Griessel het geweet die probleem is eintlik Cupido se diepe bekommernis dat die nuwe bevelvoerder nie sy streke gaan duld nie. Mbali is nougeset en konserwatief; Vaughn is nié. Toe sê hy sy is die regte mens vir die pos, in die omstandighede.
Dit het nie ’n verskil gemaak nie.
Ondanks sy haas en die vrolike uitrusting is Cupido se gesig somber terwyl hy aangestap kom.
“Benna, dis nie nodig dat jy ingaan nie. Our work here is done.”
Griessel kan die toon in sy kollega se stem hoor, die aangeplakte saaklikheid wat ontsteltenis wegsteek.
“Ek het nie al die pad gery om … Wat gaan aan, Vaughn? Wat het hier gebeur?”
“Trust my, Benna, asseblief. Dis ’n open and shut, kom ons loop.” Cupido plaas sy hand paaiend op Griessel se skouer.
Bennie voel die humeur in hom opstoot. Wat gaan aan met Cupido? Hy trek sy skouer weg. “Gaan jy my sê wat aangaan, of moet ek gaan kyk?”
“Benna, for once in your life, trust me,” sê hy met ’n desperaatheid wat Griessel se agterdog net verder aanblaas.
“Jissis,” sê Griessel en begin voordeur toe stap.
“Dis Vollie,” sê Cupido.
Griessel steek vas. “Vollie?”
“Ja. Onse Vollie. Vollie Vis. En sy family.”
Adjudant Tertius van Vollenhoven, wat saam met hulle al twee gewerk het, destyds toe die Provinsiale Speurtak nog bestaan het. Vollie, wat sy Weskus-sêgoed spaarsamig en droog in sy Namakwaland-aksent opgedis het wanneer die nag te lank en die moreel te laag was. Vollie Vis, die boorling van Lambertsbaai wat naweke teruggegaan het en Maandae vir die hele span seekos gebring het. Met presiese instruksies vir die gaarmaak, want “om ’n krefie op te fok is heiligskennis, kollega”. Die man wat in die bestek van vier jaar twee reeksmoordenaars op die Kaapse Vlakte vasgetrek het. Met eindelose geduld en toewyding. En toe loop hy, Bothasigstasie toe. Hy het gesê hy het sy deel gedoen en hy soek ’n rustiger lewe – hy wil sy huwelik red, sy kinders sien grootword. Maar almal het geweet dit was die trauma van die ondersoeke, die maand ná maand by nog ’n verminkte slagoffer se lyk staan, wetend dat net ’n bietjie geluk die monsters kan keer, al doen jy wat.
Die ou onreg ontwaak in Griessel, die wrewel vir hulle wat verantwoordelik was.
“Huisroof?”
“Nee, Benna …”
“Wat het gebeur, Vaughn?”
Cupido se stem is amper onhoorbaar. Hy kan nie vir Griessel in die oë kyk nie. “Vollie het hulle geskiet, laas nag, en toe vir homself.”
“Vollie?”
“Ja, Benna.”
Hy onthou die twee oulike dogters, vroeë tienerjare, en Vollie se vrou, mollig, sterk, ondersteunend. Mercia of Tersia … Hy wil keer, hy wil dit nie in sy kop sien nie – Vollie met sy dienspistool by ’n kind se bed.
“Here, Vaughn,” sê hy en voel hoe die engte terugkom, versmorend.
“Ek weet.”
Griessel wil aanhou praat, hy wil van die drukking ontsnap. “Maar hoekom? Wat het gebeur?”
Cupido beduie na die uniforms voor die deur. “Bothasig-stasie het gister ’n meisie gekry, in die veld onderkant Richwood. Die tweede een. Selfde M.O. as ’n moord ’n maand gelede. Dis ’n serial. Bad stuff, Benna, very sick fucker. Vollie was daar.”
Griessel sit alles bymekaar, sy hand op sy agterkop. Hy probeer verstaan wat gebeur het. Al die demone wat teruggekom het om vir Vollie van binne af op te vreet.
“Kom, Benna. Kom ons loop.”
Griessel staan versteen.
Cupido sien sy kollega is wasbleek. “Benna, dis regtig beter as ons …”
“Wag …” Griessel kyk skerp na Cupido. “Hoekom het Mbali ons laat kom?”
“Bothasig se S.C. het haar gevra dat ons moet kom kyk. Hy sê hy wou net seker maak hulle mis nie iets nie, want die media …”
“O.” En dan: “Vir wat wil jy my daar uithou, Vaughn?”
Cupido kyk hom in die oë en tik met ’n wysvinger teen sy slaap. “Want jy’s nog nie reg nie, Benna. Ek weet dit.”
* * *
Jamie Keyter en die twee forensiese analiste het elke sak van die slagoffer se denim noukeurig deursoek. Daar was niks in nie.
Hulle het die liggaam in die groot swart lyfsak geplaas, dit toegerits en die draagbaar laat kom. Die liggaam is na die ambulans gedra. Forensies het die swart plastiek en die rooi koord sorgvuldig gemerk en verpak. Die een analis het die metaalverklikker gaan haal en is nou besig om in konsentriese sirkels om die misdaadtoneel te stap, oorfone op die kop.
Die ander een staan by Jamie Keyter. Niemand anders is binne hoorafstand nie. “Ek sweer hy lyk vir my bekend,” sê die analis.
“Obviously. Hy werk saam met jou,” sê Keyter en frons agter die donkerbril.
“Nie hy nie, die slagoffer.”
“Soos in jy ken hom?”
“Nee, nie kén nie. Net weet van …”
“Soos in ’n celebrity?”
“Ek weet net ek het hom al gesien.”
“Dit help fokkol as jy nie weet wáár nie … Dink jy hy’s ’n poliesman?”
Die analis is nou spyt hy het sy mond oopgemaak. “Nee, ek … Miskien is ek verkeerd. Miskien lyk hy net soos iemand wat …”
Die een met die metaalverklikker gaan staan. “Hier’s iets,” sê hy. Dis omtrent drie meter van waar die slagoffer gevind is.
Die ander een vat ’n grafie en klim onderdeur die geel misdaadband. Hy gebruik sy hande om die sand onder die sensor van die verklikker los te maak en versigtig weg te skep. Hy kry eers niks.
“Is jy seker?” vra hy vir sy kollega.
“Daar is definitief iets.”
Veertig sentimeter onder die oppervlak voel hy die metaal. Hy werk met sy vingers om die sand weg te kry. Dan lê dit daar.
“Jis, dis ’n selfoon.”
Hy staan op, gaan haal ’n kwassie uit sy toerustingkas, en kom vee die sand weg, terwyl Jamie Keyter weer die kameraspan nader roep.
“iPhone five, lyk dit my …” sê die ou van Forensies. Hy druk aan ’n knoppie op die foon, maar niks gebeur nie. “Dood soos ’n drol.”
3
Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr. Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin Victoriastraat 40, Kaapstad
Klanklêer 1
Adv. Susan Peires (SP): … natuurlik kan jy weier. Dan maak ek net aantekeninge. Maar die opname is ’n veel getrouer rekord, en dit word met presies dieselfde diskresie gehanteer. Ek laat dit transkribeer, wat in elk geval dan dien as notas. Die reëls van privilegie geld in alle gevalle.
Francois du Toit (FdT): Al vat jy nie my saak nie?
SP: Dis reg.
FdT: