ENA MURRAY
Skynglans van die maan
Jasmyn
1
Dit voel of iets in Deidre Retief wil losbars, oopbars of sommer net bars terwyl sy voor haar rekenaar sit en outomaties die lang, geleerde en indrukwekkende wetenskaplike tabelle regskuif. Wanneer kom Neil dan vanoggend? dink sy en kyk ongeduldig na haar polshorlosie. Dis al amper halfelf. Moet hy nou juis vanoggend van alle oggende laat wees?
Haar vingers verstil oor die toetsbord toe ’n geluid by die deur opklink. Sy spring op toe die lang man sy verskyning maak. Sy vergeet selfs om môre te sê.
“Neil! Hoekom is jy so laat? Ek wag al die hele oggend vir jou. Ek het iets wonderliks om jou te vertel!” bars sy ook sommer los en die man kyk haar verbaas, half fronsend aan. Hy trek sy baadjie uit en vanoggend irriteer dit Deidre dat Neil altyd so kalm is.
“Môre, Deidre,” groet hy droog en kom dan nader. Sy wenkbroue trek omhoog. “Wel? Wat is dit? Is jy vir die volgende maanvlug gekies?”
“Nee, iets baie wonderlikers het gebeur. Vir my is dit altans baie wonderliker!” Die blou oë skitter in die gryses op. Vir die man wat haar so te sê voor sy oë sien grootword het, lyk sy op hierdie oomblik so jonk, nog so bitter jonk, dat sy hart binne-in hom saamtrek. Wanneer gaan Deidre eendag werklik grootword? Sy staan selfs en rondtrippel op haar paar fyn voetjies nes ’n kind wat nie kan wag om haar wonderlike nuus te vertel nie. Hy glimlag nou die eerste keer en sy gesig vertoon verbasend jonk. Hy frommel ’n oomblik sy vingers deur die blonde kuifie wat vanoggend weerbarstig oor haar voorkop hang, net asof sy werklik elf jaar oud is en nie al die vername mylpaal van een en twintig jaar pas veertien dae gelede bereik het nie.
“Nou toe nou! Dan ís jy vir die eerste Marsvlug gekies!” Hy sien haar ergerlike frons en haar stem bewe van verontwaardiging.
“Neil! Sal jy asseblief ernstig wees! En besluit ook sommer of my bestemming nou Mars of die maan is. Ek wens jy wil ophou om my soos ’n kind te behandel! Jy maak my soms so boos dat ek …”
“Dat jy presies ses jaar oud lyk!” Hy lag nou saggies en neem haar hand. “Kom vertel jou groot nuus nou rustig vir my in my kantoor. Terwyl jy vertel, kan jy gerus solank vir ons tee maak. Dis amper teetyd. Wêreld, maar hulle het my vanoggend opgehou by die universiteit!” sê hy fronsend. “Ek het nie besef dis al so laat nie.”
Deidre trippel ongeduldig vooruit. Nou wil hy eers tee hê! Kan die mansmens nie sien dat sy uit haar nate wil bars van die wonderlike nuus wat sy te vertelle het nie? Maar dis nes hy is! Die besadigde, altyd beheerste wetenskaplike! Sy wonder of daar werklik iets op hierdie aarde is wat hom opgewonde kan maak – behalwe miskien ’n kiem onder sy mikroskoop.
Sy gaan vierkant voor hom staan toe hy agter sy lessenaar neersak en haar stemmetjie klink baie beslis en nou meer soos dié van ’n volwasse meisie.
“Ek gaan nie nou tee maak nie, Neil. Jy gaan nou eers na my luister.”
“Kan jy my nie maar vertel solank jy tee maak nie? My keel is kurkdroog. Ek het vanoggend twee lesings gegee.”
Sy swaai nou regtig vies na die tafeltjie in die hoek waar die teegoed netjies onder ’n lap staan en werp oor haar skouer terug: “Ek hoop jou volgende sekretaresse sal ook so na jou pype dans soos ek al die jare gedoen het, anders sien ek maar swarigheid vir jou in die nabye toekoms.”
Sy hoor hoe die stoelpote hard op die vloer kraak en glimlag by haarself. Nes sy gedink het! Dit het hom gou uit sy belangeloosheid geruk!
“Wat sê jy daar?”
“Ek het gesê ek hoop –”
“Ja! Ja! Ek weet,” val hy haar ongeduldig in die rede. “Maar wat is die bedoeling agter daardie skimp? Hoekom sal ek binnekort ’n nuwe sekretaresse nodig hê?”
“Omdat ek weggaan, natuurlik.”
Nou is hy by haar en draai haar van die teekoppies terug, sy droë keel vergete.
“Jy gaan … Kaf! Watter onsin is dit dié, Deidre?” vra hy streng, en nou het sy sy volle aandag.
“Dis nie kaf en onsin nie, Neil. Ek is ernstig. Jy moet liewer dadelik vir ’n nuwe sekretaresse begin adverteer. Ek wil graag die einde van die maand gaan, as dit moontlik is.”
“Om wat te gaan maak?”
“Om met my sangloopbaan te begin.”
“Jou … wat?”
Sy lag saggies, ingenome met sy verdwasing en die blou oë begin weer skitter, haar ergerlikheid van ’n paar minute gelede vergete.
“Gaan sit, dan vertel ek jou alles,” sê sy en hy laat toe dat sy hom weer in sy stoel terugdruk. Deidre gaan sommer op die kant van die lessenaar naby hom sit, haar knieë onskuldig ontbloot voor die man wat sy amper as ’n pa beskou.
Sy kyk hom effens skuldig aan.
“Ek het jou nooit hiervan vertel nie. Ek het so gedink: Kom daar niks van nie, wel, dan hoef jy nooit daarvan te weet nie. Kom daar iets van, dan sal dit ’n verrassing vir jou wees.”
Die frons is nog tussen sy wenkbroue.
“Ek hou nie juis van sulke verrassings nie, Deidre. Ek het ook ’n gevoel dat dit beslis nie aangenaam vir my gaan wees nie. Maar gaan voort.”
“Wel, dit kom kortliks daarop neer dat die SAUK ’n talentejag, soos hulle dit noem, gehou het. Ek het my ook daarvoor ingeskryf, in die sangafdeling. Wel, toe wen ek die eerste prys. Dis al,” sluit sy selfbewus af, want dis of die woorde nou swaar kom. Sy frons. Wat makeer haar dat sy skielik skuldig voor Neil voel? ’n Mens sou sê sy het ’n misdaad gepleeg in plaas van die eerste prys in ’n landwye radiokompetisie te wen!
“Baie geluk,” hoor sy Neil sonder veel geesdrif sê. Hy lyk glad nie opgewonde oor haar nuus nie. Inteendeel. Sy frons is nou kwaaier as ooit. “En wat behels hierdie eerste prys?”
“’n Kontrak by ’n maatskappy vir ’n paar CD’s. Die vooruitsigte is natuurlik ongelooflik. Is die eerste CD’s ’n sukses, is dit so te sê seker dat die kontrak hernieu sal word. Dan, natuurlik, is daar die moontlikheid van ’n filmkontrak. Die rolprentmense is gedurig op soek na nuwe talent, soos jy weet. Kortom, dit beteken ’n nuwe loopbaan en ’n wonderlike nuwe toekoms vir my.”
Daar volg ’n stilte op haar woorde wat haar ontstel en die opgewondenheid in haar laat afneem. Sy staan vinnig van die lessenaar af op en hou haar doenig met die teemakery terwyl sy hard op haar onderlip byt, wat skielik aan ’t bewe is. Neil se houding maak verskriklik seer. Sy was so seker dat hy volkome in haar vreugde sou deel. Want dit is soos dit al die jare tussen hulle was. Neil het in alles, al die vreugde en al die teleurstellings van haar lewe, gedeel. Hy was die eerste person aan wie sy gedink het toe sy die telefoonoproep ontvang waarin die organiseerder van die kompetisie haar die wonderlike nuus meegedeel het. Sy kon nie wag dat Neil van die universiteit, waar hy drie dae per week lesings gee, moes terugkeer nie. Sy was so seker daarvan dat hy saam met haar bly sou wees.
En nou … Sy reaksie is so ’n antiklimaks dat sy met moeite die trane beheer. In plaas daarvan dat hy saam met haar bly en opgewonde is, is hy duidelik baie ontevrede. Hy wend ook geen poging aan om dit weg te steek nie.
Sy hou haar rug op hom gekeer terwyl sy wag dat die tee ’n bietjie trek, die blou oë diep bekommerd. Sou hy werklik so kwaad vir haar wees omdat sy die eerste keer in haar lewe iets gedoen het sonder om hom te raadpleeg? Nog altyd in die verlede het sy alles eers vooraf met hom bespreek voordat sy iets gedoen het. Sy het selfs toegelaat dat hy ’n sê het in haar jaarlikse verlof.
Maar hierdie keer het sy besluit sy gaan hom nie raadpleeg of selfs eens daarvan vertel nie. Op eie houtjie het sy haar bietjie selfvertroue bymekaargeskraap en haar vir die wedstryd ingeskryf. Diep in haar hart het sy al baie jare ’n droom gekoester. Sy was bewus daarvan dat sy ’n bogemiddelde sangstem het, maar dit was net in haar drome dat sy die hoogtes van ’n ster bereik het. As daar dan niks van die wedstryd kom nie, so het sy by haarself gedink, sal sy jare later, wanneer dit nie meer saak maak nie, vir Neil