“Jammer, Juffrou.” Wynand glimlag sjarmant. “Sal jy ’n koppie tee geniet terwyl ons op jou vader wag?”
Hennie frons onbegrypend. “My vader het nie saam met my gekom nie, meneer Bothma.”
Wynand verstaan nie mooi wat die rede dan is waarom hierdie meisietjie gevra het om een van die prokureurs te spreek nie, maar hy laat hom nie van stryk bring nie.
“Dis in die haak, Juffie. Hy kan maar later inkom om ’n laaste paar dokumente te teken, die formaliteite af te handel.”
“U verkeer blykbaar onder ’n misverstand, meneer Bothma,” verduidelik Hennie. “Dis nie my vader nie, maar ek wat my oupa se erfgenaam is.”
“Maar Carl het dan gesê …” Wynand bedink hom voor hy die sin kan voltooi. Dit sal nie eties wees om te herhaal wat ’n ander kliënt van hom alles kwytgeraak het nie. Hy besef nou eers die implikasies van hierdie situasie en hy voel jammer vir die rooikoppie. Hier gaan vonke spat en hare waai – meestal rooies, soos hy die posisie opsom. Hoekom het hierdie lastige ou man hulle nie in kennis gestel dis ’n meisiekind wat Sesdorings erf nie?
“Dit spyt my, Juffie, dat daar ’n misverstand was. Ek was met vakansie en het nie die Vermaak-boedel hanteer nie. Sal jy net ’n oomblik wag terwyl ek die betrokke lêer laat haal?”
Terwyl hulle wag, bestel Wynand ’n skinkbord tee en vra Hennie uit oor haar verwantskap met ou oom Drik Vermaak. Ná hy alles ’n paar minute oordink het, maak hy solank versigtig voorbrand vir die stryd wat heel duidelik op hierdie skraal meisietjie wag.
“E … Dink jy dit sal wys wees om alleen op Sesdorings te woon, Hennie? As ek jou so mag noem … My naam is Wynand. Hier op die platteland is ons nie op formaliteit gesteld nie.”
“My oupa het twintig jaar lank alleen daar gewoon.”
“Maar jy is ’n meisie en …” En dis waar die groot knoop gaan lê, voeg Wynand teenoor homself by. Vir Carl was dit lastig om die ou man so te sê op sy drumpel te hê, maar hy gaan woedend wees om te hoor van nou af is dit ’n meisie. Ook maar goed hy het ’n koopaanbod vir die laaste elf hektaar van Sesdorings gemaak. Hennie Vermaak sal dit natuurlik aanvaar en dan sal die oorlog verby wees.
“… en dis gevaarlik om alleen te woon,” voeg Wynand lamlendig by. Hy wonder of hy kan aanbied om by haar te gaan loseer.
“Ek is van plan om ’n kwaai hond aan te skaf en tussen die twee van ons sal ons vir enige inbreker kans sien,” antwoord Hennie.
“Sal dit nie beter wees om op die dorp te woon en elke oggend uit te ry biblioteek toe nie?” probeer Wynand weer. Dit sal baie onaangenaamheid uitskakel en hom tyd en brandstof bespaar …
“’n Honderd kilometer elke dag, net omdat ek te bang is om alleen te bly? Nee, my motor is nie betroubaar genoeg nie en my plek is in elk geval op Sesdorings.”
Toe hulle klaar tee gedink het en die lêer op sy lessenaar lê, gee Wynand sy vulpen vir Hennie aan. Hy verduidelik wat die laaste paar dokumente is wat sy moet teken, wag tot sy klaar is en skuif dan vier getikte velle papier na Hennie toe.
“Dis die voorlopige likwidasie- en distribusierekening. Jy sal merk dat daar intussen nog twee rekeninge teen die boedel gedebiteer is, Hennie.”
Hennie bestudeer die getikte velle. Dan frons sy en kyk op.
“Verwydering van obstruksie en herstel van beskadigde eiendom … Wat beteken dit?”
Wynand het gedurende die afgelope halfuur agtergekom dat Hennie Vermaak dalk na haar oorlede oupa mag aard en besluit sy het nie verniet rooi hare en groen oë nie. Hy ag dit gerade om liewer die twee oorspronklike rekeninge uit die lêer te haal sodat hy nie haar vraag hoef te beantwoord nie.
Hennie bekyk die rekening van ’n motor-wegsleepdiens en dié van ’n bouer en messelaar.
“Maar my oupa het nie ’n motor besit nie.”
“Dit kom my voor hy het,” sê Wynand versigtig. “Hoewel dit blykbaar nie meer in werkende toestand was nie en intussen van die hand gesit is om uitstaande skuld te delg.”
“Van waar na waar is hierdie motor weggesleep, meneer Bothma?”
“Wynand, asseblief,” glimlag Wynand en jok dan: “Ek weet nie.”
“Wie het my oupa se motor verkoop om watse uitstaande skuld te betaal?”
Wynand aarsel en voor hy kan antwoord, vra Hennie met skielike intuïsie: “Was dit om skade aan sekere drade en omheinings te vereffen? Of iets van daardie aard?”
“Ek reken so.” Wynand se stem klink ongelukkig.
“Waarom kon daardie rekening nie ook teen die boedel gedebiteer wees nie?”
“Dit was blykbaar reeds ’n paar maande agterstallig.”
“Dit het die Meirings nog steeds geen reg gegee om my oupa se eiendom te verkwansel nie. Is daar nie ’n wet teen so iets nie? Kan ek hulle nie dagvaar nie?”
“Ongelukkig nie, Hennie. Dit kom my egter ook as onreëlmatig voor en ek sal die saak weer eens met Carl bespreek.”
“Hoe kon hulle so iets doen? Hoe dink hulle moes my arme oupa op die dorp kom om voedsel en ander voorrade te bekom, as hulle sy vervoermiddel verkoop het?” Hennie is baie verbitterd. “Ek weet nie of jy die Meiring-gesin ken nie, maar …”
“Nee. Nee, ek ken hulle nie. Ek weet net van hulle – van die ou man en Carl en sy broer Donnie,” val Wynand haar vinnig in die rede, bang sy saak by Hennie Vermaak versleg as sy moet weet hy en Carl Meiring is baie goeie vriende en speel gereeld saam gholf.
“Ek is nie van plan om die saak daar te laat nie,” sê Hennie met nadruk terwyl sy opstaan. Sy neem haar handsak, die getikte likwidasierekening en die biblioteek se sleutels. “Daar bestaan so iets soos reg en geregtigheid en my arme ou oupa was te lank die slagoffer van daardie spul Meirings. Hoe kon hulle in elk geval sy motor van die hand sit, sonder die lisensie en ander papiere? Of het hulle dié ook van ’n arme weerlose ou man gesteel?”
“Ek sal op die saak ingaan.” Wynand glo nie dis nou die geskikte oomblik nie en hy glo nie die aanbod sal gunstige oorweging geniet nie, maar hy het Carl belowe om die kwessie met die nuwe eienaar van Sesdorings te opper.
“Daar is nog ’n sakie, Hennie …”
Hennie gaan sit weer op die puntjie van die stoel.
Om tyd te wen en die mooi rooikopmeisietjie tyd te gee om dalk bietjie af te koel, soek Wynand Bothma weer deur die lêer en haal dan ’n brief te voorskyn.
“Hier was ’n baie goeie aanbod om Sesdorings van jou te koop, met inbegrip van die biblioteekgebou en woonstel.”
Dis nie vir Hennie nodig om die brief by die prokureur te neem nie. Van waar sy sit, kan sy die handtekening onderaan sien. “Sesdorings is nie te koop nie,” sê sy koel. “Veral nie aan my buurman nie en ook nie al bied hulle my dubbel die markwaarde aan nie.”
“As ek jy was, sou ek dit oorweeg het.”
“Jammer, maar jy is nie ek nie,” sê Hennie liefies.
“Vanuit ’n finansiële oogpunt is dit …”
“Vanuit enige oogpunt,” val Hennie hom in die rede. “Dit bly totaal buite die kwessie. Tot siens, meneer Bothma.”
Hennie is nog steeds hewig ontstoke toe sy in die hoofstraat afjaag en by die tweede stopstraat regs draai op die Legkraalpad. Sy hoor weer daardie eienaardige klettergeluid in die enjin, wat vanoggend net anderkant Pietersburg begin het, maar sy is te kwaad om daarop ag te slaan of op te let dat die temperatuurnaald na die rooi gevaarmerk opgeskuif het.