bladspieël. Marlise Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlise Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780798169554
Скачать книгу

      

      bladspieël

      marlise joubert

      Human & Rousseau

      Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van bladspieël mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.

      vir my kleinseuns, xander & felix,

      waar elke dag ’n lewe is

      “Each day is somewhat lighter than the last.

      In the air, in the wind, I sign my name.”

      – Bo Carpelan, Urwind

      “the sun shines on the red wall and the wall is warm.

      I feel it with my hand, I put my cheek against it.”

      – Jaan Kaplinski, The wandering border

      herfs

      vandag staan die wolke skeef

      druppende kerswas oor die land

      ek wil dit nie verloor nie

      in die tuin ’n geveg tussen vinke

      verwers met kwaste en lere poleer

      my mure met die kleur van sand

      niks hiervan wil ek opgee nie

      hoe laat is die groot verlaat

      en sal jy later in jou eensaamheid

      alle gedagtes oor ons liefde prysgee

      vandag vlam bome herfs teen die berg

      alle vensterrame staan oop in die lug

      vir die vars vernis om droog te word

      ek wil dit nie agterlaat nie

      dagskrif vir die wegland

      1 [aand]

      (a)

      uit die lou water beur ek boontoe

      silwer druppels hang aan my vel

      ek kom uit die swembad aangestap

      jy laat my langs jou neerlê op gras

      my hare is nat my wimpers waas

      in die donkerte sidder sterre

      verlate skree ’n pou deur die tuin

      jou warm tong gly ’n nawind

      oor my lyf van onder na bo

      ’n maan drup klappermelk

      ek kyk verby jou gesig

      langs my spat die rose weg

      by die dam se goue rietbos

      roer ganse en bleshoenders

      die sterre staan botstil in ink

      ek sien hoe een verskiet

      ’n padda plons die swembad in

      my vel verskans alle organe

      blooswit soos ’n wasfiguur

      ek is louwarm van purper water

      (b)

      die nagstilte is die hemel vol

      ons lippe stippel sagte vokale

      ons kyk hoe klankloos val komete

      met lang sterte soos rose

      jou lyf saai die aarde nat

      en daar is damp onder

      my vingers teen jou voorkop

      ek druk my vuiste in jou oksels

      jy breek skanse af en ek neem oor

      sag soos ’n vaandel vou jy my toe

      jou kop dryf afgeslote op my bors

      uit die roos begin die kleur ontsnap

      2. [oggend]

      (a)

      ’n swerm voëls

      snak wilde geluide tussen blare

      onsigbaar pruttel hulle onder mekaar

      wat sou die gesprekke behels

      watter stories verg dan soveel

      geskinder en twis in die vroeë uur

      se sluimerlig

      oor ’n reling

      hang laas nag se swembroek

      om te droog terwyl jy nog slaap

      ek sit op die lang stoep

      ek luister

      ek grendel my tong

      ek hoor die gaasdeur klap

      en jy loop uit na my toe

      jou hare is glad gekam soos ’n glimlag

      ’n waterdruppel rol teen jou

      wangbeen af

      (b)

      tussen ons op die tafel

      roer kolle son weerkaats weg

      na ’n kandelaarblom

      vlieë draal rond en steur

      jy sit gedonkerbril en lees verder

      aan ’n mankell-roman

      die boer van die plaas se rifrug

      kom swaaiend groet

      en verdwyn dan net so vinnig

      soos wat hy gekom het

      wat sou geword het van die paddatjie

      in die afvoergeut van die swembad

      vra ek jou

      sinkgeel lelies knars oop

      in klam oggendlig

      enkele vroegherfsblare hang

      bokant ons in die groen prieel

      3. [middag]

      (a)

      in die kamer

      terwyl die dakwaaier

      tollend suis en koeltes

      oor my blaas

      in die kamer

      van soveel voorgeslagte

      staan die hangkas

      met uitgekerfde torings

      die deure wyd oop soos ossewaens

      kraak asof geraamtes saamgesels

      in die kamer

      slaap ek die middaguur om

      ligkandelare hang stemloos

      uit ’n versierde kolonietyd

      die bed is hoog

      die plafon is hoog

      my drome bly hooglands

      (b)

      laatmiddag swenk die bosluisvoëls

      van ruimte na ruimte

      soos wit vliegtuigies van katoen

      en soek mettertyd die dalende

      vertroosting van die skemerte op

      ons lê oorhoeks teenoor mekaar

      tussen lang stele van taai

      kikoejoegras langs ’n dam

      ons