Judaskus. Rudie van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rudie van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780795800931
Скачать книгу

      “Het mevrou sy seun geken?”

      “Nee, glad nie. Maar hoekom gaan praat jy nie met die skoondogter nie? Karen Moller. Sy weet dalk meer van die organisasie se doen en late as ek. Haar oorlede man sou tog sy pa in die organisasie opgevolg het, nè?”

      “Weet mevrou waar ek haar in die hande kan kry?”

      “Ja, ek het haar ’n tydjie gelede toevallig hier op Hermanus raakgeloop. Toe het sy gesê sy bly steeds in hulle huis in Groenpunt. Ek kan die straatnaam nie meer onthou nie, maar jy behoort haar in die telefoonboek te kry.”

      Kassie bedank haar en groet.

      Mevrou Knobel is reg: die gelyste Karen Moller bly in Groenpunt.

      Hy is gelukkig, sy antwoord die foon ná net ’n paar luie.

      “Het u vir Daniel Knobel geken?” vra hy nadat hy homself voorgestel het.

      “Ja … nie eintlik goed nie, maar my skoonpa en hy het bande gehad. Hy’s mos destyds deur daai reeksmoordenaar doodgemaak.”

      Kassie vertel haar van die nuwe inligting oor Knobel se dood. “Dit laat die polisie glo die geheime organisasie waaraan u skoonpa en heel moontlik u man ook behoort het, het belangrike inligting wat ons kan help in die ondersoek.”

      Sy weet onmiddellik van die organisasie. “Ja, my man het daaraan behoort, maar hy’s lank voor oom Daniel al in ’n motorongeluk oorlede.”

      “Ek besef dit, maar kan ek nogtans met u kom gesels? Ek sal graag wil hoor wat u van die organisasie se bedrywighede weet.”

      “Kaptein Kasselman, dit sal nie nodig wees nie. Ek weet regtig nie veel daarvan nie,” sê sy beslis. “My man was maar altyd geheimsinnig daaroor. Maar dit wat ek wel van hulle weet, is dat hulle net goeie dinge gedoen het. Ek kan my nie indink hulle sou iets van oom Daniel se dood weet en dit nie aan die polisie oorgedra het nie.”

      “U sê hulle het goeie dinge gedoen?”

      “Wel, ja … vir hul mede-Afrikaners. Ek weet hulle het onder meer geld geleen vir voornemende entrepreneurs. Volgens my man het hulle ook beskerming gebied aan sulke entrepreneurs.”

      “Watse soort beskerming?”

      Sy lag. “Niks sinisters nie. Hulle het net gesorg die opposisie in dié sakemanne se omgewing kry opdraande.”

      “Ek verstaan nou nie?”

      “Jammer, dis al wat my man gesê het. Hulle het baklei vir die Afrikanersaak – wat ’n mens nie kan sê van vandag se spul ruggraatlose Afrikaners nie.”

      “Weet u of hulle nog bestaan … die organisasie?”

      “Ek … ek twyfel. Nee, ek weet regtig nie,” sê sy dan vinnig. Té vinnig na Kassie se sin.

      Hy lees vir haar die name van die ander mans, maar sy sê sy ken niemand.

      Toe Kassie aflui, peins hy lank oor die gesprek.

      Karen Moller se man is lank voor Daniel Knobel oorlede, dus klink die Moller-roete na ’n doodloopstraat. Behalwe vir die “beskerming” waarvan sy gepraat het. Die organisasie klink vir hom soos ’n soort Boeremafia. En enige Mafia-agtige organisasie is bekend daarvoor dat hulle mense laat verdwyn.

      Sy het ook nie baie oortuigend geklink toe hy gevra het of die organisasie nog bestaan nie. Sou sy dalk nog met hulle kontak hê?

      17

      TJ weet hy’t die dag opgedonner. Hulle eet in stilte, toe sê Daisy sy gaan kamer toe – háár kamer.

      Maar hy móés meer probeer uitvind. En Daisy het vandag meer oor die Orde gesê as die afgelope drie jaar. Hy het altyd geweet sy is nie so laag op die Orde se voedselketting soos hy en Snake nie. Dis waarom sy vertrou word om die juwele in Johannesburg te gaan aflewer.

      En sy het bevestig wat hy altyd vermoed het: hy en Snake is vervangbaar. Die Orde verdra hulle net omdat hulle nog nie ’n groot gemors aangevang het nie. Vir al wat hy weet, is hulle plaasvervangers al klaar opgelei … gereed om hulle plekke in te neem.

      Die miljoendollarvraag is: Wat gaan dan met hom en Snake gebeur? Hy kan nie dink die Orde sal hulle net laat gaan met ’n handshake en ’n paar afskeidswoorde nie. Hy ril. Die onsekerheid maak hom mal.

      Die bleddie onsekerheid. Dis die storie van sy lewe. Al vroeg begin, toe hy nog ’n laaitie was. Hy’t altyd in vrees geleef vir wanneer Dad huis toe kom. Gaan hy weer gesuip wees? Watter rede gaan hy dié keer uitdink om TJ te bliksem? Gaan Dad sy vuiste gebruik of gaan die leerband oor sy rug klap? Gaan hy Ma ook slaan?

      Hy’t soms in die hangkas weggekruip wanneer Dad se Zephyr voor die huis stilgehou het. Tot Dad hom eendag daar uitgepluk en sy neus met ’n vuishou gebreek het – omdat hy die “vermetelheid” gehad het om vir sy pa weg te kruip.

      TJ buk vooroor om die laaste bietjie hitte uit die kole te krap. Die middag het verbygevlieg, sy gedagtes heeltyd op plekke in sy verre verlede. Hy tuur voor hom uit. Die son het gesak en ’n koue windjie het opgesteek.

      Die wind het daardie aand ook gewaai. Jissis, hoekom kan hy dit nie uit sy kop kry nie? Dit kom elke keer terug wanneer die onsekerheid in sy lyf kom sit.

      Sy ma het geskreeu, gegil, haar snikke rou. Toe het sy gesoebat. Hy het gehoor hoe die houe val. Hy het in sy kamer gesit, ’n bang, bleekgeskrikte laaitie van vyftien. Die houe het bly val, dit was erger as ooit tevore. Sy ma het bly soebat en smeek. Skielik kon hy dit nie meer hanteer nie. Hy’t opgespring en kombuis toe gehardloop. Dad se rug was na hom toe, hy was besig om Ma te bliksem. Haar gesig was rooi van die bloed. Hy het die bottel brandewyn op die tafel gegryp en Dad teen die agterkop geslaan so hard as wat hy kan. Die bottel het nie gebreek nie, maar Dad het op die vloer neergeslaan. Hy het bly lê, sy oë wyd oop en leweloos.

      Hy en Ma het Dad in die agterjaart begrawe. Terwyl die wind geruk en gepluk het aan sy lyf, het hy die graf toegegooi, die grond gelyk gemaak. Sy ma het toegekyk met ’n strak gesig vol bloed. Sy het niks gesê nie.

      Nadat sy die bloed afgewas het, het sy hom aangesê om in die bed te gaan klim. Hy het gehoor hoe sy wegry met Dad se Zephyr. Sy het eers vroeg die volgende oggend teruggekom. Hy het deur die gordyne geloer, gesien ’n taxi laai haar af.

      Toe hy laatmiddag ná die rugbyoefening by die huis kom, het sy hom buitentoe geroep. Sy’t sement, ’n rol draad, ’n paar houtpale en sinkplate gekoop.

      “Nou kan jy die duiwehok bou wat jy nog altyd wou hê,” het sy gesê. “Dáár.” Sy het gewys na die plek waar die grond nog vars omgespit was.

      Sy het nooit weer iets gesê oor daardie aand nie. Hy het net gehoor hoe sy ’n paar dae later die cops bel en sê haar man is missing. ’n Week later het ’n cop kom sê hulle het die Zephyr in Springs gekry, maar hulle soek nog na Dad.

      Die huis is kort daarna verkoop. Ma se salaris by die dry-cleaners en sy paar sente uit koerantaflewering kon nie die huis se uitgawes dek nie. Hulle moes in ’n low-cost bachelor flat gaan bly.

      En toe, presies ’n maand later, klop ’n speurder aan hulle deur. Die nuwe huiseienaar het Dad se lyk gekry toe hy fondasies gegrawe het vir ’n aanbouing.

      Sy gedagtes word onderbreek toe Snake se motorligte die braaiplek verlig. Hy kyk nie in Snake se rigting toe die motordeur toeklap nie, hoor net sy voetstappe nader kom oor die gruis.

      “En as jy so sit a-a-asof iemand jou k-k-kos afgevat het?” Runnik-laggie. “Waar’s Daisy?”

      TJ beduie met sy kop in die rigting van die huis. “Kom sit, ons moet praat. Kry vir jou wyn.”

      Hy kan sien Snake is verbaas. Maak hy ’n fout om oor die Orde te praat?

      TJ besluit om deur te druk. Snake is in dieselfde posisie as hy. Al verskil is: Snake weet dit nog nie. Hy sal die mal bliksem moet vertrou, anders kan dinge lelik skeefloop.

      Конец