Woestynwysheid. Ronell Bezuidenhout. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ronell Bezuidenhout
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318213
Скачать книгу
jy as ’n Christen hier lees, wil ek jou herinner dat ons glo dat Jesus die “absurditeit” van God se liefde verteenwoordig. Dit is totale malligheid dat mense moet glo dat God vir die wêreld kom wys het hoe liefde lyk – en dit in die gestalte van ’n mens. Ons kan dit Paulinies – metafories gesproke – bestudeer. Ons kan dit selfs, soos ’n Petrus, in ’n bepaalde vorm giet en aanbid. Wat maak ons, as Johannesse, daarmee?

      In alle mistiese godsdienste (neem kennis, nie net in die mistieke uitlewing van die Christendom nie) is die liefde ván God die beweegrede wat ’n liefde vír God by mense aanwakker. Geen mens kan die opdrag om God lief te hê nakom as die opdrag nie verander in ’n vryheid van keuse nie. Jy kan nie iemand met ’n opdrag dwing om I/iemand lief te hê nie. Maar as dit ’n eie keuse word, dan word die opdrag uitvoerbaar. Dit gebeur wanneer jy so deur die Liefde oorweldig word dat die enigste reaksie daarop jou eie gedrag vol liefde is.

      Die mooiste uitdrukking van iemand wat dit intens verstaan het, was ene Rabi’a al-Adawiya, ’n Moslemvrou en self deel van die Soefi-beweging uit die agtste eeu. Luister net na hierdie roerende gebed waar sy iets van hierdie liefde vir haar God uitbid:

      Allah, as ek U liefhet uit vrees vir die hel, laat ek dan brand in die hel.

      As ek u liefhet uit hoop op die Paradys, weerhou dan die Paradys van my;

      maar as ek liefhet ter wille van U Self, weerhou dan tog nie

      u ewige skoonheid van my nie.

      Dít is iemand wat haar totale verslaafdheid aan God so kon uitleef dat sy op ’n keer kon bid: “Wat U ook al vir my beskore het, gee dit aan u vyande; watter deel van die skepping U ook al aan my wou skenk, gee dit aan u vriende, want U alleen is genoeg vir my.”

      Ek glo dat ons behoefte aan hierdie absurditeit, die totale verslaafdheid aan God se liefde, baie mense se smagting is. Dit is wat ons bedoel as ons praat van die dít wat nie reg is nie. Natuurlik is daar baie mense wat kan opstaan en sê ek is gans en al tevrede met my lewe net soos dit is. Natuurlik is daar selfs gelowiges wat wil glo dat ons niks moet verander aan enige styl wat aan ons bekend is nie. Ek het baie respek vir mense wat hulself op ander plekke op die reis bevind. Maar ek wéét, al is dit bloot my eie weet, dat iets in my resoneer terwyl ek, stotterend en met ongeoefende woorde, probeer vertel dat daar “méér” is. Gewis is ek nie alleen nie. ’n Magdom mense probeer dié smagting op ’n verskeidenheid maniere vul, maar tog, wanneer ons – soos Rumi ons herinner – soggens deurmekaar wakker word, besef ons dat ons weer ’n keer op die verkeerde plek aan die slaap geraak het. Ons is nog nie tuis nie …

      Die lewenskuns van diepgang

      My eie sug, soos soveel mense om my s’n, is nie na vooruitgang nie – soos Richard Foster ons in die begin herinner het. Vooruitgang is ’n relatiewe begrip. Wanneer is ek nou “vooruit genoeg” om vooruit te wees? Waar is vooruit in elk geval? Wie bepaal die beginsels van “vooruit”? Daar gaan tog altyd iemand wees wat meer vóór is as ek. En is die een wat voor is beter, of selfs op ’n beter plek, as die een wat agterna kom?

      Nee, my behoefte is nie vooruitgang nie, my behoefte is verdieping.

      ’n Goeie vriend het my ’n lewensles geleer wat ek tot vandag toe onthou en steeds herhaal. Baie lank gelede het ek ’n tyd lank in ’n gemeente op ’n klein plattelandse dorpie gaan werk. Eendag vra ek hierdie mentor: “Wat doen ’n mens vir so ’n kort rukkie op ’n plek as jy uit die staanspoor weet dat jy buitendien nie lank hier gaan bly nie?” Sy antwoord is vandag nog my strewe: “Jy kan vlak ploeg en ’n klomp mense se lewe aanraak, of jy kan kies om diep te ploeg en dalk ’n paar mense se lewe te beïnvloed.”

      Dalk is dit waaroor die wêreld se sug gaan: na mense wat kies om diep te ploeg.

      Daar is ’n klomp mense wat voor ons geleef het wat die kuns bemeester het om diep te ploeg. Dit is op hul spore wat ek my eie stapritme die laaste klomp jare probeer inpas. Dit is spore wat diep lê, want dit is spore wat deur eeue, oor en oor, agterna gestap is. Dit is juis op hul spore wat ek jou uitnooi om saam te kom stap deur die volgende klomp bladsye. Dit is mense wat nie die bagasie moes dra van die kritiek van die moderne era teen vormgodsdiens nie; dit was manne en vroue, met uiterse skerp intellektuele vermoëns, wat met intense passie die inhoud van hul geloof bestudeer het, en vir ons wonderlike leesmateriaal daaroor nagelaat het. Meer nog, dit was mense vir wie die intuïtiewe en die mistiese so alledaags was dat niemand hul wenkbroue gelig het nie. Hul Petrus en Paulus en Johannes was goed geïntegreer.

      Daar is ’n moeilike woord wat veral in die Ortodokse Christelike tradisie gebruik word wat vir ons ’n goeie verduideliking bied om hierdie driemanskap te verstaan. Die woord “perikoresis” beskryf die onderlinge verhouding van die Drie-eenheid. Saam – so wil perikoresis dit hê – is die drie ’n eenheid, maar die drie het elkeen, afsonderlik, steeds ’n eie, onafhanklike identiteit. Die “Trio van die Triniteit”. Alhoewel soveel mense vandag, vanuit ons kritiese rasionele verstaan, met reg vrae oor die Drie-eenheid vra, help iemand soos die Katolieke priester David Steindl-Rast, ’n bejaarde Benediktynse monnik, ons as hy dit só beskryf:

      Dit was dan wat die Ortodokse teoloë met perikoresis bedoel het: die dans van harmonie. Dit help ons om ons metaforiese trio – Petrus, Paulus en Johannes – beter te begryp. Dink aan die beeld van drie Kossakmanne, hul arms oor mekaar se skouers gehaak, en saam dans hulle, al tollend en tollend, totdat jy later net een bewegende geheel sien. Nie meer drie paar voete wat voor jou oë beweeg nie, net een. Die metafoor van Petrus en Paulus en Johannes moet saam ’n eenheid vorm en nie as drie onafhanklike metafore beskou word nie. Petrus, as die vorm, hou nie op om sy unieke bydrae te lewer nie; so ook nie Paulus, met sy klem op intellektuele inhoud nie; of Johannes, die mistiese, nie. Nie een probeer die kollig oorheers nie. Nie een se danspassies is belangriker of ingewikkelder as die ander twee s’n nie. Die eenheid is die dans. Die dans van die eenheid.

      Hierdie mense wat in die eerste eeue geleef het, het dit veel beter verstaan as ons. Dit is hoekom ons vandag, mense van die 21ste eeu, weer hierdie mense se lewe bestudeer. Hulle het iets van die volheid verstaan, die méér-van-die-lewe uitgeleef.

      Ons noem hulle die woestynmoeders en -vaders.

      In die volgende paar hoofstukke plaas ons die vergrootglas oor hul lewe. Wie was hierdie mense? Wat en hoe het hulle geglo en geleef dat hulle so ’n ryk erfenis vir ons nagelaat het? Waarom is hulle vir ons, mense wat eeue ná hulle leef, so ’n inspirasie? Wat het hulle gehad wat ons vandag na soek?

      Stoepkuiers

      Voordat ons die lewe en nalatenskap van ’n paar van ons geloofsvoorouers ontdek, wil ek jou herinner dat die bedoeling van hierdie boek nie is om as ’n gemaklike en vinnige leesboek gebruik te word, wat ná die tyd weer in die boekrak moet stof vergaar nie. Alle skrywers droom seker dat hul boek nou dié boek moet wees. Helaas, nee. Hierdie boek is nie dáárdie boek nie. Dit is ook nie bedoel om ’n “grote” te wees nie. Daar is waarskynlik min wat jy in hierdie boek gaan lees wat jy in elk geval nie dalk êrens al gelees het nie. Hoe jy hierdie boek gebruik, kan egter bepaal of daar enige betekenis vir jou lewe kan wees.

      Kom ek verduidelik dit uit my eie lewe. Ek is ’n passievolle leser. Ook ’n passievolle boekkoper. Om die waarheid te sê, ek het boeke op my rak wat ek – doelbewus – gekoop het met die gedagte dat ek wel eendag sal kans kry om dit te lees. Ek het soveel boeke