“Maar, Manda, jy het jou uitstekend van jou taak gekwyt. Ek het al ’n hele paar briewe van dankbare persone gekry wat net lof het vir jou hantering en insig in hul probleme en die raad wat jy gegee het. Hierdie Da la Rey-geval is maar die enkele uitsondering.”
“Maar een is genoeg vir my. Nee dankie, juffrou Hettie. U weet dat ek in al die jare nog nooit werk wat u aan my gegee het, geweier het nie. Maar hier steek ek vierspoor vas. Geen probleemrubriek ooit weer vir my nie. Asseblief!”
Juffrou Hettie frons liggies. Die vervlakste miljoenêr het haar beste joernalis en toekomstige opvolger totaal afgeskrik. Die man het Manda beslis die harnas ingejaag. Te oordeel na haar ontsteltenis, begin sy byna glo dat party van die vergesogte feite in sy pleegkind se brief ’n goeie hap van die waarheid kan weghê! Hy klink na ’n skrikwekkende persoonlikheid.
Dat Manda self haar bedenkings het, is duidelik toe sy weer laat hoor: “En ek sê vir juffrou, hierdie Rocco-mansmens is heeltemal kapabel en dwing ’n vrou met ’n geweer tot voor die kansel. Dit lyk my as hy sy kop op ’n ding gesit het, sal niks en niemand hom keer nie.” Daar is ’n bietjie leedvermaak in haar stem toe sy vra: “Kom ons veronderstel nou net Jeanette het u raad ontvang en sy het dit deurgevoer. Sê nou maar u het op ’n dag weer ’n brief van haar gekry waarin sy vertel dat sy toe die ope gesprek met hierdie man gehad en dat dit haar alles niks gehelp het nie. Wat sou u dan gedoen het?”
“Ek sou haar om sy adres gevra en ’n persoonlike brief aan hom geskryf het en haar intussen aangeraai het om ’n prokureur te gaan sien, en indien dit nie anders kan nie, haar op die polisie te beroep. Hy kán haar nie dwing om met hom te trou as sy nie wil nie.”
Manda se lippe pers opmekaar. Haar hele houding sê duidelik: Jy het nog nie vir Rocco de la Rey persoonlik ontmoet nie. Dan trek sy haar skouers op. “Goed. Ons laat dit daar. Maar dis nie die end van die storie nie. Ek sit hier vasgepen tot tyd en wyl daardie meisiekind iets van haar laat hoor of totdat sy opgespoor word. En dan is dit nog nie die end van die storie nie. Dan hang alles nog daarvan af of sy nie iets kranksinnigs gaan aanvang het of iets oorgekom het nie.”
Juffrou Hettie skud haar kop ietwat ongeduldig. “Dis gek om van jou te verwag om ’n maand lank hier te sit en pos oppas. Ek is nou self weer in beheer van die briewe en per slot van sake is ek jou hoof. Ek sal die man kontak en hom sê dat ek volle verantwoordelikheid aanvaar en jy gaan weg see toe soos jy beplan het.”
“Nee, juffrou Hettie. Baie dankie, maar ek gaan nie toelaat dat u my kastaiings uit die vuur krap nie. Dis my eie onkunde en onbekwaamheid wat my hierin laat beland het. Ek moet dit self regmaak.”
Juffrou Hettie se lang geduld word ietwat korter. “Jy is nie onkundig en onbekwaam nie. Moenie twak praat nie, kind!”
“Rocco de la Rey dink so – en miskien is hy reg.” Die blou oë lyk bekommerd. “Ek sal tog tot ’n mate verantwoordelik wees as daardie kind iets moet oorkom, juffrou Hettie. Ek sal net rus vir my siel kry as ek weet sy is veilig en ongedeerd terug by haar voog. Dus maak dit nie eintlik saak dat Rocco de la Rey my verbied het om die stad te verlaat nie. Ek sou in elk geval niks van my vakansie geniet het nie. As die kind net van haar wil laat hoor!”
Maar in die week wat volg, is dit so goed of die erfgename van ’n fortuin het in die blou lug verdamp. Twee keer op ’n dag lui Manda se telefoon en elke keer klink die nou bekende stem kortaf in haar oor op: “Rocco de la Rey wat praat. Nog niks gehoor nie?”
“Nee. Niks.” Dan sal sy aarselend vra: “Het hulle nog nie … ek bedoel die speurders …?”
“Nee. Nêrens kan ’n spoor van haar gevind word nie. Goed, juffrou Maree. Ek bel weer later.”
Telkens sak sy op die naaste stoel neer en voel hoe die knaging aan haar senuwees vervat, net ’n bietjie erger as tevore. Sy kan ook elke keer die spanning in sy stem hoor en sy besef dat hy seker op die oomblik die bekommerdste miljoenêr in die land is.
Dan, op ’n dag, is die langverwagte brief daar en juffrou Hettie ontbied Manda onmiddellik na haar woonstel. Sy storm binne, glad nie so statig en waardig soos altyd nie.
“Waar is sy? Hoe gaan dit met haar?”
“Hier. Lees self.”
Manda se blik gaan vinnig oor die geskrewe reëls en sy slaak ’n sug van verligting. Dis duidelik dat Jeanette blakend gesond is. Maar dan wyk die verligting en bekommernis, groter as ooit tevore, neem die plek daarvan in.
O, juffrou Hettie, u het ’n nuwe lewe vir my laat oopgaan! Hoe sal ek u ooit kan bedank vir die wonderlike raad wat u my gegee het? Vir die eerste keer in my lewe leef ek werklik, weet ek wat dit is om met elke vesel in my liggaam te voel. O, dis wonderlik, heerlik om so te voel. Te weet jy lewe, jy is jonk, jy het lief!
Manda se maag gee so ’n nare, hol draai en haar bewende vingers vat die brief stewiger vas.
Ek het die wonderlikste, wónderlikste man in die hele, wye wêreld ontmoet. Hy is net fantasties, onbeskryflik! Hy is dierbaar, so dierbaar dat ek hom kan opeet! O, ek wens ek kon hom aan u voorstel. U sal van hom hou. Ek weet. Daar is nie ’n mens wat nie van my Steve sal hou nie. Hy is perfek. Volmaak. O, juffrou Hettie, ek het hom só lief. Ek kan sterf vir hom!
’n Kreun ontsnap Manda se lippe en sy kyk met groot oë op. “O nee, juffrou Hettie!”
Die ouer dame knik meewarig. “Ek is bevrees dis o ja, juffrou Hettie. Manda, ek ruik groot moeilikheid.”
“Moeilikheid? Dis sag gestel,” sê sy onomwonde en haar blik gaan onwillig terug na die papier voor haar, byna te bang om verder te lees. Die woorde, in groot, ronde letters, dans voor haar oë.
En hy het my net so lief. Dis die wonderlikste van alles! Hy sê al was ek so arm soos ’n ou kerkmuisie, sou hy my nog steeds aanbid het, want ek is sy engel, sy godin van liefde. Is dit nie pragtig nie, juffrou Hettie?
“O, hemele bedek my!” Manda sluit haar oë en vee met ’n bewende hand oor haar voorkop. “Ek het behoorlik koue rillings. Sy het hom vertel sy gaan ’n fortuin erf. Is sy dan besimpeld?”
“Ja. Dis baie duidelik dat die volmaakte Steve bewus is van die feit dat sy godin van liefde met goud beplak is. G’n wonder hy aanbid haar nie.”
“Juffrou Hettie, ek … dit voel vir my ek wil kouekoors kry, maar ek weet nie waarvan nie … of dit van woede of van vrees is nie. As ek daardie Jeanette in die hande kry, draai ek haar nek om, goud ofte nie. Maar as ek aan Rocco de la Rey dink, wat hy sal sê, wat hy sal dóén as hy hierdie brief in die hande moet kry …”
“Ek begin ook die bewerasie kry. Ek maak gou vir ons tee. Of nee, wag, ek dink ons het albei iets sterkers nodig.”
’n Glas word in haar hand gestop. “Ons moet kalm word en dink. Ek sien sy het geen adres gegee nie, maar sy gee darem ’n telefoonnommer waarheen jy haar kan skakel as jy haar sou wou gelukwens met haar nuwe lewe.”
“Ja.” Manda sug en staan op. “Wel, ek moet Rocco de la Rey bel en sê …”
“Nee, wag eers. Ons moenie oorhaastig wees nie.”
“Maar hy het my laat belowe ek sal hom dadelik sê as ek iets hoor.”
“Ja, ek weet, maar ek weet nie of dit so verstandig sal wees om hom van die brief te vertel nie. Hy sal dadelik daardie nommer skakel, die meisiekind verskriklik uitkryt en haar net op haar hoede stel. Teen die tyd dat hy daar kom, sal sy al weer spore gemaak het en ons sal net weer sit waar ons nou sit. Nee. Ek dink ons moet Rocco de la Rey maar eers uit die prentjie hou. Ons moet meer subtiel te werk gaan.”
“Maar hoe?” Manda beroep haar nou totaal op die ouer vrou se groter ervaring. Haar eie verstand staan botstil. Hoe hanteer jy die verdwene erfgenaam van ’n fortuin wat duidelik heeltemal die kluts kwyt is oor ’n man wat sy ’n paar dae gelede maar vir die eerste keer ontmoet het – ’n man wat in haar ’n maklike prooi gevind het? Per slot van sake, ’n mens loop nie aldag ’n skatryk, onervare meisietjie raak wat so in jou skoot val nie. As alles pluis