Ek voel inderdaad soos ’n ander mens, tog lyk ek nog dieselfde, dink sy geamuseer, en merk hoe haar oë ineens ondeund begin vonkel.
Vir Alta is dit glad nie vervelig om die hele dag langs haar pa se bed te sit nie. Sy doen dit elke dag met liefde en gaan net hotel toe om haar maaltye te nuttig. Na aandete keer sy gewoonlik terug en vertoef tot nege-uur by haar pa.
Sy het feitlik al die tydskrifte in die twee jong Grieke se kafee gekoop en gelees. Die verpleegsters voorsien haar ook soms van leesstof en vergeet nooit om tienuur en vieruur vir haar tee of koffie te bring nie. Haar pa gesels soms met haar, maar meestal het hy soveel pyn dat albei liewer swyg.
Die sesde dag na sy operasie is die eerste dag dat Marius feitlik geen pyn verduur nie. Alta merk dit dadelik op toe sy die siekekamer binnetree en hom met ’n soen groet. Sy trek ’n stoel langs die bed en neem plaas. “Hoe gaan dit, Pappa?”
“Baie beter, dankie, patroon. Ek het nie meer pyn nie, en dit alleen is ’n seën.” Hy glimlag rustig, neem een fyn handjie in syne en vervolg teer: “Ek vrees ek het jou baie kommer en onrus besorg en ook jou pret gruwelik bederf, maar dit is nie meer nodig dat jy jou dae hier langs my bed deurbring nie.”
“En wat moet ek doen as ek nie meer langs Pappa se bed mag sit nie?” vra sy en kyk hom met ’n sagte blik aan.
“Wel, jy kan ontspan en weer die lewe geniet,” kom dit bedaard van Marius.
Sy kyk haar pa ernstig aan en vra sag: “Op hoe ’n manier moet ek die lewe hier op Groendal geniet, Pappa?”
Hy kyk haar vraend aan, maar antwoord nietemin: “Wel, hier is seker baie min vermaaklikheidsplekke, maar in Johannesburg is daar baie.”
Alta skud haar kop stadig. “Nee,” sê sy ernstig, “ek het tot die slotsom gekom dat my lewe in Johannesburg nutteloos en sonder betekenis was. Hierdie ongeluk van Pappa het my ander insig in die lewe gegee, en ek besef nou hoe leeg, ydel en selfsugtig ek al die jare was. Ek wil ook iets nuttigs doen, iets waarmee ek my medemens tot diens kan wees.”
Daar is ’n sweem van ’n glimlag om Marius se mond toe hy vra: “Wat wil jy doen?”
Hierdie nuwe gril van Alta amuseer hom. Tog is dit vir hom duidelik dat sy dogter wel ’n verandering ondergaan het. Sy lyk vir hom meer bedaard, en daar is ook ’n vreemde soort vasbeslotenheid in haar.
“Ek is nog jonk, Pappa, nog nie eens negentien nie. Ek is dus nog jonk genoeg om met ’n loopbaan te begin. Ek wil my graag as verpleegster bekwaam, en daarna wil ek privaat verpleeg. Ek het die afgelope ses dae dikwels met die personeel gesels, en hulle sê daar is ’n groot tekort aan verpleegsters.”
“Verpleging is harde werk, my kind. Het jy al daaraan gedink?”
“Ek het die afgelope twee dae aan alles gedink, Pappa,” antwoord sy bedaard, “maar as ’n mens ’n ernstige begeerte het om iets te doen, sal jy bo uitkom. Ek besef wel deeglik dat dit moeite en harde werk sal wees, maar ek verkies nog om verpleegster te word. Ek het die afgelope ses dae eers agtergekom hoe ’n edel beroep dit is, en ek erken ruiterlik dat hierdie mense my bewondering afdwing.”
“Wel, ek moet sê, jy is nie die enigste wat ’n verandering wil maak nie, my kind,” glimlag Marius goedig. “Ook ek het gisteraand ernstig nagedink. Ek dink die tyd het aangebreek dat ek my aan die sakewêreld onttrek. Noudat jy finaal besluit het om verpleegster te word, sien ek geen rede waarom ek langer in Johannesburg moet aanbly nie. Ek wou my lankal op Die Wilgers gaan vestig het, maar ek kon dit nie oor my hart kry om jou van al jou vriende weg te neem nie. Jy weet, vir ’n jong mens is dit maar stil en eensaam op ’n plaas.”
Sy kyk hom verras aan. Dit is die beste besluit wat hy nou kan neem, wat haar betref.
“In elk geval, dokter Lombaard het my gisteraand gemaan om van nou af ’n rustiger lewe te voer. My hart is glo nie meer wat dit voor die motorongeluk was nie, en om daardie rede het ek besluit om my so gou moontlik aan die sakewêreld te onttrek. Ek was egter van plan om ter wille van jou nog in Johannesburg aan te bly, maar nou sal dit nie meer nodig wees nie. Sodra ek uit die hospitaal ontslaan word, sal ek ons huis in Johannesburg verkoop en my op Die Wilgers gaan vestig.”
“En wat van ons huishoudster, die huishulpe en die tuinier en sy vrou, Pappa?”
“Ek neem mevrou Nel, meneer Els en sy vrou saam na Die Wilgers toe,” sê Marius. “Mevrou Nel sal maar self reëlings moet tref in verband met die huishulpe, dis mos waarom sy ons huishoudster is. Vir meneer Els sal daar baie werk wees, want hy sal ’n nuwe tuin om Die Wilgers se woonhuis moet aanlê.”
“Ek sal elke moontlike naweek en elke vakansie by Pappa op die plaas kom deurbring,” glimlag Alta. “Dit sal nogal iets wees om na uit te sien.”
“By watter hospitaal wil jy jou as leerling-verpleegster laat inskryf, patroon?”
“Johannesburg se Algemene Hospitaal, Pappa,” antwoord sy bedaard.
“Nou goed, ek sal dadelik met die matrone gaan praat.”
“O nee, Pappa moet dit nie doen nie,” keer sy haastig. “Geeneen in die hospitaal moet ooit weet dat ek die miljoenêr, Marius van Eden, se dogter is nie. Ons vriende moet dit ook nie weet nie, want dan sal hulle tog net alles kom bederf. As my medeverpleegsters moet weet hoe ryk my pa is, sal almal my as ’n hopelose skepsel beskou wat net hul tyd kom mors, en niemand sal regtig moeite doen om my die praktiese dinge van verpleging te leer nie. Nee, ek gaan in die hospitaal begin as ’n doodgewone meisie wat verpleging as haar roeping gekies het en van voorneme is om ’n sukses daarvan te maak. Ek sal vir almal sê my pa boer in die Laeveld. Ek sal ook ’n motorhuis êrens in die stad huur en my motor net gebruik wanneer ek vir Pappa gaan kuier. My aandrokke en ander onnodige rykmansklere moet mevrou Nel alles plaas toe neem.”
Pa en dogter gesels totdat dit tyd vir middagete is en Alta hotel toe moet gaan. Dis duidelik dat albei tevrede en gelukkig is.
2
Vyf jaar het verstryk sedert Alta die gewigtige besluit geneem het om verpleegster te word; vyf lange jare wat haar getoon het waartoe sy in staat is en wat van haar ’n ander mens gemaak het. Sy is nou byna vier-en-twintig, en van die agttienjarige, plesierlustige Alta is daar geen teken meer te bespeur nie. Uiterlik is sy nog die mooi, fyn swartkop van vyf jaar gelede, maar innerlik is sy ’n ernstige jong meisie wat rigting het in die lewe.
Hier waar Alta nou besig is om haar persoonlike besittings in te pak, voel dit amper vreemd om te dink dat sy die hospitaal eindelik gaan verlaat.
“Ek sal jou mis, Alta,” sê Erna Bester, wat op die voetenent van Alta se bed sit. “Ek en jy is die enigste twee wat oorgebly het van die groep wat vyf jaar gelede saam as leerling-verpleegsters hier begin het, en nou gaan jy ook weg.”
“Ek sal jou ook mis, Erna,” glimlag Alta, “maar jy weet tog lankal dat ek my kom bekwaam het as verpleegsuster sodat ek privaat verpleging kan doen en oral kan help waar my hulp dringend nodig is.”
“Wat sê matrone? Het jy haar al gegroet?”
“Ek het haar nou net gaan groet,” antwoord Alta. “Sy sê hier is baie beter vooruitsigte vir my in die hospitaal, maar dit is nie waarin ek belangstel nie. Ek het haar toe vertel waarom ek my as verpleegsuster bekwaam het.” Alta begin meteens saggies lag. “Ek dink nou aan die eerste dag toe ek hier in die hospitaal begin werk het. Onthou jy nog hoe onnosel ek was en hoe baie flaters ek begaan het?”
“Ja,” lag Erna saam, “jy kon sowaar nie eens tee maak nie, en die melk het jy altyd laat oorkook. Van jou toebroodjies praat ek nie eens nie!”
“Ek het my eerste praktiese eksamen ook maar naelskraap geslaag.”
“O, maar jy het daarna vinnig geleer,” kom dit vriendelik van Erna. “Na ses maande kon daardie suurknol van ’n suster Weyer nie meer jou werk kritiseer nie. Sy was darem ’n regte ou heks.”
“Ja, ek dink meer as een verpleegster was bly toe sy bedank