ETTIE BIERMAN
Die snip van Sesdorings
Jasmyn
1
“Jy het ’n wát geërf?” Christa kyk op van haar nasienwerk en sy is baie verbaas.
“’n Biblioteek,” herhaal Hennie. “My oupa het sy biblioteek, die elf hektaar grond waarop dit staan en ’n aansienlike bedrag geld aan my bemaak.”
“Dis opwindend. Ek het nie geweet jy is sy erfgenaam nie.”
“Ek ook nie. Niemand in die familie het verwag dat oupa Drik al sy besittings aan mý sou nalaat nie.”
Uit lojaliteit teenoor ’n arme, eensame ou man van wie sy ’n geesgenoot was, verswyg Hennie die feit dat haar oupa met haar pa ’n bittere rusie gehad het en die afgelope tien jaar van hom vervreemd was, maar dat oupa Drik se testament nietemin vir almal ’n skok was.
“Dit is seker omdat jy sy naamgenoot is,” raai Christa. “Een-en-twintig jaar al sit arme jy opgesaal met ‘Hendrik Bernardus Jakobus Vermaak’ en nou het jy uiteindelik die vrugte van jou lyding gepluk. Waar en hoe groot is daardie biblioteek?”
“Noord-Transvaal en nie baie groot nie. Dis ’n plaasbiblioteek en ek kan nie eers meer mooi onthou hoe dit daar lyk nie. Ek was elf jaar gelede laas op Sesdorings. Al wat ek kan onthou, is die slegte grondpad en ’n rooi baksteengeboutjie, omring deur doringbome. Meer as ses. Ek voel hartseer omdat ek my oupa nie gereeld kon gaan besoek nie. Hy was al oud – amper tagtig – en tot hy die eerste hartaanval ’n maand gelede gekry het, het hy die biblioteek eiehandig behartig. Die werk was egter vir hom te veel. Hy het sy kragte ooreis.”
“Wat gaan jy met jou vreemde erflating maak?” vra ’n ander onderwyseres wat ook na die gesprek geluister het. “Die grond verkoop en die boeke aan ’n liefdadigheidsorganisasie skenk?”
“Jy praat soos my pa, behalwe dat hy gevra het op watter ashoop ek die spul stowwerige boeke vol spinnekoppe gaan verbrand.” Daar is ’n knop in Hennie se keel en sy skud haar kop.
“My oupa se getroue vriende sommerso weggee? Nee, Marietjie, ek gaan Sesdorings toe om oupa Drik se liefdeswerk voort te sit.”
Christa Neethling was tussendeur besig om opstelle en taalwerk na te sien. Nou sit sy haar rooi pen neer en staar haar vriendin ongelowig aan.
“Jy is seker nie ernstig nie, Hennie.”
“Hoekom nie?”
“Liewe land, dis goed en wel vir ’n ou man van tagtig om hom soos ’n kluisenaar in die middel van die grammadoelas te gaan begrawe, maar jy is ’n meisie en jy is pas een-en-twintig. Ek weet,” keer sy toe Hennie haar in die rede wil val. “Ek weet jy wil weer sê jy is nie ’n stadsmens nie en jou hart trek altyd met ’n punt bosveld toe en jy is nie gelukkig in die onderwys nie en jy wil ander werk soek. Ek weet al daardie dinge, en ek kan ook verstaan dat jy nie die res van jou lewe by jou ouers in die huis wil woon nie en na onafhanklikheid smag, maar ek glo nie hierdie is die oplossing vir jou probleme nie. Om permanent in ’n verlate rooi baksteengeboutjie iewers in die bosveld te gaan woon … As jy nie uitgemoor word of opgevreet word deur die spinnekoppe of skerpioene nie, sal jy van eensaamheid en verdriet sterf.”
“Dis nie só eensaam en verlate daar nie. My stukkie grond grens aan die Meirings se plaas en die opstal is net omtrent ’n kilometer weg van die biblioteek. En wanneer ek vir afleiding lus het, is die dorpie Dendron net ’n halfuur se ry ver.”
“’n Halfuur se ry wanneer jy lus is vir geselskap?”
“Jy vergeet van die mense wat gereeld inkom om boeke uit te neem.”
“Hoe gereeld? Eenmaal in tien jaar?”
“Sesdorings is die enigste biblioteek in die omgewing. Die naaste ander is die munisipale biblioteke op Pietersburg, Louis Trichardt en Soekmekaar. Daar was ’n ledetal van driehonderd. Ek hoop om dit te verdriedubbel.”
“Driehonderd … Hoe vinnig lees die gemiddelde mens? Drie weke aan ’n boek? En lede neem vier boeke per keer uit, né? Dit kom daarop neer dat ’n lid die bib een maal in agt weke sal besoek en dit kom óók daarop neer dat jy nie juis ’n stormloop oor jou drumpel sal hê nie. Daar mag dae en selfs weke verbygaan dat jy geen sterfling sien nie. En hoe het jy beplan om op Dendron te kom? Met ’n taxi te ry elke keer wanneer jy geselskap wil hê? Of spog daardie wêreld van jou met ’n voortreflike busdiens?”
“Met ’n deel van die kontant wat oupa Drik nagelaat het, gaan ek ’n ou tweedehandse motortjie koop. Gelukkig het my oorbekwame pa gesorg dat ek alreeds ’n rybewys het.”
“Watter soort mense is jou bure?” wil Marietjie weet. “Is hulle darem jong mense wat afleiding vir jou sal wees, Hennie?”
Hennie se antwoord is teësinnig. “Oupa Drik en die Meirings het nie langs dieselfde vuur gesit nie. Ek glo nie ek sal veel van my bure te siene kry nie.”
Christa slaan haar oë dakwaarts. “Dit lyk my jy het meer van jou oorlede oupa as net ’n biblioteek geërf. Jy het ’n vete ook bygekry. ’n Kwaaivriendskap met die enigste mense wat sal hoor as jy in die nag om hulp roep of dalk sou kon help as jy ander probleme het. Ek dink jy is dwaas en impulsief, Hennie. Hoekom het eksentrieke oupa Drik daardie stukkie grond en biblioteek aan jóú bemaak? Aan ’n vroumens? Hoekom nie aan jou pa of jou broer nie?”
“Ek dink my oupa het Erik nog nooit vergewe vir sy kommentaar toe hy op sy negende verjaarsdag vir hom ’n digbundel present gegee het nie. My boetie wou destyds liewer ’n rugbybal gehad het en hy was nie baie beïndruk nie. ‘Maar ek hét al ’n boek,’ het Erik gespot. ‘Wat moet ek met nóg een maak?’ Dit was as ’n grap bedoel, maar ons oupa was ’n moeilike mens en jy mag nie gespot het met dit wat hy as verhewe beskou het nie. Oupa Drik het verklaar dat ek die enigste Vermaak is wat ’n bietjie kultuur besit.”
“En op daardie dag seker het oupa Drik besluit jy is al een wat waardig is om sy heiligdom te beërwe. Was dit hy wat jou omgepraat het om skoolbibliotekaresse te word?”
“Nee, ek het van kleins af net soos my oupa ’n liefde vir boeke gehad. Al het ek hom jare gelede laas gesien, het ons gekorrespondeer en was daar ’n gemeenskaplike band tussen ons. Ek het gehoop om eerskomende vakansie op Sesdorings te gaan kuier. En nou is dit te laat …”
Daar is ’n branderigheid in Hennie se oë en sy sluk weer aan die knop in haar keel. Nou is sy pas een-en-twintig en mondig en verdien vir die eerste keer in haar lewe haar eie geld om mee te maak wat sy wil. Maar die vryheid het te laat gekom. As haar pa nie so verbitterd was ná die rusie dat hy haar verbied het om ooit weer haar voete op Sesdorings te sit nie … Of as sy genoeg moed gehad het om, teen haar pa se wil, haar arme oupa te besoek …
Hennie se departementshoof is meer prakties. “Jy gee ’n vaste onderwyssalaris prys, Juffie. Watter inkomste gaan jy uit ’n plaasbiblioteek verkry?”
Geld is nie alles nie, het Oupa altyd gesê. Die belangrikste dinge kan jy nie met ’n miljoenêr se geld koop nie. Wat kos skoon lug en stilte en vrede vir jou siel?
“Aanvanklik nie veel nie, meneer Botha,” antwoord Hennie. “My huisvesting sal egter gratis wees en die lewensduurte op die platteland is laer as in die stad. My oupa het ’n stelsel gehad dat mense ’n klein bedraggie betaal vir elke boek wat hulle uitneem en ek is van plan om die ledetal na minstens ’n duisend op te stoot.”
Meneer Botha glimlag. “Ai, die optimisme van die jeug … Dink jy jy sal van daardie karige inkomste kan lewe, Juffrou?”
“Ek het ook ’n bedrag kontant geërf en …” Hennie word effens rooi en voeg verleë by: “Dit was nog altyd my droom om eendag skryfster te wees. Die rustigheid van die natuur sal my stimuleer. Ek beplan ’n paar kortverhale en later gaan ek ’n boek aanpak.”
“Wat sê jou pa van hierdie mal idee van jou, juffrou Vermaak?”
“My pa is nie baie … ingenome daarmee nie.”
En dit, dink Hennie, is sagkens gestel. Haar pa het gesê: “Jy is net so gek soos daardie half kêns oupa van jou. Watter vooruitsigte het jy op Sesdorings? Jy sal ’n oujongnooi