Wynand-hulle se prokureursfirma het te veel las van oom Drik Vermaak gehad dat hy die moeite sou doen om die moedswillige ou man te ondersteun. Tot sy verleentheid moet hy erken dat hy nie ’n lid van Sesdoringsbiblioteek is nie, dog die saak word gou reggestel. Hennie maak vir hom ’n ledekaart uit en gaan wys hom waar die speurverhale en regsboeke is.
Hennie wil nie aansluitingsfooie en ’n bedraggie neem vir elke boek wat uitgeneem is nie.
“Tante-hulle is my eerste kliënte,” skud sy haar kop. “Volgende keer kan u betaal.”
“Dis nie goeie besigheid nie,” stry Wynand. “My ma is jou eerste kliënt, nie ek nie. Ek sal betaal en ek het gedink ons kan moontlik volgende Saterdagaand gaan fliek om jou twee nuwe lede te vier.”
“Ek is jammer, meneer Bothma, maar volgende naweek gaan ek Pretoria toe om my boekevoorraad aan te vul en by my ma-hulle te kuier.”
“Die daaropvolgende naweek dan?”
“Ons kan weer gesels.”
Wynand wonder waarom die nooientjie so onvriendelik en formeel is. Sy ma is egter by en Wynand wil nie voor haar weer daarop aandring dat Hennie hom op sy voornaam noem nie. Genoeg tyd daarvoor – wanneer hy Hennie Vermaak fliek toe neem en haar hand styf vashou … Die rooikoppie is nog mooier as wat hy haar onthou het. Tog jammer sy verkies om haar hier in die grammadoelas te begrawe.
Maar dalk ook goed, want dit verhinder dat ander kêrels haar ontdek en opposisie vir hom is.
Tant Lettie het haar skeef gedra aan al die koek en tee. Terwyl sy in die kombuis besig is om op te was, stap Hennie saam met haar kliënte na die motor toe.
“Jy kan daardie dokumente maar op jou tyd deurlees, teken en aan my terugbesorg wanneer jy weer op die dorp is, Hennie. Of ek kan jou moeite spaar en hulle hier kom haal,” sê Wynand, hopende dat sy van sy laaste aanbod gebruik sal maak en hom dalk nooi om die aand by haar te eet. “Daar is geen haas nie. Ek moes oom Naas Venter op Bultfontein gaan spreek, toe bring ek sommer die bankstaat en ander dokumente saam, aangesien ek in hierdie rigting ry en my ma by die biblioteek wou aandoen. Ek kom oormôre weer in hierdie rigting …”
“Dalk Koedoespoort toe?”
“Moontlik.”
“Wees dan asseblief so goed om jou vriend, meneer Carl Meiring, ’n boodskap te gee. Sê vir hom sy plan het nie gewerk nie.”
“Watter plan?”
“Hy sal weet wat ek bedoel. En sê ook vir hom sy aanbod om Sesdorings te koop, lê nog steeds in my snippermandjie. Nou, meer as ooit tevore. Hy sal weet waarom ek dit sê.”
“Dit klink na ’n duistere boodskap,” probeer Wynand ’n grappie maak.
“Nie vir Carl Meiring nie. Hy sal dit verstaan.”
Hennie voel soos Midas toe sy haar aansluitingsfooie tel en in ’n bliktrommeltjie in haar lessenaar wegsluit. Sy is nie geldgierig nie, maar daar is baie gate om toe te stop. Sy het baie geld uitgegee en dit sal gaaf wees om darem ’n deel van haar kapitaaluitleg te begin terugkry.
Tant Lettie was baie optimisties ná haar eerste kliënte so goed weggelê het aan haar koek en tee. Sy luister hoopvol of daar nie weer ’n dreuning van ’n motor in die laatmiddagstilte klink nie, dog die eerste motor wat weer op die Sesdoringspaadjie afdraai, is Donnie se bakkie. En dit lyk nie of hy ’n goeie tyding bring nie …
“Hennie, kyk hiersô!” Donnie haal ’n groot bord van die bak af. “Ek kon my eie oë nie glo nie …”
“Ek weet reeds wat daarop staan,” sê Hennie stil. “Wynand Bothma en sy ma was hier en hy het my in kennis gestel dat daar ’n kruis oor jou kennisgewing geverf is.”
Donnie lyk meer ontstoke oor die nuus dat sy teenstander op Sesdorings besoek afgelê het as oor die kennisgewing wat doodgeverf is.
“Wat het Bothma hier kom maak?”
“Dokumente gebring en sy ma gebring om by die bib aan te sluit.”
“Het hy baie verbaas gelyk omdat hulle die enigste mense hier was?”
“Nie juis nie.”
“Ek het so gedink. Seker ook nie verbaas oor die verkeerde advertensie in die koerant en die foutiewe kennisgewing by die grootpad nie. Ek dink hy is gestuur om te kom spioeneer of hulle plan vrugte afgewerp het. Ek dink hy is kop in een mus met Carl. Hoekom anders sou hy juis vandag opgedaag het? Hoekom nie verlede week of môre of oormôre nie? Hoekom juis vandag, toe Carl jou so ’n gemene streep getrek het? Hy het niks anders gedoen as om te kom spioeneer, as om Carl se vuilwerk te doen nie. As dit Carl self was wat hier aangekom het, sou dit te opvallend gewees het, toe stuur hy maar sy handlanger.”
“Dis moontlik. Hy het ook ’n voeler uitgesteek om vas te stel of ek nog steeds voet by stuk hou om Sesdorings nie te verkoop nie.”
“Wat het jy geantwoord?”
“My antwoord was dieselfde as wat dit in die verlede was en ook in die toekoms sal wees. Carl se koopaanbod lê in my snippermandjie.”
“Ek is bly.” Donnie glimlag liefkosend. “Vir so ’n fyn ou meisietjie het jy baie durf en moed.”
“Ek mag klein wees, maar moenie vergeet ek het rooi hare en dat ek die berugte Vermaak-humeur geërf het nie.”
“Maar jy is te impulsief, Hennie. Ek gaan baie bekommerd oor jou wees wanneer ek volgende week terug is op universiteit. Ek sal nie hier wees om jou teen Carl en my pa te beskerm nie.”
“Soos ek tevore gesê het, is ek nie vir jou broer bang nie. As hy dit waag om sy voete op Sesdorings te sit, sal ek hom goed die waarheid vertel.”
“Onthou, niks van jou oupa se motor, die ligusterheining en daardie dinge nie. Dit sal Carl net nog meer die harnas injaag en hom versterk in sy kwade bedoelings met jou. Moet ook nie met ou tant Lettie oor hierdie dinge praat nie. Jy weet sy dra die bynaam van die distrik se grootste skinderbek en dit sal wel by Carl uitkom dat jy hom van diefstal en kwaadwillige beskadiging van eiendom beskuldig. Hy sal wraak neem. Jy het gesien tot watter uiterstes hy bereid is om te gaan om jou moed te breek en jou te dwing om Sesdorings aan hom te verkoop.”
“Jy is reg. Ons albei het nou gesien hoe laag Carl kan daal om sy doel te bereik. Het jy iets meer by die koerant uitgevind?”
“Niks nuuts nie. Net dat een van die dametjies ook onthou het dat dit ’n meneer C.J. Meiring was wat geskakel het om die advertensie te laat verander. Hulle het niks verdags vermoed nie. Meneer Meiring het verduidelik dat jy finansiële probleme ondervind en van plan is om die plek te verkoop, daarom dat die biblioteek nie sal open nie.”
“Ja, en dit bewys verder dat dit Carl was, nè? Net hy sal sê ek beplan om Sesdorings te verkoop. Dankie vir jou moeite, Donnie. Ek sal vir tant Lettie vra om vir jou tee te maak. Ek gaan net gou kyk waar daardie stoute hond van my is. Kastig veronderstel om sy nooi te beskerm, maar hy stel meer daarin belang om die affodillebolle in die tuin uit te grawe en smaaklik op te eet. En sy lekker bak vleis staan onaangeraak in die kombuis … Dink jy Lassie sal verkies dat ek vir hom blombolle vir aandete inskep?”
7
Hoewel Donnie belowe het om gereeld te skryf en die eerste vry universiteitslangnaweek huis toe te kom – al moet hy ryloop! – mis Hennie nogtans haar vrolike vriend van die afgelope paar weke. Sy het al daaraan gewoond geraak dat hy elke oggend om tienuur kom tee drink het, nonsenspraatjies verkoop het, gesê het hy gaan eendag met haar trou en dan ’n paar uur lank in die tuin gehelp het om orde in die onkruid-chaos te skep. Van die twee ander lede van die Meiring-gesin het Hennie nie veel gesien sedert die universiteit weer begin het nie. Net die geboë figuur van ou meneer Meiring, kierie in die hand, besig om rose in die tuin te snoei. Hy het nie opgekyk nie en Hennie het ook nie sy aandag probeer trek om te groet nie. Sy het nie die geringste begeerte om Donnie se pa te ontmoet nie, al is hy ook miskien haar