aan die Here gegee het.
SATERDAG 6 FEBRUARIE 2016
Lees eers Numeri 19:1-10
Die regte wasmiddel
Dan moet hy sy klere was en hom bad (19:7).
GESELSVRAAG: Wat is die beste wasmiddel vir klere? Vir mense?
“Dit lyk asof lakverdunner die enigste middel is wat die swart mos van die stort se vloer af verwyder,” sê ons vir mekaar nadat ons verskeie middels sonder sukses gebruik het. Tog word die TV elke dag oorstroom met advertensies van verskillende wasmiddels wat kastig skoner maak as die ander. Dit is nodig om skoon te maak – maar wat reinig ’n mens se hart? Seep werk nie daarvoor nie. ’n Bleikmiddel ook nie.
Die simboliese aksie waarvan ons vanoggend gelees het, vertel hoe ’n rooi koei verbrand is sodat die as as reinigingsmiddel gebruik kon word. Dit was natuurlik nie bedoel as ’n kiemdoder nie, maar as seremoniële reiniging. Sonde bring die dood en daarom maak ’n lyk jou onrein. (Die arme lykbesorgers was gedurig onrein!) Dít het die behoefte aan reiniging vir die volk onderstreep. Dit was bloot ’n simbool van wat Jesus vir ons sou kom doen.
Net soos die rooi koei het Jesus, die onskuldige, sy lewe en sy bloed buite die stad gegee. Op grond van sy bloed is daar nou vir ons die moontlikheid van vergifnis. “Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig” (Heb 13:12). “Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos” (Op 1:5). Dit is genoeg.
GEBED: Dankie, Here Jesus, dat U gewillig was om u lewe vir my te gee. Ek wil vandag ook my lewe opnuut vir U gee.
Lees vanaand in Numeri 19:11-22 hoe die as in die reinigingswater gebruik is om mense weer rein te verklaar ná ’n sterfgeval.
SONDAG 7 FEBRUARIE 2016
Lees eers Psalm 79:1-5
Krisistye
Ons het ’n bespotting vir ons buurvolke geword, ons word gespot en uitgejou deur almal rondom ons (79:4).
GESELSVRAAG: Beteken ’n ramp dat God ons verlaat het? Verduidelik.
“Jy skryf die Sjinese woord vir ‘krisis’ met twee letters. Die een beteken ‘gevaar’ en die ander een ‘geleentheid’,” lees ek in ’n nuusbrief. As ons bloot na die gevaar kyk, dan krimp ons inmekaar van vrees. As ons ook na die geleentheid kyk, dan besef ons dat elke krisis ook ’n geleentheid tot getuienis bied. Dit is die geheim wat Sjinese gelowiges help om staande te bly te midde van swaar vervolging. Die Sjinese kerke stuur selfs sendelinge uit na die mees geslote lande, want hulle skrik nie vir vervolging nie. Hulle besef dit is deel van Christenwees.
Hierdie psalm herinner ons daaraan dat ons nie moet skrik as mense met ons spot oor ons geloof nie. Dit is nie maklik om teen die stroom te gaan nie. Ons sal beslis teenstand kry. Mense sal dink dat ons eienaardig is. Ons kinders word bespot; ons word oor die hoof gesien vir bevordering; ons word uitgestoot en voel dikwels eensaam. Nietemin is die oorwinning uiteindelik ons s’n –