Die brilmaker het aangekom en kyk vies in hulle rigting. Sy gaan sit by die verpleegsters oorkant die gang. Wat sou haar makeer, wonder Naomi.
Anthony Baxter staan op. “Vriende,” roep hy hard. Almal word stil. “Welkom op die Baxter-trein. Julle is gekies vir julle kundigheid en omdat julle gewillig is om julle medemens in nood in moeilike omstandighede te dien. Julle sal hard moet werk, maar ek verseker julle dit sal ’n lonende en bevredigende ondervinding wees. Mense in die mediese beroepe se vernaamste doel is tog om heling te bring en lewenskwaliteit te verbeter.”
Naomi hou hom noukeurig dop. Hy kyk rond na almal, maar sy blik talm ’n oomblik op haar. Of verbeel sy haar net?
“Julle het almal kontrakte geteken. Die maatskappy veronderstel dat julle al die punte van die kontrak bestudeer het voordat julle geteken het. Julle werksomstandighede en pligte is breedvoerig daarin beskryf. Sal julle asseblief een-een opstaan en sê wie julle is en wat julle op die trein gaan doen? Ons begin by my. Ek is die hoofoftalmoloog, oftewel hoofoogarts, op die trein. Ons treinbestuurder is dokter Lily Mpephu. Staan asseblief op, Lily, sodat almal jou kan sien.”
Lily staan op, kyk rond en glimlag.
Anthony Baxter knik vir Naomi. Sy staan op. “Ek is dokter Naomi Harker. Ek wil in oftalmologie spesialiseer en is hier om praktiese ondervinding op te doen.”
Anthony Baxter knik glimlaggend en beduie dat Roelf Malan homself moet voorstel.
Hy staan nie heeltemal regop nie. “Ek is ’n oftalmoloog.” Hy gaan sit weer vinnig.
Die brilmaker staan op en sê met ’n parmantige houding, kop agteroor en een hand op ’n heup: “Ek is Welma Botma wat brille maak.”
Die mooi rooikop staan met ’n onwillige sug op, en kyk van links na regs. In ’n heserige stem sê sy: “Ek is Monique Retief, die apteker.”
So doen almal dit die een na die ander. Naomi konsentreer sodat sy die mense en hulle name kan onthou.
Lily Mpephu staan vervolgens op. “Mense, ons gaan julle nou wys hoe die trein lyk en waar die ontvangs en klinieke sal wees. Ons deel ook roosters uit. Julle sal sien daar is vaste tye vir etes om dinge vir almal, veral die spyseniers, maklik te maak. Hou asseblief daarby. Moenie te lank in die eetkamer bly nie en kom asseblief betyds. Ons moet ongelukkig badkamers deel. Dié is aan die agterkant van elke wa. Ons sal môre in Johannesburg wees. Daar sal die optometris dokter Braam Lotter en die teatersusters by ons aansluit. Ons sal hoogstens ’n uur lank daar staan, dan is ons volgende stop Polokwane. Lekker werk. As enigiets pla, kan julle na my of dokter Baxter kom, maar verkieslik na my.”
Clyde Bosman, geklee in chefklere, staan daar naby. Sy wink hom nader. “Mense, laat ek julle voorstel aan Clyde Bosman, ons hoof van spyseniering en logistiek. Hy is in beheer van die leerlingchefs en kombuispersoneel. Ek verseker julle: ons gaan lekker eet. As julle oor die kos wil kla, gaan asseblief na hom toe.”
Hy slaan ’n dreigende houding in en swaai sy hand in die lug. “Ek sal julle met die vleisbyltjie in die hand te woord staan.”
Almal lag en klap hande. Clyde glimlag, buig eers na links en regs soos ’n akteur voordat hy loop. Twee jong mans en ’n meisie kom uit en deel spyskaarte uit.
“Het julle lus vir wyn?” vra Anthony Baxter. “Ons werk mos nog nie.” Hy kyk na Naomi. “Toe, Kapenaar, waarvoor het jy lus?”
“ ’n Lekker glas sauvignon blanc, dankie. Enige soort.”
“Ek het ook lus vir wit wyn.”
Roelf en Monique Retief wil ook wyn hê, maar Lily Mpephu drink Appletiser. Die drank kom voor die kos en nadat alles geskink is, lig Anthony Baxter sy glas: “Op ’n suksesvolle reis op die oogtrein, mense.”
Naomi bestel hoenderpastei en slaai. Lily, Monique en Anthony volg haar voorbeeld, maar Roelf bestel biefstuk en dring aan dat die bees nog moet bulk.
Hy kyk die jong studentekelner kwaai aan. “Moenie vir my verkoolde vleis bring nie, hoor. Anders stuur ek dit terug.”
Die kelner lyk effe verskrik. Verseker hom dat hy sal kry wat hy vra. Naomi vermoed dat Roelf ’n puntenerige en waarskynlik klaerige eter gaan wees. So het sy hom geken. Sy is amper seker die vleis gaan nie na sy smaak wees nie.
“Wat is jou naam?” vra sy en kyk na die naamplaatjie op die student se bors. “Terence. Aangename kennis, Terence.”
“E … aangename kennis, dokter.” Waarom bloos die outjie? Sy glimlag vriendelik vir hom.
Anthony Baxter lag toe hy daar weghaas. “Ek dink ons gaan goeie diens uit dié kêrel kry, dokter Harker.”
“Sy is tog so vriendelik met die kelnertjie,” sê Roelf sarkasties.
Naomi vererg haar vuurwarm. “Ek is altyd vriendelik met kelners. Dis harde werk om mense te bedien. Dikwels is mense onbeskof of die kombuis maak foute en dan moet die arme kelners dit ontgeld.”
“Ek stem saam,” sê Anthony Baxter. “Ek was al self ’n kelner en dit het my baie oor mense geleer.”
“Was jy ’n kelner?” vra Naomi verbaas. Die man uit ’n ryk familie wat seker niks geskort het nie?
Anthony Baxter grinnik. “My pa het geglo dit leer ons om met mense te werk. ’n Medikus werk mos juis met mense. My pa het ook geglo dat ons dit nie te maklik moet hê nie. Dit gee ’n mens ruggraat om bietjie swaar te kry.”
“Absoluut,” sê Lily Mpephu. “Swaarkry leer ’n mens baie van die lewe en van oorlewing.”
“Ek dink nog altyd dit was onnodig om jou sulke werk te laat doen,” merk Monique Retief oordrewe simpatiek op. “Dit moes vernederend gewees het.”
Anthony kyk tersluiks na haar. “Nee wat, dit het my goed gedoen. Ek het geleer om met alle soorte mense klaar te kom, van hoog tot laag, van gaaf tot moeilik.”
“Daar kom seker hordes pasiënte na die trein toe?” vra Roelf.
Anthony knik. “Laas keer het die mense al van vroegoggend tougestaan. Ons kry maar min ruskans.”
Monique trek haar mondhoeke wrang af. “Dis ’n worsmasjien.”
Anthony kyk verontwaardig na haar. “Dis mense met gevoelens en pyn. Hulle is blind of swaksiende. Dis nie wors nie. Ons probeer soveel mense moontlik help, want al hulp wat baie van hulle ooit gaan kry, is dié wat ons kan gee.”
“Ekskuus, ek het dit nie so bedoel nie.”
“Ag, jy is eintlik reg, Monique,” spot Roelf en lag. “Die pasiënte word ingeryg.”
Naomi kan aan die spanning in Anthony se kakebeen sien dat hy hom vererg het. “As julle só na die mense kyk, moes julle nie gekom het nie. Hier gaan julle ’n les in nederigheid leer. Ons is nie hier vir ons plesier nie.”
Naomi vergelyk die twee mans en Roelf kom sleg daarvan af. Anthony is nie bloot ’n mooi man nie. Hy het goeie kwaliteite: ’n sterk karakter, mensvaardighede, deernis vir sy medemens. Roelf se geite en venyn gaan hom nog die harnas inja. Roelf kan hom tydelik goed voordoen en hy is goed gekwalifiseer, maar noudat hy die werk op die trein gekry het, gaan sy ware kleure wys. Lily Mpephu kyk ook afkeurend na hom uit die hoek van haar oog.
Die hoenderpastei kom eerste en daarna Roelf se biefstuk. Soos Naomi verwag het, lyk hy skepties.
“Dis te gaar.”
Anthony kyk priemend na hom. Naomi sien dat die vleis nie regtig te gaar kan wees nie. Dis dan rooi binne wanneer hy dit sny.
“Wil dokter ’n ander biefstuk hê?” vra die kelner, onseker en beleefd.
“Nee, toemaar, ek sal dit eet.” Hy val weg sonder om weer op te kyk.
Monique eet ook in stilte. Is Anthony Baxter regtig op dié meisie verlief, wonder Naomi. Sy is sexy en