Ek kies steeds die kerk. Neels Jackson. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Neels Jackson
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318091
Скачать книгу
meeste van die stories het in Beeld verskyn, enkeles elders. Hier en daar is klein redaksionele veranderings aangebring en enkele opskrifte is verander.

      Vir my was dit ’n avontuur om die stories in hierdie bundel te gaan haal en te skryf. Ek hoop dit bly ’n vreugde om dit te lees.

      Neels Jackson

      Januarie 2014

      GELIEFDE OOM BEN IS NIE BITTER

      (Ben Marais)

squiggle.jpg

      Toe ons by prof. Ben Marais aankom, het hy pas sy rose versorg.

      Nadat hy sedert die vroeë jare veertig dikwels alleen gestry het teen die Bybelse regverdiging van apartheid in die NG Kerk, maak hy deesdae op die ouderdom van 82 hoofsaaklik tuin.

      Vanoggend het hy sy vyftig tot sestig roosplante kos en water gegee. Hy het ook die beddings met gras en blare bedek om die wortels teen die somerson te beskerm.

      Voorts korrespondeer hy gereeld met sy kleinkinders “om maar die bietjie wysheid deur te gee wat jy uit ’n ou mens kan druk,” sê hy. As ere-seisoenkaartjiehouer kom hy ook nog gereeld op Loftus.

      Met ’n flinkheid wat niks van sy ouderdom verklap nie, neem hy ons na sy studeerkamer.

      Sy vrou, mev. Sibs Marais, bring tee. Hy stel haar voor as “my eerste en beste vrou.” Hulle is nou al 52 jaar getroud.

      Uit die foto’s teen die muur word ’n mens iets wys van oom Ben se lang en vol loopbaan. In 1933 was hy voorsitter van Maties se studenteraad. Op ’n foto van Wilgenhof se huiskomitee verskyn hy saam met ’n bloedjong Danie Craven en Beyers Naudé. Later sou hy 40 jaar lank, waarvan 26 as voorsitter, in die raad van Tukkies se manskoshuis, Sonop, dien.

      Baie jare later was hy dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria. As ’n mens mooi kyk, herken jy ook die jeugdige proff. Johan Heyns en Carel Boshoff op die foto.

      Nadat hy in 1974 “weens my hoë ouderdom van 65 gedwing is om uit te tree,” het Unisa gelukkig vir hom ’n pos aangebied. Dit was ’n gawe uit die hemel, vertel hy. Tot 1988, toe hy 79 geword het, het hy nog daar gewerk.

      Maar hoewel hy diep spore op dié gebiede getrap het, is dit vir sy stryd teen die Bybelse fundering van apartheid dat mense Ben Marais onthou. Sy vrae oor die kerk se beleid en oor kleurverhoudinge het in 1934 op Stellenbosch begin. Maar dit was op die Transvaalse sinodes van 1940, 1944 en 1948 dat hy sy standpunte sterk in die openbaar gestel het.

      In 1953 het hy met sy boek Kleurkrisis in die Weste ’n polemiek ontketen wat maande in die pers voortgeduur het en so byna sy aanstelling as professor in kerkgeskiedenis by Tukkies in die wiele gery het.

      En in 1957 het hy die sinode in beroering gehad toe hy voorgestel het dat geen ampsdraer van die kerk tot enige geheime organisasie, ook nie die Broederbond, mag behoort nie.

      Dit het daartoe gelei dat hy sewe jaar lank deur geen gemeente, behalwe af en toe deur sy eie gemeente, gevra is om te preek nie.

      Maar dit alles kon hy verwerk omdat hy hom vroeg in sy lewe al voorgeneem het om nooit verbitterd te word nie. Hy sou ook nooit verskillende standpunte tussen hom en iemand anders tot vyandskap verhef nie.

      Voorts het hy nooit probeer om van buite af druk op die kerk uit te oefen nie. ’n Verandering onder druk kan in elk geval nie ’n fundamentele verandering wees nie, sê hy.

      En noudat die heersende gevoel van die gemeenskap in sy guns gedraai het, sal die woorde “Ek het mos gesê!” nie uit sy mond kom nie.

      Met die vriendelikheid wat hom ná alles ’n geliefde figuur in die kerk maak, kuier ons langer as wat ons wou by oom Ben. En toe ons uiteindelik buite staan, wys hy ons ’n aalwyn met ’n tweekleurblom.

      Van dié saad wil hy binnekort klein aalwyntjies kweek.

      (Uit Beeld, 16 September 1991.)

      DOPPERS, GATJIEPONDERS … STOEPSITTERS, WEDERDOPERS

squiggle.jpg

      Byname soos hierdie is deel van die geskiedenis van Afrikaanse Kerke. Maar waarvandaan kom hulle? Met hoeveel venyn is dit gebruik? En hoe gebruiklik is dit nog vandag?

      Die oudste van dié kerklike byname is die woord “Doppers.” Nog voor die Gereformeerde Kerk of Dopperkerk in 1859 afgeskei het, is dié naam al gebruik.

      Daar is verskeie teorieë oor die oorsprong daarvan, maar volgens prof. Flip van der Watt, voormalige hoogleraar in kerkgeskiedenis van die NG Kerk, is die aanneemlikste teorie dat dit kom van die Nederlandse woord “dorpers.”

      Dit is gebruik vir mense van die platteland; dus nie stedelinge nie. Volgens prof. Van der Watt het dit op eenvoudige mense gedui, maar nie ’n negatiewe betekenis gehad nie.

      Prof. Adriaan Pont, Hervormde hoogleraar in kerkgeskiedenis, sê egter die bedoeling was selfs om agterlikheid aan te dui. Die naam is volgens hom soms ook vir Hervormers gebruik.

      Die naam “Gatjieponders” vir NG lidmate het sy ontstaan te danke aan die soort manelle wat NG predikante soms gedra het.

      Predikante van ander kerke het die “ronde manel” of “kaggelpyp” gedra, wat voor en agter lank was, sê prof. Pont. Dié kan ’n mens nog op Kerkplein in Pretoria in die standbeeld van pres. Paul Kruger sien.

      Van die NG predikante het egter ’n Engelse manel begin dra wat net agter oor die boude lank was. Dit is spottenderwys ’n “gatjapon” genoem. Só het die naam “Gatjaponners” of “Gatjieponders” ontstaan met, volgens prof. Pont, die effense konnotasie dat ware gelowiges die ronde manel gedra het en dié wat ligter was in die geloof, die gatjapon.

      Prof. Van der Watt meen egter dat dit nooit ’n negatiewe naam was nie. Hy gee ook nie om om ’n Gatjieponder genoem te word nie.

      Die benaming “Stoepsitters” vir die Nederduitsch Hervormde Kerk is volgens prof. Pont ’n Wes-Transvaalse naam. ’n Mens sal vergeefs op ander plekke daarna soek.

      Dit dagteken van die jare twintig toe die Hervormde Kerk nie genoeg predikante gehad het nie en van die Wes-Transvaalse gemeentes daarom nie Sondae eredienste gehou het nie.

      Die lidmate wou egter nie saam met die Doppers of Gatjieponders kerk hou nie en het tuis gebly. Vandaar die naam “Stoepsitters.”

      Dr. Jan Langerman, hoofsekretaris van die Apostoliese Geloofsending (AGS), sê die naam “Wederdopers” wat steeds as ’n skeldnaam ervaar word, kom uit ’n tyd toe die AGS die meeste van sy lidmate uit ander kerke getrek en die doop van die gelowiges bedien het aan mense wat ook as suigelinge gedoop is.

      Die meeste mense wat vandag deur die AGS gedoop word, kom egter uit eie geledere. In elk geval erken die AGS slegs die doop van gelowiges wat een keer bedien word. Uit hul oogpunt is daar dus geen kwessie van “wederdoping” nie.

      Die enigste van die kerklike byname wat wyd in die volksmond inslag gevind het, is “Doppers.” Die HAT noem dit dan ook ’n volksnaam. Daar is nog mense wat sensitief is daarvoor om Doppers genoem te word, maar oor die algemeen is dit nie die geval nie, sê dr. Callie Coetzee van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom. Persoonlik gee hy nie om om só genoem te word nie. Hy gebruik die term immers self.

      (Uit Beeld, 23 Januarie 1992.)

      STERRE KNIP OË OOR ROOMSE DIENS IN NG KERK

      (Bonaventure Hinwood)

squiggle.jpg

      Die sterre sal hul oë knip by die gedagte aan ’n Rooms-Katolieke priester wat van ’n NG kansel af preek. Só reageer iemand nou die dag teenoor my toe hy hoor dat vader Bonaventure Hinwood, Afrikaanse digter-priester