Liefde is ’n sprokie. Fynbosskrywers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Fynbosskrywers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798170291
Скачать книгу

      Liefde is ’n sprokie

      Saamgestel deur Santie Nel

      Human & Rousseau

      Vir die Fynbosskrywers-familie en vir Daniel,

      my seun met die baie liefde in sy hart.

      — S. N.

      EEN

      ’n Wolf, drie varkies en ’n brilpaddaprins mash-up

pic2.jpg

      “Ons is hier!” hoor Cara Leandre bo die gedruis van stemme in die bus roep. Leandre beduie opgewonde deur die venster. Die bus ry stadiger en draai by ’n nou, klipperige grondpad af. ’n Geroeste bord hang skeef aan ’n houtpaal. Cara haal haar sonbril af en trek haar oë op skrefies om te probeer uitmaak wat daarop staan.

      “Amp aaldraad?” lees Lene-Mari. “Watse plek is dit?” Sy kreukel haar sproetneus op.

      “Seker Kamp Staaldraad, Lene!” sê Cara. “Whoopie, klink na ’n supervakansie!” Sy sug. Die plek lyk maar vervalle. Hoe gaan sy drie volle dae hier oorleef? Twee-en-sewentig ure – ’n leeftyd!

      “Smile vir ’n selfie!” Leandre lig haar iPhone en Cara fake ’n glimlag. “Hmm, foto een, dag een, pas aangekom.” Leandre frons terwyl sy met haar foon vroetel. “Ag nee, geen opvangs, can you belieeeeve it! Nou kan ek dit nie dadelik op Facebook post nie!”

      Dit ook nog. Cara haal haar foon uit haar sak en loer na die skerm. Jip, Leandre is reg. Ugh!

      Die bus stop onder ’n paar bome en almal begin uitbondel. Cara staan op, strek en vat haar sak wat sy by haar op die bus gehou het.

      “Sjoe, my boude is nou lekker lam gesit. En ek moet nou dadelik by ’n toilet uitkom,” fluister Leandre.

      Iets tref Cara teen die rug. Sy struikel en verloor haar balans. O nee! Sy gryp na lug, maar val steeds sywaarts. Bo-op iemand se skoot!

      “Jammer,” prewel sy bewerig. Sy kyk op, vas in twee groot groen oë agter dik brilglase. Ek is aap van die jaar, dink sy en voel hoe haar wange warm raak. Dis die nuwe outjie. Pieter, of Peet of iets. En hy lag vir haar. Die vermetelheid!

      “Jy oukei, vriendin?” Leandre trek haar op en sleep haar by die bus uit.

      “Gelukkig het ek nie op Jaco geval nie, dit sou so lame gewees het.” Cara, nes die res van die graad agt-meisies, het ’n ogie op verlede jaar se hoofseun en kaptein van die gimnastiekspan. “Nou was dit gelukkig net Pieter.” Sy loer oor haar skouer en sien hy kyk haar steeds grinnikend agterna.

      “Pierre, Pierre Prins. Dis sy naam.”

      “O, oukei, whatever,” probeer Cara dit afmaak. Sy oë is nogal mooi, as jy nou verby daai dik brilglase kan sien. En vir ’n oomblik het hulle diep in mekaar se oë gekyk. Maar toe begin hy lag, hoe durf hy!

      “Toe, toe, toe, graadagts, kry julle bagasie. Daar is nie baie tyd nie, julle moet nog tent opslaan voor donker!” kom die kwaai stem van meneer Wolfaard. Die busbestuurder is besig om die sakke uit die bagasieruim te laai en die wêreld lê besaai. “Dit geld vir jou ook, Mulder!” Meneer Wolfaard kyk ysig na Cara. “Jou pappie is nie vandag hier om jou te help nie,” sê hy sarkasties. Cara byt op haar onderlip. Sedert laas week se insident is hy ekstra goor met haar.

      “Waaaat? Tent opslaan? Ek dog ons bly in ’n kamphut of iets!” sê Lene-Mari benoud.

      “Lene, moenie vir my sê jy’t nie ’n tent saamgebring nie!” Leandre se oë is groot.

      “Ja, het jy nie die email gelees met die instruksies nie?” vra Cara.

      Lene-Mari skud stadig haar kop. “Huh? Wat bedoel julle?”

      Cara vang Leandre se oog. Lene-Mari is nie die mees georganiseerde mens wat hulle ken nie.

      “Toemaar, myne is groot genoeg, jy’s welkom. Ou Wolfie moet net nie agterkom nie, dis blykbaar teen die reëls om te deel,” sê Leandre.

      “Dis in elk geval ’n stupid reël. Vir wat nie?” vra Lene-Mari.

      “Blykbaar het die vorige jaar se groep twak aangejaag – niemand weet presies wat nie – en toe het Wolfie die reël ingestel.”

      Lene-Mari maak ’n vuis en kap teen haar voorkop.

      “Spanwerk, girls! Ons help mekaar.” Leandre klap haar hande. “Kom, ons moet lekker plekke gaan uitsoek. Naby mekaar. Ek wil net gou ’n draai gaan loop.”

      Cara en Lene-Mari gryp hulle bagasie en stap na waar die res reeds voor ’n lendelam houtgeboutjie onder ’n strooiafdak wag. Blykbaar die “kombuis” en “eetsaal”.

      “Die toilette is gross,” fluister Leandre toe sy weer by hulle aansluit. Sy trek ’n gesig en waai voor haar neus.

      Ag nee! Kamp is een ding, stink, vuil toilette is ’n ander saak!

      Wolfie blaas sy fluitjie. Almal raak stil en hy begin praat. “Welkom by Kamp Staaldraad. Die jaarlikse buitelugoriënteringskamp vir die graadagts van Hoërskool Kruindal.”

      Hy grynslag. “Op hierdie kamp word die kaf van die koring geskei! Die manne van die muise!” Hy vryf sy hande. “Die Simsons van die drama queens!” ’n Paar kinders giggel onderlangs, maar sy ysige blik laat hulle gou-gou ophou.

      Hy tel ’n knipmes van die tafel op en begin sy naels daarmee skoonmaak. “Jy kom nie na my met klagtes oor gebreekte naels nie,” hy gluur die meisies aan. “Of dat jy na jou mammie verlang nie …”

      O my word, dink Cara benoud. Sy sien hoe almal hom met groot oë aanstaar terwyl hy verder bulder.

      “… dogters hierdie kant en seuns daar anderkant! Julle moet gou speel, julle het presies dertig minute!” bulder hy. Hy blaas weer sy fluitjie en almal skarrel weg.

      “Ek háát kamp! Ek is meer van ’n vyfster-hotel tipe meisie. Ek gaan dit nooit oorleef nie,” sê Leandre onderlangs.

      “Gewoonlik hou ek van kamp. Binne ’n netjiese kampeerterrein. Met skoon toilette, groen grasperke en ordentlike slaapplek! Beslis nie in hierdie dump nie,” sê Cara.

      “Ou Wolfie is weer in een van sy buie. Ons sal moet ligloop,” voeg Lene by. “En dit lyk of hy sy mes in het vir jou, Cara. Dis seker oor laas week se ongeluk.”

      “Dis so onregverdig. Hy kan dit mos nie op jou uithaal nie? Veral nie omdat dit sý skuld was nie.”

      Cara sug. “Jip, maar hy ontken dit natuurlik. En my pa het geen bewyse nie. Nou sit ons met duisende rande se skade aan ons motor, en hy’t net ’n paar skrapies op sy buffer.” Dis baie sleg, veral omdat hy haar nou so behandel. Boonop het sy wiskunde, normaalweg haar gunstelingvak, by hom.

      “Wow, dis ’n cool tent!” sê Lene-Mari ’n rukkie later bewonderend terwyl hulle spook om nes te skrop.

      Leandre lag. “Dis eintlik my neef s’n. Hy’t my die dood voor die oë gesweer as dit iets oorkom. Maar dis lekker maklik om op en af te slaan en min of meer gerieflik. Troosprys vir die feit dat ek nie ’n kampgirl is nie, anders het ek sowaar siek gespeel. Mind you, ek is deksels spyt ek het nie een of ander eksotiese virale siekte uitgedink nie.”

      Vinnig is die grys en blou tent onder die bome opgeslaan. ’n Paar ander tente is ook reeds op. Cara rits die blou sak waarin haar tent is oop. Die een waarmee sy nog laas Desembervakansie op Jongensfontein gekamp het.

      “Noooo!” Sy laat val ’n pienk gewaad op die grond.

      “Seriously? Cara, is jy nie al ’n bietjie te groot vir Barbie nie?” terg Leandre.

      “Dit kan nie wees nie!” Cara sluk. “Iemand moes die verkeerde tent in die sak gesit het. En ek weet wie daai iemand is. Ek gaan Karli se nek omdraai!” Sy stamp haar voet. Haar jonger sussie sal boet hiervoor!

      “Ons sal dit móét opslaan, anders gaan Wolfie lont ruik. Oppas net vir die modderpoel.” Sy beduie na die bruin pappery op die grond daar naby. “Een tent minder is klaar ’n risiko.”

      “Toemaar, jy