Van Pollsmoor tot prediker. Jaun Truter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaun Truter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780796319197
Скачать книгу
se pa was ’n patoloog. Toe my pa hom roep, kon ek aan die manier waarop hy vir hom geskree het, sien dat daar fout is. Die enigste rede hoekom hulle ooit vir oom Louis geroep het, was as daar ’n mediese noodgeval was.

      Ek het besluit ek gaan nie inmeng nie; my pa was reeds moeilik. Ek was op daardie oomblik nie hartseer of beangs oor die moontlikheid dat my ma dalk dood was nie. Die omstandighede in ons huis was in daardie stadium so sleg dat dit eerder ’n verligting sou wees as sy nie meer daar was nie. Dan kon ek uit die huis padgee sonder dat ek my oor haar sou hoef te bekommer.

      Ek sou later hoor my pa en broer het die slaapkamerdeur oopgeforseer – daar was ’n kas voor die deur geskuif. Toe hulle op die toneel afkom, was ek besig om krieket te speel.

      Selfs toe oom Louis se een dogter vir my kom sê dat ek eerder moet huis toe gaan, wou ek nie. Ek was nie doodseker wat gebeur het nie, maar ek het ’n goeie vermoede gehad en ek wou dit nie face nie. Ek wou nie die toneel sien nie. Ek het in ons geteerde oprit gestaan en kyk hoe die ambulanspersoneel die lyk uit die huis verwyder, maar ek het glad nie in die huis ingegaan nie.

      Ek het daardie eerste dag glad nie gehuil nie. Ek was meer verlig dat dit nou vir haar verby was. Dat sy nou verlos is en nie meer in hiérdie situasie hoef te wees nie. My ma was die een wat alles bymekaar gehou het. Met dié dat sy nie meer daar was nie, kon ek maklik my familie afskryf. Nou kon ek net op myself en op my eie paadjie vorentoe fokus.

      My pa was baie geskok; dit het hom hard geruk. Hy het later die aand, toe ons om die tafel gesit en gesels het, gehuil. Ek kon toe sien dat hy nie bedoel om so ’n moeilike mens te wees nie. Ons al drie was baie hartseer. My ma het ’n groot leemte gelos; haar dood was ’n geweldige verlies vir ons almal.

      Ek sou jare later besef dat my pa se optrede nie nét sy skuld was nie. As kind het hy nie juis ’n beter voorbeeld gehad nie. Sy pa was ook ’n baie moeilike mens. Hy het dus nie geweet hoe om anders op te tree nie en het maar geglo dis hoe ’n man veronderstel is om te wees. Al sy broers is ook so; daar is nie eintlik ’n verhouding tussen enige van hulle nie. Hy het maar gedoen wat hy gedink het reg was. Daardie besef het dit vir my moontlik gemaak om hom later te vergewe.

      Hoofstuk 2

      OP MY EIE VOETE

      Twee weke ná my ma se begrafnis, het ek en my pa weer in ’n stryery betrokke geraak. Toe hy weer sy vinger onder my neus begin rondswaai, het ek hom weggestamp. Hy het gegly en op die vloer geval. Ek het geweet as hy daar opstaan, is daar moeilikheid. Toe maak ek my maar uit die voete en gaan klop aan by ’n tannie wat in ons buurt gewoon het. Sy het probeer om my pa oor die telefoon te kalmeer, maar het later moed opgegee. Ek het ’n paar aande daar by haar oorgeslaap. Sy het later my pa oortuig om die Volla wat hy vir my gekoop het met ’n gedeelte van my ma se erfgeld, vir my terug te gee.

      My broer het die motor voor die tannie se huis kom trek en die sleutel vir haar deur die hek gegee. Binne-in was die meeste van my besittings; dit was duidelik dat die inhoud van my klerekas net so gegryp en in die motor gegooi is.

      Uitgeskop. Nou moes ek ’n plan maak om blyplek te kry. My oom wat in Hermanus gewoon het, het gesê ek kan vir ’n rukkie daar kom bly. Ek het dus soontoe getrek en toe begin werk soek in die Kaap. Ek het elke week ’n paar on­der­houde gereël en dan vir die dag deurgery Kaapstad toe.

      Sowat ’n maand later het een van my vriende ’n bestuur­skool naby die Bellville-treinstasie oopgemaak en ek is as die kantoorbestuurder aangestel. Ek het die Sondagaand vir die laaste keer by my oom-hulle geslaap en is toe die Maandag­oggend terug Kaapstad toe om in te val by die werk.

      Ek het toe nog nie blyplek gehad nie. Daardie eerste aand het ek in die Volla geslaap. Ek kan nog onthou hoe koud ek gekry het. Ek het die Volla by Bellville-stasie, wat agter die kantoor was, geparkeer. Daardie gedeelte is vandag verbou en is nou ’n nagskuiling. Ek vind dit nogal ironies dat daar nou ’n nagskuiling is waar ek soveel jare gelede vir ’n nag of twee geslaap het toe ek geen heenkome gehad het nie.

      Die volgende paar nagte het ek in die kantoor deurge­bring. Daar was gelukkig ’n bank waarop ek kon slaap. My vriende het egter gou agtergekom ek het nie blyplek nie. Een van hulle het vir my losies gereël teen R800 per maand. Met ’n salaris van R1 500 het ek nog genoeg geld oorgehad om ’n lekker jongmenslewe te kon lei.

      Ek het in dié tyd my meisie ontmoet. Ek was een aand saam met my vriend, Len, by ’n gewilde kuierplek, JB’s. Dit was nie ver van waar ek toe gebly het nie. Len het sy oog op haar vriendin gehad en hy het my die aand saamgevra sodat ek haar geselskap kon hou terwyl hy en die vriendin kuier.

      Ons het dadelik lekker begin gesels en sommer gou vriende geword. Die eerste aand het haar pa-hulle haar en haar vriendin by die kuierplek kom haal en die tweede keer wat ons ontmoet het, het ek hulle gaan aflaai. Daarvandaan het ons vriendskap net gegroei. Ek was nie aanvanklik op soek na ’n meisie nie, maar ons het vinnig aan mekaar gewoond geraak en verlief geraak.

      Kort daarna het ek ’n werk as ’n drywer by die lughawe gekry. Ek het baie van die bemanningslede rondgery. Later is ek oorgeplaas na die vragbeheerafdeling waar ek die regu­lering van die vragte van en na die vliegtuie beheer het. Ek het dit baie geniet, maar het bedank nadat ’n nuwe afdelingshoof aangestel is en ons vasgesit het.

      Dit was 1999 en ’n nuwe tyd in Suid-Afrika. Hoewel ek reeds ’n ruk die pligte van ’n afdelingshoof behartig het en daar vir my gesê is dat ek bevorder gaan word, het dit nie gebeur nie. Weens die nuwe politieke landskap moes dinge vinnig verander en gevolglik is ’n swart man in die pos aangestel. Hy is oor dertig drywers aangestel, maar het self nie ’n bestuurderslisensie gehad nie. Hy het ook nie die opleiding of ervaring vir die pos gehad nie.

      Ek het aanvaar dis hoe dinge van nou af gaan wees en ek het selfs ingestem om hom in die pos op te lei. Hy was egter onwillig om te leer en het verwag dat ek sy werk vir hom moes doen. Hy het my kort-kort oor die radio geroep en dan moes ek dit los waarmee ek besig is om hom te gaan help. Eendag het hy my weer na sy kantoor geroep. Daar was fout, want iets raas glo verskriklik. Toe ek in die kantoor kom, was dit die faksmasjien wat besig was om ’n faks uit te druk. My bloed het begin kook. Ek het die faks afgeskeur en verduidelik dis ’n faks met die vragnommers en ander inligting; hy moet dit nou gebruik om die vragte self te reguleer. Nee, sê hy, ek moet dit doen. Ek sê toe ek sal vir hom wys hoe om dit te doen sodat hy kan leer. Nee, kap hy terug, hy is die baas en ek sal maak soos hy sê.

      Dis toe dat ek hom bo-oor sy lessenaar slaan. Hy kruip toe sommer ook onder die lessenaar weg. Terwyl ek die vragte begin uitsorteer, dreig ek om hom weer te slaan as hy sy neus onder die lessenaar uitsteek. Van die drywers het al begin krapperig raak omdat hulle nog nie hul vragte ontvang het nie. Ek het alles gou onder beheer gekry en is toe na die direkteur, Len Joubert, se kantoor toe. Ek wil bedank, het ek vir hom gesê. Ek gaan nie langer met die man sukkel nie. Hy het my probeer paai (nuus van wat gebeur het, het reeds by hom uitgekom) en my gevra om te probeer geduldig wees met die situasie.

      Ek het twee weke later bedank.

      Hierna het ek in die selfoonbedryf begin werk. Ek het alles omtrent die bedryf geleer: van die tegniese sy tot die bemarking en hoe om ’n tak te bestuur. Ek het aanvanklik by MTN begin en daarna na Autopage geskuif. Ek het gehelp om nuwe takke oop te maak en dit op dreef te kry.

      Ek het ook Sondagaande by ’n kuierplek, Anfield Arms in N1-Stad in Goodwood, as ’n bouncer begin werk. Die sokkerwedstryde wat hulle toe uitgesaai het, het baie mense gelok. Aangesien dit ons gereelde kuierplek was en ek die bestuurder en personeel baie goed geken het, het ek maklik ingestem om uit te help. Ek het dit geniet en ook in die proses ekstra geld verdien. Daar het nooit iets ernstigs ge­beur nie en dit was eintlik ’n baie rustige werk.

      Ná drie jaar en nege maande van vas uitgaan, het ek en my meisie opgebreek. (Wat interessant is, is dat ek ook drie jaar en nege maande van my vonnis in die tronk uitgedien het voordat ek parool gekry het – presies dieselfde tydperk wat ons bymekaar was.) Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar hier het God ’n baie duidelike rol gespeel. My meisie se ma het heelwat druk op haar geplaas om ons verhouding te verbreek. Ek was by twee geleenthede in ’n bakleiery betrokke met albei haar bure en sy het my as rubbish gesien.

      Ek