Ek en hy het altyd ’n slaapkamer gedeel tot ons paaie in my standerdnegejaar geskei het. Hy en Dria is saam met Pa en Ma na Alartskraal op Louwshoek naby Rawsonville toe Pa by oom Ernst Stofberg gaan werk het. Ek het by oom Theuns (Pa se gewese baas en KWV-bestuurder) en tant Anneline Botha (bekende bloemiste) op Worcester in hulle huis by die reusewyninstallasies van die KWV geloseer om nie van skool hoef te verwissel in sulke finale skooljare nie. Arme Dria moes wel.
Vakansieoggende, as ek nog so ’n bietjie ekstra wil slaap, dan lê en maak Kosie sulke kleinhondjiegeluide. Eers het ek gedink dit was met opset om my te tart, maar toe blyk dit hy’t dit in sy slaap gemaak.
Een hele wintermiddag loop hy agter my aan en sê kort-kort: “Ek het tog gedoen wat jy ook doen!” O wee … wat weet hy van my seksuele eksperimenterings?!
Gelukkig het ek nie hardop geraai en al die moontlikhede opgenoem nie. Oplaas, by my en sy tuine langs Ma se uitgebreide blomtuin wat so in die lente kon skitter, kom hy met die hoë woord uit: “Ek het ’n storie geskryf!”
Die storie se naam was iets soos: “As jy steel, word jy gevang.”
Die storie is baie spoedig opgevoer tydens een van my stoepkonserte. Ma het een van haar seldsame, maar welkome verskynings gemaak in dié konsert.
Dié konserte … Hoe het ek nie vir hom en veral vir Dria daarmee getreiter nie! Ek het dikwels voor Oupa Botha gekla dat hulle nie wil speel in die konserte nie. Dan het hy asmaties vir hulle gepreek oor hoe goed dit is dat boeties en sussies saam dinge doen.
Ek het in ’n ou Huisvrou gelees hoe Audrey Blignault (dit het ek eers later uitgevind) se dogter Marietjie konsert-konsert gespeel het in hulle huis. Van my standerd twee jaar tot so in standerd ses het ek dan hierdie konserte gehou op die een punt van Ouma-hulle se stoep. Dit was ’n plankgedeelte terwyl die res van die hoë stoep van sement was. Het tot plakkate teen die reusesipresbome voor die stoep vasgekap. Dalk sien die weinige vreemdelinge wat op die plaas kom dit. Die gehoor het gewoonlik om drie-uur in die middag bestaan uit Ouma, Oupa en Ma. Per geluk oom Jan en straks tant Maraai. Een of twee keer is dit selfs in die aand gehou, met tant Wiesie-hulle wat by was.
En oom Jan-hulle was gewoonlik by as die Kerstoneel in Ouma se voorhuis gehou is. Ma en Ouma sorg vir die sang. Dria is Maria, ek Josef, en Koos die herder. Ouma-hulle sing nog so mooi “Stille nag”, toe kom die herder vorentoe en vreeslik nuuskierig loer hy by die vrugtekissie-krip in. Asof hy daar wil inklim! Die grootmense begin vir die snaaksie te lag. Josef word bitterlik ontsteld en dit was ook die einde van die konsert.
Ek en Koos het baie van ons tyd in die veld aan die oostekant van ons opstal deurgebring. Op ’n stuk braakland tussen ’n klein spruit en die groot Kliprivier, wat uiteindelik by die Breërivier ver in die suide aansluit, het ons selfs met ’n papperige bal gespeel – ék wat ’n heilige vrees vir liggaamsoefeninge op skool gehad het en dit my hele hoërskoolloopbaan deur gebunk het.
Op ’n knetterende warm middag soek ons skilpaaie naby oom Jan-se-dam in die laagte agter ’n hoë bult en naby die Kliprivier. Vir ons het skilpaaie ’n geweldige aantrekkingskrag gehad. Maar Pa het ons nooit gehelp om ’n behoorlike hok vir die diere te bou nie, en so gereeld soos klokslag was hulle ’n dag later weg uit ons geprakseerde hok. Ook Ma had ’n aandeel aan die arme goed se ontsnapping.
Ek en Koos gaan staan. Ek sê: “Kom ons bid daar moet ’n skilpad om die volgende bos kom.” Oë toe; dit bid. En in die warm dubbeltjiespad kom die padlopertjie oop en toe na ons toe aan.
Ek en Koos was min saam kaal in my puberteitsjare. Kan nie onthou dat ons byvoorbeeld saam kaal geswem het in die dam agter die bloekombos nie. In ons kamer het ek kaalbas en alleen-alleen oefeninge met strykysters gedoen agter ’n geslote deur. Daarom was daardie een oggend langs die Kliprivier so iets buitengewoons. Ek en hy stapel klippe op langs ’n stuk water. Sit ’n kennisgewing daar op: Private swembad. Toe moet ons die swembad inwy. Ek praat hom om en ons “swem” kaal in ons “swembad” en lê daarna in die son om af te droog. Ons praat versigtig. Selfbewus. Asof ons “nudisme” die groot verleiding in ons lewens is. Vir ander broers sou so iets nie vreemd wees nie. Vir my wel; ek weet nie van hom nie.
Die volgende oomblik sien ons oom Jan se beeste afkom van die bult op pad rivier toe. En die bul is by! Ek onthou hoe verwoed en bulkend hy aangestorm kan kom. Ons pluk ons klere aan. Ons moet tussen hulle deur. Waarom het ons nie noordwaarts met die rivier op weg van hulle geloop, gehardloop nie? Miskien was hulle te skielik op ons. Stadig loop ons. Ek bly kyk vir die bul. Hy staan lui stil. Die stert swaai byna nie. Tree vir tree gaan ons vlak by hom verby. My gedagtes is nie by Koos nie. Hy moes presies gedoen het wat ek gedoen het. Eers toe ons die bul nie meer agter die doringbos kan sien nie, begin ek en Koos hardloop.
Het ek en Koos werklik gesels? Het ons geredeneer? My geheue sê ek was te veel met my leerdery doenig, het as ’t ware geskuil daaragter.
Ek het altyd geglo hy’s Pa se witbroodjie. Dat hy vir Pa ’n ware seun is. Dat Pa meer dinge saam met hom gedoen het. Vir hóm het Pa leer motor bestuur. Maar jare later, toe ek en Koos notas vergelyk het, het dit geblyk hy had ook maar behoefte aan ’n man se leiding en beïnvloeding, iets wat hy nie by my kon vind nie.
Een van Koos se speelmaats-teen-wil-en-dank, omdat hulle in dieselfde klas was en hy op ’n buurplaas gewoon het, was Johan Vorster. Intelligente seun van ’n prokureur, ’n man wat na Pa-hulle se sake by die Eksekuteurskamer omgesien het. Vir Johan was dit pret om my as ouer seun intellektueel uit te daag. Ek kan nie onthou hoe ek daarvan te hore gekom het nie, maar Johan het glo vir Koos in die klas gelag toe hulle ’n opstel oor ’n badkamer moes skryf. Johan het geweet dat “badkamer” vir Koos ’n aangeboude sinkkamer langs Ouma-hulle se agterdeur beteken het waarbinne bergwater uit ’n pyp sonder kraan jaarin en jaaruit geloop het en dan uit in ’n sementdam langs ’n westermuur van Ouma-hulle se huis. “Bad” het vir ons beteken ’n waskom op ’n kas in ons kamer, of ’n sinkbad.
Ek het Koos baie jammer gekry.
Iemand by die deur
As kind op Brandwacht reeds het Jako van ’n “pelgrim” gehoor. Ma het in die Bybel van ’n “pelgrimslied” gelees, en in die Sondagse jeugprogram oor die radio is John Bunyan se verhaal oor die pelgrim se reis na die Ewigheid as vervolgverhaal opgevoer.
Vir Jako is ’n pelgrim ’n man. Hy het ’n ruwe bruin rokjas aan, met ’n “heufel” wat hy oor sy kop kan trek teen die stormwinde en slagbuie reën. Sandale aan sy voete, en ’n tougordel om sy middel. Hy dra sy besittings oor sy skouer in ’n sak of in ’n bondel aan ’n kierie. Hy het ook ’n houtstaf om die loop te vergemaklik en homself mee te verdedig. Hy is bebaard; sy lippe is gebars.
Hy is kort-kort met bergpaaie langs aan die loop of ten minste teen opdraandes uit. Hy kyk op na die skaduryke top van die berg, hou ’n hand voor sy oë. As daar ander (ook vroue) saam met hom is, sing hulle oor God wat hoog bo hulle is.
Of hy staan op die een bergtop en kyk oor valleie der valleie heen na ander bergtoppe. Watter swaarkry en avonture, hoeveel vol riviere en afgronde lê nie daartussen en wag op hom nie? Sal hy nie iemand onderweg moet red nie?
Die pelgrim frons dikwels. Dis of hy met ’n ernstige boodskap of opdrag belas is. Sy gesig is omfloers van ’n stilte, behalwe wanneer hy sing. Selfs dan bly die erns.
Hy is op pad na die ewigheid.
Soos een winternag blou, blou jare gelede buite Worcester.
Jako sit op die klein stukkie uitbouing van die vuurherdmuur langs die Dover-oond. Hy moet kort-kort sy bene wegdraai van die vuuropening as Ma ’n kastrol kom aflig. Die kole en vlamme is ’n stuk veld vol miershope op ’n somermiddag. Nee, meer as dit: sipresbome, afgebreekte huise en kraalmure. In die lig vloei en staan alles tegelyk stil. Daar loop mense. Sadrag, Mesag en Appeleenoog. Klein, klein. Dieper en dieper die lig in.
Die skoorsteen is ’n groot stuk swart berghang met die