ANNELIZE MORGAN
GOUE HORISONNE
Jasmyn
1
Die son steek ’n blink randjie oor die horison. Die strale glip oor die dounat veld en skitter in die watervalle teen die heuweltjie. Die lug is skoon en koel, die veld fris na die lafenis van die nag.
’n Ruiter jaag te perd al op die kruin van die heuwels langs. Daar is baldadige genot in die bewegings van die perd en die meisie in die saal lag telkens van pure lekker. Haar witblonde hare wapper in die wind agter haar terwyl hulle met ’n wilde jaagtog teen die heuwel af begin.
Om hulle lê die veld wyd uitgestrek en verder, aan die voet van een van die heuweltjies, lê ’n plaashuis nog in skaduwees gehul. Uit die skoorsteen draal ’n rokie lui hemelwaarts. Iewers blaf ’n hond.
Carolien stuur die perd behendig tussen die hindernisse deur. Sy geniet elke oomblik van hierdie vroeë oggendrit. Vuurvlieg, die perd, is ’n jong hings van vier jaar. Hy is nog vol drif en lewenslus en dis vir Carolien louter vreugde om op sy rug te wees. Hulle verstaan mekaar en ken mekaar se buie. Hy is vir haar byna soos ’n vriend in hierdie eensame wêreld.
Die plaashuis kom in sig toe hulle die kruin van die volgende heuweltjie bereik en sy hou die perd ’n oomblik in.
Dis ’n klein, netjiese werfie met die hoenderhokke in die agterplaas en die paar ooie wat die laaste twee weke gelam het in ’n kampie naby die stal. Jantjie is teen hierdie tyd al met die res van die skape veld toe om te gaan wei.
Sy gee die perd weer vrye teuels en hy jaag met donderende hoewe teen die skuinste af na die opstal. Carolien bring die perd voor die stoep tot stilstand.
Haar ma skud haar kop.
“Jy sal nog jou nek breek op daardie dier se rug,” sê sy, maar glimlag tog trots. “Ek het koffie gemaak. Gaan lei Vuurvlieg koud en dan kom jy kombuis toe.”
Carolien glimlag en draf met die perd weg na die stal. ’n Kwartier later kom sy terug by die huis. Haar wange gloei van die gesonde oefening. Sy is ook nog ietwat uitasem toe sy haar koffie inskink.
Haar ma het ’n groot kom beesvet uit die spens gehaal en op die skoongeskropte kombuistafel neergesit.
“Jy moet die kersvorms uit die skuur gaan haal,” sê haar ma. “Ons het nog genoeg pitte wat jy verlede keer gevleg het.”
Carolien glimlag.
“Laas keer se harde werk werp nou vrugte af. Ek haat dit om pitte te vleg.”
Hendrieka Oosthuizen glimlag kopskuddend.
“Ek wens jy was altyd so ywerig.”
Carolien lag opgewek.
“Ag, toe nou, Mamma, dis so ’n mooi dag.”
Haar ma frons liggies.
“Dis ’n mooi dag, maar wat dit inhou, is nie altyd so goed nie. Die bouers vir die nuwe skuur moes al hier gewees het. Die ander een is te klein en óf die gereedskap moet buite lê en roes, óf die perdewa moet staan en opvrot.”
Carolien haal haar skouers liggies op.
“Hulle sal kom.”
“Oom Gert is ook die laaste tyd baie stil … té stil, sou ek sê. Ek wonder wat hy nou weer in die mou voer.”
Haar dogter skud net haar kop.
“Ma kan darem ook so maklik die bobbejaan agter die bult gaan haal. Wat daarvan as oom Gert stil is? Dan het ons mos rus en vrede hier.”
Hendrieka skud haar kop.
“Hy het net een doel voor oë en dis om mý deel van Langlaagte ook in die hande te kry. Hy sal nie rus voordat hy dit reggekry het nie.”
“Ai, Mamma, vergeet tog nou daarvan. Hy kan die plaas nie kry nie en Mamma weet dit tog.”
Hendrieka sug diep.
“As ek net die plaas kon verkoop … maar ek mag net aan Gert Oosthuizen verkoop. Dis mos wat jou pa se testament bepaal het,” voeg sy ietwat bitter by.
“Ek is gelukkig hier,” sê Carolien paaiend. “As Mamma wil, kan ons mos saam gelukkig hier bly. Die terugslae is tog nie só erg nie. Wanneer ons die skuur klaar het, kan ons geld spaar om ’n skuilplek vir die skape in die winter te bou.”
Hendrieka gooi die kerspitte op die harde beesvet.
“Hoekom jou pa nou ook die paar diamante skelm moes begrawe, weet geen mens nie. Al wat hy verder gesê het, was dat hy dit teen die huis begrawe het.”
Carolien kyk onseker na haar ma.
“Daar was dalk nooit diamante nie, Mamma.”
“O, daar was, daarvan kan jy seker wees. Ek het hulle met my eie oë gesien. Dit was vyf grotes … mooi wit en blink. Met daardie diamante kan ons ryk wees.” Sy sug diep. “Maar hy moes hulle mos onder die grond loop inprop. ’n Neseiertjie vir later, het hy gesê.”
Carolien skink vir haar nog ’n koppie koffie en gaan weer by die tafel sit.
“Ons het die fondasies van die huis al omtrent uitgegrawe, Mamma. Die diamante is beslis nie teen die huis begrawe nie.”
Hendrieka haal haar skouers liggies op.
“Ek moet hulle net kry. Dit sal my vir altyd wegneem van Gert Oosthuizen en Langlaagte.”
Carolien antwoord nie. Sy weet hoe haar ma voel. Jare lank al voer hulle ’n sukkelbestaan op Langlaagte. Hulle kan nie hier wegkom sonder dat hulle alles verloor nie. Gert Oosthuizen, haar oorlede pa se broer, is nie bereid om hulle meer as dertig pond vir die plaas te gee nie. Met so min geld sal hulle nêrens eens ’n huisie kan bekostig nie. Hulle sukkelbestaan sal net uitgerek word.
Sy het self geen liefde vir haar oom Gert nie. Hy is ’n verwaande, soms onbeskofte man wat hom in hulle dilemma verlustig. Dis net vir Leentjie en tant Debora vir wie sy werklik jammer is. Leentjie is twee jaar jonger as sy self en is ’n verskrikte, vaal meisiekind. Tant Debora het lank terug reeds moed opgegee en hoor nie eens meer haar man se tirades nie.
Langlaagte behoort baie lank reeds aan die Oosthuizens. Dis ’n koue, onvriendelike omgewing op die Transvaalse Hoëveld. In die winter sny die ysige wind deur murg en been en vries alles dood onder die swart ryp. Die stomme skape vrek maklik en geen groentetjie hou teen die snerpende koue nie. Die somers is draaglik en aangenaam, maar die wind is altyd daar. En die somer is kort … te kort om werklik te kan geniet.
Dan is daar ook die pragtige rye en rye watervalle wat soos wit brandertjies teen die rotse na die laagte stort. Dis ’n pragtige gesig en in die reëntyd kan ’n mens die onstuimige watervalle ver hoor. Maar die reëntyd bring ook die storms … verskriklike storms van donderweer en blitse. Dan skuil hulle in die huise en maak die deure en vensters styf toe totdat dit verby is. Elke keer vrees hulle dat die weerlig die huise sal raak slaan, maar tot nou toe het dit nog nie gebeur nie.
Carolien staan op. Dit sal nie help om hier te sit en dink nie. Daar is baie werk om te doen en dit sal haar gedagtes van die diamante en die swaarkry wegneem.
Teen laatmiddag kom drie mans te perd aangery na die opstal van Hendrieka Oosthuizen. Carolien sien hulle op ’n lui drafstap nader kom en gaan huis toe om haar moeder te waarsku. Hulle wag die ruiters op die stoep in.
Die drie mans lig hulle hoede en een van hulle gly uit die saal. Hy kom staan by Carolien en haar ma.
“Is u mevrou Oosthuizen?” wil hy weet. Hy het dae laas geskeer en die stof op sy klere en vel getuig van die lang, vermoeiende rit wat hy en sy twee vriende agter die rug het.
“Ja, dis ek,” sê Hendrieka agterdogtig. “Wie is u, meneer?”
“Die naam is George … George Harrison. Ons het gekom om die skuur te bou.”
Hendrieka ontspan en glimlag.
“Uiteindelik! Welkom, meneer Harrison! Liewer laat as nooit, nè?”