Die helder dae. Danie Botha. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Danie Botha
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624070139
Скачать книгу

      Met die geskenke gee deel ek dan in die Manne se lewens, al weet hulle dit nog nie. Ek is ook nie so baie met hulle in aanraking nie; daarom weet ek nie hoeveel hulle weet van die Kersgeskiedenis nie. Verlede jaar sou hulle by hulle oupa en ouma Van Zyl op Kleinmond wees; ek het my ou-ou stel met die herders, wyse manne, Maria-hulle en die Babatjie met die uitgestrekte armpies saamgegee. Ek kon ongelukkig nie sien hoe hulle daarna kyk nie. Dalk nes Heinrich?

      Maar daar’s nog iets. Om C. Louis Leipoldt aan te pas: “As ek nou my keus kan kry, / Wat is die wens wat my hart sal wae?” Dat ek ’n keer by die Manne kon sit en die Kersverhaal só goed vir hulle sal vertel dat ek heerlike verwondering op hulle gesigte sal sien.

      Adriaan het sy oupa Eric al ’n keer halfpad deur ’n storie onderbreek en gesê hý wil verder vertel. Dalk doen hy dit op dié Kersaand ook met mý. Dan sal ek gerus wees. Hy wéét van Jesus.

      rooi rose, Desember 2004; uitgebrei 23 April 2014.

      Oom Kosie huil op ’n Sondag

      Êrens ná 1956

      Toe oom Kosie en tant Wiesie getrou het.

      Dit was ’n gewoonte: Elke tweede, derde Sondagoggend halfnege gaan ons kinders saam met Pa op Boplaas toe. So twee kilometer stap ons, met regs die stormwatersloot en al die braambosse; links oom Pietie Möller se vyebome.

      Kon dit wees dat ons so vroeg opgegaan het dat oom Kosie en tant Wiesie nog kon inry dorp toe met die grys Ford-bakkie vir kerk? Dat ons self later kom aantrek en na die kerk met die Oog van God gegaan het? Ek twyfel. Want hoe rustig het Pa en oom Kosie oor die groot, netjiese sementmure van die varkhok geleun gestaan en lang stories gepraat.

      Staan ons aanstons huis se kant toe, stap ons tussen tant Wiesie se geskuurde ware weerskante van die paadjie. Waarom het sy panne, kastrolle en roomafskeieronderdele so laat blink op stompe en ’n klip in die son?

      Nou was die geselserye in die kombuis langs die kombuistafel wat voortdurend gedek was. As ontbyt verby is, maak tant Wiesie reg vir middagete, dan vir aandete en daarna ontbyt.

      Een oggend was oom Kosie-hulle sekerlik op pad kerk toe. Want die vyf-en-veertigjarige oom Kosie het in hulle slaapkamer ingeklim in die sinkbad wat tant Wiesie vol warm water gedra het.

      Net ek en Pa is by hom; hy is immers kaal. Ons sit op die bedrand. Ek bly maar kyk na die muur met geraamde prentjies van Jesus in Getsemane met ’n lig wat op Hom skyn, en van geboue en kamele in Egipteland in rooi en bruin.

      Oom Kosie praat dralerig. Hy’s stadig met dinge. Die mense wil dit hê hy was al amper ag-en-dertig, toe’t tant Wiesie (32) hom een aand in haar kamer in die Groothuis gevra om te trou. Sy is weer ’n haastige mens. “Wat klaar is, is klaar.” Het seker gesien dinge gaan lol as Oupa Botha weer trou, dié keer met die dorpenaarsvrou, weduwee van die Duitser. Oupa had haar nie meer nodig nie. Omdat sy en oom Kosie so laat in hulle lewens getrou het, het hulle nie kinders nie. Daarom het hulle eers vir Stevie van oom Jan-hulle bederf, hom tussen hulle voor in die bakkie laat sit dorp toe. Maar Stevie is vroeg dood. Nou is ek aan die beurt. Tant Wiesie het my sommer ’n present gegee, al was dit nie Kersfees of my verjaardag nie: ’n groot legkaart van die aankoms van die Britse Setlaars.

      Oom Kosie maak mens aan die lag as hý lag. Die Rooms-Katolieke weeshuistweeling, Fanie en Bennie, het met een van hulle kuiers hom by lanternlig beskou toe hy nog net gegrinnik het en Fanie het nogal hard vir Bennie gesê: “Look at his face! Just look at his face!” En toe lag die twee.

      Oom Kosie het langer gelag wanneer hy drank agter die blad het. Dan begin hy laag en sag, dan harder en harder, en die lag maak so twee keer ’n draai, en hy snak na hoë note. Met elke aanhef lag ons van voor af saam.

      Maar vanoggend praat oom Kosie nog van Barnie Green wat jou so maklik kan inloop met die voermeel en van oom Gert Oberholzer se kleintjie wat vir die soveelste maal Kaap toe moet gaan om onder die mes te kom. En die volgende oomblik huil oom Kosie. Sulke kort intrekhuiltjies.

      Pa sit net vorentoe, sê nie iets nie.

      Oom Kosie druk en druk die waslap. “Ek verlang na my mômie …”

      Nog net een kreuntjie, toe is alles verby.

      Wanneer sy ’n vreemde perdekar sien indraai by die hek onderkant Boplaas se garsland, oorval die mensvrees haar. Vinnig sit sy haar swart kappie op en begin hardloop. Die mond val oop om asem te kry. Verby die buitekleinhuisie, die hoenderhok, die perdestal hardloop sy. Dan begin die veldpad oor die rant. Wanneer sy anderkant afgaan, is sy nog nie gerus nie. Eers wanneer sy by die ysterhoutbosse en die wildeals kom langs die spruit, begin sy stap.

      Lank dwaal sy met die rivier op, tussen die hoë suikerbosse totdat sy dink die kuiergaste behoort al vort te wees. Dan stap sy huis toe. Sy kyk aanhoudend op die grond.

      Sy versamel te graag. Krale, dosies, bottels. Hans bring vleis van die plaaswinkel. Sy móét dit bêre. Sy moet die vleis hou vir later, later.

      As Hans en Kosie etenstyd van die boorde kom, is daar darem brood en koffie. Maar sy is weg. Weer die veld in.

      Dae later haal sy die vleis uit die klerekas, nog toegedraai.

      Op ’n dag sal sy die houtblindings voor elke venster grendel en net sit. Soms eers die een hand, dan die ander uiters stadig oplig en haar gesig met albei vashou. Oom Hans het haar seker so aangetref? Was niemand getuie van uitbarstings, van skellery wat oor die werf weerklink in die laatmiddag nie?

      Oom Hans het baie maal vir Kosie geslaan. Een keer met ’n stuk doringdraad toe hy nog klein was en nie wou ophou skree agter sy ma aan nie. Oom Hans het hom eers gevloek, maar hy wou nie luister nie.’n Ander keer het Kosie weggehardloop en op die tande van ’n eg geval.

      Hans en Elize is op Wolseley getroud sonder dat hulle mekaar baie lank geken het. Die middag het hulle met die trein vertrek Touwsrivier toe waar hulle in die spoorweghotel sou slaap en die goddelose Dirk van Tonder hulle die volgende dag sou kom haal om ’n week lank op sy skaapplaas, Wolwekop, te kuier.

      Toe daar al ver en naby liggies op die plase by Goudini begin wys, voel Elize hoe waai die roet in haar gesig. Haar boesem word vuil. Sy sien Hans kyk vir haar. Sy bring albei hande na haar gesig. Sy skud haar kop. Ingedruk tussen haar en die venster is die mandjie padkos. Daar’s onder meer ryp koejawels in. Sy gryp twee, vlieg op en druk die geurige vlesigheid in Hans se gesig. Sy smeer dit aan en aan.

      Dis wat oom Kosie se mômie gedoen het. En niemand het haar gehelp nie.

      Tant Wiesie is te laat behandel vir kanker. Daar’s gesê die dokters het haar oopgemaak, en maar weer toegemaak.

      Etenstyd Sondagaande het oom Kosie aangestap gekom met wors en eiers wat Ma moes gaarmaak vir ons almal. Hy’t dikwels baie droefgeestig geraak voor ons kinders en sy stem het hoog geraak wanneer hy oor tant Wiesie praat. Ons het geleer: Só moet dit wees om oor iemand te rou.

      Toe Ma ’n weduwee word, het oom Kosie steeds by haar kom kuier. Hulle twee het mekaar ondersteun, maar ’n huwelik was nie vir hulle bestem nie. Ons kinders, toe al volwassenes, het handige erfporsies van oom Kosie ontvang.

      Ná die dood op Brandwacht

      Teen 1955 was ek, sus Dria en boetie Koos bekend met die dood. Al het Ma altyd die hoofstuk in Die Kind se Bybel oor die kindermoord en wenende moeders in Betlehem oorgeslaan.

      In die stuk sandveld tussen die Kliprivier en ’n renosterbosrant het die swart hoop gelê van Kaptein, die