Leandra loop sit haar koppie neer. Suster Emmie en die twee verpleegsters is ook reg om terug te gaan. Hulle stap saam met haar.
“Daar is twee dokters wat met die volgende operasies bystaan,” sê ’n verpleegster.
“Weet dokter Erlank hiervan?” vra Emmie.
Die verpleegster knik vir die ongeskropte suster. “Ek het gehoor toe dokter Van Niekerk vir dokter Erlank vra of hy sal omgee. Toe sê hy nee, glad nie.”
“Is dit Barend en René?” vra Leandra.
“Jip,” knik die verpleegster.
Leandra glimlag wrang. Sy sal maar moet sien hoe Dieter die dokters hanteer. Barend en René het maar pas in ortopedie begin spesialiseer.
Dis nie lank nie of die hele span is terug in teater, klaar geskrop en gereed dat die pasiënt ingebring word. Leandra gaan gou weer die kind se details na. Die paramedici het vir haar pynmedikasie gegee. Iets hinder Leandra, maar sy kan dalk bevooroordeeld wees. Sy frons ingedagte. Is dit die ma wat te veel verduidelik het en nie langs haar kind gesit het nie, of die kind se apatiese houding? Sy skud haar kop liggies. Goeiste, die ma was in skok en die dogtertjie onder verdowing, sy moenie ’n slang in elke bossie gaan staan en soek nie.
Dieter kry hulle aandag. “Izelle, vyfjarige dogtertjie, van ’n muur afgespring by ouerhuis, elmboogfraktuur opgedoen. Bring die pasiëntjie in, dankie.”
Dieter en Izak stap ligkas toe, sien Leandra voor sy al haar aandag by haar pasiënt bepaal. Sy praat met die blondekopdogtertjie terwyl sy vir haar ’n drup insit. Die arme dingetjie is duidelik lomerig. Sal gewone narkose met ligte spierverslapping moet gee sodat die kind nie beweeg nie en die lugpyp makliker kan afgaan. Lokale verdowing sal nie werk nie, sy moet liefs nie by haar bewussyn wees nie. Toe Izelle slaap, koppel Leandra haar aan die ventilator.
“Izelle slaap,” sê Leandra toe Dieter vraend na haar kyk. Sy het vanoggend se ergerlikheid teenoor Dieter opsy geskuif. Met twee ernstige operasies agter die rug, kyk sy nou uit ’n ander hoek na hom. Sy kan nie anders as om hom te bewonder nie, want toegewyd en briljant is hy beslis.
“Barend en René, staan nader aan die ligkas,” sê Dieter en verduidelik: “Dis ’n noodgeval omdat die fraktuur drie uur gelede opgedoen is en die arm reeds geswel is. Daar is nog operasies op die lys. Tyd raak min.”
Leandra word yskoud. Hoekom het die ma drie ure gewag voor sy Izelle ongevalle toe gebring het? Was die kind alleen by die huis toe sy gespring het?
Dieter beduie na die linkerkantste foto. “Op dié X-straal, Izelle se gesonde arm en elmboog.” Hy knik na die tweede X-straalfoto. “Die twee voorarmbene. Sien, tipies van ’n kind wat die elmboog uitgestrek het om die val te keer, nè? Distale kant van die humerus morsaf, kyk hoe’t dit hier geskuif.”
Izelle se arm rus op ’n middelhoogte tafeltjie. Barend en René volg Dieter soontoe. “Ek heg die breuk sonder om te sny.” Dieter kyk op die beeldskerm terwyl hy die arm draai en tegelykertyd praat. “Ek voel die bene met my hand en bring hulle in een lyn. Kyk daar op die beeldversterker, nè?”
Leandra sien hoe sag en versigtig Dieter met die armpie werk en haar hart raak effens week. Hy kan dalk kortaf praat, maar hy werk tydsaam aan die arm, asof dit kosbaar is.
Dieter werk ’n rukkie in stilte terwyl Barend en René toekyk. “Ek draai een van drie staalpenne in. Dit hou die stukke been in posisie terwyl hulle heg.” Dieter kyk ’n rukkie later na die beeldversterker. “Kyk daar, drie staalpenne, nè? Daarso, die voorarmbene is mooi in lyn met die humerus. Ses weke en die gips kom af.”
Leandra kyk hoe Dieter gips om die armpie vorm. Hy het eenvoudig met die taak begin, al kon Suné en Katleen, of Izak, of die studente die werk verrig het. Sy vergeet totaal van haar antagonisme, kyk net na sy groot hande wat so versigtig aan die armpie werk. En haar simpel hart raak week …
Leandra en Suné stap na hulle onderskeie parkeerplekke toe. “Jy moenie vergeet van Sondag se ete nie. Bennie en Anja gaan daar wees, so ons gaan lekker kuier,” roep Suné.
“Dit sal lekker wees om hulle weer te sien.” Leandra onthou skielik: “Kevin val dalk weer by my uit, ek weet nooit wanneer nie.” Hy het twee keer by haar kom afpak sonder om te bel. Aarg, sy kry sommer ’n naar kol op haar maag wanneer sy aan Kevin dink.
“Dis nie ’n probleem nie. Bring Kevin saam, my ma het hom mos ontmoet.”
“Oukei, sien julle dan.” Leandra stap aan en steek vas toe sy die gewraakte grys viertrek sien. Sy het skoon vergeet haar kar staan heeltemal aan die ander kant van die hospitaal. Die operasielys was lank vir ’n Vrydag. Nou moet sy nog dié ent na haar voertuig toe stap.
Leandra is al naby haar kar toe die grys viertrek langs haar stilhou. Nou wie de ongeluk …? Die passasierskant se deur gaan oop. Dis wragtig Dieter Erlank wat agter die stuurwiel sit. Sy kom agter haar mond is oop en sy maak dit toe.
“Klim in, dan gee ek jou ’n lift tot by jou kar,” sê hy.
Sy kry haar stem. “Nee dankie, ek’s naby myne. Hy staan net daar oorkant.”
Hy glimlag sowaar vriendelik. “Toe nou, klim in dan vat ek jou die entjie. Dis die minste wat ek in die omstandighede vir jou kan doen.”
Wat bedoel hy met die minste in omstandighede? Hy het mos net so hard gewerk soos sy. Eintlik baie harder, want uit die aard van die saak sit sy meestal en staan hy letterlik en beitel soos ’n beeldhouer met boor en saag, en die skroewe wat hy indraai. No way, sy gaan nie langs hom inklim nie. Hy het in die loop van die dag nie ’n woord met haar gepraat nie, en nou wil hy skielik nice met haar wees? Nee dankie, sy ry nie saam met hom nie. “Dis oukei, regtig, ek stap sommer tjoef-tjaf tot daar.”
Dieter kyk voor hom en tik met sy regterhand se vingers teen die stuurwiel, kyk dan met spot uitdruklik in sy groen oë na haar. “Sê liewer die skedonk van ’n gepanelbeate viertrek wat vir plaasdiere gebruik word, is benede jou.”
2
Leandra is heeltemal stomgeslaan. Aarde, sluk haar asseblief tog net in. Hoe weet die vent wat sy oor sy ryding gesê het? Haar brein backtrack vir ’n vale, kom dan tot stilstand by vanoggend. Daar is net een plek waar hy dit kon gehoor het, en dis in die kafeteria. Maar hoe? Daar was nou wel ’n paar eters en koffiedrinkers rondom haar en Suné, maar sy praat nooit hard nie.
Hoekom haal hy dit nou op? Hy is sommer spiteful. As hy maniere gehad het, sou hy liewer stilgebly het oor wat hy gehoor het. Sy sou mos nooit in sy gesig vir hom gesê het wat sy vir Suné gesê het nie. Sy maak nooit mense se gevoelens seer as sy dit kan verhelp nie.
Maar as hý dan nou so aspris is, gee sy hom van sy eie medisyne terug. “Luister, het jy al die spreekwoord gehoor wat sê dat mense wat afluister nooit iets goeds van hulleself hoor nie?” Leandra wag nie op ’n antwoord nie. “Jy hét immers my parkeerplek gesteel, jy’t dus alles verdien wat jy gehoor het.” Sy stap blindelings aan en hoor hoe hy die deur toemaak.
Dieter wag vir ’n vervoerbussie wat mense oplaai voor hy verder na die uitgang ry. ’n Wit Mercedes hou voor hom stil, en die wag lig die sperpaal. Die wit bloes en donker hare van die bestuurder trek sy aandag. Nes hy gedink het: Leandra Muller reis in styl. Dis boonop ’n splinternuwe model. Sy het ’n goed besoldigde werk, sy kan die duur motor bekostig, maar iets sê vir hom sy is ook met ’n goue lepel in die mond gebore.
Eintlik het die goue waas wat haar omring niks te doen met die vier jaar oue model viertrekbakkie waarop sy neersien nie. Hy het al in sy lewe met baie verskillende persoonlikheidstipes te doen gekry. Mense wat gewoond is aan rykdom, het ’n onsigbare aura aan hulle. Dis te siene in Leandra se houding en haar manier van stap, in die glans van die lang, donker hare en gloeiende, fyn vel. Enige aap kan met die eerste oogopslag