Sy wonder wat hom so ’n stugge en onvriendelike mens gemaak het. Hy is nogal aantreklik met sy gespierde liggaam en breë skouers, sy donker hare en oë en die moeë lyne om sy mond. Sal Alice Sullivan met haar swart hare en hovaardige houding hom saans kan laat ontspan en lag? Sal sy ooit toelaat dat hy sy das afhaal en sy voete op haar rusbank sit, of laggend langs hom op die mat kom lê en die moeë lyne om sy mond wegstreel?
Vererg gooi Sarie die storieboek op die vloer en skakel die lig af. Sy is nou net soos Magda, droom selfs oor ’n norse buffel soos Hugo Kritzinger!
Sarie is die volgende oggend vroeër as gewoonlik by die werk en op haar pos. Sy stof die kantoor af en stap dan na Hugo se kantoor. Besluiteloos staan sy rond. Sy het geen benul wat haar pligte alles behels nie. Sy sal maar doen wat haar hand vind om te doen, soos haar ouma altyd gesê het.
Die groot lessenaar met die glasblad word netjies afgestof en sy probeer om die goed daarop so min moontlik te versteur. Hy is pynlik netjies en elke dingetjie staan presies op sy plek.
Terug in haar kantoortjie gewaar sy ’n skinkbordjie met teegoed en ’n ketel, en onder in die kassie kry sy koffie en tee. Onrustig staar sy daarna. Is sy nou veronderstel om teetyd self vir hom tee te maak?
Stiptelik halfnege stap Hugo Kritzinger by die kantoor in.
“Môre.”
“Goeiemôre, meneer Kritzinger.”
Sarie gee haar breë, spontane glimlag en Hugo kyk haar ’n oomblik verbaas aan. Wat ’n pragtige, ongekunstelde meisietjie! Hy hoop tog net haar koppie is nie so leeg soos wat sy mooi is nie en dat sy darem die mas sal opkom.
Sarie draai verleë in die kantoor rond. Sy weet nie of daar al werk gereed is vir haar nie. Dan stap sy beslis na die keteltjie en skakel dit aan. As hy nog nooit in die oggend koffie gekry het wanneer hy inkom nie, gaan hy dit van nou af kry.
Sy maak koffie en gooi dit in die netjiese, blink warmfles wat sy saam met die ander goedjies op die skinkbord rangskik. Vies kyk sy na die bekertjie met poeiermelk. Net môre sal sy vars melk koop; geen plaaskind sal ooit aan poeiermelk gewoond kan raak nie!
Liggies tik sy aan die swaar deur en stoot dit stadig oop. Hugo kyk verbaas na haar toe sy die skinkbord stil eenkant op sy lessenaar neersit en dan terugstaan.
“Is daar iets waarmee ek kan aangaan, meneer Kritzinger?”
“Ek sal jou oor tien minute nodig hê om briewe af te neem.”
Hy gaan weer aan met sy skryfwerk en Sarie draai verleë om.
“E … juffrou … dit is nie nodig dat jy vir my koffie maak nie. Dit is net wanneer ek kliënte het, maar …” Hy kyk op in die groot, blou oë en sluk ongemaklik. Die meisiekind lyk dan nou net soos ’n hondjie wat onverwags ’n skop gekry het. “Dit sal in elk geval baie lekker wees, dankie.”
Sarie knik en stap by die deur uit. Ingedagte gaan sit sy by haar lessenaar. Wat ’n eienaardige mens, so bot en ongenaakbaar! Sy sug en krap in haar laai op soek na potlode en ’n notaboek.
Toe die klokkie op haar lessenaar lui, staan sy vinnig op met haar notaboek en potlode in haar hand.
“Kom, juffrou, kom! Ek is haastig.”
Sarie sluk die senuweeagtigheid weg. Sê nou net hy dikteer te vinnig en sy kan nie byhou nie? Sê nou maar hy gebruik woorde wat sy nie verstaan nie? Hulle Suidwesters kan nie baie goed Engels praat nie en netnou dikteer hy op Engels – en dan?
Die regop rug en uitgestote ken verraai niks van die warboel vrese hier binnekant nie. Sy sit stil en wag dat hy moet begin en lyk heeltemal bekwaam en op haar gemak.
Hugo krap tussen sy papiere en begin dan eentonig maar met ’n gemaklike ritme dikteer. Die potlood kras oor die skoon vel papier en geleidelik bedaar haar senuweeagtigheid saam met die krulletjies en puntjies wat egalig oor die wit lyne versprei word.
“Dit is al, juffrou.”
Sarie vou haar boekie toe en staan op. By die deur sien sy uit die hoek van haar oog hoe hy die skinkbordjie nader trek en sy koppie weer vol koffie skink. Foei tog! Sy wonder of hy ooit vanoggend geëet het. Hy lyk vir haar so moeg.
Sy onderdruk die stout giggeltjie en stap vinnig na haar lessenaar. Sy raak nou nes moeder Saartjie. Haar ma is altyd so bekommerd oor ’n ieder en ’n elk se eetgewoontes. Volgens haar is almal te maer en eet hulle hopeloos te min.
Die tikmasjien kletter eentonig voort en kort voor etenstyd kyk sy verbaas op toe Hugo deur die kantoor stap. Sy baadjie pas netjies om sy breë skouers en hy is sonder sy aktetas. Die kans dat hy iemand iewers gaan ontmoet vir ’n ete-afspraak is dus baie groot.
“Ek sal nie voor drie-uur op kantoor wees nie, juffrou …”
“Wéssels!” Sarie beklemtoon dié een woordjie, maar sy wonder of Hugo dit ooit gehoor het – hy verdwyn vinnig by die deur uit sonder om te antwoord.
Vererg steek sy haar tong vir sy verdwynende rug uit. Sy het baie lus en skryf haar naam met groot, vet letters op ’n stuk wit karton en steek dit voor haar bors vas.
Vandag gaan sy darem nie weer sonder kos bly nie. Op die kop eenuur pak sy haar goedjies reg en stap na die tiksterlokaal. Sy loer by die deur in en groet met ’n breë glimlag: “Haai!”
“Sarie!” antwoord die vier stemme in ’n koor.
“Kom in, jong. Hoe gaan dit?” Sankie trek haar nader.
“Ag, goed! Dit is al etenstyd van die tweede dag …” Sy draai haar kop van kant tot kant. “En hy sit nog.”
“Werk jy hard, ou Saar?” Alet kyk bekommerd na die vrolike Sarie wat nou skielik so bedees lyk.
“Ag, nee wat. Niks harder as hier nie. Dit is net die senuwees wat wil ingee. Ek weet nooit wanneer die baas gaan byt nie.”
“Kom ons gaan eet iets in die kafeteria. Netnou kom Blommetjie terug en gluur ons met haar suurpruimgesiggie aan.”
Sarie haak by Ilze in. “Ja, ek wou julle juis kom nooi het, want as ek nie nou iets eet nie, val ek flou.”
Die meisies stap al geselsend die gang af en Sarie voel die hartseer aan haar rem. Sy verlang na hulle. Hulle is sulke dierbare vriendinne, tot Magda is op haar eie vreemde manier deel van hul groep.
Dit is al lank ná vieruur voordat Hugo eers terug is op kantoor. Kort daarna kom plak hy ’n klomp kontrakte op Sarie se lessenaar neer en stap weg sonder om ’n woord te sê.
Ag nee! kreun Sarie moedeloos. Sy sal dit nooit voor vyfuur klaarkry nie. Hy kon dit mos maar vir haar gegee het voordat hy gaan eet het, dan was daar genoeg tyd om dit klaar te maak.
Sy sug en sleep die werk nader. Dit word stil in die kantoor en die skemer sak stadig oor die stad voordat sy die laaste kontrak tik.
Vanaand klop sy liggies aan die kantoordeur, maar toe sy geen antwoord kry nie, draai sy die deur oop en stap in. Hy is nie meer daar nie. Sy kners op haar tande. Ou mannetjie, dit is die laaste keer dat ek so laat werk. Wat gee jy om? Jý hoef nie met busse te sukkel nie! Woedend plak sy die kontrakte op sy lessenaar neer en gaan gryp haar handsak en jas in haar eie kantoor.
Hugo staar verbaas na die stapeltjie getikte kontrakte toe hy die aand ná ete inkom om ’n bietjie te werk. Hy het darem nie bedoel sy moes dit alles afhandel nie. Mevrou Van Heerden het altyd geweet wat dringend is en wat nie. Hierdie kontrakte kon maar gewag het tot môre. Sies tog, sy moes seker bitter laat klaargekry het.
Hy stoot die netjies getikte velle ongeërg opsy, min beïndruk deur soveel toegewydheid. Sy is maar net nog ’n werknemer wat haar plig moet doen en dan daarvoor vergoed word.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте